“Die woord van God is lewend en kragtig”
1, 2. (a) Wat is verantwoordelik vir veranderinge in die lewens van diegene wat Christene word? (b) Hoe groot kan die Bybel se invloed op ’n persoon wees?
IN DIE middel van die eerste eeu G.J. het die apostel Paulus ’n brief aan die Christengemeente in Rome geskryf. Daarin het hy die vereiste dat ware Christene veranderinge moet maak, beklemtoon. Hy het gesê: “Word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Romeine 12:2). Wat is dit wat Jesus se volgelinge verander, wat selfs hulle denkwyse wysig? Basies is dit die krag van God se Woord, die Bybel.
2 Paulus het getoon hoe groot die Bybel se invloed op ons kan wees toe hy geskryf het: “Die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ’n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart” (Hebreërs 4:12). Ja, die Bybel se buitengewone krag wat sulke veranderinge in mense kan teweegbring, is ’n oortuigende bewys dat dit meer as bloot die woord van die mens is.
3, 4. In watter mate word Christene se persoonlikhede verander?
3 Die Griekse woord wat in Romeine 12:2 met “word verander” vertaal word, is van me·ta·mor·foʹo afgelei. Dit dui op ’n algehele verandering, soos die metamorfose van ’n ruspe tot ’n skoenlapper. Dit is so volkome dat die Bybel daarvan praat as ’n verandering van persoonlikheid. In ’n ander Bybelvers lees ons: ‘Lê die oue mens [“persoonlikheid”, NW] met sy werke af en beklee julle met die nuwe mens [“persoonlikheid”, NW] wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper.’—Kolossense 3:9, 10.
4 Toe Paulus aan die gemeente in Korinthe geskryf het, het hy beskryf in watter mate persoonlikheidsveranderinge in die eerste eeu plaasgevind het. Hy het gesê: “Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas” (1 Korinthiërs 6:10, 11). Ja, onsedelike en twissiek mense, diewe en dronkaards is in voorbeeldige Christene verander.
Hedendaagse persoonlikheidsveranderinge
5, 6. Hoe is die persoonlikheid van een jong man heeltemal deur die krag van die Bybel verander?
5 Soortgelyke persoonlikheidsveranderinge word vandag gesien. Byvoorbeeld: ’n Jong seun in Suid-Amerika het op negejarige ouderdom ’n weeskind geword. Hy het sonder ouerlike leiding grootgeword en ernstige persoonlikheidsprobleme ontwikkel. Hy vertel: “Teen die tyd dat ek 18 was, was ek heeltemal aan dwelms verslaaf en het ek reeds in die tronk beland omdat ek gesteel het om vir die gewoonte te betaal.” Maar sy tante was ’n Getuie van Jehovah, en sy kon hom uiteindelik help.
6 Die jong man verduidelik: “My tante het ’n Bybelstudie met my begin hou, en na sewe maande kon ek met die dwelmgewoonte breek.” Hy het ook van sy voormalige metgeselle afgesien en nuwe vriende onder Jehovah se Getuies gevind. Hy sê voorts: “Hierdie nuwe metgeselle, tesame met my gereelde Bybelstudie, het my in staat gestel om vordering te maak en my uiteindelik aan God toe te wy om hom te dien.” Ja, hierdie voormalige dwelmslaaf en dief is nou ’n bedrywige Christen wat ’n rein lewe lei. Hoe is so ’n ingrypende persoonlikheidsverandering teweeggebring? Deur die krag van die Bybel.
7, 8. Beskryf hoe ’n groot persoonlikheidsprobleem met behulp van die Bybel opgelos is.
7 Nog ’n voorbeeld kom uit Suid-Europa. ’n Jong man aldaar het met ’n groot persoonlikheidsprobleem grootgeword: ’n verskriklike humeur. Hy was voortdurend in ’n bakleiery betrokke. In een gesinsrusie het hy selfs sy eie vader platgeslaan! Maar hy het uiteindelik die Bybel saam met Jehovah se Getuies bestudeer en ag geslaan op God se bevel in die boek Romeine: “Vergeld niemand kwaad vir kwaad nie . . . as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn.”—Romeine 12:17-19.
8 Daardie woorde het hom gehelp om te besef hoe ernstig sy swakheid is. Meer kennis van die Bybel het sy gewete geskerp, wat hom gehelp het om sy vinnige humeur te beteuel. Eenkeer, nadat hy ’n hele ruk gestudeer het, het ’n vreemdeling hom beledigings toegesnou. Die jong man het gevoel hoe die bekende woede in hom opwel. Toe het hy iets anders gevoel: ’n gevoel van skaamte; en dit het verhoed dat hy aan sy woede toegee. Hy het selfbeheersing, ’n belangrike vrug van die gees, aangekweek (Galasiërs 5:22). Sy persoonlikheid was nou anders, danksy die krag van God se Woord.
9. Waardeur sê Paulus word ons persoonlikheid verander?
9 Maar hoe kan die Bybel so ’n kragtige uitwerking hê? Paulus sê in Kolossense 3:10 dat ons persoonlikhede deur juiste kennis verander word, en daardie kennis word in die Bybel aangetref. Maar hoe verander kennis mense?
Die rol van juiste kennis
10, 11. (a) Wat leer ons oor wenslike en onwenslike eienskappe wanneer ons die Bybel bestudeer? (b) Wat benewens kennis is nodig om ’n verandering in ons persoonlikheid teweeg te bring?
10 Ten eerste identifiseer die Bybel onwenslike eienskappe wat afgelê moet word. Dit sluit dinge in soos “trotse oë, ’n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet, ’n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop, een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai” (Spreuke 6:16-19). Ten tweede beskryf die Bybel wenslike eienskappe wat ons moet aankweek, onder andere “liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing”.—Galasiërs 5:22.
11 Sulke juiste kennis help ’n opregte persoon om homself te ondersoek en te sien watter eienskappe hy moet aankweek en watter hy moet probeer aflê (Jakobus 1:25). Maar dit is net die begin. Benewens kennis is motivering nodig, iets wat hom sal beweeg sodat hy wíl verander. Hy het weer eens juiste kennis uit die Bybel nodig.
Beweeg tot goedheid
12. Hoe help kennis van God se persoonlikheid ons om te verander?
12 Paulus het gesê dat die wenslike nuwe persoonlikheid gevorm is “na die beeld van sy Skepper” (Kolossense 3:10). Die Christelike persoonlikheid moet dus met God se eie persoonlikheid ooreenkom (Efesiërs 5:1). God se persoonlikheid word deur die Bybel aan ons geopenbaar. Ons sien sy handelinge met die mens en let op sy voortreflike eienskappe, soos sy liefde, goedhartigheid, goedheid, genade en regverdigheid. Hierdie kennis beweeg ’n regskapene om God lief te hê en om die soort persoon te wil wees wat God se goedkeuring wegdra (Mattheüs 22:37). Ons wil ons hemelse Vader behaag soos kinders wat hom liefhet, en daarom probeer ons om sy persoonlikheid so goed moontlik in ons swak, onvolmaakte toestand te weerspieël.—Efesiërs 5:1.
13. Watter kennis leer ons om ‘geregtigheid lief te hê en ongeregtigheid te haat’?
13 Ons beweegredes word versterk deur wat die Bybel ons oor die gevolge van goeie en slegte eienskappe meedeel (Psalm 14:1-5; 15:1-5; 18:21, 25). Ons leer dat Dawid weens sy godvrugtige toegewydheid en liefde vir geregtigheid geseën is, maar dat hy gestraf is toe hy sy selfbeheersing verloor het. Ons sien die slegte gevolge toe Salomo se goeie eienskappe in sy oudag bederf is. Die seëninge wat uit die regskapenheid van Josia en Hiskia gespruit het, word gekontrasteer met die rampspoedige gevolge van Agab se swakheid en Manasse se hardvogtige afvalligheid (Galasiërs 6:7). Ons leer dus om ‘geregtigheid lief te hê en ongeregtigheid te haat’.—Hebreërs 1:9; Psalm 45:8; 97:10.
14. Wat is Jehovah se voornemens met die wêreld en die mense daarin?
14 Hierdie beweegredes word selfs verder versterk deur juiste kennis van God se voornemens. Sodanige kennis help om die ‘krag wat ons denke aandryf’, die gees agter ons gedagtes en dade, te verander (Efesiërs 4:23, 24, NW). Wanneer ons die Bybel bestudeer, leer ons dat Jehovah goddeloosheid nie vir ewig sal duld nie. Hy gaan hierdie goddelose wêreld binnekort vernietig en “nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon” tot stand bring (2 Petrus 3:8-10, 13). Wie sal in hierdie nuwe wêreld lewe? “Die opregtes sal die land bewoon, en die regskapenes daarin oorbly, maar die goddelose sal uit die land uitgeroei, en die ontroues sal daaruit weggeruk word.”—Spreuke 2:21, 22.
15. Hoe sal ons as persone beïnvloed word as ons werklik glo wat die Bybel oor Jehovah se voornemens sê?
15 As ons hierdie belofte werklik glo, sal ons hele denkwyse beïnvloed word. Nadat die apostel Petrus die vernietiging van goddeloosheid voorspel het, sê hy: “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie?—julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas” (2 Petrus 3:11, 12). Ons persoonlikhede moet gevorm word deur ons sterk begeerte om onder die opregtes te wees wat sal oorbly wanneer die goddeloses vernietig word.
16. Watter soort persoonlikhede sal geen plek in die nuwe wêreld hê nie, en hoe moet hierdie kennis ons beïnvloed?
16 Die boek Openbaring beloof opregtes dat God, ná die einde van hierdie wêreld, “al die trane van hulle oë [sal] afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan”. Maar dan waarsku dit dat “die vreesagtiges . . . en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars” verwerp sal word (Openbaring 21:4, 8). Hoe verstandig is dit tog om die onwenslike eienskappe wat God nie in die nuwe wêreld sal toelaat nie, te vermy!
Eksterne hulp
17. Watter soort hulp raai die Bybel ons aan om te soek?
17 Maar mense is swak en hulle het gewoonlik meer as net inligting en motivering nodig as hulle veranderinge wil maak. Hulle het persoonlike hulp nodig, en die Bybel sê vir ons waar ons hierdie hulp kan vind. Dit sê byvoorbeeld: “Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg” (Spreuke 13:20). As ons omgaan met diegene wat die eienskappe wat ons wil aankweek aan die dag lê, sal dit ons eweneens in groot mate help om meer soos hulle te word.—Genesis 6:9; Spreuke 2:20; 1 Korinthiërs 15:33.
18, 19. Wat moet ons doen om ons verstande en harte vir God se gees ontvanklik te maak?
18 Jehovah self gee daarbenewens hulp in die vorm van heilige gees—dieselfde gees wat hy gebruik het om in vroeër tye wonderwerke te verrig. Ja, die uiters wenslike eienskappe, naamlik “liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” word “die vrug van die Gees” genoem (Galasiërs 5:22). Hoe verkry ons die hulp van heilige gees? Aangesien die Bybel deur heilige gees geïnspireer is, maak ons ons verstand en hart ontvanklik vir die oorredende krag van daardie gees wanneer ons die Bybel lees of met ander daaroor praat (2 Timotheüs 3:16). Trouens, Jesus het beloof dat ons die direkte werking van daardie gees sal ervaar wanneer ons met ander oor ons hoop praat.—Mattheüs 10:18-20.
19 Daarby beveel die Bybel: “Volhard in die gebed” (Romeine 12:12). In gebed praat ons met Jehovah, loof ons hom, dank ons hom en vra ons sy hulp. As ons hulp vra om onwenslike eienskappe, soos ’n slegte humeur, koppigheid, ongeduld of trots, te bowe te kom, sal God se gees al ons pogings steun wat met daardie gebed ooreenstem.—Johannes 14:13, 14; Jakobus 1:5; 1 Johannes 5:14.
20. Waarom moet Christene hulle voortdurend daarop toelê om hulle met die nuwe persoonlikheid te beklee?
20 Toe Paulus geskryf het: “Word verander deur die vernuwing van julle gemoed”, het hy aan ’n gemeente van gedoopte, gesalfde Christene geskryf (Romeine 1:7; 12:2). En in die oorspronklike Grieks het hy ’n werkwoordvorm gebruik wat voortdurende handeling impliseer. Dit gee te kenne dat die verandering wat juiste kennis uit die Bybel in ons teweegbring progressief is. Ons is vandag—soos die Christene in Paulus se dag—omring deur ’n wêreld vol verderflike invloede. En ons is—soos hulle—onvolmaak, geneig om verkeerd te doen (Genesis 8:21). Ons moet ons gevolglik voortdurend daarop toelê om die ou, selfsugtige persoonlikheid af te lê en ons met die nuwe te beklee, net soos hulle gedoen het. Die vroeë Christene het dit dermate reggekry dat hulle opvallend anders as die wêreld rondom hulle was. Vandag doen Christene dieselfde.
’n Volk wat “deur die HERE geleer” word
21. Wat is party van die profesieë wat in hierdie laaste dae in God se volk vervul word?
21 Ja, God se gees werk vandag nie alleen op individue in nie, maar op ’n hele organisasie Christene, wat miljoene tel. Jesaja se profetiese woorde word in hierdie organisasie vervul: “En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel” (Jesaja 2:3). Jesaja se verdere profesie is ook in hulle vervul: “Al jou kinders sal deur die HERE geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees” (Jesaja 54:13). Wie is hierdie persone wat vrede geniet omdat hulle deur Jehovah geleer word?
22. (a) Wie word vandag deur Jehovah geleer? (b) Gee voorbeelde wat toon dat buitestaanders erken dat Jehovah se Getuies anders is.
22 Wel, let op hierdie aanhaling uit ’n brief wat aan die New Haven Register, ’n Noord-Amerikaanse koerant, geskryf is: “Al het hulle proselitisme jou vererg of kwaadgemaak, soos vir my, moet jy hulle toewyding, hulle gesonde aard, hulle voortreflike voorbeeld van mensegedrag en ’n heilsame lewenswyse bewonder.” Van wie het die skrywer gepraat? Van dieselfde groep wat in die Herald van Buenos Aires, Argentinië, bespreek is toe dit gesê het: “Jehovah se Getuies het deur die jare heen bewys dat hulle vlytige, gematigde, spaarsame en godvresende burgers is.” Die Italiaanse koerant La Stampa het ook gesê: “Hulle ontwyk nie belasting of probeer nie om ongerieflike wette vir eiegewin te ontduik nie. Die morele ideale: naasteliefde, weiering van mag, geweldloosheid en persoonlike eerlikheid . . . is ’n deel van hulle ‘daaglikse’ lewenswyse.”
23. Waarom is Jehovah se Getuies as ’n organisasie opvallend anders?
23 Waarom is Jehovah se Getuies as ’n groep—soos die vroeë Christene—so opvallend anders? Op talle gebiede is hulle dieselfde as ander mense. Hulle word met dieselfde menslike onvolmaakthede gebore en het dieselfde ekonomiese probleme en basiese behoeftes. Maar as ’n wêreldwye gemeente laat hulle God se Woord ’n kragtige invloed op hulle lewe uitoefen. Die gevolglike internasionale broederskap van ware Christene is ’n oortuigende bewys dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is.—Psalm 133:1.
Die Bybel is geïnspireer
24. Wat is ons bede vir baie ander mense?
24 In hierdie twee artikels het ons net twee bewyse aangevoer om te toon dat die Bybel God se Woord is, nie die mens s’n nie. Hetsy opregte mense aan die ongeëwenaarde wysheid van die Bybel dink of aan sy krag om mense te verander—of aan die baie ander dinge wat dit uniek maak—hulle kan nie anders as om te besef dat dit deur God geïnspireer moet wees nie. As Christene bid ons dat baie meer mense hierdie waarheid sal besef. Dan sal hulle ook die psalmis se vreugdevolle woorde hulle eie maak: “Aanskou dat ek u bevele liefhet; o HERE, maak my lewend na u goedertierenheid. Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.”—Psalm 119:159, 160.
Onthou jy?
◻ Watter uitwerking het die Bybel op ware Christene?
◻ Hoe help juiste kennis om ons te verander?
◻ Hoe help die Bybel om ons te motiveer om goeie eienskappe aan te kweek en slegtes te bowe te kom?
◻ Watter hulp is beskikbaar om godvrugtige eienskappe aan te kweek?
◻ Watter bewys dat die Bybel geïnspireer is, kan onder Jehovah se volk gesien word?
[Prent op bladsy 18]
Die slegte gevolg van Salomo se ontrouheid in sy oudag moet ons beweeg om geregtigheid lief te hê en ongeregtigheid te haat
[Prent op bladsy 20]
As ons Jehovah om hulp vra, sal sy gees ons sterk in ons pogings om slegte eienskappe te bowe te kom