Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 11/15 bl. 8-13
  • “Wie is soos Jehovah ons God?”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Wie is soos Jehovah ons God?”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geloof en lof gepas
  • Loof Jah!
  • Jehovah is weergaloos
  • Jehovah is medelydend
  • Bewys van Jehovah se enigheid
  • Hy is anders as afgode
  • Jehovah se wonderlike eienskappe
  • Jehovah is ewige lof waardig
  • Glanspunte uit die Vyfde Boek van Psalms
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Afgesonder om wêreldwyd vreugdevolle lowers te wees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Loof Jehovah vir sy groot dade!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Oorsig van Psalms
    Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 11/15 bl. 8-13

“Wie is soos Jehovah ons God?”

“Wie is soos Jehovah ons God, hy wat sy woning in die hoogte maak?”—PSALM 113:5, NW.

1, 2. (a) Hoe beskou Jehovah se Getuies God en die Bybel? (b) Watter vrae moet bespreek word?

LOWERS van Jehovah is inderdaad geseënd. Wat ’n voorreg is dit tog om onder hierdie gelukkige menigte te wees! As sy Getuies aanvaar ons die raad, wette, onderrig, beloftes en profesieë van God se Woord, die Bybel. Ons is bly om uit die Skrif te leer en “deur God geleer” te word.—Johannes 6:45.

2 Weens hulle diepe eerbied vir God kan Jehovah se Getuies vra: “Wie is soos Jehovah ons God?” (Psalm 113:5, NW). Daardie woorde van die psalmis impliseer dat hulle geloof het. Maar waarom het die Getuies sulke geloof in God? En watter redes het hulle om Jehovah te loof?

Geloof en lof gepas

3. Wat is die Hallel-Psalms, en waarom word hulle so genoem?

3 Geloof in Jehovah is geregverdig omdat hy die unieke God is. Dit word beklemtoon in Psalms 113, 114 en 115 wat deel van die ses Hallel-Psalms is. Volgens die rabbynse Skool van Hillel is Psalms 113 en 114 tydens die Joodse Pasgamaal gesing ná die tweede beker wyn geskink en die betekenis van die viering verduidelik is. Psalms 115 tot en met 118 is ná die vierde beker wyn gesing. (Vergelyk Mattheüs 26:30.) Hulle word “Hallel-Psalms” genoem omdat die uitroep Halleluja!—“Loof Jah!”—herhaaldelik daarin voorkom.

4. Wat beteken die uitdrukking “Halleluja”, en hoeveel keer kom dit in die Bybel voor?

4 “Halleluja!” is ’n transliterasie van ’n Hebreeuse uitdrukking wat 24 keer in die Psalms voorkom. Op ’n ander plek in die Bybel kom ’n Griekse vorm van die woord vier keer voor waar dit verband hou met die blydskap wat ervaar word oor die vernietiging van Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, en die gepaardgaande blydskap omdat Jehovah God as Koning begin regeer het (Openbaring 19:1-6). Terwyl ons nou drie van die Hallel-Psalms bespreek, kan ons ons gerus voorstel dat ons self hierdie liedere tot lof van Jehovah sing.

Loof Jah!

5. Watter vraag beantwoord Psalm 113, en veral op wie is die bevel in Psalm 113:1, 2 van toepassing?

5 Psalm 113 beantwoord die vraag: Waarom moet ons Jehovah loof? Dit begin met die bevel: “Halleluja! [“Loof Jah!”, NW] Loof, o knegte van die HERE, loof die Naam van die HERE! Laat die Naam van die HERE geprys word, van nou af tot in ewigheid!” (Psalm 113:1, 2). “Halleluja!” Ja, “Loof Jah!” Daardie bevel is veral in hierdie “tyd van die einde” op God se volk van toepassing (Daniël 12:4). Van nou af en tot in ewigheid sal Jehovah se naam oor die hele aarde verheerlik word. Sy Getuies verkondig nou dat Jehovah God is, dat Christus die Koning is en dat die Koninkryk in die hemel opgerig is. Satan die Duiwel en sy organisasie kan nie keer dat Jehovah op dié manier geloof word nie.

6. Hoe word Jehovah “van die opgang van die son tot by sy ondergang” geloof?

6 Die lofsang sal uitgaan totdat Jehovah dit die hele aarde laat vul. “Van die opgang van die son tot by sy ondergang moet die Naam van die HERE geloof word!” (Psalm 113:3). Dit behels meer as net daaglikse aanbidding deur sommige aardse skepsele. Die son gaan op in die ooste en gaan onder in die weste en skyn sodoende op die hele aarde. Oral waar die son skyn, sal Jehovah se naam binnekort geloof word deur alle mense wat uit slawerny aan valse godsdiens en Satan se organisasie bevry is. Trouens, hierdie lied wat nooit sal eindig nie, word nou gesing deur gesalfde Getuies van Jehovah en diegene wat aardse kinders van sy Koning, Jesus Christus, sal wees. Watter voorreg het hulle om lofliedere tot Jehovah te sing!

Jehovah is weergaloos

7. Op watter twee aspekte van Jehovah se oppergesag vestig Psalm 113:4 die aandag?

7 Die psalmis voeg by: “Die HERE is hoog bo al die nasies; bo die hemele is sy heerlikheid” (Psalm 113:4). Dit vestig die aandag op twee aspekte van God se oppergesag: (1) Vir Jehovah, die Allerhoogste, “hoog bo al die nasies”, is hulle soos ’n druppel aan ’n emmer en net soos stof aan die weegskaal (Jesaja 40:15; Daniël 7:18); (2) sy heerlikheid is baie groter as dié van die fisiese hemel, want die engele doen sy soewereine wil.—Psalm 19:2, 3; 103:20, 21, NAV.

8. Waarom en hoe daal Jehovah daartoe af om kennis te neem van sake in die hemel en op aarde?

8 Die psalmis is geroer deur God se verhewenheid en het gesê: “Wie is soos Jehovah ons God, hy wat sy woning in die hoogte maak? Hy daal daartoe af om na die hemel en aarde te kyk” (Psalm 113:5, 6, NW). God is so verhewe dat hy daartoe moet afdaal om kennis te neem van sake in die hemel en op aarde. Hoewel Jehovah aan niemand ondergeskik of onderdanig is nie, lê hy nederigheid aan die dag deur barmhartigheid en medelye teenoor nietige sondaars te betoon. Die feit dat Jehovah sy Seun, Jesus Christus, as “’n soenofferande” vir gesalfde Christene en vir die mensdom gegee het, is ’n blyk van sy nederigheid.—1 Johannes 2:1, 2, NW.

Jehovah is medelydend

9, 10. Hoe verhef God ‘die behoeftige om hom by die edeles te laat sit’?

9 Die psalmis vestig die aandag op God se medelye en voeg by dat Jehovah “die geringe uit die stof oprig, die behoeftige van die ashoop af verhef; om hom te laat sit by die edeles, by die edeles van sy volk. Wat die onvrugbare van die huis laat woon—’n blye moeder van kinders. Halleluja!” (Psalm 113:7-9). Jehovah se volk het die vertroue dat hy regskape behoeftiges kan verlos, hulle toestand kan verander, hulle werklike behoeftes kan bevredig en hulle behoorlike begeertes kan vervul. ‘Die Hoë en Verhewene laat herlewe die gees van die nederiges en die hart van die verbryseldes.’—Jesaja 57:15.

10 Hoe verhef Jehovah ‘die behoeftige om hom by die edeles te laat sit’? Wanneer dit God se wil is, plaas hy sy knegte in posisies van eer wat gelyk is aan dié van edeles. Hy het dit gedoen in die geval van Josef, wat Egipte se voedseladministrateur geword het (Genesis 41:37-49). In Israel was dit ’n kosbare voorreg om saam met die edeles, of manne van gesag onder Jehovah se volk, te sit. Soos hedendaagse Christen- ouere manne het sulke manne God se hulp en seën gehad.

11. Waarom kan daar gesê word dat Psalm 113:7-9 veral op Jehovah se hedendaagse volk van toepassing is?

11 Hoe word ‘die onvrugbare ’n blye moeder’? God het onvrugbare Hanna ’n seun—Samuel—gegee wat sy aan God se diens gewy het (1 Samuel 1:20-28). Maar van groter belang is die feit dat God se simboliese vrou, hemelse Sion, met Jesus en met die uitgieting van die heilige gees op sy dissipels op Pinkster 33 G.J., geestelike kinders begin voortbring het (Jesaja 54:1-10, 13; Handelinge 2:1-4). En net soos God die Jode ná hulle ballingskap in Babilon na hulle tuisland teruggebring het, het hy in 1919 die gesalfde oorblyfsel van “die Israel van God” uit Babiloniese gevangenskap bevry en hulle geestelik só oorvloedig geseën dat die woorde van Psalm 113:7-9 op hulle van toepassing is (Galasiërs 6:16). As lojale Getuies van Jehovah reageer die oorblyfsel van geestelike Israel en hulle metgeselle wat ’n aardse hoop het van harte op die laaste woord van Psalm 113: “Halleluja!”

Bewys van Jehovah se enigheid

12. Hoe toon Psalm 114 Jehovah se enigheid?

12 Psalm 114 toon Jehovah se enigheid deur unieke gebeurtenisse te noem waarby die Israeliete betrokke was. Die psalmis het gesing: “Toe Israel uit Egipte getrek het, die huis van Jakob uit ’n volk met ’n vreemde taal, het Juda sy heiligdom geword, Israel sy ryksgebied” (Psalm 114:1, 2). God het Israel verlos uit die slawerny van die Egiptenaars, wie se taal vreemd was vir hulle ore. Die verlossing van Jehovah se volk, wat in poëtiese parallelisme Juda en Israel genoem is, toon dat God al sy hedendaagse knegte kan verlos.

13. Hoe toon Psalm 114:3-6 Jehovah se oppergesag, en hoe was dit van toepassing op eertydse Israel se ondervindinge?

13 Jehovah se soewereiniteit oor die hele skepping blyk duidelik uit die woorde: “Die see het dit gesien en gevlug; die Jordaan het agteruitgewyk. Die berge het rondgespring soos ramme, die heuwels soos lammers. Wat is dit met jou, o see, dat jy vlug? o Jordaan, dat jy agteruitwyk? o Berge, dat julle rondspring soos ramme? o Heuwels, soos lammers?” (Psalm 114:3-6). Die Rooi See het “gevlug” toe God ’n pad daardeur vir sy volk oopgemaak het. Toe het Israel Jehovah kragtig sien optree teen die Egiptenaars wat gesterf het toe die waters teruggevloei het (Exodus 14:21-31). In ’n soortgelyke vertoning van Goddelike krag het die Jordaanrivier “agteruitgewyk” sodat die Israeliete daardeur na Kanaän kon trek (Josua 3:14-16). “Die berge het rondgespring soos ramme” toe die berg Sinai tydens die instelling van die Wetsverbond gerook en geskud het (Exodus 19:7-18). Kort voor die klimaks van sy lied stel die psalmis die gedagtes in vraagvorm, en impliseer moontlik daardeur dat die lewelose see, rivier, berge en heuwels verskrik was deur die vertoning van Jehovah se krag.

14. Wat is deur Jehovah se krag by Meriba en Kades gedoen, en hoe moet dit sy hedendaagse knegte beïnvloed?

14 Die psalmis het, steeds op die onderwerp van Jehovah se krag, gesing: “Beef, aarde, voor die aangesig van die HERE, voor die aangesig van die God van Jakob, wat die rots verander het in ’n waterplas, die keisteen in ’n waterfontein!” (Psalm 114:7, 8). In figuurlike sin toon die psalmis dan dat die mensdom ontsag moet hê vir Jehovah, die Heer en Universele Regeerder van die hele aarde. Hy was “die God van Jakob”, oftewel Israel, soos hy ook die God van die geestelike Israeliete en hulle aardse metgeselle is. By Meriba en Kades in die woestyn het Jehovah sy krag getoon deur Israel op wonderdadige wyse van water te voorsien toe hy “die rots verander het in ’n waterplas, die keisteen in ’n waterfontein” (Exodus 17:1-7; Numeri 20:1-11). Sulke herinneringe aan Jehovah se ontsagwekkende krag en liefdevolle besorgdheid is vir sy Getuies goeie redes om onvoorwaardelik hulle geloof in hom te stel.

Hy is anders as afgode

15. Hoe is Psalm 115 dalk gesing?

15 Psalm 115 spoor ons aan om Jehovah te loof en op hom te vertrou. Dit skryf seën en hulp aan hom toe en bewys dat afgode nutteloos is. Hierdie psalm is moontlik antifonies gesing. Dit wil sê, een stem het dalk gesing: “Julle wat die HERE vrees, vertrou op die HERE.” Die vergadering het dalk geantwoord: “Hy is hulle hulp en hulle skild.”—Psalm 115:11.

16. Watter verskil is daar tussen Jehovah en die afgode van die nasies?

16 Die eer kom ons nie toe nie, maar wel die naam van Jehovah, die God van goedertierenheid, of lojale liefde, en trou (Psalm 115:1). Die vyande vra dalk spottenderwys: “Waar is . . . hulle God?” Maar Jehovah se volk kan antwoord: ‘Ons God is in die hemel en doen alles wat Hom behaag’ (Verse 2, 3). Maar die nasies se afgode kan niks doen nie, want hulle is mensgemaakte beelde van silwer en goud. Ondanks hulle mond, oë en ore is hulle stom, blind en doof. Hulle het ’n neus maar kan nie ruik nie, voete maar kan nie loop nie en ’n keel maar hulle kan geen klank uiter nie. Diegene wat hulpelose afgode maak sowel as diegene wat daarop vertrou, sal net so leweloos word.—Verse 4-8.

17. Aangesien die dooies Jehovah nie kan loof nie, wat moet ons doen, en met watter vooruitsig?

17 Ons word vervolgens vermaan om op Jehovah te vertrou as ons Helper en die beskermende Skild van Israel, van Aäron se priesterlike huis en van almal wat God vrees (Psalm 115:9-11). As diegene wat Jehovah vrees, het ons ’n diepe eerbied vir God en ’n heilsame vrees om hom nie te mishaag nie. Ons het ook die vertroue dat “die HERE wat hemel en aarde gemaak het” sy lojale aanbidders seën (Verse 12-15). Die hemel is die plek van sy troon, maar God het die aarde die ewige tuiste van lojale en gehoorsame mense gemaak. Aangesien die stil, onbewuste dooies Jehovah nie kan loof nie, moet ons, die lewendes, dit met algehele toegewydheid en lojaliteit doen (Prediker 9:5). Slegs diegene wat Jehovah loof, sal die ewige lewe geniet en Jehovah vir ewig kan “prys” deur “tot in ewigheid” goed van hom te praat. Laat ons ons derhalwe lojaal skaar by diegene wat gehoorsaam is aan die vermaning: “Halleluja!”—Psalm 115:16-18.

Jehovah se wonderlike eienskappe

18, 19. Hoe onderskei Jehovah se eienskappe hom van valse gode?

18 Anders as die lewelose afgode is Jehovah die lewende God wat wonderlike eienskappe openbaar. Hy is die verpersoonliking van liefde en is ‘barmhartig en genadig, lankmoedig en groot van goedertierenheid’ (Exodus 34:6; 1 Johannes 4:8). Hoe verskil hy tog nie van die wrede Kanaänitiese god Molog aan wie kinders geoffer is nie! Daar word beweer dat hierdie god se beeld soos ’n mens met die kop van ’n bul gelyk het. Die afgod is na bewering rooiwarm gemaak, en kinders is in sy uitgestrekte arms gegooi en het in die gloeiende oond daaronder geval. Maar Jehovah is só liefdevol en barmhartig dat die idee van sulke menseoffers nooit eers “in [sy] hart” opgekom het nie.—Jeremia 7:31.

19 Jehovah se vernaamste eienskappe sluit ook volmaakte regverdigheid, oneindige wysheid en almagtige krag in (Deuteronomium 32:4, NAV; Job 12:13; Jesaja 40:26). Wat van die mitologiese gode? Pleks van regverdigheid te beoefen, was die Babiloniese gode en godinne wraaksugtig. Egiptiese gode was nie die toonbeeld van wysheid nie, maar hulle is uitgebeeld met menslike swakhede. Dit verbaas ons nie, want valse gode en godinne is die skepping van ‘dwase’ mense wat beweer dat hulle wys is (Romeine 1:21-23). Griekse gode het glo teen mekaar saamgespan. In die mites het Zeus byvoorbeeld sy mag misbruik deur sy vader, Kronos, te onttroon wat vroeër van sý vader, Uranus, ontslae geraak het. Wat ’n seën is dit tog om Jehovah, die lewende en ware God, wat volmaakte liefde, regverdigheid, krag en wysheid openbaar te dien en te loof!

Jehovah is ewige lof waardig

20. Watter redes het koning Dawid genoem om Jehovah se naam te loof?

20 Soos die Hallel-Psalms toon, verdien Jehovah ewige lof. Toe Dawid en sy mede-Israeliete vir die tempelbouwerk bydraes gelewer het, het hy eweneens voor die vergadering gesê: “U sy geloofd, HERE, God van ons vader Israel van ewigheid tot ewigheid. Aan U, HERE, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit, ja, alles in hemel en op aarde; aan U, HERE, kom toe die koningskap en die selfverhoging as Hoof oor alles. En die rykdom en die eer kom van U, en U heers oor alles; en in u hand is krag en mag, en in u hand is dit om alles groot en sterk te maak. En nou, onse God, ons loof U, en ons prys u heerlike Naam.”—1 Kronieke 29:10-13.

21. Watter bewys lewer Openbaring 19:1-6 dat Jehovah deur die hemelse leërskare geloof word?

21 Jehovah sal ook vir ewig in die hemel geprys en geloof word. Die apostel Johannes het “’n groot menigte in die hemel” hoor sê: “Halleluja, die heil en die heerlikheid en die eer en die krag aan die Here onse God! Want sy oordele is waaragtig en regverdig; want Hy het die groot hoer [Babilon die Grote] geoordeel wat die aarde met haar hoerery verderf het, en Hy het die bloed van sy diensknegte op haar gewreek.” Hulle het weer eens gesê: “Halleluja!” En “die vier-en-twintig ouderlinge en die vier lewende wesens” het dit ook gedoen. ’n Stem het van die troon af gesê: “Prys onse God, al sy diensknegte, en julle wat Hom vrees, klein en groot!” Toe het Johannes bygevoeg: “Ek het iets gehoor soos die stem van ’n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar.”—Openbaring 19:1-6.

22. Hoe sal Jehovah in sy beloofde nuwe wêreld geloof word?

22 Hoe gepas is dit tog dat die hemelse leërskare Jehovah loof! In die nuwe wêreld wat nou op hande is, sal lojale mense wat opgewek word Jehovah saam met die oorlewendes van die einde van hierdie stelsel loof. Hoë berge sal hulle koppe lig en tot lof van God sing. Grasbedekte heuwels en vrugbare bome sal tot lof van hom sing. Trouens, elke lewende skepsel wat asemhaal sal Jehovah se naam in die groot Halleluja-koor prys! (Psalm 148). Sal jou stem onder daardie vreugdevolle menigte gehoor word? Dit sal as jy Jehovah lojaal saam met sy volk dien. Dit behoort jou doel in die lewe te wees, want wie is soos Jehovah ons God?

Hoe sal jy antwoord?

◻ Waarom moet ons Jehovah God loof?

◻ Op watter maniere is Jehovah weergaloos?

◻ Watter bewys is daar dat Jehovah barmhartig is?

◻ Hoe verskil Jehovah van lewelose afgode sowel as van valse gode?

◻ Waarom kan ons sê dat Jehovah vir ewig in die hemel en op aarde geloof sal word?

[Prent op bladsy 9]

Die Hallel-Psalms is tydens die Pasgamaal gesing

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel