Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 4/1 bl. 4-7
  • Is dit later as wat jy dink?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is dit later as wat jy dink?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Is alles soos dit was “van die begin van die skepping af”?
  • ’n Saamgestelde teken wat uit baie aspekte bestaan
    Ontwaak!—1993
  • Wanneer sal die voorspelde wêreldvernietiging kom?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • ’n Bybelprofesie waarvan jy die vervulling sien
    Die Bybel—God se woord of die mens s’n?
  • Hoe ons weet dat ons in “die laaste dae” lewe
    Gee God werklik vir ons om?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 4/1 bl. 4-7

Is dit later as wat jy dink?

DRIE dae voor sy dood het Jesus ’n baie besige dag in Jerusalem gehad, ’n dag wat vir Christene wat vandag lewe van die allergrootste belang is. Hy het in die tempel onderrig en baie strikvrae afgeweer waarmee die Joodse godsdiensleiers hom probeer vasvra het. Uiteindelik het hy ’n skerp veroordeling oor die skrifgeleerdes en Fariseërs uitgespreek en hulle geveinsdes en slange genoem wat in Gehenna gaan beland.—Mattheüs, hoofstukke 22, 23.

Terwyl hy die tempelterrein verlaat het, het een van sy dissipels vir hom gesê: “Meester, kyk watter klippe en watter geboue!” Jesus was nie beïndruk nie en het vir hom gesê: “Sien jy hierdie groot geboue? Daar sal sekerlik nie een klip op die ander gelaat word wat nie afgebreek sal word nie!” (Markus 13:1, 2). Jesus het die tempel toe vir die laaste keer verlaat, in die Kedronvallei afgegaan, dit oorgesteek en die hange van die Olyfberg uitgeklim.

Terwyl hy daar in die laat middagson op die berg gesit het, met ’n uitsig oor die tempel op die berg Moria oorkant die vallei, het Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas alleen na hom gekom. Wat hy oor die tempel se vernietiging gesê het, het hulle gekwel. Hulle het gevra: “Sê ons: Wanneer sal hierdie dinge gebeur en wat sal die teken wees van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge?” (Mattheüs 24:3, NW; Markus 13:3, 4). Die antwoord op hulle vraag wat hy hulle daardie middag op die Olyfberg gegee het, is vir ons van uiterste belang. Dit kan keer dat ons te lank wag voor ons oor “die voleinding van die stelsel van dinge” dink.

Hulle vraag was tweevoudig. Die een deel was oor die einde van die tempel en die Joodse stelsel; die ander gedeelte het gegaan oor Jesus se toekomstige teenwoordigheid as Koning en die voleinding van hierdie huidige stelsel van dinge. Hierdie vrae is albei gedek in Jesus se antwoord, soos opgeteken in Mattheüs 24 en 25, Markus 13 en Lukas 21. (Sien ook Openbaring 6:1-8.) Jesus het aangaande die voleinding van hierdie huidige wêreld, of stelsel van dinge, etlike aspekte genoem wat as geheel ’n saamgestelde teken is, en wat die laaste dae sou kenmerk. Word daardie saamgestelde teken vandag vervul? Lewe ons in die laaste dae waarvan die Bybel praat? Waarsku die vervulling daarvan ons dat dit moontlik later is as wat ons dink?

Een aspek van Jesus se saamgestelde teken is: “Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander” (Mattheüs 24:7). Die Eerste Wêreldoorlog het in 1914 uitgebreek. Jehovah se Getuies van daardie dekade was onmiddellik op hulle hoede. En waarom? In Desember 1879, sowat 35 jaar vantevore, het die tydskrif die Watch Tower, op grond van Bybelchronologie, gesê dat 1914 ’n beslissende jaar in die mensegeskiedenis sou wees. Kon hierdie oorlog, die eerste oorlog op ’n waarlik wêreldwye skaal, waarby 28 nasies uiteindelik betrokke was en waarin 14 miljoen mense dood is, die begin van gebeure wees wat Jesus se saamgestelde teken van die einde sou vervul? Sou die ander aspekte van die teken volg?

In ’n “openbaring van Jesus Christus” is hierdie selfde bloedbad voorspel. Hier neem ’n vuurrooi perd en sy ruiter “die vrede van die aarde af weg” (Openbaring 1:1; 6:4). Dit is beslis wat van 1914 tot 1918 gebeur het. En die Eerste Wêreldoorlog was maar net die begin. In 1939 het die Tweede Wêreldoorlog gevolg. Nege-en-vyftig nasies is in daardie konflik ingesuig, en sowat 50 miljoen mense het gesterf. Gedurende die 45 jaar ná die Tweede Wêreldoorlog was daar meer as 125 oorloë, waarin meer as 20 miljoen mense dood is.

’n Ander aspek van die teken is: “Daar sal hongersnode wees” (Mattheüs 24:7). Daar was wydverspreide hongersnood gedurende en ná die Eerste Wêreldoorlog. Een verslag noem meer as 60 groot hongersnode sedert 1914, wat etlike miljoene lewens geëis het. Boonop sterf daar, selfs nou, daagliks 40 000 kinders as gevolg van wanvoeding en voorkombare siektes.

“Daar sal groot aardbewings wees” (Lukas 21:11). Hulle het die aarde geskud nadat die Eerste Wêreldoorlog begin het. In 1915 het ’n aardbewing die lewe van 32 610 in Italië geëis; in 1920 het ’n ander een 200 000 in China gedood; in 1923 het 99 300 in Japan gesterf; in 1935 het 25 000 hulle lewe verloor in wat nou Pakistan is; in 1939 het 32 700 in Turkye omgekom; in 1970 is 66 800 in Peru dood; in 1976 het 240 000 (party sê 800 000) in China gesterf; in 1988 het 25 000 hulle lewe in Armenië verloor. Daar was beslis groot aardbewings sedert 1914!

‘Pessiektes op verskillende plekke’ (Lukas 21:11). Gedurende 1918 en 1919 het sowat 1 000 000 000 mense die Spaanse griep gekry, en meer as 20 000 000 het gesterf. Maar dit was maar net die begin. In die ontwikkelende lande word miljoene steeds afgetakel en gedood deur malaria, bilharziase, rivierblindheid, akute diarree en ander siektes. Daarbenewens eis hartkwale en kanker die lewe van nog miljoene. Seksueel oorgedraagde siektes saai verwoesting onder die mensdom. Vandag jaag die dodelike Vigs-plaag mense die skrik op die lyf. Daar word geraam dat Vigs elke minuut ’n nuwe slagoffer besmet, en daar is geen genesing in sig nie.

‘Vermeerdering van die ongeregtigheid’ (Mattheüs 24:12). Sedert 1914 vier ongeregtigheid hoogty en vandag is dit onbeheers. Moorde, verkragtings, roofaanvalle en bende-oorloë—daar is gedurig nuusberigte daaroor in koerante en oor die radio en televisie. Sinlose geweld woed onbeteueld voort. In die Verenigde State vuur ’n gewapende man honderd skote met ’n snelvuurgeweer na ’n groep skoolkinders—5 dood en 29 gewond. In Engeland maai ’n kranksinnige man 16 mense met ’n AK-47-snelvuurgeweer af. In Kanada gaan ’n vrouehater na die Montreal-Universiteit en maak 14 vroue dood. Sulke mense is soos wolwe, leeus, wilde diere, redelose diere wat gebore word om gevang en vernietig te word.—Vergelyk Esegiël 22:27; Sefanja 3:3; 2 Petrus 2:12.

“Mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom” (Lukas 21:26). Kort ná die ontploffing van die eerste kernbom het atoomwetenskaplike Harold C. Urey oor die toekoms gesê: “Ons sal in vrees eet, in vrees slaap, in vrees lewe en in vrees sterf.” Behalwe die vrees vir kernoorlog vrees mense ook misdadigheid, hongersnood, ekonomiese onbestendigheid, sedelike verval, verbrokkeling van die gesin, besoedeling van die aarde. Trouens, die slegte nuus wat ons daagliks in die koerante en op televisienuusberigte kan sien, laat vrees oral ontstaan.

Die apostel Paulus het ook oor die toestande geskryf wat in die laaste dae van hierdie stelsel van dinge algemeen sou voorkom. Wanneer ons sy woorde lees, is dit soos daaglikse nuusberigte. “Maar weet dit”, het hy geskryf, “dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.”—2 Timotheüs 3:1-5.

Is alles soos dit was “van die begin van die skepping af”?

Die apostel Petrus het ’n ander aspek van die laaste dae voorspel: ‘Daar sal aan die einde van die dae spotters kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.’—2 Petrus 3:3, 4.

Vandag, wanneer die onderwerp van die laaste dae ter sprake kom, vervul baie mense Petrus se profetiese woorde deur te spot en te sê: ‘Ag, al daardie dinge het al vantevore gebeur. Dis net die geskiedenis wat homself herhaal.’ Hulle verwerp dus die waarskuwings en ‘hou aan om volgens hulle eie begeerlikhede te wandel’. Hulle neem “moedswillig” geen notisie van die vervulling van profesieë wat die laaste dae so duidelik identifiseer nie.—2 Petrus 3:5.

Nietemin is die verskillende kenmerke van die saamgestelde teken wat Jesus voorspel het, nog nooit vantevore almal saam in so ’n kort tydjie met soveel intensiteit en sulke verreikende gevolge vervul nie. (Hersien byvoorbeeld Mattheüs 24:3-12; Markus 13:3-8; Lukas 21:10, 11, 25, 26.) En ons wil jou aandag veral vestig op nog ’n ander voorspelde kenmerk van die laaste dae wat in Openbaring beskryf word.

Kom ons slaan Openbaring 11:18 na. Dit sê dat wanneer Christus se Koninkryk begin heers en die nasies vertoornd is en die tyd van oordeel aanbreek, Jehovah ‘die verderwers van die aarde sal verderf’. Verniel besoedeling nie vandag die omgewing nie? Die mens het weliswaar nog altyd van die aarde se hulpbronne gebruik gemaak om homself te verryk. Maar hy was nog nooit in ’n posisie om die aarde daardeur as ’n bewoonbare planeet te vernietig nie. Nou het die mens wel daardie mag as gevolg van wetenskaplike tegnologie wat sedert 1914 ontwikkel is, en deur gulsig na rykdom te gryp, verniel hulle werklik die aarde, besoedel hulle die omgewing en stel hulle die aarde se vermoë om lewe te onderhou in gevaar.

’n Gierige, materialistiese gemeenskap is nou besig om dit teen ’n onrusbarende tempo te doen. Hier is sommige van die gruwels wat dit tot gevolg het: suurreën, wêreldwye verwarming, gate in die osoonlaag, die ophoping van vullis, toksiese stortplekke, gevaarlike onkruid- en plaagdoders, kernafval, oliestortings, onverwerkte rioolstorting, die bedreiging van spesies, dooie mere, besoedelde grondwater, vernietigde woude, besoedelde grond, verlore bogrond en rookmis wat nadelig is vir bome en gesaaides, sowel as die mens se gesondheid.

Professor Barry Commoner sê: “Ek glo dat die volgehoue besoedeling van die aarde, indien dit ongehinderd voortgaan, hierdie planeet uiteindelik ongeskik sal maak vir menselewe. . . . Die probleem lê nie opgesluit in wetenskaplike onkunde nie, maar in eiesinnige hebsug.” Die boek State of the World 1987 sê op bladsy 5: “Die omvang van die mens se bedrywighede begin die bewoonbaarheid van die aarde self bedreig.” ’n Belangrike reeks wat in 1990 in die Verenigde State vir die publiek op televisie vertoon is, was getiteld “Wedloop om die planeet te red”.

Die mens sal nooit ophou om dinge te besoedel nie; God sal besoedeling laat ophou wanneer hy diegene vernietig wat die aarde vernietig. God en sy hemelse Veldmaarskalk, Christus Jesus, sal dit doen deur oordeel te voltrek aan die materialistiese nasies by die finale oorlog van Armageddon.—Openbaring 16:14, 16; 19:11-21.

Let laastens op die volgende opvallende kenmerk van Jesus se profesie oor die laaste dae: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word” (Mattheüs 24:14, NW). Hierdie goeie nuus vertel dat God se Koninkryk nou in die hemele regeer en binnekort sal optree om hierdie goddelose stelsel te vernietig en die Paradys op aarde te herstel. Die evangelie is al voorheen verkondig, maar dit het nog nooit die hele bewoonde aarde gedek nie. Sedert 1914 het Jehovah se Getuies dit egter gedoen, ten spyte van die vervolging wat Jesus voorspel het—regeringsverbooie, gepeupelgeweld, gevangenskap, marteling en talle sterfgevalle.

In 1919 was daar 4 000 Getuies van Jehovah wat hierdie goeie nuus verkondig het. Hulle getalle het bly toeneem, sodat daar verlede jaar meer as 4 000 000 was wat die predikingswerk in 212 lande in sowat 200 tale gedoen het, honderde miljoene Bybels, boeke en tydskrifte versprei het, miljoene Bybelstudies in mense se huise gehou en byeenkomste in groot stadions in alle wêrelddele gehad het. Die prediking van die evangelie sou nie voor 1914 op so ’n ontsaglike skaal moontlik kon gewees het nie. Die feit dat dit in hierdie mate verkondig is, het vereis dat die moderne sneldrukperse, die reisfasiliteite, die rekenaars, die faksmasjiene en die verskepings- en kommunikasiefasiliteite, wat slegs in ons tyd beskikbaar is, gebruik word.

Die Jerusalem van Jeremia se dag is oor sy komende vernietiging gewaarsku; sy inwoners het net gespot, maar dit was later as wat hulle gedink het. Vandag word ’n baie groter waarskuwing oor Armageddon se vernietiging verkondig, met oorweldigende bewys om dit te steun (Openbaring 14:6, 7, 17-20). Miljoene sluit hulle ore hiervoor. Maar die tyd raak kort; dit is later as wat hulle dink. Is dit later as wat jy dink?

[Prent op bladsy 7]

Dit was in Jeremia se dag later as wat hulle gedink het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel