Behaag Jehovah deur goedhartigheid aan die dag te lê
“Wat vra Jehovah van jou terug as om geregtigheid te beoefen en goedhartigheid lief te hê en beskeie te wandel met jou God?”—MIGA 6:8, NW.
1. Waarom moet dit ons nie verbaas dat Jehovah van sy volk verwag om goedhartigheid aan die dag te lê nie?
JEHOVAH verwag dat sy volk goedhartigheid aan die dag lê. Dit behoort nie vir ons vreemd te wees nie. God self is goedhartig teenoor almal, selfs teenoor ondankbare, goddelose mense. Jesus Christus het die volgende in hierdie verband vir sy dissipels gesê: “Julle moet jul vyande liefhê en goed doen en leen sonder om iets terug te verwag, en julle loon sal groot wees; en julle sal kinders van die Allerhoogste wees; want Hy self is goedertieren [“goedhartig”, NW] oor die ondankbares en slegtes. Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is.”—Lukas 6:35, 36.
2. Watter vrae oor goedhartigheid verdien ons aandag?
2 Soos Miga 6:8 sê, moet diegene wat met God wandel in werklikheid ‘goedhartigheid liefhê’. Dit behaag Jehovah natuurlik wanneer sy knegte goedhartigheid liefhet en dit hartlik betoon. Maar wat is goedhartigheid? Watter voordele hou dit in as ons dit aan die dag lê? En hoe kan hierdie eienskap aan die dag gelê word?
Wat goedhartigheid is
3. Hoe sou jy goedhartigheid definieer?
3 Goedhartigheid is die eienskap om daadwerklik in ander belang te stel. Dit word getoon deur behulpsaamheid en bedagsame woorde. Om goedhartig te wees, beteken om goed te doen en nie iets kwaads nie. ’n Goedhartige persoon is vriendelik, saggeaard, simpatiek en goedgunstig. Hy is vrygewig en bedagsaam teenoor ander. En goedhartigheid is ’n deel van die stof waaruit die figuurlike kleredrag van elke ware Christen bestaan, want Paulus het gemaan: “Beklee julle dan . . . met innerlike ontferming, [goedhartigheid], nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.”—Kolossense 3:12, vgl. NW.
4. Hoe het Jehovah die voorbeeld gestel om goedhartigheid teenoor die mensdom te betoon?
4 Jehovah is die vernaamste voorbeeld van iemand wat goedhartigheid aan die dag lê. Soos die apostel Paulus gesê het, was dit “toe die [goedhartigheid] van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het” dat ‘Hy ons na sy barmhartigheid gered het deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees’ (Titus 3:4, 5, vgl. NW). God reinig, of “bad”, gesalfde Christene in Jesus se bloed deur die waarde van Christus se losprysoffer ten behoewe van hulle aan te wend. Hulle word ook deur die heilige gees vernuwe en word “’n nuwe skepsel” as geesverwekte seuns van God (2 Korinthiërs 5:17). God se goedhartigheid en liefde vir die mens sluit natuurlik ook ’n internasionale “groot menigte” in wat “hul klere gewas en hul klere wit gemaak [het] in die bloed van die Lam” (Openbaring 7:9, 14; 1 Johannes 2:1, 2). Daarbenewens is gesalfdes en die groot menigte, wat ’n aardse hoop het, almal onder Jesus se ‘sagte’ juk.—Mattheüs 11:30.
5. Waarom moet ons verwag dat diegene wat deur God se gees gelei word goedhartigheid teenoor ander sal betoon?
5 Goedhartigheid is ook ’n deel van die vrug van God se heilige gees, of werkende krag. Paulus het gesê: “Die vrug van die gees is liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen sulke dinge is geen wet nie” (Galasiërs 5:22, 23, NW). Wat behoort ons dus van diegene wat deur God se gees gelei word te verwag? Hulle moet beslis goedhartigheid teenoor ander betoon.
6. Hoe sal goedhartigheid ouere manne en ander Christene laat optree?
6 Goedhartigheid kan op baie maniere betoon word. Ons betoon goedhartigheid wanneer ons barmhartig is. Christen- ouere manne betoon byvoorbeeld goedhartigheid wanneer hulle barmhartig is teenoor ’n berouvolle oortreder en hom geestelik probeer help. Die godgegewe eienskap van goedhartigheid maak opsieners geduldig, bedagsaam, simpatiek en saggeaard. Dit laat hulle ‘die kudde teer behandel’ (Handelinge 20:28, 29, NW). Trouens, die vrug van die gees, goedhartigheid, moet alle Christene barmhartig, geduldig, bedagsaam, medelydend, vriendelik en gasvry maak.
Vermy misplaaste goedhartigheid
7. Waarom sou jy sê dat misplaaste goedhartigheid ’n swakheid is?
7 Party mense beskou goedhartigheid as swakheid. Hulle dink dat ’n mens hard, soms selfs onbeskof, moet wees sodat ander beïndruk sal wees deur jou krag. Maar daar is al tereg gesê dat “onbeskoftheid ’n swakkeling se nabootsing van krag is”. Dit verg in werklikheid ware krag om werklik goedhartig te wees sowel as om misplaaste goedhartigheid te vermy. Die goedhartigheid wat ’n vrug van God se gees is, is nie ’n swak, toegeeflike gesindheid teenoor verkeerde gedrag nie. Nee, misplaaste goedhartigheid is ’n swakheid wat veroorsaak dat ’n mens oortreding vergoelik.
8. (a) Hoe was Eli slap wat sy seuns betref het? (b) Waarom moet ouere manne daarteen waak om nie voor misplaaste goedhartigheid te swig nie?
8 Israel se hoëpriester Eli was slap in die dissipline van sy seuns, Hofni en Pinehas, wat as priesters by die tabernakel gedien het. Hulle was nie tevrede met die deel van die offer wat volgens God se Wet aan hulle toegewys is nie, maar hulle het ’n dienaar rou vleis van die persoon wat die offer gebring het, laat afdwing nog voor die vet van die offer op die altaar aan die brand gesteek is. Eli se seuns het ook onsedelike omgang gehad met vroue wat by die ingang van die tabernakel gedien het. Maar pleks van Hofni en Pinehas uit hulle amp te onthef, het Eli hulle net lig bestraf, en sodoende meer eer aan sy seuns gegee as aan God (1 Samuel 2:12-29). Geen wonder dat ‘die woord van die HERE skaars was in daardie dae’ nie! (1 Samuel 3:1). Daarom moet Christen- ouere manne nie voor valse redenasies swig of misplaaste goedhartigheid openbaar wat ’n gemeente se geestelikheid in gevaar kan stel nie. Ware goedhartigheid is nie blind vir bose woorde en dade wat God se standaarde skend nie.
9. (a) Watter gesindheid kan ons help om nie voor misplaaste goedhartigheid te swig nie? (b) Hoe het Jesus krag getoon in sy optrede teenoor afvallige godsdiensleiers?
9 As ons die betoning van misplaaste goedhartigheid wil vermy, moet ons om God se hulp bid sodat ons die krag kan hê waarvan die psalmdigter gepraat het: “Gaan weg van my, kwaaddoeners, dat ek die gebooie van God kan bewaar!” (Psalm 119:115). Ons moet ook die voorbeeld van Jesus Christus navolg, wat nooit misplaaste goedhartigheid betoon het nie. Trouens, Jesus was in werklikheid die toonbeeld van ware goedhartigheid. Hy het byvoorbeeld ‘innig jammer gevoel vir die mense, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie’. Gevolglik het regskapenes vry gevoel om Jesus te nader, en hulle het selfs hulle kindertjies na hom gebring. En stel jou net die goedhartigheid en meegevoel voor wat hy aan die dag gelê het toe hy “sy arms om [die kindertjies] geslaan, sy hande op hulle gelê en hulle geseën” het! (Mattheüs 9:36; Markus 10:13-16). Al was Jesus goedhartig het hy nogtans vas gestaan vir wat reg is volgens sy hemelse Vader. Jesus het nooit boosheid verskoon nie; hy het die godgegewe krag gehad om die huigelagtige godsdiensleiers te veroordeel. In Mattheüs 23:13-26 het hy hierdie verklaring etlike kere herhaal: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes.” Jesus het elke keer ’n rede gegee vir die goddelike oordeel.
Goedhartigheid gekoppel met liefde
10. Hoe betoon Jesus se dissipels goedhartigheid en liefde teenoor medegelowiges?
10 Jesus het van sy volgelinge gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). En wat is een aspek van die liefde wat Jesus se ware dissipels identifiseer? Paulus het gesê: “Die liefde is lankmoedig en vriendelik [“goedhartig”, NW]” (1 Korinthiërs 13:4). As ons lankmoedig en goedhartig is, beteken dit dat ons die onvolmaakthede en tekortkominge van ander verdra, soos Jehovah dit ook goedhartig verdra (Psalm 103:10-14; Romeine 2:4, NW; 2 Petrus 3:9, 15). Christelike liefde en goedhartigheid kan ook gesien word wanneer medegelowiges iewers op aarde swaar kry. Christene in ander plekke reageer met meer as “mensliewendheid” en betoon broederliefde deur materiële dinge by te dra om sulke aanbidders van Jehovah te help.—Handelinge 28:2.
11. Wat is liefderyke goedhartigheid volgens die Skrif?
11 Goedhartigheid word met liefde gekoppel in die uitdrukking “liefderyke goedhartigheid”, oftewel “goedertierenheid”, wat dikwels in die Skrif gebruik word. Dit is goedhartigheid wat uit lojale liefde voortspruit. Die Hebreeuse selfstandige naamwoord wat met “liefderyke goedhartigheid” vertaal word (cheʹsedh), sluit meer in as net ’n tere besorgdheid. Dit is goedhartigheid wat liefdevol tot iets verbind word totdat sy doel in verband daarmee verwesenlik is. Jehovah se liefderyke goedhartigheid, of lojale liefde, word op verskillende maniere aan die dag gelê. Dit blyk byvoorbeeld uit sy dade van verlossing en beskerming.—Psalm 6:5; 40:12; 143:12.
12. Waarvan kan Jehovah se knegte verseker wees wanneer hulle om hulp of verlossing bid?
12 Geen wonder dat Jehovah se liefderyke goedhartigheid mense na hom toe trek nie! (Jeremia 31:3). Wanneer God se getroue knegte verlossing of hulp nodig het, weet hulle dat sy liefderyke goedhartigheid inderdaad lojale liefde is wat hulle nie in die steek sal laat nie. Gevolglik kan hulle met geloof bid, soos die psalmdigter wat gesê het: “Maar ek—op u goedertierenheid [“liefderyke goedhartigheid”, NW] vertrou ek; my hart sal juig oor u heil” (Psalm 13:6). Aangesien God se liefde lojaal is, vertrou sy knegte nie tevergeefs op sy liefderyke goedhartigheid nie. Wanneer hulle om hulp of verlossing bid, het hulle hierdie versekering: “Die HERE sal sy volk nie verwerp en sy erfdeel nie verlaat nie.”—Psalm 94:14.
Belonings vir goedhartigheid
13, 14. Waarom het ’n goedhartige persoon lojale vriende?
13 In navolging van Jehovah moet sy knegte ‘liefderyke goedhartigheid en barmhartigheid teenoor mekaar bewys’ (Sagaria 7:9, NW; Efesiërs 5:1). “Die begeerlike in die aardse mens is sy liefderyke goedhartigheid”, en iemand wat hierdie eienskap aan die dag lê, word ryklik beloon (Spreuke 19:22, NW). Wat is party van hierdie belonings?
14 Goedhartigheid maak ons taktvol en help ons dus om ’n goeie verhouding met ander te handhaaf. ’n Taktvolle persoon sê en doen dinge of hanteer moeilike situasies op ’n bedagsame manier en kom ander mense sodoende nie te na nie. Terwyl ’n “wreedaard” verstoot word, doen “’n man wat ’n weldaad bewys . . . goed aan sy eie siel” (Spreuke 11:17). Mense vermy ’n wrede persoon maar voel aangetrokke tot iemand wat goedhartigheid teenoor hulle aan die dag lê. ’n Goedhartige persoon het gevolglik lojale vriende.—Spreuke 18:24.
15. Watter uitwerking kan goedhartigheid in ’n godsdienstig verdeelde huishouding hê?
15 ’n Christenvrou met ’n ongelowige eggenoot kan hom na God se waarheid trek deur ’n eienskap soos goedhartigheid aan die dag te lê. Voordat sy die waarheid geleer en haar ‘met die nuwe persoonlikheid beklee het wat na God se wil geskep is in ware regverdigheid en lojaliteit’ was sy miskien onvriendelik, selfs twissiek (Efesiërs 4:24, NW). As haar man sekere spreuke geken het, sou hy heel moontlik saamgestem het dat ‘die gekyf van ’n vrou ’n aanhoudende gedrup is’ en dat ‘dit beter is om in ’n woeste land te woon as by ’n twisgierige vrou en ergernis’ (Spreuke 19:13; 21:19). Maar nou kan die Christenvrou se rein gedrag en diep eerbied, saam met eienskappe soos goedhartigheid, help om haar eggenoot tot die ware geloof oor te haal (1 Petrus 3:1, 2). Ja, dit is dalk een beloning vir haar goedhartigheid.
16. Hoe kan ons voordeel trek uit goedhartigheid wat teenoor ons betoon is?
16 Goedhartigheid wat teenoor ons betoon word, kan ons bevoordeel deur ons meer simpatiek en vergewensgesind te maak. As ons byvoorbeeld geestelike hulp nodig gehad het en op ’n goedhartige en sagmoedige manier behandel is, sou dit ons nie meer geneig laat voel om ander ook so te behandel nie? Wel, goedhartige en sagmoedige behandeling kan verwag word van manne wat geestelik bekwaam is, want Paulus het geskryf: “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie” (Galasiërs 6:1). Aangestelde ouere manne praat sagmoedig en goedhartig wanneer hulle medegelowiges wat oortree, probeer help. Maar wat verwag God van almal wat hom dien, of ons nou persoonlik sulke goedhartige hulp ontvang het of nie? Alle Christene moet goedhartigheid teenoor ander aan die dag lê en moet ag slaan op Paulus se raad: “Wees goedhartig en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het” (Efesiërs 4:32). As iemand ons vergewe het of ons op die een of ander manier uit geestelike moeilikheid gehelp het, moet dit natuurlik ons vermoë om vergewensgesind te wees en om medelye en goedhartigheid aan die dag te lê, vergroot.
Waardeer God se onverdiende goedhartigheid
17. Vir watter goedhartigheid moet ons veral dankbaar wees, aangesien ons almal as sondaars gebore word?
17 Aangesien ons almal gebore is as sondaars wat tot die dood veroordeel is, is daar ’n soort goedhartigheid waarvoor ons baie dankbaar moet wees. Dit is Jehovah God se onverdiende goedhartigheid. Die feit dat sondaars van veroordeling tot die dood verlos en regverdig verklaar kan word, is goedhartigheid wat heeltemal onverdiend is. Paulus wat God se onverdiende goedhartigheid 90 maal in sy 14 goddelik geïnspireerde briewe gemeld het, het vir Christene in eertydse Rome gesê: “Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is” (Romeine 3:23, 24). Hoe moet ons tog die onverdiende goedhartigheid waardeer wat Jehovah God aan die dag lê!
18, 19. Hoe kan ons verhoed dat ons die doel van God se onverdiende goedhartigheid mis?
18 As ons ondankbaar is, kan ons die doel van God se onverdiende goedhartigheid mis. Paulus sê in hierdie verband: “Ons is dan ambassadeurs wat optree in die plek van Christus, asof God deur ons ’n dringende versoek doen. As plaasvervangers vir Christus smeek ons: ‘Word met God versoen.’ Die een wat geen sonde geken het nie, het hy vir ons tot sonde gemaak, sodat ons deur bemiddeling van hom God se regverdigheid sou word. Terwyl ons met hom saamwerk, versoek ons julle ook dringend om die onverdiende goedhartigheid van God nie te aanvaar en dan die doel daarvan te mis nie. Want hy sê [in Jesaja 49:8, Septuagint]: ‘In ’n tyd van aanvaarding het ek julle verhoor, en op ’n dag van redding het ek julle te hulp gekom.’ Kyk! Nou in die besonder is dit die tyd van aanvaarding. Kyk! Nou is dit die dag van redding. In geen enkele opsig gee ons enige aanleiding tot struikeling nie, sodat daar geen aanmerkings op ons bediening gemaak kan word nie, maar in elke opsig beveel ons ons as God se dienaars aan” (2 Korinthiërs 5:20–6:4, NW). Wat het Paulus bedoel?
19 Gesalfde Christene is ambassadeurs wat in die plek van Christus optree, en die groot menigte is sy gesante. Tesame spoor hulle mense aan om met God versoen te word sodat hulle redding kan verkry. Paulus wou nie hê dat enigiemand Jehovah God se onverdiende goedhartigheid deur Jesus Christus moes ontvang en die doel daarvan mis nie. Dit kan met ons gebeur as ons nalaat om die werk te doen waarvoor daardie onverdiende goedhartigheid ons bekwaam maak. As ons ’n goeie verhouding met God het as mense wat met hom versoen is, sal ons nie sy onverdiende goedhartigheid tevergeefs ontvang as ons “die bediening van die versoening” vervul, “naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het” nie (2 Korinthiërs 5:18, 19). Ons sal ook die grootste goedhartigheid aan andere bewys deur hulle te help om met God versoen te word.
20. Wat gaan ons volgende bespreek?
20 Jehovah se knegte gebruik hulle tyd en middele om goeie dade te doen wanneer hulle mense geestelik probeer help deur aan die Christelike bediening deel te neem. Maar wat kan ons leer uit skriftuurlike voorbeelde van goedhartigheid wat aan die dag gelê is? Kom ons bespreek vervolgens party van hierdie voorbeelde en dink aan ander maniere om Jehovah te behaag deur goedhartigheid aan die dag te lê.
Hoe sou jy antwoord?
□ Wat is goedhartigheid?
□ Hoe kan ons keer dat ons voor misplaaste goedhartigheid swig?
□ Waarom kan Jehovah se volk op sy liefderyke goedhartigheid vertrou?
□ Wat is ’n paar belonings vir goedhartigheid?
□ Deur wat te doen sal ons nie die doel van God se onverdiende goedhartigheid mis nie?
[Prent op bladsy 13]
Goedhartigheid maak Christen- ouere manne geduldig, bedagsaam en barmhartig
[Prent op bladsy 15]
’n Christenvrou se goedhartigheid kan help om haar eggenoot tot die ware geloof oor te haal
[Prent op bladsy 17]
Ons kan die grootste goedhartigheid teenoor ander bewys deur hulle te help om met God versoen te word