Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 3/15 bl. 15-20
  • Gee die hedendaagse Bestuursliggaam jou samewerking

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gee die hedendaagse Bestuursliggaam jou samewerking
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Oor al sy besittings” aangestel
  • “Rantsoen op tyd”
  • Voortgesette suiwerings
  • Anders as ’n raad van direkteure
  • Gee die Bestuursliggaam jou daadwerklike samewerking
  • Wie lei God se volk vandag?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • Hoe funksioneer die Bestuursliggaam vandag?
    Wie doen vandag Jehovah se wil?
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 3/15 bl. 15-20

Gee die hedendaagse Bestuursliggaam jou samewerking

“Hy sal hom oor al sy besittings aanstel.”—LUKAS 12:44.

1. In watter koninkryk het Christus in 33 G.J. begin heers, en deur middel waarvan?

OP PINKSTER 33 G.J. het Jesus Christus, die Hoof van die gemeente, daadwerklik in die koninkryk van sy geesgesalfde diensknegte begin heers. Hoe? Deur middel van die heilige gees, engele en ’n sigbare bestuursliggaam. Soos die apostel Paulus getoon het, het God ‘gesalfdes uit die mag van die duisternis verlos en hulle oorgebring in die koninkryk van die Seun van sy liefde’.—Kolossense 1:13-18; Handelinge 2:33, 42; 15:2; Galasiërs 2:1, 2; Openbaring 22:16.

2. In watter groter Koninkryk het Christus in 1914 begin heers?

2 Aan die einde van “die tye van die nasies” het Jehovah Christus groter koninklike mag gegee en sy gesag tot buite die Christengemeente uitgebrei (Lukas 21:24). Ja, in 1914, het God sy Seun koninklike mag oor die “nasies”, “die koninkryk van die wêreld”, die hele mensdom, gegee.—Psalm 2:6-8; Openbaring 11:15, vgl. NW.

“Oor al sy besittings” aangestel

3, 4. (a) Wie is in Jesus se gelykenis van die ponde deur die man van hoë geboorte afgebeeld? (b) Wat het in 1918 en 1919 in die Koninkryk plaasgevind?

3 Jesus se gelykenis van ’n man van hoë geboorte is hier van belang (Lukas 19:11-27). Voordat hy na ’n ver land gereis het om koningskap te ontvang, het die man sy diensknegte geld (ponde) gegee waarmee hulle moes werk. Toe hy teruggekom het, het hierdie man, wat Christus afbeeld, gesê “dat daardie diensknegte aan wie hy die geld gegee het, by hom geroep moes word, sodat hy kon weet wat elkeen met handel verdien het” (Lukas 19:15). Hoe is dit vervul nadat Jesus koningskap ontvang het?

4 In 1918 het die gekroonde Koning Jesus Christus ’n klein groepie Christene gevind wat die Christendom se kerke verlaat het en wat besig was om na hul Heer se aardse belange om te sien. Nadat Jesus hulle asof met vuur gelouter het, het hy sy diensknegte in 1919 groter gesag gegee (Maleagi 3:1-4; Lukas 19:16-19). Hy het hulle “oor al sy besittings” aangestel.—Lukas 12:42-44.

“Rantsoen op tyd”

5, 6. (a) Watter uitgebreide toewysing het Christus se bestuurder ontvang? (b) Watter profesieë sou ná 1914 in vervulling gaan, en hoe moes die bestuurderklas ’n daadwerklike aandeel in hulle vervulling hê?

5 Die heersende Koning Jesus Christus het aan sy bestuurder, of huisbestuurder, ’n uitgebreide toewysing op aarde gegee. Gesalfde Christene moes “gesante” van God wees wat optree in die plek van ’n gekroonde koning wat mag ontvang het om oor al die volke van die aarde te heers (2 Korinthiërs 5:20, vgl. NW; Daniël 7:14). Hulle verantwoordelikheid as ’n groep was nie meer om net aan Christus se liggaam van gesalfde bediendes “hulle rantsoen op tyd te gee” nie (Lukas 12:42). Hulle moes nou ’n daadwerklike aandeel hê in die vervulling van die profesieë wat ná die oprigting van die Koninkryk in 1914 in vervulling sou gaan.

6 Wat het dit in die praktyk beteken? Dit het beteken dat die verkondiging van “hierdie evangelie van die koninkryk” na “die hele wêreld” uitgebrei moes word (Mattheüs 24:14). Daarbenewens het dit die verkondiging van kragtige oordeelsboodskappe teen Satan se goddelose stelsel en die ondersteuners daarvan beteken. Dit het “die nasies laat bewe”. “Skatte”, Christus se “ander skape”, het dus begin instroom (Haggai 2:7; Johannes 10:16). Sedert 1935 het die “groot menigte” oor die hele wêreld in Jehovah se organisasie begin instroom (Openbaring 7:9, 10). Dit het progressiewe verbeterings in organisasie vereis. Simbolies gesproke moes klippe deur yster, hout deur koper, yster deur silwer en koper deur goud vervang word (Jesaja 60:17). Dit het alles sedert 1919 plaasgevind onder die daadwerklike en noukeurige leiding van Jesus Christus, wat al sy aardse Koninkryksbelange, of besittings, aan sy getroue diensknegklas en sy Bestuursliggaam toevertrou het.

7. Wat het die bestuurder se groter verantwoordelikheidslas behels?

7 Ons kan maklik verstaan dat die groter verantwoordelikheidslas wat op die Heer se dienskneg, sy bestuurder of huisbestuurder, geval het, intensiewe skryf- en redaksionele werk behels het. ’n Geestelike rantsoen moes gereeld op die regte tyd in Die Wagtoring gepubliseer word. In 1919 is daar begin om The Golden Age (’n medetydskrif wat later Vertroosting, en daarna Ontwaak! geword het) te publiseer om die publiek se belangstelling te wek en ook om die “diensvolk” op te bou (Mattheüs 24:45). ’n Stroom van boeke, boekies en traktate is ook deur die jare gedruk.

Voortgesette suiwerings

8. Aan watter liggaam was die lede van die Bestuursliggaam eers verbonde, en watter kommentaar het Die Wagtoring in 1945 gelewer?

8 As ons in hierdie “tyd van die einde” terugblik, is ons nie verbaas dat die lede van die Bestuursliggaam aanvanklik nou verbonde was aan die redaksie van die Wagtoringgenootskap nie (Daniël 12:4). Die artikel “Die teokratiese groepering vandag”, wat in Die Wagtoring van 1 April 1945 gedruk is, het gesê: “Redelikerwyse is op dié aan wie publikasie van die geopenbaarde Bybelwaarhede as die Here se besturende liggaam toevertrou is, gereken om dié almal te lei wat begeer het om God in gees en in waarheid te aanbid en hom verenigd te dien in die verspreiding van hierdie geopenbaarde waarhede na ander hongerige en dorstige persone.”

9. Met wie is die Bestuursliggaam later vereenselwig, en waarom?

9 Die publikasie van tydskrifte en ander Bybelstudiehulpe het behels dat wetlike vereistes nagekom word. Gevolglik is die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap gestig en in die staat Pennsilvanië, VSA, geregistreer. Die sigbare Bestuursliggaam is jare lank vereenselwig met die raad van sewe direkteure van hierdie korporasie wat gestig is om die Bybelstudiehulpe te publiseer wat die Here se volk aardwyd nodig gehad en gebruik het.

10, 11. Watter suiwering het in 1944 plaasgevind, en watter kommentaar het Die Wagtoring hieroor gelewer?

10 Die Genootskap se sewe direkteure was getroue Christene. Maar hulle rol in ’n wetlike korporasie kon dalk te kenne gegee het dat hulle hul posisies in die Bestuursliggaam te danke gehad het aan die feit dat hulle deur wetlike lede van die Wagtoringgenootskap gekies is. Boonop het die wet bepaal dat sulke lidmaatskap en die stemvoorregte daarvan aanvanklik net toegestaan word aan sekere persone wat bydraes aan die Genootskap gegee het. Hierdie reëling sou moes verander. Dit is gedoen by die jaarvergadering van die Pennsilvanië-korporasie van die Wagtoringgenootskap wat op 2 Oktober 1944 gehou is. Die statute van die Genootskap is gewysig sodat lidmaatskap nie meer op ’n finansiële grondslag sou berus nie. Lede sou uit getroue knegte van Jehovah gekies word, en hulle sluit tans talle in wat voltyds by die Genootskap se hoofkwartier in Brooklyn, New York, en by die takke van die Genootskap dwarsdeur die wêreld dien.

11 Die Wagtoring van 1 April 1945 het oor hierdie verbetering kommentaar gelewer en gesê: “Geld, soos in finansiële bydraes verteenwoordig, behoort geen beslissende stem [te hê] in, behoort trouens niks te doen te hê met die vul van die besturende liggaam van Jehova se getuies op aarde nie. . . . Dit is die heilige gees, die werksame krag wat van Jehova God deur Christus Jesus neerdaal, wat in die saak moet beslis en lei.”

Anders as ’n raad van direkteure

12. Wat toon dat Jehovah die suiwerings onder leiding van die Bestuursliggaam geseën het?

12 Die vordering van die predikingswerk gedurende die daaropvolgende dekades bewys dat Jehovah die voorgemelde suiwerings in die begrip van die Bestuursliggaam geseën het (Spreuke 10:22). Die getal Getuies op aarde het van minder as 130-000 in 1944 tot 1 483 430 in 1970 gestyg! Maar verdere verbeterings sou nog aangebring word.

13. (a) Wat was tot 1971 die situasie ten opsigte van die Bestuursliggaam? (b) Wat het in 1971 by die Genootskap se jaarvergadering gebeur?

13 Tot 1971 is lede van die Bestuursliggaam steeds vereenselwig met die sewe lede van die raad van direkteure van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië. Die Genootskap se president het die grootste verantwoordelikheidslas gehad om besluite te neem oor die werksaamhede van die Genootskap se takke oor die hele wêreld. Maar epogmakende toesprake is by die jaarvergadering op 1 Oktober 1971 gehou. Die Genootskap se president het gepraat oor die onderwerp “Die heiligdom word tot die regte toestand herstel”, en die vise-president oor die onderwerp “’n Bestuursliggaam onderskeie van ’n wetlike korporasie”. Watter verskil is daar tussen die Bestuursliggaam en die wetlike korporasie?

14. Watter verskille is daar tussen ’n wetlike korporasie en die Bestuursliggaam?

14 Soos reeds gemeld is, het die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië ’n raad van direkteure wat tot sewe lede beperk is. Hierdie toegewyde Christene word vir drie jaar gekies deur korporasielede, waarvan daar hoogstens 500 is en waarvan die meerderheid nie gesalfde Christene is nie. Daarbenewens kan die korporasie deur die keiser, dit wil sê, die Staat, ontbind word, aangesien dit bloot ’n wetlike liggaam met ’n vaste hoofkwartier is (Markus 12:17). Maar die Bestuursliggaam is nie ’n wetlike instrument nie. Daar word nie vir lede gestem nie. Hulle word deur die heilige gees onder leiding van Jehovah God en Jesus Christus aangestel. (Vergelyk Handelinge 20:28.) Daarbenewens is diegene wat die Bestuursliggaam uitmaak geesgesalfde manne wat nie verplig is om op ’n bepaalde plek of in ’n vaste hoofkwartier te bly nie.

15. Wat het Die Wagtoring van 1 Maart 1972 oor organisasie gesê, en wat kan van die hedendaagse Bestuursliggaam gesê word?

15 Die Wagtoring van 1 Maart 1972 het oor sulke suiwerings in begrip gesê: “Dankbaar weet en verklaar Jehovah se Christengetuies dat hierdie geen eenmangodsdiensorganisasie is nie, maar dat dit ’n bestuursliggaam met geesverwekte Christene het.” Die Bestuursliggaam van die gesalfde diensknegklas en van hulle miljoene metgeselle onder die ander skape is progressief toegerus om na sy opsienerstaak om te sien.

16. Hoe het Christus se aardse besittings sedert 1971 toegeneem, en wat is sommige hiervan wat hy aan die sorg van die getroue en verstandige dienskneg, wat deur sy Bestuursliggaam verteenwoordig word, toevertrou het?

16 Die aardse besittings van die Koning Jesus Christus het voortdurend toegeneem. Sedert 1971 het die getal Getuies van minder as 1 600 000 tot ’n hoogtepunt van meer as 3 700 000 in 1989 gestyg. Watter bewys is dit tog van God se seën! (Jesaja 60:22). Hierdie groei het vereis dat fasiliteite by die Genootskap se hoofkwartier en by sy takke uitgebrei word en dat moderne druk- en versendingsmetodes gebruik word. Dit het daartoe gelei dat talle Koninkryksale en Byeenkomssale oor die hele aarde gebou is. Intussen het die Bestuursliggaam steeds die verantwoordelikheid gedra om oor die predikingswerk toesig te hou, Bybelstudiemateriaal te druk en om opsieners in die takke, streke, kringe en gemeentes aan te stel. Al hierdie dinge is die Koninkryksbelange wat Christus toevertrou het aan die sorg van die getroue en verstandige dienskneg wat deur sy Bestuursliggaam verteenwoordig word.

17. Watter verdere verbeterings is in 1971, 1974 en 1976 ten opsigte van opsienerskap aangebring?

17 Die eerste-eeuse bestuursliggaam is vergroot en het uiteindelik meer as Jesus se apostels ingesluit. Toe die geskil oor die besnydenis besleg is, was “die apostels en ouere manne in Jerusalem” blykbaar lede van daardie liggaam (Handelinge 15:1, 2, NW). Die Bestuursliggaam is insgelyks in 1971 en weer in 1974 vergroot. Om hulle werk as opsieners te behartig, het die Bestuursliggaam gereël dat vyf komitees vanaf 1 Januarie 1976 in werking tree. Elke komitee bestaan uit drie tot ses lede, waarvan almal gelyke stemreg het in aangeleenthede wat bespreek word. Die voorsitter van elke komitee dien vir ’n jaar, en individuele lede van die Bestuursliggaam dien op een of meer van hierdie komitees. Elk van hierdie vyf komitees skenk besondere aandag aan ’n spesifieke aspek van Christus se aardse besittings. ’n Sesde komitee—die Voorsitterskomitee, waarvan die lidmaatskap elke jaar roteer—hanteer dringende probleme.

Gee die Bestuursliggaam jou daadwerklike samewerking

18. Hoe funksioneer die Bestuursliggaam, en wat is een manier waarop ons kan toon dat ons hulle ons samewerking gee?

18 Die komitees van die Bestuursliggaam hou weeklikse vergaderinge om belangrike sake te hersien, biddend besluite te neem en vir toekomstige teokratiese werksaamhede te beplan. Soos vroeër gemeld, toon Handelinge hoofstuk 15 dat ’n belangrike kwessie wat ’n beslissing geverg het onder die aandag van die eerste-eeuse bestuursliggaam gebring is. Vandag word belangrike kwessies eweneens aan die hele Bestuursliggaam voorgelê, wat weekliks of meer dikwels vergader wanneer dit nodig is. Die lede van die Bestuursliggaam, tans 12, soek Jehovah God se leiding deur middel van die Skrif en gebed. Een manier waarop ons toon dat ons die Bestuursliggaam ons samewerking gee, is deur hierdie mense wat ’n spesiale aanstelling het in ons daaglikse gebede te onthou.—Romeine 12:12.

19. Hoe bereik instruksies van die Bestuursliggaam die gemeentes?

19 Hoe bereik die instruksies en besluite van die Bestuursliggaam die gemeentes? Nadat die lede van die eerste-eeuse bestuursliggaam hulle besluit met die hulp van God se gees geneem het, het hulle ’n brief aan die gemeentes gestuur (Handelinge 15:22-29). Vandag word dit egter hoofsaaklik deur middel van Christelike publikasies gedoen.

20. (a) Watter verdere organisatoriese suiwerings het in 1976 plaasgevind? (b) Hoe gee Takkomitees die Bestuursliggaam hulle samewerking?

20 Sedert 1 Februarie 1976 het elk van die takke van die Wagtoringgenootskap ’n Takkomitee wat uit bekwame manne bestaan wat deur die Bestuursliggaam aangestel is. As verteenwoordigers van die Bestuursliggaam vir die land of lande onder die toesig van hulle tak moet hierdie broers getroue, lojale manne wees. Dit herinner ons aan die bekwame, godvresende, betroubare manne wat Moses gehelp het om regspraak uit te oefen oor eertydse Israel (Exodus 18:17-26). Lede van ’n Takkomitee voer instruksies uit wat ontvang word deur middel van die Genootskap se boeke en tydskrifte en Ons Koninkryksbediening, asook in algemene briewe en spesiale briewe wat oor plaaslike probleme handel. Takkomitees hou die Bestuursliggaam op die hoogte van die vordering van die werk in elke land en van probleme wat opduik. Sulke verslae uit alle wêrelddele help die Bestuursliggaam om te besluit watter onderwerpe in die Genootskap se publikasies bespreek moet word.

21. Hoe word reisende opsieners aangestel, en wat is party van hul pligte?

21 Onder leiding van die heilige gees beveel Takkomitees ryp, geestelike manne aan om as kring- en streekopsieners te dien. Nadat hulle direk deur die Bestuursliggaam aangestel is, dien hulle as reisende opsieners. Hierdie broers besoek kringe en gemeentes om hulle geestelik op te bou en te help om die instruksies uit te voer wat van die Bestuursliggaam ontvang word. (Vergelyk Handelinge 16:4; Romeine 1:11, 12.) Reisende opsieners stuur verslae aan die takkantoor. Met die hulp van die heilige gees en die geïnspireerde Skrif beveel hulle saam met die plaaslike ouere manne broers aan wat aan die vereistes voldoen om deur die Bestuursliggaam of deur sy verteenwoordigers as bedieningsknegte en ouere manne aangestel te word.—Filippense 1:1; Titus 1:5; vergelyk 1 Timotheüs 3:1-13; 4:14.

22. (a) Hoe gee gemeentelike ouere manne die Bestuursliggaam hulle samewerking? (b) Watter bewys is daar dat Jehovah hierdie teokratiese reëling seën?

22 Die liggame van ouere manne gee op hulle beurt ‘ag op hulleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees hulle as opsieners aangestel het’ (Handelinge 20:28). Hierdie opsieners probeer getrou om instruksies na te kom wat hulle deur middel van die getroue en verstandige dienskneg en sy Bestuursliggaam van Jehovah God en Jesus Christus ontvang. Jehovah seën hierdie teokratiese reëling, want ‘die gemeentes word aanhoudend in die geloof versterk en neem van dag tot dag voortdurend in getal toe’.—Handelinge 16:5, NW.

23. Wat moet ons vaste voorneme ten opsigte van die Bestuursliggaam wees?

23 Hoe goed is dit tog dat Jehovah God en die Heer, Jesus Christus, deur die Bestuursliggaam toon dat hulle God se volk ondersteun! (Psalm 94:14). As lede van Jehovah se organisasie vind ons persoonlik baat by sulke ondersteuning (Psalm 145:14). Dit behoort ons te versterk in ons vaste voorneme om God se reëlings ons samewerking te gee. Mag ons die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies inderdaad altyd ons samewerking gee terwyl ons die tyd nader wanneer ‘die aarde vol sal wees van die kennis van Jehovah soos die waters die seebodem oordek’.—Jesaja 11:9.

Hoofgedagtes om te onthou

□ Watter groter verantwoordelikhede het die bestuurderklas in 1919 ontvang?

□ Waarmee is die sigbare Bestuursliggaam baie jare lank vereenselwig?

□ Watter progressiewe suiwerings is gemaak in die aanstelling van die lede van die Bestuursliggaam?

□ Wat is van Christus se aardse besittings wat hy aan die diensknegklas en sy Bestuursliggaam toevertrou het?

□ Hoe kan ons die Bestuursliggaam ons samewerking gee?

[Prente op bladsy 16, 17]

Vanuit sy wêreldhoofkwartier in Brooklyn, New York, hou die Bestuursliggaam toesig oor die drukwerk en predikingswerk van Jehovah se Getuies in 93 takke van die Wagtoringgenootskap

Duitsland

Japan

Suid-Afrika

Brasilië

    Afrikaanse publikasies (1975-2021)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2021 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel