Hulle het God se naam geken
DIE Bay-psalmboek was die eerste lektuur waarvan ons weet wat in Engeland se Amerikaanse kolonies geskryf en gepubliseer is. Die oorspronklike uitgawe is deur Stephen Daye gedurende die jaar 1640 in die Massachusetts Bay Colony gedruk. Daardie vroeë publikasie het die Bybelboek Psalms bevat, vertaal uit Hebreeus in die Engels wat destyds gepraat en geskryf is.
’n Opvallende kenmerk van die Bay-psalmboek is dat die Goddelike naam in sommige verse gebruik is. Gevolglik kon enigeen wat daardie publikasie tot ongeveer 350 jaar gelede gelees het, die naam van ons Skepper ken. In daardie uitgawe lui Psalm 83:17, 18 byvoorbeeld: “Oorbluf laat hulle altyd wees en vreeslik belas: ja, laat hulle beskaamd gemaak word en vernietig word. Dat mense sal weet; U alleen wie se naam IEHOVAH is, troon oor die ganse aarde as die allerhoogste.”
Natuurlik vereis die allerhoogste God meer van ons as om bloot te erken dat sy naam Jehovah (Iehovah) is. In die Bay-psalmboek sê Psalm 1:1, 2 dat ’n “geseënde man” nie in die raad van die goddelose wandel nie, “maar in die wet van Iehovah is sy hunkerende behae”. Die hersiene New England-psalms van 1648 lui: “Maar hy skep sy ganse behae in die wet van Jehovah.”
Hier lui die 20ste eeuse New World Translation of the Holy Scriptures: “Gelukkig is die man wat nie in die raad van die goddelose gewandel het nie en in die weg van sondaars nie gestaan het nie en nie op die stoel van spotters gesit het nie. Maar sy behae is in die wet van Jehovah, en in sy wet lees hy dag en nag met ’n gedempte stem.”
Om waarlik gelukkig te wees, moet ’n mens die raad van die goddelose verwerp. Hy moenie die voorbeeld van sondaars navolg nie, en hy kan nie in die geselskap van godlose spotters verkeer nie. Hy moet onder andere assosiasie met diegene vermy wie se raad en gedrag hom kan verlok tot geslagsonsedelikheid, dwelmmisbruik en ander bedrywighede wat strydig is met God se wet. Ja, om van die ware God, wie se naam Jehovah is, te leer en sy wet toe te pas soos dit in die Bybel uiteengesit word, bring ware geluk.