Vrae van lesers
Het die skrywer van Spreuke 30:19 waarlik gedink dat die manier waarop ’n man ’n maagd listig verlei “te wonderbaar” is?
Dit is ’n moontlike betekenis van Spreuke 30:19, wat weliswaar nie ’n maklike teks is om te verstaan nie.
Om hierdie teks te verstaan, moet ons nie die verband ignoreer nie. Net voor hierdie gedeelte het die geïnspireerde skrywer vier dinge genoem wat in ’n sekere sin onversadigbaar is (Spreuke 30:15, 16). Toe het hy hierdie lys opgestel: “Drie is dit wat vir my te wonderbaar is, ja, vier wat ek nie begryp nie: die weg van die arend in die lug, die weg van ’n slang oor ’n rots, die weg van ’n skip in die hart van die see, en die weg van ’n man by ’n maagd.”—Spreuke 30:18, 19.
Wat kon “wonderbaar” omtrent hierdie vier dinge gewees het?
Omdat party geleerdes miskien meen dat “wonderbaar” iets positiefs of goeds impliseer, verduidelik hulle dat elk van die vier dinge die wysheid van God se skepping uitbeeld: die wonder van hoe ’n groot voël kan vlieg, hoe ’n beenlose slang oor ’n rots kan beweeg, hoe ’n swaar skip in ’n onstuimige see kan bly dryf en hoe ’n sterk jong man smoorverlief kan raak en ’n lieftallige meisie trou en dat hulle dan ’n wonderlike kindjie voortbring. Een professor het nog ’n ooreenkoms in die vier dinge gevind, naamlik dat elkeen ’n weg volg wat altyd nuut is—die gang van ’n arend, slang en skip waar daar geen pad is nie en die nuutheid van ’n paartjie se ontluikende liefde.
Maar die vier dinge hoef nie in ’n goeie sin “wonderbaar” te wees asof dít wat hulle in gemeen het iets positiefs is nie. Spreuke 6:16-19 noem ‘dinge wat die HERE haat’. En soos reeds gemeld is, noem Spreuke 30:15, 16, net voor die tekste onder bespreking, dinge (die doderyk, ’n toegesluite moederskoot, die verskroeide aarde en ’n verterende vuur) wat nooit “genoeg” sê nie. Hulle is beslis nie wonderbaarlik goed nie.
Die Hebreeuse woord wat in Spreuke 30:18 met “wonderbaar” vertaal word, beteken “om te skei, te onderskei; ’n onderskeid te maak, buitengewoon, uitsonderlik”. Iets kan onderskeibaar, buitengewoon of uitsonderlik wees sonder om goed te wees. Daniël 8:23, 24 (NW) het ’n wrede koning voorspel wat “op ’n wonderbare manier” kwaad sal aanrig en “magtiges vernietig”, wat die heiliges insluit.—Vergelyk Deuteronomium 17:8, NW; 28:59; Sagaria 8:6.
Die teks ná Spreuke 30:18, 19 voorsien dalk ’n leidraad oor wat die skrywer moeilik gevind het om te verstaan. Vers 20 meld ’n owerspelige vrou wat ‘eet en haar mond afvee e n sê: Ek het geen sonde gedoen nie’. Dalk het sy in die geheim en listig gesondig, maar omdat daar geen spoor van haar misdaad is nie, kon sy haar onskuldig voordoen of onskuld pleit.
Daar is ’n ooreenkoms met die voorgaande lys. ’n Arend sweef deur die lug, ’n slang seil oor ’n rots, ’n skip sny deur die golwe—nie een laat ’n spoor agter nie, en dit sal moeilik wees om enigeen van die drie se spoor te volg. As dit die algemeenheid is van die drie, wat dan van die vierde een, “die weg van ’n man by ’n maagd”?
Dit kan ook nogal onnaspeurlik wees. ’n Jong man kan lis, vleiery en bedrewenheid inspan om ongemerk die toegeneentheid van ’n onskuldige maagd te wen. Omdat sy onervare is, kom sy dalk nie agter hoe geslepe hy is nie. Selfs nadat sy verlei is, sal sy dalk nie kan sê hoe hy haar gewen het nie; waarnemers vind dit dalk ook moeilik om te verduidelik. Nogtans het talle jong vroue hulle maagdelikheid deur die toedoen van listige verleiers verloor. Dit is moeilik om die pad van sulke geslepe mans te volg, tog het hulle ’n doelwit, net soos ’n arend in vlug, ’n slang wat seil of ’n skip op see het. Verleiers se doelwit is seksuele uitbuiting.
In hierdie lig gaan Spreuke 30:18, 19 nie oor wetenskaplike of meganiese dinge in die skepping nie. Die gedeelte bied ons eerder ’n sedelike waarskuwing, net soos Spreuke 7:1-27 ons waarsku om die gevare van ’n oorredende hoer te vermy. Een manier waarop Christensusters die vermaning van Spreuke 30:18, 19 ter harte kan neem, is met betrekking tot mans wat ’n belangstelling toon om die Bybel te leer. As ’n vriendelike man, selfs ’n werkmaat, lyk of hy sulke belangstelling toon, moet ’n suster hom na ’n broer in die gemeente verwys. Die broer kan na enige opregte belangstelling omsien sonder die gevare van “’n man by ’n maagd”.