Strewe jy na ’n opsienersamp?
“As iemand na ’n opsienersamp verlang [“strewe”, “NW”], begeer hy ’n voortreflike werk.”—1 TIMOTHEÜS 3:1.
1. Die uitvoering van watter doelwit is vir Jehovah se Getuies van die grootste belang?
JEHOVAH SE GETUIES het voortreflike doelwitte wat op ’n godvrugtige wyse gestel en nagestreef word. Dit is nie verbasend nie, aangesien hulle God edele doelwitte het en altyd sy voornemens uitvoer (Jesaja 55:8-11). Jehovah se knegte moenie soos daardie mense wees wat nie ’n goeie doelwit het nie en wat agteloos deur die lewe gaan terwyl hulle min doen om enigiemand buiten hulself te bevoordeel. Die uitvoering van die edele doelwit om die Koninkryksboodskap te verkondig en die lewegewende kennis van God se Woord aan ander oor te dra, is vir God se Getuies van die grootste belang.—Psalm 119:105; Markus 13:10; Johannes 17:3.
2. Watter doelwit vir Christenmans het Paulus in 1 Timotheüs 3:1 gemeld?
2 Daar is ook ander edele doelwitte in Jehovah se organisasie. Die apostel Paulus het een hiervan aangegee toe hy geskryf het: “Dit is ’n betroubare woord: as iemand na ’n opsienersamp verlang, begeer hy ’n voortreflike werk.” So ’n man wil iets bereik wat ander tot voordeel sal strek. Hy begeer “’n voortreflike werk”, nie ’n lewe van gemak en eer nie. ’n Ander vertaling sê: “Dit is heeltemal waar om te sê dat ’n man wat sy hart op leierskap sit prysenswaardige ambisie het.”—1 Timotheüs 3:1, Phillips.
Gevare vir ouere manne
3, 4. Waarom moet ’n man wat daarna streef om ’n opsiener te word sy hart bewaak?
3 In watter opsig het ’n man wat sy hart daarop sit om ’n Christenopsiener te wees ’n “prysenswaardige ambisie”? Wel, ambisie is ’n vurige begeerte om ’n spesifieke doelwit te bereik. Daar is weliswaar edele en onedele ambisies. Maar as ’n man nederig ’n opsienersamp nastreef omdat hy ander wil dien, word sy diens met opregte beweegredes verrig en kan dit tot geestelike seëninge lei. Maar hy moet sy hart bewaak.—Spreuke 4:23.
4 Sommige ambisieuse mense soek eer. Ander wil oor hul medemens heers. Die begeerte na vernaamheid of mag is soos ’n verrotte wortel wat selfs ’n boom wat gesond lyk, kan laat neerstort. ’n Christen kan ook swig voor sulke ambisie wat uit ’n verkeerde beweegrede spruit (Spreuke 16:18). “Ek het aan die gemeente geskrywe”, het die apostel Johannes gesê, “maar Diotrefes, wat onder hulle die eerste wil wees [“wat die hoof van alles wil wees”, Phillips], steur hom nie aan ons nie. Daarom, as ek kom, sal ek hom herinner aan die werke wat hy doen deur met slegte woorde teen ons uit te vaar; en hiermee nie tevrede nie, ontvang hy nie alleen self die broeders nie gasvry [“met agting”, NW] nie, maar verhinder ook die wat dit wil doen en werp hulle uit die gemeente” (3 Johannes 9, 10). Diotrefes se ambisie was onchristelik. Verwaandheid en die ambisieuse najaging van mag oor ander hoort nie onder Jesus se ware volgelinge nie.—Spreuke 21:4.
5. Met watter gesindheid moet opsieners hulle pligte nakom?
5 ’n Christenopsiener wat sy pligte met die regte beweegrede nakom, sal nie selfsugtige ambisies najaag nie. Hy sal hierdie goeie werk van Christelike toesig as ’n godgegewe voorreg beskou en sal God se kudde as herder lei “nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as [’n heerser] oor die erfdeel nie, maar as [’n voorbeeld] vir die kudde” (1 Petrus 5:2, 3). Ja, opsieners moet waak teen hoogmoed en ’n begeerte om mag te misbruik.
6. Waarom moet ’n ouere man nie oor God se volk heers nie?
6 ’n Ouere man moenie oor ander Christene heers nie, want hy is hulle medewerker, en ‘heers nie oor hulle geloof nie’ (2 Korinthiërs 1:24). Toe sekere apostels vernaam wou wees, het Jesus gesê: “Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie” (Mattheüs 20:20-28). ’n Ouere man is nie die Opperherder nie, maar bloot ’n onderherder. As hy oor die kudde heers, openbaar hy ’n gees van hoogmoed. Dit sal veral skade aanrig as hy ander meesleep om hom te help om sy hoogmoedige ambisies te bevorder. ’n Spreuk sê: “Elke hoogmoedige van hart is vir die HERE ’n gruwel; sekerlik, hy sal nie ongestraf bly nie.”—Spreuke 16:5.
7, 8. (a) Waarom is dit vir Christen- ouere manne nodig om nederig te wees? (b) Gee ’n voorbeeld van ’n nederige ouere man.
7 Christen- ouere manne moet hulle dus ‘verneder onder die kragtige hand van God’. Hoogmoed staan in die pad van geestelike bruikbaarheid, want net die nederiges het die regte harts- en geestestoestand om die goddelike wil te doen. “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade” (1 Petrus 5:5, 6). Ja, Jehovah seën die nederiges. Dit is uit hulle geledere dat bekwame manne aangestel word om as Christen- ouere manne te dien.
8 Die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se Getuies is vol verhale van nederige diens wat deur godvrugtige mense verrig word. Beskou as voorbeeld sagsinnige W. J. Thorn, wat eers ’n pelgrim, of reisende opsiener, en daarna baie jare lank ’n Bethelwerker was. Een Christen het van hom gesê: “Ek sal iets wat broer Thorn gesê het en wat my tot vandag toe help nooit, ooit vergeet nie. Hy het gesê, en ek haal aan: ‘Wanneer ek ook al baie van myself begin dink, laat ek my in ’n hoekie staan, om dit so uit te druk, en sê: “Jou klein stofspikkeltjie. Wat het jy om hoogmoedig oor te wees?”’” Wat ’n prysenswaardige eienskap vir ouere manne en ander om aan die dag te lê! Onthou, “die loon van nederigheid en die vrees van Jehovah is rykdom en eer en die lewe.”—Spreuke 22:4, NW.
Die godgegewe begeerte om te dien
9. Waarom kan ons sê dat die begeerte om as opsiener te dien ’n godgegewe begeerte is?
9 Is die begeerte om as opsiener te dien ’n godgegewe begeerte? Ja, want Jehovah se gees voorsien die beweegrede, moed en krag om heilige diens aan hom te verrig. Wat het byvoorbeeld gebeur toe Jesus se vervolgde volgelinge om vrymoedigheid gebid het om te preek? “Die plek [is] geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek” (Handelinge 4:27-31). Aangesien die heilige gees sulke resultate voortgebring het, kan dit ook iemand beweeg om ’n opsienersamp na te streef.
10. (a) Wat is een rede waarom ’n Christenman moontlik nie ’n opsienersamp nastreef nie? (b) Waarvan kan ons seker wees as God ’n diensvoorreg aan ons toeken?
10 Waarom streef ’n ryp Christen moontlik nie ’n opsienersamp na nie? Hy is miskien ’n geestelike mens maar hy voel onbekwaam (1 Korinthiërs 2:14, 15). Ons moet natuurlik ’n beskeie beskouing van onsself hê en bewus wees van ons beperkinge (Miga 6:8, NW). Pleks van verwaand te dink dat ons die bekwaamste is vir ’n sekere verantwoordelikheid, moet ons onthou “by die beskeidenes is wysheid” (Spreuke 11:2). Maar ons moet ook besef dat as God ’n diensvoorreg aan ons toeken hy ook die nodige krag sal voorsien om dit uit te voer. Soos Paulus gesê het: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”—Filippense 4:13, NAV.
11. Wat kan ’n Christen doen wat nie ’n opsienersamp nastreef nie omdat hy meen dat hy nie genoeg wysheid het om raad te gee nie?
11 Dalk streef ’n Christen nie ’n opsienersamp na nie omdat hy meen dat hy nie genoeg wysheid het om raad te gee nie. Wel, hy kan wysheid verkry deur God se Woord vlytiger te bestudeer en hy moet beslis om wysheid bid. Jakobus het geskryf: “As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word. Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ’n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie—so ’n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë” (Jakobus 1:5-8). God het Salomo se gebed verhoor en hom “’n wyse en verstandige hart gegee” wat hom in staat gestel het om tussen goed en kwaad te onderskei wanneer hy reg gespreek het (1 Konings 3:9-14). Salomo se geval was besonders, maar met vlytige studie en God se hulp kan manne aan wie gemeentelike verantwoordelikheid toevertrou is regverdige raad aan ander gee. “Die HERE gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand.”—Spreuke 2:6.
12. Wat kan ’n man help as hy weens vrees nie groter verantwoordelikheid nastreef nie?
12 ’n Mate van besorgdheid, oftewel vrees, kan ’n man daarvan weerhou om groter verantwoordelikheid na te streef. Hy dink moontlik dat hy nie die swaar verantwoordelikheid wat ’n ouere man het, sal kan dra nie. Selfs Paulus het erken: “Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes” (2 Korinthiërs 11:28, NAV). Maar die apostel het geweet wat om te doen wanneer hy besorg was, want hy het geskryf: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Filippense 4:6, 7). Ja, gebed en vertroue in God kan help om vrees te verminder.
13. Hoe kan ’n man bid as hy bang voel om ’n opsienersamp na te streef?
13 As ’n mate van vrees voortduur, kan ’n man wat huiwerig is om ’n opsienersamp na te streef, net soos Dawid bid: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my [verontrustende] gedagtes; en kyk of daar by my ’n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (Psalm 139:23, 24, vgl. NW). Wat ook al die aard is van die gedagtes wat ons ‘verontrus’ of ‘besorg’ maak, God kan ons help om hulle te verwerk sodat ons geestelike vooruitgang kan maak. (Sien The New International Version.) ’n Ander psalm druk dit goed uit: “As ek dink: My voet wankel—dan ondersteun u goedertierenheid my, o HERE! As my [verontrustende] gedagtes binne-in my vermenigvuldig, dan verkwik u vertroostinge my siel.”—Psalm 94:18, 19, vgl. NW.
Dien blymoedig na Jehovah se wil
14. Waarom moet ’n man wat nie na ’n opsienersamp strewe nie om God se heilige gees bid?
14 As ’n Christenman nie na ’n opsienersamp strewe nie omdat hy bang of onbekwaam voel of geen begeerte daarvoor het nie, sal dit beslis gepas wees om God om sy gees te bid. Jesus het gesê: “As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” (Lukas 11:13). Aangesien vrede en selfbeheersing onder die vrugte van die gees is, kan hierdie gees ons help om besorgdheid of ’n gevoel van onbekwaamheid te bowe te kom.—Galasiërs 5:22.
15. Watter soort gebede kan diegene wat nie die begeerte het nie, help om hulle vir diensvoorregte beskikbaar te stel?
15 Wat as die begeerte ontbreek? As gedoopte Christene moet ons bid dat God ons sal laat doen wat hom behaag. Dawid het gesmeek: “HERE, maak my u weë bekend . . . Lei my in u waarheid en leer my” (Psalm 25:4, 5). Sulke gebede kan ons help om ’n verkeerde pad te vermy, en ons kan op ’n soortgelyke wyse bid as ons nie die begeerte het om ’n opsienersamp na te streef nie. Ons kan Jehovah vra om ons te help sodat ons diensvoorregte sal wil aanvaar. Trouens, as ons om God se gees bid en ons daardeur laat lei, sal ons ons ongetwyfeld beskikbaar stel as diensvoorregte vir ons aangebied word. God se knegte sal sy gees tog geensins wil weerstaan nie.—Efesiërs 4:30.
16. Watter gesindheid bied ’n sterk beweegrede om na gemeentelike verantwoordelikheid te strewe?
16 As ons “die sin van Christus” het, sal ons behae daarin skep om die goddelike wil te doen (1 Korinthiërs 2:16). Jesus het dieselfde gesindheid as die psalmis gehad, wat gesê het: “In die doen van u wil, o my God, het ek behae geskep, en u wet is in my ingewande” (Psalm 40:8, NW). Christus het gesê: “Kyk, Ek kom om u wil te doen”, en dit het selfs sy dood aan die folterpaal ingesluit (Hebreërs 10:9, 10). ’n Begeerte om alles moontlik in Jehovah se diens te doen, is ’n sterk beweegrede om na gemeentelike verantwoordelikheid te strewe.
Kyk na die toekoms
17. (a) Waarom moet manne wat nou nie meer soveel soos vroeër kan doen nie, nie mismoedig wees nie? (b) Wat is die allergrootste voorreg?
17 Sommige wat voorheen belangrike pligte in die gemeente gehad het, geniet dalk tans weens gesondheidsprobleme of om ander redes nie sulke voorregte nie. Hulle moenie mismoedig wees nie. Ons weet dat talle getroue manne wat nie meer soveel kan doen soos vroeër nie nog steeds vasstaan as handhawers van onkreukbaarheid (Psalm 25:21). Nederige broers wat al lank as ouere manne dien, kan inderdaad steeds hulle ervaring beskikbaar stel deur op die liggaam van ouere manne te bly dien. Al word hulle deur ouderdom of liggaamsgebreke gestrem, hoef hulle nie van hulle posisie as ouere manne afstand te doen nie. Laat elke Getuie van Jehovah intussen die allergrootste voorreg koester, naamlik om ‘melding te maak van die heerlikheid van God se koninkryk’ as voorstanders van sy heilige naam.—Psalm 145:10-13.
18. (a) Wat is nodig as ’n ouere man of ’n bedieningskneg van sy amp onthef is? (b) Watter goeie gesindheid het een ouere man wat van sy amp onthef is aan die dag gelê?
18 As jy voorheen ’n ouere man of ’n bedieningskneg was, maar nie tans in daardie hoedanigheid dien nie, kan jy verseker wees dat God nog vir jou sorg, en dalk sal hy in die toekoms onverwagse voorregte aan jou toeken (1 Petrus 5:6, 7). As jy wel aanpassings moet maak, moet jy bereid wees om ’n tekortkoming te erken en met God se hulp daaraan te werk. Sommige wat van hulle posisie as ouere manne onthef is, het ’n onchristelike gesindheid aangeneem, en enkeles het onbedrywig geword of van die waarheid afvallig geword. Maar hoe verstandig is dit tog om soos diegene te wees wat ’n goeie gesindheid aan die dag gelê het! Toe ’n ouere man wat jare lank in Sentraal-Amerika gedien het byvoorbeeld van sy amp onthef is, het hy gesê: “Dit maak my baie seer om die voorreg wat ek so lank gekoester het, te verloor. Maar ek gaan hard werk in watter hoedanigheid die broers my ook al wil gebruik en my daarop toelê om my diensvoorregte terug te kry.” Hierdie broer is mettertyd bevoorreg om weer as ’n ouere man te dien.
19. Watter gepaste raad word aan ’n broer gegee wat as ’n ouere man of ’n bedieningskneg van sy amp onthef is?
19 Behou ’n gees van nederigheid as jy ’n ouere man of bedieningskneg is wat van jou amp onthef is. Vermy ’n bitter gesindheid wat jou vir toekomstige voorregte sal diskwalifiseer. ’n Godvrugtige gees dwing respek af. Pleks van mismoedig te word, kan jy nadink oor hoe Jehovah jou bediening of jou huisgesin seën. Bou jou gesin geestelik op, besoek die siekes en bemoedig die swakkes. Koester bowenal jou voorreg om God te loof en die goeie nuus as een van Jehovah se Getuies te verkondig.—Psalm 145:1, 2; Jesaja 43:10-12.
20. Hoe kan ’n liggaam van ouere manne ’n voormalige opsiener of bedieningskneg help?
20 ’n Liggaam van ouere manne moet besef dat afsetting spanning vir ’n voormalige opsiener of bedieningskneg kan veroorsaak, selfs al doen hy vrywillig afstand van die voorreg. As hy nie uitgesit is nie, en die ouere manne sien dat die broer neerslagtig is, moet hulle liefdevol geestelike bystand aan hom verleen (1 Thessalonicense 5:14). Hulle moet hom help besef dat hy nodig is in die gemeente. Selfs al was dit nodig om hom te berispe, sal dit moontlik nie te lank duur voor ’n nederige en dankbare man weer bykomende diensvoorregte in die gemeente ontvang nie.
21. Wie het vir diensvoorregte gewag, en wat kan diegene wat vandag daarvoor wag gerus doen?
21 As jy groter voorregte nastreef, sal jy moontlik ’n ruk moet wag voor jy verdere diensvoorregte ontvang. Moenie ongeduldig wees nie. Moses het 40 jaar lank gewag voor God hom gebruik het toe die Israeliete van slawerny aan die Egiptenare bevry is (Handelinge 7:23-36). Josua was lank Moses se dienaar voordat hy sy opvolger geword het (Exodus 33:11; Numeri 27:15-23). Dawid het ’n geruime tyd gewag voordat hy Israel se troon bestyg het (2 Samuel 2:7; 5:3). Petrus en Johannes Markus het blykbaar tydperke van loutering deurgemaak (Mattheüs 26:69-75; Johannes 21:15-19; Handelinge 13:13; 15:36-41; Kolossense 4:10). As jy dus nie nou pligte in die gemeente het nie, kan dit wees dat Jehovah toelaat dat jy deur meer ervaring gebrei word. Soek in elk geval God se hulp terwyl jy ’n opsienersamp nastreef, en hy sal jou met groter voorregte seën. Werk intussen hard om aan die vereistes vir gemeentelike verantwoordelikheid te voldoen en openbaar die gees van Dawid, wat gesê het: “My mond sal die lof van die HERE uitspreek, en laat alle vlees sy heilige Naam loof vir ewig en altyd.”—Psalm 145:21.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Vir watter gevare moet Christen- ouere manne op hulle hoede wees?
◻ Wat kan diegene help wat nie ’n opsienersamp nastreef nie omdat hulle bevrees of onbekwaam voel?
◻ Wat kan ’n persoon beweeg sodat hy homself beskikbaar sal stel vir gemeentelike verantwoordelikheid?
◻ Met watter gesindheid moet voormalige ouere manne en bedieningsknegte na die toekoms kyk?
[Prent op bladsy 19]
W. J. Thorn het ’n goeie voorbeeld gestel as ’n nederige ouere man
[Prent op bladsy 21]
Is jy bereid om, soos Jesus, alles moontlik in Jehovah se diens te doen?