Vrae van lesers
◼ Job 33:24 praat van “’n losprys” wat vir Job gevind is, wat hom in staat gestel het om nie te sterf nie. Wie sou daardie losprys vir Job wees?
Destyds is geen menslike losprysoffer vir Job aangebied nie, maar God het wel Job se oortreding bedek, of vergewe.
Satan het baie probleme vir Job veroorsaak, waaronder “bose swere . . . , van sy voetsool tot sy skedel”. Job se toestand was so erg dat sy vrou hom aangespoor het om ‘God te seën en te sterf’. Selfs Job het gewonder of die dood nie beter is as sulke lyding nie.—Job 2:7-9; 3:11.
Toe dit gelyk het of Job sou sterf, het Elihu Job se netelige situasie beoordeel en die grondslag vir hoop gelê deur te sê: “Sy vlees verdwyn, weg uit die gesig; . . . Ja, sy siel kom nader by die kuil en sy lewe by die dodende magte. Is daar dan vir hom ’n gesant, ’n tolk, een uit duisend, om die mens sy plig te kenne te gee; en is Hy hom genadig en sê: Verlos hom, dat hy in die kuil nie afdwaal nie: Ek het ’n losprys gevind—dan word sy vlees fris van jeugdige krag.”—Job 33:21-25.
Ons weet dat Jesus Christus sy volmaakte menselewe opgegee het as ’n ooreenstemmende losprys vir onvolmaakte mense. Sy offerande het vergoed vir wat Adam verloor het, en het die nodige prys betaal om kwytskelding van sonde teweeg te bring (Romeine 5:12-19; 1 Timotheüs 2:5, 6). Maar dit is nie die enigste gebruik van “losprys” in die Bybel nie. Die Hebreeuse woord wat in Job 33:24 gevind word, beteken basies “dek” (Exodus 25:17, NW). Toe God met eertydse Israel gehandel het, het hy ’n reëling gehad om sonde te bedek of daarvoor te versoen—offerandes wat sonde bedek het, en sake tussen mense en God reggestel het.—Exodus 29:36; Levitikus 16:11, 15, 16; 17:11.
Vroeër was God egter bereid om offerandes te aanvaar as dankbetuigings of versoeke om vergifnis en goedkeuring (Genesis 4:3, 4; 8:20, 21; 12:7; 31:54). Job het die waarde van sodanige offerandes begryp. Ons lees: “Dan maak Job die môre vroeg klaar en bring brandoffers vir elkeen van [sy seuns]; want Job het gedink: Miskien het my kinders gesondig en God in hulle hart geseën! So het Job altyd gedoen” (Job 1:5). Aangesien hy God probeer behaag het en hy klaarblyklik ’n berouvolle gees gehad het, was sy offerandes in God se oë waardevol.—Psalm 32:1, 2; 51:19.
Maar Job het later so siek geword dat dit gelyk het of sy lewe in gevaar was. Hy het ook ’n verkeerde beskouing van sy regverdigheid gehad, en daarom moes hy tereggewys word, wat Elihu toe gedoen het (Job 32:6; 33:8-12; 35:2-4). Elihu het gesê dat Job nie tot die dood en die kuil (Sjeool, of die gemeenskaplike graf) in sy treurige toestand hoef te bly nie. As Job berou gehad het, kon “’n losprys” gevind word.—Job 33:24-28.
Ons moenie dink dat Elihu destyds met “losprys” ’n mens bedoel het wat namens Job sou sterf nie. In die lig van die offerandes wat ware aanbidders gewoond was om aan te bied, was die soort losprys wat Elihu in Job se geval bedoel het dalk ’n diereoffer. Dit is interessant dat God Job se drie kritiese metgeselle later meegedeel het: “Bring ’n brandoffer vir julle, en laat my kneg Job vir julle bid” (Job 42:8). Ongeag wat die losprys was, Elihu se hoofpunt was dat Job sy oortreding kon laat bedek en gevolglik voordele kon ervaar.
Dit is wat gebeur het. Job ‘het berou gehad in stof en as’. Wat het toe gebeur? “Die HERE het die lot van Job verander . . . En die HERE het die einde van Job meer geseën as sy begin . . . En Job het daarna honderd-en-veertig jaar lank gelewe; en hy het sy kinders en kindskinders gesien, vier geslagte.” Daardie losprys het Job weliswaar nie vrygemaak van sonde nie, en hy het gevolglik mettertyd gesterf. Nogtans bewys die verlenging van sy lewe dat ‘sy vlees werklik fris geword het van jeugdige krag, dat hy teruggekeer het na die dae van sy jonkheid’.—Job 33:25; 42:6, 10-17.
Daardie seëninge wat voortgespruit het uit die toepassing van ’n beperkte losprys vir Job dien as ’n voorskou van die oorvloedige seëninge wat in die nuwe wêreld na die gelowige mensdom sal kom. Dan sal die volle voordeel van Jesus se losprysoffer beskikbaar wees, wat vir ewig die noodlottige gevolge van sonde en onvolmaaktheid sal verwyder. Wat ’n rede sal ons tog hê om te ‘juig’, soos Elihu gesê het!—Job 33:26.