Die Christen se beskouing van die hoër owerhede
“Laat elke siel onderworpe wees aan die hoër owerhede, want daar is geen owerheid behalwe deur God nie; die bestaande owerhede is deur God in hulle relatiewe posisies geplaas.”—ROMEINE 13:1, “NW”.
1, 2. (a) Waarom was Paulus ’n gevangene in Rome? (b) Watter vrae laat Paulus se beroep op die keiser ontstaan?
DIE apostel Paulus het die woorde hierbo ongeveer 56 G.J. aan die Romeine geskryf. ’n Paar jaar later was hy ’n gevangene in Rome. Waarom? Hy is deur ’n skare in Jerusalem aangeval en Romeinse soldate het hom gered. Daarna is hy na Cesarea geneem waar hy vals beskuldig is, maar hy het homself goed voor Felix, die Romeinse goewerneur, verdedig. Felix het hom twee jaar in die tronk aangehou omdat hy gehoop het dat Paulus hom sou probeer omkoop. Eindelik het Paulus by die volgende goewerneur, Festus, daarop aangedring dat die keiser sy saak moes verhoor.—Handelinge 21:27-32; 24:1–25:12.
2 As Romeinse burger was dit sy reg. Maar was dit konsekwent dat Paulus hom op daardie keiserlike owerheid beroep het terwyl Jesus van Satan gepraat het as die werklike “owerste van hierdie wêreld” en Paulus self Satan “die god van hierdie wêreld” genoem het? (Johannes 14:30; 2 Korinthiërs 4:4). Of het die Romeinse owerheid die een of ander ‘relatiewe posisie’ beklee wat dit gepas gemaak het dat Paulus hom na daardie owerheid gewend het vir die beskerming van sy regte? Laat die vroeëre woorde van die apostels: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense”, dan toe dat Christene te alle tye aan menseheersers gehoorsaam moet wees wanneer ongehoorsaamheid aan God nie ter sprake is nie?—Handelinge 5:29.
3. Watter gebalanseerde beskouing toon Paulus, en hoe is die gewete daarby betrokke?
3 Paulus help ons in sy brief aan die Romeine om hierdie vrae te beantwoord, en daarin toon hy ’n gebalanseerde beskouing van menseheerskappy. In Romeine 13:1-7 verduidelik Paulus watter rol die Christen se gewete moet speel terwyl ’n mens probeer om ’n balans te handhaaf tussen algehele gehoorsaamheid aan die Opperste Gesag, Jehovah God, en relatiewe gehoorsaamheid aan “die hoër owerhede”.
Die hoër owerhede geïdentifiseer
4. Watter aanpassing van beskouing is in 1962 gemaak, en watter vrae laat dit ontstaan?
4 Jehovah se Getuies was ’n geruime tyd, tot 1962, van mening dat die hoër owerhede Jehovah God en Christus Jesus is. Maar in ooreenstemming met Spreuke 4:18 het die lig helderder geword en is hierdie beskouing aangepas, en dit laat moontlik vrae by party mense ontstaan. Is ons nou reg as ons sê dat hierdie owerhede die konings, presidente, eerste ministers, burgemeesters, magistrate en ander insluit wat sekulêre, politieke mag in die wêreld uitoefen en dat ons in relatiewe sin aan hulle onderworpe moet wees?
5. Hoe help die konteks van Romeine 13:1 ons om die hoër owerhede te identifiseer, en hoe steun verskeie Bybelvertalings hierdie identifikasie?
5 Ireneus, ’n skrywer uit die tweede eeu G.J., het gesê dat mense in sy dag van mening was dat Paulus in Romeine 13:1 “oor engelemagte [of] van onsigbare heersers” gepraat het. Maar Ireneus self het die hoër owerhede as “werklike menslike owerhede” beskou. Die konteks van Paulus se woorde toon dat Ireneus reg was. Paulus verduidelik in die laaste verse van Romeine hoofstuk 12 hoe Christene teenoor “alle mense” moet optree, en dat hulle selfs ‘vyande’ met liefde en bedagsaamheid moet behandel (Romeine 12:17-21). Die uitdrukking “alle mense” sluit beslis mense buite die Christengemeente in. Daarom moet die “hoër owerhede” wat Paulus daarna bespreek ook buite die Christengemeente wees. Let, in ooreenstemming hiermee, op hoe verskeie vertalings die eerste deel van Romeine 13:1 weergee: “Almal moet staatsowerhede gehoorsaam” (Today’s English Version); “elkeen moet homself aan die heersende owerhede onderwerp” (New International Version); “almal moet aan die burgerlike owerhede gehoorsaam wees”.—Phillips se New Testament in Modern English.
6. Hoe toon Paulus se woorde oor die betaling van belasting en tol dat die hoër owerhede sekulêre owerhede moet wees?
6 Paulus sê voorts dat hierdie owerhede belasting en tol eis (Romeine 13:6, 7). Die Christengemeente vra nie belasting of tol nie; en Jehovah of Jesus of enige ander “onsigbare heersers” ook nie (2 Korinthiërs 9:7). Belasting word slegs aan sekulêre owerhede betaal. In ooreenstemming hiermee verwys die Griekse woorde vir “belasting” en “tol” wat in Romeine 13:7 gebruik word spesifiek na geld wat aan die staat betaal word.a
7, 8. (a) Hoe stem etlike tekste ooreen met die beskouing dat Christene aan die politieke owerhede van hierdie wêreld onderworpe moet wees? (b) Slegs wanneer sal die Christen hom nie aan die opdragte van die “owerheid” onderwerp nie?
7 Daarbenewens is Paulus se vermaning om onderdanig aan die hoër owerhede te wees in harmonie met Jesus se bevel om “die keiser [te betaal] wat die keiser toekom”, waar “die keiser” die sekulêre owerheid voorstel (Mattheüs 22:21). Dit is ook in ooreenstemming met Paulus se latere woorde aan Titus: “Herinner hulle daaraan om onderdanig te wees aan owerhede en magte, om gehoorsaam te wees, bereid tot elke goeie werk” (Titus 3:1). Wanneer regerings gevolglik vereis dat Christene aan gemeenskapswerke deelneem, willig hulle heel tereg in, solank hierdie werke nie ’n plaasvervanger is vir die een of ander onskriftuurlike diens of skriftuurlike beginsels, soos dié wat in Jesaja 2:4 opgeteken is, andersins skend nie.
8 Petrus het ook bevestig dat ons aan die sekulêre owerhede van hierdie wêreld onderworpe moet wees toe hy gesê het: “Onderwerp julle ter wille van die Heer aan elke menslike skepping: hetsy aan ’n koning, as een wat ’n meerdere is, of aan stadhouers, as diegene wat deur hom gestuur is om kwaaddoeners straf toe te dien maar die wat goed doen te loof” (1 Petrus 2:13, 14, NW). In harmonie hiermee sal Christene ook ag slaan op Paulus se vermaning aan Timotheüs: “In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid.”b—1 Timotheüs 2:1, 2.
9. Waarom doen dit nie afbreuk aan Jehovah se heerlikheid as menslike owerhede “hoër” genoem word nie?
9 Doen ons op die een of ander manier afbreuk aan die eer wat Jehovah toekom as ons die sekulêre owerhede “hoër” noem? Nee, want Jehovah is veel meer as net hoër. Hy is “die Soewereine Heer”, “die Allerhoogste” (Psalm 73:28, NW; Daniël 7:18, 22, 25, 27; Openbaring 4:11; 6:10, NW). Behoorlike onderdanigheid aan menslike owerhede doen geensins afbreuk aan ons aanbidding van die Opperste Gesag, die Soewereine Heer Jehovah, nie. In watter mate is hierdie owerhede dan hoër? Bloot met betrekking tot ander mense en in hulle eie sfeer van bedrywighede. Hulle is daarvoor verantwoordelik om mensegemeenskappe te beheer en te beskerm, en hiervoor lê hulle reëls neer oor hoe openbare aangeleenthede gerig moet word.
“Deur God in hulle relatiewe posisies geplaas”
10. (a) Wat bewys Paulus se verklaring oor die ‘plasing’ van owerhede oor Jehovah se eie gesag? (b) Wat het Jehovah toegelaat wat die ‘plasing’ van sekere heersers betref, en hoe word sy knegte daardeur getoets?
10 Jehovah God se oppermag oor selfs die sekulêre owerhede blyk duidelik uit die feit dat hulle “deur God in hulle relatiewe posisies geplaas” is. Maar hierdie stelling laat ’n vraag ontstaan. ’n Paar jaar nadat Paulus hierdie woorde geskryf het, het die Romeinse keiser Nero ’n veldtog van wrede vervolging teen Christene onderneem. Het God Nero persoonlik in sy posisie geplaas? Beslis nie! Dit is nie te sê dat God elke individuele heerser kies en dat hy ‘deur Gods genade’ regeer nie. Satan bewerk dit soms dat wrede mense heersers word, en Jehovah laat dit toe, asook die beproewings wat sulke heersers oor sy onkreukbare knegte bring.—Vergelyk Job 2:2-10.
11, 12. Watter gevalle is opgeteken waar Jehovah persoonlik die opgang of val van sekulêre owerhede bewerk het?
11 Maar Jehovah het in die geval van sekere heersers of regerings ingegryp om sy verhewe doel te bewerkstellig. Byvoorbeeld, in Abraham se tyd is die Kanaäniete toegelaat om in die land Kanaän te bly. Maar later het Jehovah hulle uitgeruk en die land aan Abraham se nageslag gegee. Gedurende die Israeliete se verblyf in die woestyn het Jehovah nie toegelaat dat hulle Ammon, Moab en die gebergte Seïr oorwin nie. Maar hy het hulle die opdrag gegee om die koninkryke van Sihon en Og te verwoes.—Genesis 15:18-21; 24:37; Exodus 34:11; Deuteronomium 2:4, 5, 9, 19, 24; 3:1, 2.
12 Nadat Israel in Kanaän gevestig is, het Jehovah steeds regstreeks belanggestel in die owerhede wat sy volk geraak het. Jehovah het soms, wanneer Israel gesondig het, toegelaat dat ’n heidense owerheid hulle oorheers. Wanneer hulle berou getoon het, het hy daardie owerheid uit die land verwyder (Rigters 2:11-23). Hy het uiteindelik toegelaat dat Juda, tesame met baie ander nasies, onder die heerskappy van Babilon kom (Jesaja 14:28–19:17; 23:1-12; 39:5-7). Nadat Israel in ballingskap na Babilon weggevoer is, het Jehovah die opgang en val van wêreldmagte wat sy volk sou raak van die tyd van Babilon af tot in ons tyd voorspel.—Daniël, hoofstukke 2, 7, 8 en 11.
13. (a) Waarom het Jehovah, volgens Moses se lied, die grense van die volke vasgestel? (b) Waarom het God later Israel se land aan hom teruggegee?
13 Moses het van Jehovah gesing: “Toe die Allerhoogste aan die nasies ’n erfdeel gegee het, toe Hy die mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van die volke vasgestel volgens die getal van die kinders van Israel. Want die HERE se deel is sy volk, Jakob is sy afgemete erfdeel.” (Deuteronomium 32:8, 9; vergelyk Handelinge 17:26.) Ja, om sy doel te bewerkstellig, het God daar bepaal watter owerhede sou voortbestaan en watter vernietig sou word. Sodoende het hy Abraham se nageslag ’n land gegee om te beërwe en het hy daardie land later aan hulle teruggegee, sodat die beloofde Saad, net soos dit geprofeteer is, eindelik daar kon verskyn.—Daniël 9:25, 26; Miga 5:1.
14. Hoofsaaklik in watter sin plaas Jehovah menslike owerhede in hulle relatiewe posisies?
14 In die meeste gevalle plaas Jehovah egter heersers in hulle relatiewe posisies in die sin dat hy mense toelaat om posisies van gesag met betrekking tot mekaar te beklee, maar hulle bly altyd ondergeskik aan hom. Toe Jesus voor Pontius Pilatus gestaan het, het hy dus vir daardie heerser gesê: “U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie” (Johannes 19:11). Dit het nie beteken dat Pilatus persoonlik deur God in sy posisie gestel is nie, maar dit het beteken dat sy gesag oor die lewe of dood van Jesus slegs bestaan het omdat God dit toegelaat het.
“Die god van hierdie wêreld”
15. Hoe oefen Satan mag in hierdie wêreld uit?
15 Wat dan van die Bybel se verklaring dat Satan die god, of heerser, van hierdie wêreld is? (Johannes 12:31; 2 Korinthiërs 4:4). Ja, wat van die feit dat Satan by Jesus gespog het toe hy Jesus al die koninkryke van die wêreld gewys en gesê het: “Al hierdie mag . . . is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil” (Lukas 4:6). Jesus het Satan se grootpratery nie weerspreek nie. En Satan se woorde strook met wat Paulus later aan die Efesiërs geskryf het: “Ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Efesiërs 6:12). Daarbenewens stel die boek Openbaring Satan as ’n groot draak voor wat aan ’n simbool van die wêreld se politieke stelsel wat soos ’n dier lyk “sy krag . . . en sy troon en groot mag” gee.—Openbaring 13:2.
16. (a) Hoe kan daar gesien word dat Satan se mag beperk is? (b) Waarom laat Jehovah toe dat Satan mag onder die mensdom het?
16 Maar let daarop dat Satan se verklaring aan Jesus: “Al hierdie mag . . . is aan my oorgegee”, toon dat hy ook alleenlik mag uitoefen omdat hy dit toegelaat word. Waarom laat God dit toe? Satan se loopbaan as wêreldheerser het in Eden begin toe hy God in die openbaar daarvan beskuldig het dat Hy leuens vertel en Sy soewereiniteit op ’n onregverdige manier uitoefen (Genesis 3:1-6). Adam en Eva het Satan gevolg en was ongehoorsaam aan Jehovah God. Op daardie tydstip kon Jehovah, met volmaakte geregtigheid, Satan en sy twee nuwe aanhangers vernietig het (Genesis 2:16, 17). Maar Satan se woorde was in werklikheid ’n persoonlike uitdaging aan Jehovah. In sy wysheid het God dus toegelaat dat Satan ’n tyd lank voortleef, en Adam en Eva is toegelaat om kinders voort te bring voor hulle gesterf het. Sodoende het God die tyd en geleentheid voorsien dat die valsheid van Satan se uitdaging getoon kon word.—Genesis 3:15-19.
17, 18. (a) Waarom kan ons sê dat Satan die god van hierdie wêreld is? (b) In watter sin is daar “geen owerheid” in hierdie wêreld “behalwe deur God nie”?
17 Gebeure sedert die tyd van Eden het getoon dat Satan se aantygings leuens was. Adam se nakomelinge het nie geluk gevind onder heerskappy deur Satan of deur die mens nie (Prediker 8:9). Daarenteen het God se handelinge met sy volk getoon dat heerskappy deur God baie beter is (Jesaja 33:22). Maar aangesien die meeste van Adam se nageslag nie Jehovah se soewereiniteit aanvaar nie, dien hulle Satan as hulle god, of hulle dit nou weet of nie.—Psalm 14:1; 1 Johannes 5:19.
18 Die geskille wat in Eden geopper is, sal binnekort besleg word. God se Koninkryk sal die administrasie van die mens se sake ten volle oorneem, en Satan sal in die afgrond gewerp word (Jesaja 11:1-5; Openbaring 20:1-6). Intussen was daar egter die een of ander reëling, of struktuur, onder die mensdom nodig sodat ’n ordelike lewe moontlik kan wees. Jehovah is “nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede” (1 Korinthiërs 14:33). Daarom het hy toegelaat dat gesagstrukture ontstaan in die gemeenskappe wat buite Eden gevorm is, en hy het toegelaat dat mense onder hierdie reëling gesag uitoefen. Op hierdie manier is daar “geen owerheid behalwe deur God nie”.
Regverdige owerhede
19. Is elke menseheerser onder Satan se direkte beheer?
19 Sedert die tyd van Eden het Satan groot vryheid onder die mensdom, en hy het hierdie vryheid gebruik om gebeure op aarde te beheer, in ooreenstemming met sy grootpratery teenoor Jesus (Job 1:7; Mattheüs 4:1-10). Maar dit beteken nie dat elke heerser in die wêreld hom direk aan Satan se beheer onderwerp nie. Party—soos Nero in die eerste eeu en Adolf Hitler in ons eeu—het ’n waarlik sataniese gees aan die dag gelê. Maar ander het nie. Sergius Paulus, die goewerneur van Ciprus, was “’n verstandige man” wat ‘versoek het om die woord van God te hoor’ (Handelinge 13:7). Gallio, die goewerneur van Achaje, het nie toegelaat dat Jode wat Paulus aangekla het druk op hom uitoefen nie (Handelinge 18:12-17). Baie ander heersers het hulle gesag pligsgetrou en op ’n eerbare manier uitgeoefen.—Vergelyk Romeine 2:15.
20, 21. Watter gebeure in die 20ste eeu toon dat menslike heersers nie altyd Satan se wil doen nie?
20 Die boek Openbaring het voorspel dat Jehovah gedurende “die dag van die Here”, wat in 1914 begin het, selfs menslike owerhede sou beweeg om Satan se voornemens in die wiele te ry. Openbaring beskryf hoe ’n vloed van vervolging wat Satan teen gesalfde Christene mik deur “die aarde” opgesluk sal word (Openbaring 1:10; 12:16). Elemente in “die aarde”, die mensegemeenskap wat nou op aarde is, sou Jehovah se volk teen Satan se vervolging beskerm.
21 Het dit werklik gebeur? Ja. Byvoorbeeld, in die dertiger- en veertigerjare was Jehovah se Getuies in die Verenigde State onder groot druk, is hulle deur bendes aangeval en dikwels onregverdig in hegtenis geneem. Hulle het verligting gekry toe die Amerikaanse Hooggeregshof etlike uitsprake gelewer het wat die wettigheid van hulle werk erken het. In ander plekke het die owerhede ook God se volk tot hulp gekom. Sowat 40 jaar gelede in Ierland het ’n Rooms-Katolieke bende twee Getuies in die stad Cork aangeval. ’n Plaaslike polisieman het die Getuies gehelp en ’n hof het die aanvallers gestraf. Net verlede jaar in Fidji het ’n vergadering van hoofmanne ’n voorstel bespreek om die bedrywighede van Jehovah se Getuies te verbied. Een hoofman het met vrymoedigheid vir die Getuies opgekom, en die voorstel is maklik verwerp.
22. Watter vrae sal ons volgende bespreek?
22 Nee, sekulêre owerhede bevorder nie altyd Satan se planne nie. Christene kan aan die hoër owerhede onderworpe wees sonder om aan Satan self onderworpe te wees. Hulle sal inderdaad aan hierdie owerhede onderworpe wees solank God toelaat dat die owerhede bestaan. Maar wat beteken sulke onderworpenheid? En wat kan Christene op hulle beurt van die hoër owerhede verwag? Hierdie vrae sal in die studie-artikels bespreek word wat op bladsye 18 en 23 van hierdie tydskrif begin.
[Voetnote]
a Sien byvoorbeeld die gebruik van die woord “belasting” (foʹros) in Lukas 20:22. Sien ook die gebruik van die Griekse woord teʹlos, wat hier en in Mattheüs 17:25 as “tol” vertaal word.
b Die Griekse naamwoord wat as “hooggeplaas” vertaal word, hu·pe·ro·kheʹ, is verwant aan die werkwoord hu·pe·reʹkho. Die woord “hoër” in “hoër owerhede” word van hierdie selfde Griekse werkwoord afgelei, en dit is bykomende bewys dat die hoër owerhede die sekulêre owerhede is. Die vertaling van Romeine 13:1 in The New English Bible: “Elke mens moet hom aan die oppermagtige owerhede onderwerp”, is dus nie korrek nie. Mense wat “hooggeplaas” is, is nie oppermagtig nie, al is hulle hoër as ander mense.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Wie is die hoër owerhede?
◻ Hoe kan ons sê dat “daar . . . geen owerheid behalwe deur God [is] nie”?
◻ Waarom laat Jehovah toe dat die wêreld in Satan se mag bly?
◻ In watter sin plaas God menslike owerhede “in hulle relatiewe posisies”?
[Prent op bladsy 13]
Na die brand in Rome het Nero ’n werklik sataniese gees geopenbaar
[Prent op bladsy 15]
Sergius Paulus, die goewerneur van Ciprus, wou die woord van God hoor