Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 10/1 bl. 5-8
  • Die messias—’n Ware hoop?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die messias—’n Ware hoop?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Messiasse van die 20ste eeu
  • ’n Ware hoop?
  • Die verlosser van die mensdom
  • Die Messias en regering
  • Die Messias! God se middel tot redding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • “Ons het die Messias gevind”!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • “Ons het die Messias gevind”
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Hulle het vir die Messias gewag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 10/1 bl. 5-8

Die messias—’n Ware hoop?

Hy het homself Moses genoem. Maar sy regte naam het in die geskiedenis verlore geraak. In die vyfde eeu G.J. het hy die eiland Kreta deurkruis en die Jode daar oortuig dat hy die messias is waarop hulle gewag het. Hy het vir hulle gesê dat hulle verdrukking, ballingskap en gevangenskap binnekort iets van die verlede sou wees. Hulle het dit geglo. Toe die Jode se bevrydingsdag aangebreek het, het hulle “Moses” na ’n hoë rotspunt gevolg wat oor die Middellandse See uitkyk. Hy het vir hulle gesê dat hulle maar net in die see hoef te spring, en dit sal voor hulle oë verdeel. Baie was gehoorsaam en het in die see gespring wat toe nie verdeel het nie. ’n Groot aantal mense het verdrink; party is deur matrose en vissers gered. Moses was egter nêrens te vinde nie. Daardie messias het verdwyn.

WAT is ’n messias? Die woorde “redder”, “verlosser” en “leier” kom dalk by jou op. Baie mense dink dat ’n messias iemand is wat sy volgelinge met hoop en toegewydheid besiel en belowe om hulle uit verdrukking na vryheid te lei. Aangesien die mens se geskiedenis grootliks ’n geskiedenis van verdrukking is, verbaas dit ons nie dat daar deur die eeue heen ’n hele paar sulke messiasse verskyn het nie. (Vergelyk Prediker 8:9.) Maar soos die selfbetitelde Moses van Kreta het hierdie messiasse meer dikwels hulle volgelinge tot teleurstelling en rampe gelei as tot bevryding.

“Dit is die Koning Messias!” Dit is hoe Simeon Bar Kokhba in die jaar 132 G.J. deur die gesiene rabbi Akiba ben Joseph begroet is. Bar Kokhba was ’n magtige man wat ’n sterk leër aangevoer het. Baie Jode het gedink dat die man wat hulle lang verdrukking onder die Romeinse Wêreldmoondheid gaan beëindig uiteindelik daar was. Bar Kokhba het nie daarin geslaag nie; honderdduisende van sy landgenote het met hulle lewe vir daardie mislukking betaal.

In die 12de eeu het ’n ander Joodse messias te voorskyn gekom, hierdie keer in Jemen. Toe die kalief, of heerser, hom vir ’n teken van sy messiasskap gevra het, het hierdie messias voorgestel dat die kalief hom laat onthoof en sy vinnige opstanding as ’n teken laat dien. Die kalief het tot die plan ingestem—en dit was die einde van die Jemenmessias. In dieselfde eeu het ’n man met die naam David Alroy vir die Jode in die Midde-Ooste gesê om hulle voor te berei om hom op die vlerke van engele terug na die Heilige Land te volg. Baie het geglo dat hy die messias was. Die Jode van Bagdad het geduldig op hulle dakke gewag, salig onbewus van die diewe wat hulle besittings geplunder het.

Sabbatai Zevi het in die 17de eeu uit Smirna te voorskyn gekom. Hy het sy messiasskap deur die hele Europa aan Jode verkondig. Daar was ook Christene wat na hom geluister het. Zevi het vir sy volgelinge bevryding aangebied—blykbaar deur hulle vryelik sonde te laat beoefen. Sy intiemste volgelinge het aan swelgpartye deelgeneem en hulle aan nudisme, hoerery en bloedskande skuldig gemaak waarna hulle hulleself met lyfstraf gestraf het deur kaal in die sneeu rond te rol en deur hulleself tot by die nek in die koue grond te begrawe. Toe Zevi na Turkye gereis het, het hulle hom in hegtenis geneem en vir hom gesê om hom tot die Islam te bekeer of te sterf. Hy het hom bekeer. Baie van sy aanhangers was verpletter. Tog het party Zevi gedurende die volgende twee eeue nog steeds messias genoem.

Die Christendom het ook sy messiasse opgelewer. In die 12de eeu het ’n man met die naam Tanchelm met sy navolgers ’n leër tot stand gebring en beheer oor die dorp Antwerp geneem. Hierdie messias het homself ’n god genoem; hy het selfs sy badwater aan sy volgelinge verkoop om as ’n sakrament te drink! Thomas Müntzer van die 16de-eeuse Duitsland was nog so ’n “Christen”-messias. Hy het ’n opstand teen die plaaslike burgerlike owerheid gelei en vir sy volgelinge gesê dat dit die slag van Armageddon is. Hy het belowe dat hy die vyand se kanonkoeëls in sy moue sou vang. In plaas daarvan is sy mense uitgedelg, en Müntzer is onthoof. Deur die eeue heen het baie sulke messiasse in die Christendom te voorskyn gekom.

Ander godsdienste het ook hulle messiaanse figure. Die Islam wys op die verwagte koms van die Mahdi, of die welgerigte, wat ’n tydperk van geregtigheid sal inlui. In die Hindoeïsme het party mense al daarop aanspraak gemaak dat hulle die menswording of inkarnasie van verskeie gode is. En, soos The New Encyclopædia Britannica opmerk: “Selfs so ’n nie-messiaanse godsdiens soos Boeddhisme het onder die Mahayanasektes geloof in die toekomstige Boeddha Maitreya laat posvat wat uit sy hemelse woonplek sal neerdaal en die getroues na die paradys toe sal bring.”

Messiasse van die 20ste eeu

Die behoefte aan ’n ware messias het in ons eeu dringender as ooit geword; daarom verbaas dit ons nie dat baie mense op hierdie titel aanspraak gemaak het nie. In die Afrika-Kongo van die twintiger-, dertiger- en veertigerjare is Simon Kimbangu en sy opvolger Andre “Jesus” Matswa as messiasse begroet. Hulle het gesterf, maar hulle volgelinge verwag nog dat hulle sal terugkeer en ’n Afrika-millennium sal inlui.

Hierdie eeu het ook die opkoms van “vragkultusse” in Nieu-Guinee en Melanesië gesien. Lede verwag dat ’n skip of ’n vliegtuig sal kom, beman met messiasagtige witmense wat hulle ryk sal maak en ’n tydperk van geluk sal inlui wanneer selfs die dode sal verrys.

Die geïndustrialiseerde nasies het ook hulle messiasse gehad. Party is godsdiensleiers soos Sun Myung Moon, die selfbenoemde opvolger van Jesus Christus wat beoog om die wêreld deur ’n verenigde gesin van sy aanhangers te reinig. Politieke leiers het ook probeer om hulleself messiaanse status toe te eien, waarvan Adolf Hitler, met sy grootpratery oor ’n Duisendjarige Ryk, die eeu se grusaamste voorbeeld is.

Politieke filosofieë en organisasies het eweneens messiaanse status bereik. The Encyclopedia Americana merk byvoorbeeld op dat die Marxisties-Leninistiese politieke teorie messiaanse inslae het. En dit lyk asof die Verenigde Nasies-organisasie, wat allerweë as die enigste hoop vir wêreldvrede beskou word, in baie se gedagtes ’n soort messiaanse plaasvervanger geword het.

’n Ware hoop?

Hierdie beknopte oorsig maak dit baie duidelik dat die geskiedenis van messiaanse bewegings grootliks ’n geskiedenis van misleiding is, van verydelde verwagtinge en misplaaste drome. Dit moet ons dus nouliks verbaas dat baie mense vandag sinies raak oor ’n messiaanse hoop.

Maar voordat ons die messiaanse hoop summier verwerp, moet ons eers uitvind waar dit vandaan kom. Trouens, “messias” is ’n Bybelwoord. Die Hebreeuse woord is ma·sjiʹach, of “gesalfde”. In Bybeltye is konings en priesters soms in hulle posisie aangestel deur ’n salwingseremonie waartydens ’n welriekende olie oor die kop gegooi is. Gevolglik is die term ma·sjiʹach tereg op hulle toegepas. Daar was ook manne wat sonder enige salwingseremonie gesalf, of in ’n spesiale posisie aangestel is. Moses word in Hebreërs 11:24-26 “Christus” of “gesalfde” genoem omdat hy as God se profeet of verteenwoordiger gekies is.

Hierdie definisie van messias as ’n “gesalfde” tref ’n duidelike onderskeid tussen Bybelse messiasse en die valse messiasse wat ons bespreek het. Bybelse messiasse was nie selfbenoem nie; hulle is ook nie gekies deur ’n massa volgelinge wat hulle verafgood het nie. Nee, hulle aanstelling het van bo af gekom, van Jehovah God self.

Hoewel die Bybel van baie messiasse praat, verhef hy tog een ver bo die ander (Psalm 45:8). Hierdie Messias is die hooffiguur in Bybelprofesieë, die sleutel tot die vervulling van die Bybel se besielendste beloftes. En hierdie Messias doen werklik iets omtrent die probleme waarmee ons vandag te kampe het.

Die verlosser van die mensdom

Die Bybelse Messias benader die mensdom se probleme deur na die oorsaak daarvan te gaan. Toe ons eerste ouers, Adam en Eva, op aanstigting van die opstandige geesskepsel Satan, teen die Skepper gerebelleer het, het hulle hulle in werklikheid die uiteindelike reg toegeëien om te regeer. Hulle wou besluit wat reg en wat verkeerd is. Sodoende het hulle Jehovah se liefdevolle, beskermende regering verwerp en die mensegesin in die chaos en ellende van selfbestuur, onvolmaaktheid en die dood gedompel.—Romeine 5:12.

Hoe liefdevol was Jehovah God tog om juis op daardie donker oomblik van die mensegeskiedenis aan die ganse mensdom ’n straaltjie hoop te gee. Toe God die vonnis oor die opstandelinge uitgespreek het, het hy voorspel dat hulle nageslag ’n redder sou hê. Hierdie Verlosser, na wie verwys is as die “saad”, kom om die verskriklike werk wat Satan daar in Eden gedoen het tot niet te maak; die Saad sal daardie “slang”, Satan, se kop vermorsel en hom vernietig.—Genesis 3:14, 15.

Die Jode het van ouds af hierdie profesie as Messiaans beskou. Verskeie Targoems, Joodse parafrases van die Heilige Skrif wat algemeen in die eerste eeu gebruik is, het verduidelik dat hierdie profesie “in die dag van Koning Messias” vervul sou word.

Dit is dus geen wonder nie dat manne van geloof van die vroegste tye af verheug was oor hierdie belofte van ’n Saad, of Verlosser, wat sou kom. Stel jou Abraham se gevoelens voor toe Jehovah hom vertel het dat die Saad uit sy eie afstammelinge sou kom en dat “al die nasies van die aarde”—nie net sy eie nageslag nie—deur middel van daardie saad “geseën [sal] word”.—Genesis 22:17, 18.

Die Messias en regering

Latere profesieë het hierdie hoop verbind met die vooruitsig op goeie regering. In Genesis 49:10 is daar vir Abraham se agterkleinseun Juda gesê: “Die septer sal van Juda nie wyk nie, nog die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees.” Dit is duidelik dat hierdie “Silo” sou regeer—en hy sou nie net oor die Jode regeer nie, maar oor “volke”. (Vergelyk Daniël 7:13, 14.) Die eertydse Jode het Silo met die Messias geïdentifiseer; trouens, van die Joodse Targoems het eenvoudig die woord “Silo” met “Messias” of “die koning Messias” vervang.

Namate die lig van geïnspireerde profesieë al helderder geword het, is daar al hoe meer oor die heerskappy van hierdie Messias geopenbaar (Spreuke 4:18). In 2 Samuel 7:12-16 is daar vir koning Dawid, ’n afstammeling van Juda, gesê dat die Saad deur sy geslagslyn sou kom. Boonop sou hierdie Saad ’n buitengewone Koning wees. Sy troon, of heerskappy, sou vir ewig voortduur! Jesaja 9:5, 6 ondersteun hierdie punt: “’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer . . . tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.”

Kan jy jou so ’n regering voorstel? ’n Regverdige heerser wat vrede tot stand sal bring en vir ewig sal regeer. Hoe verskil dit tog nie van die geskiedenis se patetiese reeks valse messiasse nie! Die Bybelse Messias is alles behalwe ’n misleidende, selfbenoemde leier; hy is ’n wêreldleier met al die mag en gesag wat nodig is om wêreldtoestande te verander.

Hierdie vooruitsig is van groot betekenis in die moeilike tye waarin ons lewe. Die mensdom het nog nooit ’n dringender behoefte aan so ’n hoop gehad nie. Maar aangesien dit so maklik is om ’n valse hoop aan te gryp, is dit belangrik dat elkeen van ons hierdie vraag noukeurig ondersoek: Was Jesus van Nasaret die voorspelde Messias soos so baie glo? Die volgende artikel sal hierdie saak bespreek.

[Venster op bladsy 6]

’n Messias in Brooklyn?

Plakkate, aanplakborde en neontekens het onlangs in Israel aangekondig: “Berei voor vir die koms van die Messias.” Hierdie reklameveldtog van R1 100 000 is op tou gesit deur die Lubavitchers, ’n ultra-ortodokse sekte van die Chassidiese Jode. Dit is ’n algemene opvatting onder die 250 000 lede van die groep dat hulle groot rabbi, Menachem Mendel Schneerson van Brooklyn, New York, die Messias is. Waarom? Schneerson leer wel dat die Messias in hierdie geslag sal kom. En volgens die tydskrif Newsweek hou Lubavitcher-ampsbekleërs vol dat die 90-jarige rabbi nie sal sterf voordat die Messias kom nie. Eeue lank al leer hierdie sekte dat elke geslag ten minste een man oplewer wat kwalifiseer om Messias te wees. Vir sy volgelinge is Schneerson so ’n man, en hy het geen opvolger aangewys nie. Tog, sê Newsweek, aanvaar die meeste Jode hom nie as die Messias nie. Volgens die koerant Newsday het die 96-jarige, mededingende rabbi Eliezer Schach hom ’n “valse messias” genoem.

[Prent op bladsy 7]

Omdat hulle geglo het dat Moses van Kreta die messias was, het baie mense hulle lewe verloor

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel