Is jy bekwaam om te dien?
“Ons bekwaamheid is uit God.”—2 KORINTHIËRS 3:5.
1. Watter soort mense hoort nie in die Christengemeente nie?
JEHOVAH GOD en Jesus Christus is werkers. Jesus het gesê: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook” (Johannes 5:17). God keur nie mense goed wat weier om te werk nie; en diegene wat verantwoordelikheid nastreef sodat hulle mag oor ander kan kry, dra ook nie sy goedkeuring weg nie. Luiaards en mense met selfsugtige ambisies hoort nie in die Christengemeente nie.—Mattheüs 20:25-27; 2 Thessalonicense 3:10.
2. Waarom is daar nou ’n groot behoefte aan mans wat verantwoordelikheid in die gemeente kan dra?
2 Jehovah se Getuies het ‘volop te doen in die werk van die Heer’, veral noudat so baie mense na “die berg” van ware aanbidding stroom (1 Korinthiërs 15:58, NW; Jesaja 2:2-4). Daar is ’n groot behoefte aan geestelik bekwame mans wat verantwoordelikheid in die gemeente kan dra. Omdat hulle nie deur selfsugtige ambisie aangedryf word nie, verheerlik sulke mans Jehovah, nie hulself nie (Spreuke 8:13). Hulle weet dat God hulle help om aan die vereistes te voldoen om met gemeentelike pligte toevertrou te word, net soos hy ‘dienaars van die nuwe verbond voldoende bekwaam maak’.—2 Korinthiërs 3:4-6, NW.
3. Wat is basies die verantwoordelikhede van ouere manne en bedieningsknegte?
3 Vandag, soos onder die vroeë Christene, word mans deur heilige gees en deur Jehovah se organisatoriese reëling aangestel om as ouere manne en bedieningsknegte te dien (Handelinge 20:28; Filippense 1:1; Titus 1:5). Ouere manne hou as herders geestelike en beskermende toesig oor God se kudde. Hulle word bygestaan deur bedieningsknegte, wie se pligte nie regstreeks geestelike toesig insluit nie. (1 Petrus 5:2; vergelyk Handelinge 6:1-6.) Soos God se Seun, wat gekom het om te dien, wil sulke aangestelde manne medegelowiges dien (Markus 10:45). Het jy, as jy ’n Christenman is, daardie gees?
Gemeenskaplike kwalifikasies
4. Waar in die besonder vind ons lyste van vereistes vir diegene aan wie gemeentelike verantwoordelikheid toevertrou word?
4 Paulus sit die vereistes vir diegene aan wie gemeentelike verantwoordelikheid toevertrou word in die besonder in 1 Timotheüs 3:1-10, 12, 13 en Titus 1:5-9 uiteen. Wanneer ons hierdie kwalifikasies beskou, waarvan sommige vir ouere manne sowel as bedieningsknegte geld, moet ons hulle nie volgens wêreldse standaarde beskou nie. Ons moet hulle eerder sien teen hulle eerste-eeuse agtergrond en hoe hulle onder Jehovah se volk van toepassing is. Dit verg natuurlik nie volmaaktheid om aan hierdie vereistes te voldoen nie, want dan sou geen mens dit kon doen nie (1 Johannes 1:8). Maar as jy ’n Christenman is, hetsy jy tans pligte in die gemeente het of nie, kan jy gerus ontleed in watter mate jy aan die vereistes voldoen.
5. Wat beteken dit om onberispelik te wees?
5 Onberispelik; met ’n goeie getuienis van buitestaanders; vry van beskuldiging (1 Timotheüs 3:2, 7, 8, 10, NW; Titus 1:6, 7). Wanneer hulle aangestel word en terwyl hulle dien, moet bedieningsknegte en ouere manne onberispelik wees, dit wil sê, hulle moet vry van beskuldiging wees en dit moet glad nie nodig wees om hulle tereg te wys weens ’n gegronde beskuldiging van verkeerde gedrag of lering nie. Onware beskuldigings deur “valse broeders” of ander maak ’n man nie berispelik nie. ’n Klag wat ’n man onbevoeg kan maak vir diens in die gemeente moenie beuselagtig wees nie en moet ooreenkomstig skriftuurlike standaarde bewys word (2 Korinthiërs 11:26; 1 Timotheüs 5:19). Iemand wat in die gemeente aangestel is, “moet ook goeie getuienis hê van die buitestaanders, sodat hy nie in veragting en in die strik van die duiwel val nie”. As ’n man in die verlede ’n ernstige sonde begaan het, kan hy eers aangestel word as sy eer herstel is en hy ’n goeie naam vir hom gemaak het.
6. Wat beteken dit om die man van een vrou te wees?
6 Die man van een vrou (1 Timotheüs 3:2, 12; Titus 1:6). Dit beteken nie dat net getroude mans bedieningsknegte en ouere manne kan wees nie. As ’n man egter getroud is, moet hy net een lewende vrou hê en aan haar getrou wees (Hebreërs 13:4). Anders as baie nie-Christelike mans in die eerste eeu kan hy nie ’n veelwywer wees nie.a
7. (a) Is dit fisiese ouderdom wat ’n man bekwaam maak om ’n ouere man te wees? (b) Wat behels dit om ’n huisgesin goed te regeer?
7 Sy huisgesin goed regeer, met kinders in onderdanigheid (1 Timotheüs 3:4, 5, 12; Titus 1:6). Sommige meen dat ouere manne ten minste 30 jaar oud moet wees, maar die Bybel stel nie ’n minimum ouderdom nie. Tog moet die persoon geestelik soos ’n ouer man optree. Bedieningsknegte en ouere manne moet oud genoeg wees om kinders te hê. As hy getroud is, voldoen hy nie aan die vereistes as hy elders op ’n godvrugtige wyse optree maar tuis ’n tiran is nie. Hy moes eerbied afgedwing het omdat hy sy huisgesin ooreenkomstig Bybelbeginsels regeer, en sy oogmerk moet wees om met elke gesinslid geestelik sukses te behaal. Oor die algemeen moet ’n ouere man wat ’n vader is goed gemanierde minderjarige kinders hê wat ‘gelowig’ is. Hulle moet òf vooruitgang maak ten einde hulle vir doop te bekwaam, òf reeds gedoop wees as Getuies van Jehovah. ’n Man wat nie geloof in sy kinders kan bou nie, sal dit waarskynlik ook nie in ander kan doen nie.
8. Wat moet ’n gesinsman leer doen voordat hy ’n ouere man kan word?
8 Voordat ’n gesinsman ’n ouere man kan wees wat in staat is om geestelike leiding in ’n gemeente te gee, moet hy eers leer om sy eie huisgesin te regeer. “As iemand nie weet om sy eie huis te regeer nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg dra?” (1 Timotheüs 3:5). ’n Man kan weliswaar deur ’n ongelowige vrou teengestaan word (Mattheüs 10:36; Lukas 12:52). Of een van sy kinders begaan dalk ’n ernstige sonde, terwyl die ander geestelik goed vaar. Maar as die man alles gedoen het wat verwag kan word, en veral as hy met ander in sy huisgesin geestelik sukses behaal het, hoef die feit dat een gesinslid sy goeie leiding verwerp nie noodwendig te beteken dat hy nie geskik is om ’n ouere man of ’n bedieningskneg te wees nie.
9. Waarvoor moet ’n ouere man of ’n bedieningskneg versigtig wees as dit by alkoholiese drank kom?
9 Nie ’n dronk rusiemaker of aan baie wyn oorgegee nie (1 Timotheüs 3:3, 8, NW; Titus 1:7, NW). ’n Bedieningskneg of ouere man moenie te veel alkoholiese drank drink nie. Verslawing daaraan kan veroorsaak dat ’n mens nie jou gedagtes en emosies kan beheers nie, wat kan lei tot dronk rusies of gevegte. Hy moenie ‘hom aan baie wyn oorgegee het’ of die reputasie hê dat hy gereeld of baie drink nie (Spreuke 23:20, 21, 29-35). Hoe tragies sal dit tog wees as ’n herdersbesoek bederf word omdat ’n bedieningskneg of ouere man te veel gedrink het! As ’n broer enigsins drank gebruik, moet hy dit nie doen wanneer hy aan vergaderinge, die bediening of ander heilige diens deelneem nie.—Levitikus 10:8-11; Esegiël 44:21.
10. Waarom is dié wat geld liefhet of wat belus is op oneerlike wins nie geskik om ouere manne of bedieningsknegte te wees nie?
10 Nie iemand wat geld liefhet of belus is op oneerlike wins nie (1 Timotheüs 3:3, 8, NW; Titus 1:7, NW). Dié wat geld liefhet, verkeer in geestelike gevaar, en “gierigaards” sal nie God se Koninkryk beërwe nie. Sulke mans is derhalwe nie geskik om ouere manne en bedieningsknegte te wees nie (1 Korinthiërs 6:9, 10; 1 Timotheüs 6:9, 10). Die Griekse grondwoord wat hier met “oneerlike” vertaal word, beteken basies “skandelik”, en dié wat met “wins” vertaal word, het betrekking op enige soort profyt of voordeel (Filippense 1:21; 3:4-8). ’n Man wie se geaardheid toon dat hy God se “skape” oneerlik sal behandel, is natuurlik nie geskik vir gemeentelike verantwoordelikheid nie (Esegiël 34:7-10; Handelinge 20:33-35; Judas 16). Wanneer ons in gedagte hou dat geld aan ’n man toevertrou kan word wanneer hy aangestel is, en dat hy in die versoeking kan kom om van die geld te steel, besef ons des te meer hoe nodig dit is om versigtig te wees wanneer aanbevelings gedoen word.—Johannes 12:4-6.
11. Waarom moet ’n “pasbekeerde” nie aanbeveel word vir gemeentelike verantwoordelikheid nie?
11 Nie ’n pasbekeerde nie; sy geskiktheid eers op die proef gestel (1 Timotheüs 3:6, 10, NW). ’n Pasgedoopte persoon het nie tyd gehad om te bewys dat hy getrou na toegewese pligte sal omsien nie. Hy is dalk nie simpatiek teenoor die geteisterdes nie, of hy het nie die nodige wysheid om medegelowiges te help nie of hy kyk dalk selfs neer op ander. Voordat iemand dus as ’n bedieningskneg en veral as ’n ouere man aanbeveel word, moet sy ‘geskiktheid eers op die proef gestel’ word en moet hy bewys lewer van goeie oordeel en betroubaarheid. Daar word nêrens gesê hoe lank hierdie proeftyd moet wees nie, en mense maak nie ewe vinnig geestelike vooruitgang nie. Maar ouere manne moenie haastig ’n nuwe man aanbeveel nie, “sodat hy nie opgeblase word van trots en in die oordeel val wat oor die Duiwel gevel is nie”. Laat die man eers Christelike nederigheid aan die dag lê.—Filippense 2:5-8.
Bedieningsknegte in die soeklig
12. Is vereistes wat vir bedieningsknegte aangegee word net op hulle van toepassing?
12 Sommige vereistes word vir bedieningsknegte aangegee. Maar as ouere manne nie ook aan sulke vereistes voldoen nie, sal hulle nie bekwaam wees om te dien nie. Kwalifiseer jy, as ’n Christenman, in hierdie opsigte?
13. Wat beteken dit om ernstig te wees?
13 Ernstig (1 Timotheüs 3:8). ’n Man wat bekwaam is om as bedieningskneg te dien, moenie verantwoordelikheid lig opneem nie. Hy moet hom op ’n waardige wyse gedra wat respek afdwing. Hoewel humor nou en dan goed is, sal hy nie geskik wees vir die amp as hy gedurig ligsinnig optree nie.
14. (a) Wat beteken dit om nie uit twee monde te spreek nie? (b) Wat is nodig om ’n rein gewete te hê?
14 Moenie uit twee monde spreek nie; ’n rein gewete hou (1 Timotheüs 3:8, 9). Bedieningsknegte (en ouere manne) moet waarheid liefhê, nie skinder of slinks wees nie. Omdat hulle nie uit twee monde moet praat nie, moet hulle nie huigelagtig een ding vir een persoon sê en die teenoorgestelde vir ’n ander nie (Spreuke 3:32; Jakobus 3:17). Hierdie manne moet streng voorstanders van geopenbaarde waarheid wees en “die verborgenheid van die geloof in ’n rein gewete hou”. So ’n man se gewete moet voor God getuig dat hy opreg is en niks agterbaks of besoedelends beoefen nie (Romeine 9:1; 2 Korinthiërs 1:12; 4:2, NW; 7:1). Niemand is bevoeg om God se kudde te dien nie tensy hy aan die waarheid en goddelike beginsels vaskleef.
Kwalifikasies vir ouere manne
15. Na wie se kwalifikasies kyk ons nou, en waarop het dit hoofsaaklik betrekking?
15 Sekere vereistes is in die besonder op ouere manne van toepassing en het hoofsaaklik te doen met hulle werk as herders en onderrigters. Voldoen jy as ’n Christenman aan hierdie vereistes?
16. (a) Wat is nodig om matig in gewoontes te wees? (b) Hoe kan ’n ouere man selfbeheersing behou?
16 Matig in gewoontes; wat homself beheers (1 Timotheüs 3:2, NW; Titus 1:8). ’n Ouere man moet gematig wees, nie verslaaf aan slegte gewoontes nie. Wanneer hy voor beproewinge te staan kom, sal God hom help om ’n balans te handhaaf as hy bid soos die psalmis gebid het: “Die benoudhede van my hart is wyd uitgestrek; lei my uit die angste” (Psalm 25:17). ’n Ouere man moet ook om God se gees bid en die vrug daarvan, waaronder selfbeheersing, aan die dag lê (Lukas 11:13; Galasiërs 5:22). As ’n ouere man sy gedagtes, woorde en dade in toom hou, kan hy uiterstes vermy terwyl hy aan die gemeente geestelike leiding gee.
17. Wat behels dit om gesond van verstand te wees?
17 Gesond van verstand (1 Timotheüs 3:2, NW). ’n Ouere man moet verstandig, diskreet en versigtig wees. Hy moet doelgerig en rasioneel in sy woorde en dade wees. Sy nederige, gebalanseerde denke is gegrond op goddelike wysheid en die gesonde leer van Jehovah se Woord, waarvan hy ’n ywerige student moet wees.—Romeine 12:3; Titus 2:1.
18. Wat verg dit van ’n ouere man om ordelik te wees?
18 Ordelik (1 Timotheüs 3:2, NW). Die Griekse woord wat hier gebruik word, word in 1 Timotheüs 2:9 (NW) met ‘welgeorden’ vertaal. ’n Ouere man moet dus ’n ordelike, welgeordende lewenspatroon hê. Hy moet byvoorbeeld stiptelik wees. Eerste-eeuse Christene het blykbaar nie veel klem gelê op die hou van verslae nie, en vandag hoef ’n opsiener nie ’n puik rekenmeester of klerk te wees nie. Bedieningsknegte kan omsien na die nodige in hierdie verband. Maar die Griekse term vir “ordelik” kan op goeie gedrag dui, en ’n man sal beslis nie bevoeg wees om ’n ouere man te wees as hy onordelik of tugteloos is nie.—1 Thessalonicense 5:14; 2 Thessalonicense 3:6-12; Titus 1:10.
19. Wat doen ’n ouere man omdat hy gasvry is?
19 Gasvry (1 Timotheüs 3:2; Titus 1:8). ’n Ouere man ‘bewandel die weg van gasvryheid’ (Romeine 12:13, NW; Hebreërs 13:2). Die Griekse woord vir “gasvry” beteken letterlik “lief vir vreemdelinge”. Die gasvrye ouere man verwelkom dus nuwelinge by Christenvergaderinge en toon dieselfde belangstelling in die armes as in dié wat materieel welgesteld is. Hy is gasvry teenoor dié wat in die belang van die Christelike godsdiens reis en help hulle op ’n “voor God waardige wyse” voort (3 Johannes 5-8). Ja, ’n ouere man betoon veral teenoor medegelowiges gasvryheid ooreenkomstig hulle behoeftes en sy eie omstandighede.—Jakobus 2:14-17.
20. In watter opsigte moet ’n ouere man bekwaam wees om te onderrig?
20 Bekwaam om te onderrig (1 Timotheüs 3:2). ’n Ouere man se vermoë as ’n geestelike onderrigter is nie die gevolg van verstandelike aanleg of wêreldse wysheid nie (1 Korinthiërs 2:1-5, 13). Hy verkry dit omdat hy “vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê”. (Titus 1:9; vergelyk Handelinge 20:18-21, 26, 27.) Hy moet ‘weerspanniges in sagmoedigheid kan teregwys’ (2 Timotheüs 2:23-26). Selfs al is ’n ouere man nie die beste openbare spreker in die gemeente nie, moet hy so ’n goeie student van God se Woord wees dat hy bedrewe genoeg is om gelowiges, wat ook die Bybel bestudeer, te onderrig en te vermaan (2 Korinthiërs 11:6). Hy moet bekwaam wees om “die gesonde leer” oor te dra wat gesinne en individue help om ’n godvrugtige lewe na te jaag.—Titus 2:1-10.
21. (a) Waarom kan daar gesê word dat ’n ouere man geen vegter is nie? (b) Wat beteken dit om redelik te wees? (c) Wat beteken dit om nie strydlustig te wees nie?
21 Geen vegter nie, maar redelik, nie strydlustig nie (1 Timotheüs 3:3, vgl. NW; Titus 1:7, NW). Omdat hy vreedsaam is, slaan ’n ouere man mense nie fisies of intimideer hulle deur neerhalende of snydende aanmerkings te maak nie. (Vergelyk 2 Korinthiërs 11:20.) (Die voorafgaande kommentaar dat hy “nie ’n dronk rusiemaker” is nie, toon dat hy alkoholmisbruik vermy wat so dikwels tot twis lei.) Omdat hy “redelik” (of “buigsaam”) is, nie outoritêr en moeilik om te behaag nie, maak hy nie geskille van nietighede nie (1 Korinthiërs 9:12; Filippense 4:5, NW; 1 Petrus 2:18, NW). Omdat ’n ouere man nie strydlustig, of twissiek, is nie, vermy hy rusies en is hy nie “opvlieënd” nie.—Titus 3:2; Jakobus 1:19, 20.
22. Wat word aangedui deur die feit dat ’n ouere man nie eiesinnig moet wees nie?
22 Nie eiesinnig nie (Titus 1:7). Dit beteken letterlik “nie selfbehaend nie”. (Vergelyk 2 Petrus 2:10.) ’n Ouere man moenie dogmaties wees nie, maar moet ’n nederige beskouing van sy eie vermoëns hê. Hy deel verantwoordelikheid nederig met ander en waardeer ’n veelheid van raadgewers omdat hy nie dink dat hy sake beter as enigiemand anders behartig nie.—Numeri 11:26-29; Spreuke 11:14; Romeine 12:3, 16.
23. (a) Hoe sal jy “een wat die goeie liefhet” definieer? (b) Wat beteken dit om regverdig te wees?
23 Een wat die goeie liefhet; regverdig (Titus 1:8). ’n Man moet die goeie liefhê en regverdig wees om as ’n ouere man te kwalifiseer. Iemand wat die goeie liefhet, het die dinge lief wat goed is in Jehovah se oë, verrig vriendelike en behulpsame dade en toon waardering vir die goeie in ander. (Lukas 6:35; vergelyk Handelinge 9:36, 39; 1 Timotheüs 5:9, 10.) Om regverdig te wees, beteken dat ’n persoon hom na God se wette en standaarde skik. So ’n man is onder andere onpartydig en hou regverdige, rein en goeie dinge in gedagte (Lukas 1:6; Filippense 4:8, 9; Jakobus 2:1-9). Aangesien goedheid van regverdigheid verskil in die sin dat dit selfs verder gaan as wat geregtigheid vereis, doen iemand wat die goeie liefhet meer vir ander as wat van hom verwag word.—Mattheüs 20:4, 13-15; Romeine 5:7.
24. Wat verg dit om lojaal te wees?
24 Lojaal (Titus 1:8, NW). ’n Man wat bekwaam is om ’n ouere man te wees, handhaaf onverbreekbare toegewydheid aan God en bly by die goddelike wet, ongeag hoe sy onkreukbaarheid op die proef gestel word. Hy doen wat Jehovah van hom verwag en dit sluit in dat hy as ’n getroue Koninkryksverkondiger dien.—Mattheüs 24:14; Lukas 1:74, 75; Handelinge 5:29; 1 Thessalonicense 2:10.
Hoe om aan die kwalifikasies te voldoen
25. Wie moet aan die kwalifikasies voldoen wat pas bespreek is, en hoe kan sulke kwalifikasies verkry word?
25 Die meeste van die kwalifikasies wat so pas bespreek is, behels dinge wat van elke Getuie van Jehovah verwag word en kan deur God se seën op jou studie, inspanning, heilsame omgang en gebed verkry word. Individue vaar moontlik beter met sommige kwalifikasies as met ander. Maar bedieningsknegte en ouere manne moet in ’n redelike mate aan al die vereistes vir hulle spesifieke voorreg voldoen.
26. Waarom stel Christenmans hulself beskikbaar vir verantwoordelikheid in die gemeente?
26 Alle Getuies van Jehovah behoort alles moontlik in God se diens te wil doen. Hierdie gees beweeg Christenmans om hulle beskikbaar te stel vir verantwoordelikheid in die gemeente. Is jy ’n toegewyde, gedoopte man? Streef dan ’n opsienersamp na en doen alles in jou vermoë om te kwalifiseer sodat jy kan dien!
[Voetnote]
a Sien ook Die Wagtoring, 1 Junie 1983, bladsye 26, 27, onder die tussenhofie “Skriftuurlike egskeiding”.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Waarom is daar nou ’n groot behoefte aan gedoopte mans om gemeentelike verantwoordelikheid op hulle te neem?
◻ Wat is sommige kwalifikasies waar-aan bedieningsknegte moet voldoen?
◻ Wat is sommige van die vereistes waaraan ouere manne moet voldoen?
◻ Waarom moet ’n ouere man weet hoe om sy huisgesin goed te regeer?
◻ Wat spoor Christenmans aan om hulle beskikbaar te stel vir pligte in die gemeente?
[Prent op bladsy 24, 25]
Ouere manne en bedieningsknegte moet ooreenkomstig Bybelbeginsels oor hul huise regeer