‘Die lig het in die wêreld gekom’
“Dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig.”—JOHANNES 3:19.
1. Waarom moet almal in God se oordeel belangstel?
DIE meeste mense wat vandag leef, bekommer hulle nie juis oor God se oordeel nie. Party neem dit as vanselfsprekend aan dat hulle ’n gunstige oordeel van God sal ontvang as hulle gereeld kerk toe gaan en hulle bure nie kwaad aandoen nie. Die Christendom se leerstellinge oor die helse vuur en die vaevuur het baie mense aan die hele idee van goddelike oordeel laat twyfel. Maar algemene onverskilligheid en die Christendom se leuens kan nie die feit verander dat God uiteindelik elke mens gaan oordeel nie (Romeine 14:12; 2 Timotheüs 4:1; Openbaring 20:13). En baie hang van hierdie oordeel af. Diegene wat ’n gunstige oordeel ontvang, sal God se gawe van die ewige lewe kry, terwyl diegene wat veroordeel word, die loon van die sonde sal ontvang: die dood.—Romeine 6:23.
2. Wat is die grondslag vir God se oordeel?
2 Gevolglik stel ware Christene belang in God se oordeel, en hulle wil hom werklik behaag. Hoe kan hulle dit doen? In Johannes 3:19 gee Jesus vir ons die antwoord. Hy sê: “Dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.” Ja, God se oordeel sal daarop berus of ons die lig liewer het as die duisternis.
“God is lig”
3. Wat is die duisternis, en wat is die lig?
3 In geestelike sin het duisternis te doen met die onkunde en hopeloosheid wat in Satan se wêreld bestaan—al gee Satan dikwels voor dat hy “’n engel van die lig” is (2 Korinthiërs 4:4; 11:14; Efesiërs 6:12). Aan die ander kant het die lig te doen met die begrip en verligting wat van Jehovah God afkomstig is. Paulus het van die lig gepraat toe hy gesê het: “Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn—dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus” (2 Korinthiërs 4:6). Geestelike lig is so nou verbind met Jehovah God dat die apostel Johannes geskryf het: “God is lig.”—1 Johannes 1:5; Openbaring 22:5.
4. (a) Hoe het Jehovah die lig beskikbaar gestel? (b) Hoe kan ons toon dat ons die lig liefhet?
4 Jehovah het lig beskikbaar gestel deur middel van sy woord, wat vandag in geskrewe vorm vrylik beskikbaar is as die Heilige Bybel (Psalm 119:105; 2 Petrus 1:19). Gevolglik het die psalmdigter in werklikheid sy liefde vir die lig uitgespreek toe hy geskryf het: “Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag. My siel onderhou u getuienisse, en ek het hulle baie lief” (Psalm 119:97, 167). Het jy die lig so lief soos die psalmdigter dit klaarblyklik gehad het? Lees jy God se Woord gereeld, peins jy daaroor en probeer jy hard om toe te pas wat dit sê? (Psalm 1:1-3). As jy dit doen, probeer jy om ’n gunstige oordeel van Jehovah te verkry.
‘Ek is die lig van die wêreld’
5. Op wie vestig goddelike lig die aandag?
5 Lewegewende lig van Jehovah vestig die aandag op Jesus Christus. In die inleiding tot Johannes se Evangelie lees ons: “In [Jesus] was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie” (Johannes 1:4, 5). Ja, Jesus het so ’n noue verbintenis met die lig dat hy “die waaragtige lig wat elke mens verlig”, genoem word (Johannes 1:9). Jesus het self gesê: “So lank as Ek in die wêreld is, is Ek die lig van die wêreld.”—Johannes 9:5.
6. Wat moet ’n mens doen om ’n gunstige oordeel te ontvang wat tot die lewe lei?
6 Gevolglik het diegene wat die lig liefhet Jesus lief, en hulle glo in hom. Dit is sonder geloof in Jesus onmoontlik om ’n gunstige oordeel te verkry. Ja, slegs deur hom te aanvaar as God se aangewese weg tot redding kan ons ’n gunstige oordeel verkry. Jesus het gesê: “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom” (Johannes 3:36). Maar wat beteken dit om in Jesus te glo?
7. Geloof in Jesus impliseer geloof in wie anders?
7 Ten eerste het Jesus self gesê: “Wie in My glo, glo nie in My nie, maar in Hom wat My gestuur het. En wie My aanskou, aanskou Hom wat My gestuur het. Ek het as ’n lig in die wêreld gekom, sodat elkeen wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie” (Johannes 12:44-46). Diegene wat Jesus liefhet en in hom glo, moet ook innige liefde vir en geloof in die God en Vader van Jesus, Jehovah, hê (Mattheüs 22:37; Johannes 20:17). Enigiemand wat Jesus se naam in sy aanbidding gebruik, maar Jehovah nie groter eer gee nie, toon nie dat hy die lig werklik liefhet nie.—Psalm 22:28; Romeine 14:7, 8; Filippense 2:10, 11.
God se “Hoofbewerker”
8. Hoe het goddelike lig die aandag op Jesus gevestig selfs voor hy as ’n mens gebore is?
8 Om in Jesus te glo, beteken ook om sy rol in Jehovah se voornemens ten volle te aanvaar. Die belangrikheid van hierdie rol is beklemtoon toe die engel vir Johannes gesê het: “Dit is die getuienis aangaande Jesus wat profesie inspireer” (Openbaring 19:10, NW; Handelinge 10:43; 2 Korinthiërs 1:20). Van die heel eerste profesie in Eden af het alle goddelik geïnspireerde profesieë uiteindelik te doen met Jesus en sy plek in die bewerkstelliging van God se voornemens. Paulus het eweneens vir die Christene in Galasië gesê dat die Wetsverbond ’n “tugmeester na Christus toe” was (Galasiërs 3:24). Die doel van daardie eertydse Wetsverbond was om die nasie vir Jesus se koms as die Messias voor te berei. Daarom het die lig van Jehovah selfs voor Jesus se geboorte die aandag op hom gevestig.
9. Wat beteken dit sedert 33 G.J. om die lig lief te hê?
9 In 29 G.J. het Jesus hom aangebied om gedoop te word en is hy met die heilige gees gesalf, en gevolglik het hy die beloofde Messias geword. In 33 G.J. het hy as ’n volmaakte man gesterf, is hy opgewek, het hy na die hemel opgevaar en het hy daar die waarde van sy lewe ten behoewe van ons sondes aangebied (Hebreërs 9:11-14, 24). Hierdie reeks gebeurtenisse het ’n keerpunt in God se handelinge met die mensdom meegebring. Jesus was nou “die Hoofbewerker van die lewe”, ‘die Hoofbewerker van redding’ en “die Hoofbewerker en Volmaker van ons geloof” (Handelinge 3:15, NW; Hebreërs 2:10, NW; 12:2, NW; Romeine 3:23, 24). Vanaf 33 G.J. het liefhebbers van die lig besef, en aanvaar, dat daar sonder Jesus “in niemand anders [redding is] nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie”.—Handelinge 4:12.
10. Waarom is dit so belangrik om na Jesus se woorde te luister en dit te gehoorsaam?
10 Om in Jesus te glo, beteken ook dat ons hom as “die Woord” en die “Wonderbare Raadsman” aanvaar (Johannes 1:1; Jesaja 9:6, NW). Wat Jesus sê, weerspieël altyd die goddelike waarheid (Johannes 8:28; Openbaring 1:1, 2). Dit is van lewensbelang om na hom te luister. Jesus het vir die Jode van sy dag gesê: “Wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe” (Johannes 5:24). In die eerste eeu G.J. is diegene wat op Jesus se woorde ag geslaan het uit die duisternis van Satan se wêreld gered en het hulle, as ’t ware, lewend geword. Hulle is regverdig verklaar sodat hulle mede-erfgename met hom in sy hemelse Koninkryk kon wees (Efesiërs 1:1; 2:1, 4-7). Vandag beteken gehoorsaamheid aan Jesus se woorde dat baie die geleentheid het om regverdig verklaar te word sodat hulle deur Armageddon behoue kan bly en volmaakte menselewe in die nuwe wêreld kan beërwe.—Openbaring 21:1-4; vergelyk Jakobus 2:21, 25.
“Hoof bo alle dinge”
11. Watter groot gesag is in 33 G.J. aan Jesus gegee?
11 Ná sy opstanding het Jesus nog ’n faset van die lig aan sy volgelinge geopenbaar. Hy het gesê: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde” (Mattheüs 28:18). Jesus is dus verhoog tot ’n voortreflike posisie in Jehovah se universele organisasie. Paulus verstrek verdere besonderhede wanneer hy sê: “[God het Jesus] uit die dode opgewek . . . en Hom laat sit . . . aan sy regterhand in die hemele, bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige. En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee” (Efesiërs 1:20-23; Filippense 2:9-11). Van 33 G.J. af het liefde vir die lig ingesluit dat ons hierdie verhewe posisie van Jesus moet erken.
12. Wat het gesalfde Christene van die begin af met blydskap aanvaar, en hoe het hulle dit prakties getoon?
12 Uiteindelik sal die hele mensdom Jesus se gesag moet erken (Mattheüs 24:30; Openbaring 1:7). Liefhebbers van die lig het dit egter van die begin af met blydskap aanvaar. Gesalfde lede van die Christengemeente aanvaar Jesus as “die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente” (Kolossense 1:18; Efesiërs 5:23). Wanneer hulle deel van daardie liggaam word, word hulle ‘verlos uit die mag van die duisternis en oorgebring in die koninkryk van die Seun van sy liefde’ (Kolossense 1:13). Voortaan volg hulle Jesus se leierskap in elke aspek van hulle lewe, en in ons tyd het hulle die “ander skape” geleer om dieselfde te doen (Johannes 10:16). Erkenning van Jesus se hoofskap is ’n sleutelvereiste om ’n gunstige oordeel te ontvang.
13. Wanneer het Jesus begin om Koninkryksgesag uit te oefen, en wat het daarna hier op aarde gebeur?
13 By sy hemelvaart in 33 G.J. het Jesus nie onmiddellik sy gesag ten volle uitgeoefen nie. Al was hy die Hoof van die Christengemeente het hy vir die regte tyd gewag om ten volle gesag oor die hele mensdom uit te oefen (Psalm 110:1; Handelinge 2:33-35). Daardie tyd het in 1914 aangebreek toe Jesus as Koning van God se Koninkryk gekroon is en “die laaste dae” van hierdie wêreld begin het (2 Timotheüs 3:1). Sedert 1919 word die oorblywende gesalfdes ingesamel. Veral van 1935 af verdeel Jesus die mensdom in “die skape”, wat “die koninkryk wat vir [hulle] berei is”, sal beërwe, en “die bokke”, wat “sal weggaan in die ewige straf”.—Mattheüs 25:31-34, 41, 46.
14. Hoe het ’n groot menigte getoon dat hulle die lig liefhet, en wat sal dit vir hulle beteken?
14 Gelukkig is die skape in hierdie laaste dae talryk. ’n Groot menigte van hulle wat in die miljoene tel, het “uit alle nasies en stamme en volke en tale” op die wêreldtoneel verskyn. Hierdie skaapgeaardes het die lig lief, net soos hulle metgeselle, die gesalfdes. Hulle het “hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam”, en hulle roep met ’n groot stem: “Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!” Om hierdie rede sal die groot menigte as ’n groep ’n gunstige oordeel ontvang. Die lede daarvan kom “uit die groot verdrukking” en oorleef die vernietiging van diegene wat die duisternis liefhet by Armageddon.—Openbaring 7:9, 10, 14.
“Kinders van die lig”
15. Hoe toon ons dade ons onderworpenheid aan die Koning, Jesus Christus?
15 Maar hoe onderwerp liefhebbers van die lig, of hulle nou gesalfdes of van die ander skape is, hulle prakties aan Jesus as die een wat deur God as Koning en waarnemende Regter aangestel is? Een manier is deur die soort mense te wees wat Jesus se goedkeuring wegdra. Terwyl Jesus op aarde was, het hy getoon dat hy eienskappe soos opregtheid, heelhartigheid en geesdrif vir die waarheid waardeer, en hy het self ’n voorbeeld gestel in daardie eienskappe (Markus 12:28-34, 41-44; Lukas 10:17, 21). As ons ’n gunstige oordeel wil hê, moet ons sulke eienskappe aankweek.
16. Waarom is dit lewensbelangrik om die werke van die duisternis af te lê?
16 Dit is veral waar omdat, namate die einde nader kom, die duisternis van Satan se wêreld al hoe erger word (Openbaring 16:10). Die woorde wat Paulus vir die Romeine geskryf het, is gevolglik baie gepas: “Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord. Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie” (Romeine 13:12, 13). Hoewel die ewige lewe ’n gawe van God is, bewys ons dade hoe eg ons geloof is en hoe lief ons die lig het (Jakobus 2:26). Die oordeel wat ons gaan ontvang, berus grootliks op die mate waarin ons goeie dade doen en bose dade vermy.
17. Wat beteken dit om jou ‘met die Here Jesus Christus te beklee’?
17 Nadat die apostel Paulus sy raad in Romeine 13:12, 13 gegee het, sluit hy af deur te sê: “Beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie” (Romeine 13:14). Wat beteken dit om jou ‘met die Here Jesus Christus te beklee’? Dit beteken dat Christene Jesus noukeurig moet navolg en hulle as ’t ware in hulle strewe om Christelik te wees met sy voorbeeld en gesindheid moet beklee. “Hiertoe is julle geroep”, het Petrus gesê, “omdat Christus ook vir julle gely het en julle ’n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg.”—1 Petrus 2:21.
18. Watter radikale veranderinge is dalk nodig as ons ’n gunstige oordeel wil ontvang?
18 Dit het dikwels groot veranderinge in ’n Christen se lewe behels. “Vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here—wandel soos kinders van die lig. Want die vrug van die Gees [“lig”, NW] bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid” (Efesiërs 5:8, 9). Enigiemand wat werke van die duisternis beoefen, is nie ’n liefhebber van die lig nie en sal nie ’n gunstige oordeel ontvang as hy nie verander nie.
“Julle is die lig van die wêreld”
19. Op watter verskillende maniere kan ’n Christen die lig weerspieël?
19 Ten laaste beteken liefde vir die lig dat ons die lig sal weerspieël sodat ander dit kan sien en daartoe aangetrek kan word. “Julle is die lig van die wêreld”, het Jesus gesê. En hy het bygevoeg: “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik” (Mattheüs 5:14, 16). Die goeie werke van ’n Christen sluit in dat ’n mens elke soort goedheid en regverdigheid en waarheid aan die dag lê, aangesien sulke goeie gedrag ’n kragtige getuienis vir die waarheid voorsien (Galasiërs 6:10; 1 Petrus 3:1). Dit sluit veral in dat ons met ander oor die waarheid praat. Dit beteken vandag dat ons aan die wêreldwye veldtog deelneem om “hierdie evangelie van die koninkryk . . . in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies” te verkondig. Dit beteken ook dat ons belangstellendes geduldig weer moet besoek, die Bybel met hulle moet studeer en dat ons hulle weer moet help om die werke te doen wat tot die lig behoort.—Mattheüs 24:14; 28:19.
20. (a) Hoe helder skyn die lig vandag? (b) Watter ryk seëninge geniet diegene wat op die lig reageer?
20 Danksy die ywerige predikingswerk van getroue Christene word die goeie nuus in ons dag in meer as 200 lande gehoor, en die lig skyn helderder as ooit. Jesus het gesê: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê” (Johannes 8:12). Wat ’n vreugde is dit tog om aan die vervulling van hierdie belofte deel te neem! Ons lewe is soveel ryker aangesien ons nie meer in die duisternis van Satan se wêreld verkeer nie. En ons vooruitsigte is werklik wonderlik terwyl ons uitsien om ’n gunstige oordeel van Jehovah se aangestelde Regter te verkry (2 Timotheüs 4:8). Hoe tragies sal dit tog wees as ons, nadat ons na die lig gekom het, in die duisternis in terugdryf en ’n ongunstige oordeel ontvang! In die volgende artikel sal ons bespreek hoe ons in die geloof kan vasstaan.
Kan jy verduidelik?
◻ Wat is die grondslag vir God se oordeel?
◻ Watter sentrale rol speel Jesus met betrekking tot God se voornemens?
◻ Hoe toon ons dat ons onderworpe is aan Jesus as die een wat deur Jehovah as Koning gekroon is?
◻ Hoe kan ons bewys lewer dat ons “kinders van die lig” is?
◻ Hoe skyn die lig helderder as ooit in die duisternis van hierdie wêreld?
[Prent op bladsy 10]
Uiteindelik sal die hele mensdom Jesus se gesag moet erken
[Prent op bladsy 12]
Ons toon dat ons die lig liefhet wanneer ons dit weerspieël