Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 10/1 bl. 20-22
  • Wat is die sleutel tot ware Christelikheid?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat is die sleutel tot ware Christelikheid?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Regte motief
  • Liefde in ’n selfsugtige wêreld
  • Liefde in die gemeente
  • Kweek ’n inniger liefde vir mekaar aan
  • Word opgebou deur liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • “Hou aan om liefde te betoon”
    Kom nader aan Jehovah
  • Jy moet die God liefhê wat jou liefhet
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Het jy die sleutel gevind?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 10/1 bl. 20-22

Wat is die sleutel tot ware Christelikheid?

DAAR is vandag meer mense wat beweer dat hulle aan ’n Christelike godsdiens behoort as aan enige ander godsdiensgroep in die wêreld. Maar die opvattinge van hierdie selfverklaarde Christene is teenstrydig, hulle het geen eenheid nie en soms maak hulle mekaar selfs dood. Dit is duidelik dat baie nie ware Christene is nie. Jesus het gesê dat baie in ons dag vir hom sou sê: “Here, Here”, met ander woorde, hulle sal beweer dat hulle Christene is, maar Jesus sal vir hulle sê: “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Mattheüs 7:21, 23). Nie een van ons wil tog onder hulle wees nie! Hoe kan ons dus seker maak dat ons ware Christene is?

Feit is dat baie dinge nodig is om ’n ware Christen te wees. Die ware Christen moet ’n sterk geloof hê, want “sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag” (Hebreërs 11:6). Daardie sterk geloof moet met die regte dade gepaard gaan. Die dissipel Jakobus het gewaarsku dat “geloof sonder die werke dood” is (Jakobus 2:26). Daarbenewens moet ’n Christen die gesag van “die getroue en verstandige dienskneg” erken (Mattheüs 24:45-47). Maar die sleutel tot ware Christelikheid is iets buite en behalwe hierdie dinge.

Wat is die sleutel? Die apostel Paulus het in sy eerste brief aan die Korinthiërs verduidelik: “Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ’n klinkende metaal of ’n luidende simbaal geword. En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie. En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie.”—1 Korinthiërs 13:1-3.

Liefde is dus die sleutel tot ware Christelikheid. Geloof, werke en die regte omgang is belangrik, onontbeerlik. Maar sonder liefde is hulle waardeloos. Waarom?

Basies vanweë die soort God wat ons aanbid. Die apostel Johannes het Jehovah, die God van die ware Christelike godsdiens, met hierdie woorde beskryf: “God is liefde” (1 Johannes 4:8). Jehovah God het baie ander eienskappe soos krag, geregtigheid en wysheid, maar aangesien hy by uitstek ’n God van liefde is, wonder ’n mens watter soort mense hy wil hê sy aanbidders moet wees. Beslis mense wat hom navolg en liefde aankweek.—Mattheüs 5:44, 45; 22:37-39.

’n Regte motief

Ja, liefde beweeg Christene om te wees soos die God wat hulle aanbid. Dit beteken dat hulle beweegredes dieselfde as God s’n is. Wat was die belangrikste motief wat Jehovah God beweeg het om Jesus na die aarde te stuur sodat ons die geleentheid kan hê om vir ewig te lewe? Liefde. “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Wat moet dus ons beweegrede wees om God se wil te doen? Dit is weer eens liefde. “Dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar.”—1 Johannes 5:3.

Is dit moontlik om God met ’n verkeerde beweegrede te dien? Ja. Paulus het melding gemaak van mense wat God in sy dag uit afguns en wedywering gedien het (Filippense 1:15-17, NW). Dit kan met ons gebeur. Hierdie wêreld is baie mededingend, en dié wedywering kan ons beïnvloed. Ons is dalk trots daarop dat ons ’n beter spreker is of meer lektuur kan versprei as ander. Ons vergelyk dalk ons diensvoorregte met ander s’n en raak dan verwaand—of afgunstig. ’n Ouere man is dalk jaloers op sy gesagsposisie, selfs in só ’n mate dat hy ’n bekwame jonger man verhinder om vordering te maak. ’n Begeerte na persoonlike gewin beweeg ons dalk om die vriendskap van welvarender Christene te soek terwyl ons armer Christene ignoreer.

Hierdie dinge kan gebeur omdat ons onvolmaak is. As ons egter—soos Jehovah—liefde ons belangrikste beweegrede maak, sal ons teen sulke neigings veg. Selfsug, ’n begeerte om onsself te vereer of vermetele trots kan liefde verdring, sodat ‘dit ons niks sal baat nie’.—Spreuke 11:2; 1 Korinthiërs 13:3.

Liefde in ’n selfsugtige wêreld

Jesus het gesê dat sy volgelinge “nie van die wêreld” sou wees nie (Johannes 17:14). Hoe kan ons verhoed dat ons deur die invloed van die wêreld rondom ons oorweldig word? Liefde sal ons help. Mense is byvoorbeeld vandag “meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God” (2 Timotheüs 3:4). Johannes het ons gewaarsku om nie so ’n gesindheid te hê nie. Hy het gesê: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is—die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die opsigtige vertoon van ’n mens se lewensmiddele—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.”—1 Johannes 2:15, 16, NW.

Maar dit is nie maklik om “die begeerte van die vlees” en “die begeerte van die oë” heeltemal die rug toe te keer nie. Mense is lief vir hierdie dinge juis omdat hulle so genotvol vir ons vlees is. Daarbenewens is daar vandag baie meer dinge om te geniet as wat daar in Johannes se dag was; en as die begeerte van die oë dus toe ’n probleem was, is dit nou nóg ’n groter probleem.

Interessant genoeg, baie van die moderne genietinge wat die wêreld aanbied, is nie op sigself verkeerd nie. Daar is niks verkeerd met ’n groot huis, ’n mooi motor, ’n televisie of ’n hoëtroustel nie. ’n Mens oortree ook nie ’n Bybelse wet as jy lang, interessante reise onderneem of opwindende vakansies geniet nie. Wat is dan die gedagte agter Johannes se waarskuwing? Eerstens, as sulke dinge vir ons te belangrik word, ontwikkel dit in ons ’n gees van selfsug, materialisme en trots. En die inspanning om die geld te verdien sodat ons daardie dinge kan hê, kan ons diens aan Jehovah belemmer. Dit verg selfs tyd om sulke dinge te geniet, en hoewel ’n redelike mate van ontspanning ons verkwik, is ons tyd beperk wanneer ons in aanmerking neem dat ons verpligtinge het om die Bybel te bestudeer, met mede-Christene vir aanbidding te vergader en die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig.—Psalm 1:1-3; Mattheüs 24:14; 28:19; Hebreërs 10:24, 25.

In hierdie materialistiese eeu verg dit vasberadenheid om ‘God se koninkryk eerste te stel’ en nie ‘hierdie wêreld ten volle te gebruik’ nie (Mattheüs 6:33, NW; 1 Korinthiërs 7:31). ’n Sterk geloof sal ons help. Maar dit is veral ’n opregte liefde vir Jehovah en vir ons naaste wat ons sal versterk om die versoekinge te weerstaan wat, hoewel hulle op sigself nie verkeerd is nie, ons kan verhinder om ‘ons bediening ten volle te volbring’ (2 Timotheüs 4:5, NW). Sonder sulke liefde kan ons bediening maklik blote vormdiens word.

Liefde in die gemeente

Jesus het getoon hoe belangrik liefde is toe hy gesê het: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Waarom bestee ouere manne soveel tyd daaraan om mede-Christene te lei en te help as hulle hulle nie liefgehad het nie? Waarom verdra die gemeente die swakhede van hulle medegelowiges—waaronder die ouere manne—as dit nie uit liefde is nie? Liefde beweeg Christene om mekaar fisies te help wanneer hulle hoor dat ander gebrek ly (Handelinge 2:44, 45). Tydens vervolging beskerm Christene mekaar en sterf hulle selfs vir mekaar. Waarom? Uit liefde.—Johannes 15:13.

Soms word die grootste blyke van liefde in klein dingetjies gesien. ’n Ouere man, wat reeds onder druk is as gevolg van ’n swaar werklas, word dalk deur ’n mede-Christen genader wat weer oor iets kla wat vir die ouere man na ’n onbenulligheid lyk. Moet die ouere man kwaad word? Pleks dat hy toelaat dat dit onenigheid veroorsaak, tree hy geduldig en vriendelik teenoor sy broer op. Hulle bespreek die saak saam, en dit verstewig ook hulle vriendskap (Mattheüs 5:23, 24; 18:15-17). In plaas daarvan dat elkeen op sy regte aandring, moet almal eerder die groothartigheid probeer aankweek wat Jesus aanbeveel het en bereid wees om hulle broers “sewentig maal sewe” keer te vergewe (Mattheüs 18:21, 22). Christene span hulle dus kragtig in om hulle met liefde te beklee, wat “die volmaakte band van eenheid” is.—Kolossense 3:14, NW.

Kweek ’n inniger liefde vir mekaar aan

Ja, liefde is die regte beweegrede om Jehovah te dien. Liefde sal ons versterk sodat ons afgeskeie van die wêreld bly en liefde sal verseker dat die gemeente waarlik Christelik bly. Hoewel dit nie afbreuk doen aan bedrewenheid nie, sal dit diegene in posisies van gesag help om nie só behep te wees met bedrewenheid dat hulle vergeet om vriendelik en sagmoedig teenoor ander te wees nie. Liefde help ons almal om ‘gehoorsaam te wees aan diegene wat die leiding neem en om onderdanig’ te wees.—Hebreërs 13:17.

Die apostel Petrus het ons aangemoedig om mekaar “vurig lief” te hê omdat ‘liefde ’n menigte sondes bedek’ (1 Petrus 4:8). Hoe kan ons dit doen? Die mens is na God se beeld geskape en het dus ’n natuurlike vermoë om lief te hê. Maar daar is meer betrokke by die soort liefde waarvan ons hier praat. Trouens, dit is die vernaamste vrug van God se gees (Galasiërs 5:22). As ons liefde wil aankweek, moet ons ons gevolglik ontvanklik maak vir God se gees. Hoe? Deur die Bybel, wat deur Jehovah se gees geïnspireer is, te bestudeer (2 Timotheüs 3:16). Deur te bid dat Jehovah se gees ons sal help om ons liefde vir Jehovah en ons broers op te bou. En deur met die Christengemeente om te gaan waar die gees vryelik vloei.

Ons moet onsself ook ondersoek om te kyk of ons ons aan enige liefdelose dade of gedagtes skuldig maak. Onthou, liefde is ’n eienskap van die hart, en “bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit” (Jeremia 17:9). Ondanks al die hulp wat Jehovah ons gee, sal ons soms liefdeloos optree. Ons praat dalk onnodig skerp met ’n mede-Christen of ons vererg ons en neem aanstoot aan iets wat gesê is. Daarom sal dit goed wees as ons Dawid se gebed herhaal: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ’n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!”—Psalm 139:23, 24.

Soos die Bybel sê: “Die liefde vergaan nimmermeer” (1 Korinthiërs 13:8). As ons ons daarop toelê om mekaar lief te hê, sal ons tydens beproewing nooit te kort skiet nie. Die liefde onder God se volk dra grootliks by tot die geestelike paradys wat vandag bestaan. Net diegene wat mekaar innig liefhet, sal dit geniet om in die nuwe wêreld te lewe. Daarom moet ons Jehovah navolg in die betoning van sulke liefde en die band van eenheid sodoende versterk. As jy liefde aankweek, sal jy die sleutel tot ware Christelikheid hê.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel