Vrae van lesers
◼ Watter basiese raad gee Spreuke 27:23 aan geestelike herders sowel as Christene in die algemeen?
Die vers lui: “Gee noukeurig ag op die voorkoms van jou skape, rig jou aandag op die troppe vee” (Spreuke 27:23). Hierdie teks is dikwels gebruik om geestelike herders aan te moedig om belangstelling te toon in en vertroud te raak met die situasie en probleme van Christene in die gemeente. Sulke aanmoediging is gepas, aangesien die Bybel ouere manne met herders en die gemeente met ’n skaapkudde vergelyk (Handelinge 20:28, 29; 1 Petrus 5:2-4). Maar hoewel bogenoemde beginsel op hulle van toepassing is, praat hierdie vers in werklikheid nie van geestelike herders nie.
Die boek Spreuke bevat baie verse wat losstaande, pittige brokkies raad bevat, maar Spreuke 27:23 is deel van ’n groep verse: “Gee noukeurig ag op die voorkoms van jou skape, rig jou aandag op die troppe vee; want ’n skat is nie vir ewig nie—of sal ’n kroon wees van geslag tot geslag? As die gras verdwyn en die jong gras verskyn en die bossies van die berge bymekaargemaak word, dan is daar lammers vir jou kleding en bokke as ’n koopprys vir grond, en genoeg bokmelk as voeding vir jou, as voeding vir jou huis en as lewensonderhoud vir jou diensmeisies.”—Spreuke 27:23-27.
Hierdie geïnspireerde gedeelte besing die lof van ’n lewenswyse wat gekenmerk word deur deeglikheid, arbeidsaamheid, eenvoud en ’n erkenning van ons afhanklikheid van Jehovah. Die gedeelte doen dit deur die landelike lewe van ’n Israelitiese herder te beklemtoon en dit moontlik teenoor ’n swierige lewe te stel wat gegrond is op saketransaksies en rykdom wat vinnig bekom word.
“’n Skat”, of rykdom wat in vinnige saketransaksies verkry word, met gevolglike belangrikheid (“’n kroon”), kan maklik verdwyn, soos baie sal getuig. Daar is dus veel te sê ten gunste van ’n eenvoudige lewe, soos dié wat eertydse herders gevolg het terwyl hulle na hulle vee omgesien het. Daardie lewenswyse was nie eenvoudig in die sin dat dit sorgvry was nie. ’n Herder moes sy kudde oppas en seker maak dat die skape beskerming geniet (Psalm 23:4). Wanneer hy na hulle gekyk het en ’n siek of beseerde skaap gevind het, het hy hom moontlik met strelende olie gesalf (Psalm 23:5; Esegiël 34:4; Sagaria 11:16). In die meeste gevalle het die sorgsame herder wat noukeurig ag gegee het op sy troppe vee die vrugte van sy arbeid gepluk—die geleidelike vermeerdering van sy kudde.
’n Hardwerkende en sorgsame herder het ’n betroubare bron van hulp gehad—Jehovah. Hoe so? God voorsien immers die seisoene en siklusse wat gewoonlik vir volop gras sorg wat die kudde kan voed (Psalm 145:16). Wanneer die groen gras in die laagliggende dele met die seisoensverandering verdwyn, kan daar op die hoërliggende dele nog volop gras wees waarheen ’n sorgsame herder sy skape kan neem.
Spreuke 27:26, 27 maak melding van een vrug van hierdie arbeid—voedsel en klere. Die beskrywing is nou wel nie van luukse geriefskosse of van spesiale fynproewersdisse nie, en dit gee ook nie aan ’n arbeider rede om klere volgens die nuutste ontwerpersmode of van die beste materiaal te verwag nie. Maar as hy bereid was om hard te werk, kon die herder van die kudde melk (en dus ook kaas) asook wol vir die weef van duursame klere verkry.
Die raad: “Gee noukeurig ag op die voorkoms van jou skape”, is dus nie hoofsaaklik vir geestelike opsieners bedoel nie; dit geld vir alle Christene. Dit beklemtoon die waarde daarvan dat ons vergenoeg moet wees met voedsel en klere wat ons deur gereelde, ywerige werk bekom, terwyl ons vertrou dat God ons nie in die steek sal laat nie (Psalm 37:25; 2 Thessalonicense 3:8, 12; Hebreërs 13:5). As ons Spreuke 27:23-27 met die raad in Lukas 12:15-21 en 1 Timotheüs 6:6-11 vergelyk, sien ons hoe konsekwent God se raad oor hierdie aangeleentheid is. Ons almal kan dus gerus Spreuke 27:23-27 weer ’n slag lees en ons afvra: ‘Neem ek hierdie raad ter harte en pas ek dit in my daaglikse lewe toe?’
[Foto-erkenning op bladsy 30]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.