Ligdraers—Met watter doel?
“Ek het U ’n lig van die nasies gemaak.”—HANDELINGE 13:47.
1. Watter invloed het die opdrag waarna Handelinge 13:47 verwys op die apostel Paulus gehad?
“SO HET die Here aan ons bevel gegee: Ek het U ’n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde”, het die apostel Paulus gesê (Handelinge 13:47). Hy het dit nie net gesê nie, maar hy het ook die erns daarvan besef. Nadat hy ’n Christen geword het, het Paulus sy lewe daaraan gewy om daardie opdrag uit te voer (Handelinge 26:14-20). Het ons ook so ’n opdrag ontvang? Indien wel, waarom is dit belangrik vir ons dag?
Toe ‘die ligte uitgegaan het’ vir die mensdom
2. (a) Watter gebeure het ’n diepgaande invloed op die geestelike en sedelike klimaat van die wêreld gehad toe hy sy tyd van die einde binnegegaan het? (b) Wat het ’n Britse staatsman gesê toe hy sien wat in Augustus 1914 gebeur?
2 Voordat die meeste mense wat vandag lewe gebore is, het hierdie wêreld sy tyd van die einde binnegegaan. Belangrike gebeure het vinnig op mekaar gevolg. Satan die Duiwel, die hoofaanstigter van geestelike en sedelike duisternis, is na die aarde neergewerp (Efesiërs 6:12; Openbaring 12:7-12). Die mensdom was reeds in sy eerste oorlog van wêreldomvang gedompel. Vroeg in Augustus 1914, toe dit geblyk het dat die oorlog onafwendbaar was, het sir Edward Grey, die Britse Minister van Buitelandse Sake, by sy kantoorvenster in Londen gestaan en gesê: “Oral in Europa is die ligte besig om uit te gaan; ons sal nie in ons lewe sien dat hulle weer sal begin skyn nie.”
3. Hoe suksesvol was wêreldleiers in hulle pogings om die mensdom se vooruitsigte rooskleuriger te maak?
3 In ’n poging om daardie ligte weer te laat skyn, is die Volkebond in 1920 in werking gestel. Maar die ligte het skaars geflikker. Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog het wêreldleiers weer probeer, hierdie keer met die Verenigde Nasies-organisasie. Weer eens het die ligte nie helder gebrand nie. Maar met die oog op onlangser gebeure het wêreldleiers van “’n nuwe wêreldorde” begin praat. Maar daar kan beswaarlik gesê word dat enige “nuwe wêreld” wat hulle tot stand gebring het tot ware vrede en veiligheid gelei het. Inteendeel, mense se lewensvreugde word steeds bederf deur gewapende konflik, etniese onenigheid, misdaad, werkloosheid, armoede, omgewingsbesoedeling en siektes.
4, 5. (a) Wanneer en hoe het duisternis oor die mensdom gekom? (b) Wat is nodig om verligting te bring?
4 In werklikheid het die ligte vir die mensdom lank voor 1914 uitgegaan. Dit het ongeveer 6 000 jaar gelede in Eden gebeur toe ons eerste mense-ouers hulle eie besluite begin neem het sonder om die uitdruklike wil van God in ag te neem. Die onaangename ondervindinge wat die mensdom sedertdien gehad het, is eenvoudig grepe uit ’n lewe onder dít wat die Bybel “die mag van die duisternis” noem (Kolossense 1:13). Dit was onder die invloed van Satan die Duiwel dat die eerste mens, Adam, die wêreld in sonde gedompel het; en van Adam af het sonde en die dood tot alle mense deurgedring (Genesis 3:1-6; Romeine 5:12). Die mensdom het dus Jehovah, die Bron van lig en van lewe, se goedkeuring verloor.—Psalm 36:10, NAV.
5 Die enigste manier waarop die lig weer vir enigeen van die mensdom kon skyn, sou wees as hulle die goedkeuring van Jehovah God, die mensdom se Skepper, kon verkry. Dan kon “die uitgespreide sluier wat al die volke omsluier”, die veroordeling as gevolg van sonde, verwyder word. Hoe sou dit moontlik wees?—Jesaja 25:7.
Die een wat “as ’n lig van die nasies” gegee is
6. Watter wonderlike dinge het Jehovah deur middel van Jesus Christus vir ons in die vooruitsig gestel?
6 Selfs voordat Adam en Eva uit die Paradys uitgedryf is, het Jehovah voorspel dat ’n “saad” sou kom wat die verlosser van liefhebbers van regverdigheid sou wees (Genesis 3:15). Nadat daardie beloofde Saad as ’n mens gebore is, het Jehovah die bejaarde Simeon by die tempel in Jerusalem gebruik om daardie een te identifiseer as “’n lig om die sluier van die nasies te verwyder” (Lukas 2:29-32, vgl. NW). Deur geloof te stel in die offerande van Jesus se volmaakte menselewe kon mense bevry word van die veroordeling wat aangebore sonde tot gevolg het (Johannes 3:36). In ooreenstemming met Jehovah se wil kon hulle nou uitsien na ewige lewe in volmaaktheid as deel van die hemelse Koninkryk of as onderdane daarvan op ’n paradysaarde. Wat ’n wonderlike voorsiening is dit tog nie!
7. Waarom vul die beloftes in Jesaja 42:1-4 sowel as hulle eerste-eeuse vervulling ons met hoop?
7 Jesus Christus self is die waarborg vir die verwesenliking van hierdie wonderlike vooruitsigte. Die apostel Mattheüs het die woorde in Jesaja 42:1-4 op Jesus toegepas met betrekking tot sy genesing van mense wat op die een of ander wyse geteister was. Daardie teks sê gedeeltelik: “Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel ’n welbehae het. Ek het my Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring.” En is dit nie wat mense van alle nasies nodig het nie? Die profesie gaan voort: “Hy sal nie skreeu of uitroep of sy stem op die straat laat hoor nie. Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie.” In ooreenstemming hiermee het Jesus mense wat reeds op die een of ander wyse geteister was nie hardvogtig behandel nie. Hy het medelye teenoor hulle betoon, hulle van Jehovah se voornemens geleer en hulle genees.—Mattheüs 12:15-21.
8. In watter sin het Jehovah Jesus “as ’n verbond van die volk” en “as ’n lig van die nasies” gegee?
8 Die Gewer van hierdie profesie rig hom tot sy Kneg, tot Jesus, en sê: “Ek, die HERE, het U geroep in geregtigheid, en Ek vat u hand en behoed U en gee U as ’n verbond van die volk, as ’n lig van die nasies, om blinde oë te open; om gevangenes uit die kerker uit te lei, uit die gevangenis diegene wat in die duisternis sit” (Jesaja 42:6, 7). Ja, Jehovah het Jesus Christus gegee as ’n verbond, as ’n plegtige, bindende waarborg. Hoe bemoedigend is dit tog! Jesus het ware besorgdheid teenoor die mensdom getoon toe hy op die aarde was; hy het selfs sy lewe ten behoewe van die mensdom afgelê. Hy is die een aan wie Jehovah die heerskappy oor al die nasies toevertrou het. Geen wonder Jehovah het na hom verwys as ’n lig van die nasies nie. Jesus self het gesê: “Ek is die lig van die wêreld.”—Johannes 8:12.
9. Waarom het Jesus hom nie daarop toegelê om die destydse stelsel van dinge te verbeter nie?
9 Met watter doel het Jesus as die lig van die wêreld gedien? Dit was beslis nie met enige sekulêre of materialistiese doel nie. Hy het geweier om die destydse politieke stelsel te probeer verbeter en wou nie koningskap van Satan, die owerste van die wêreld, of van die mense aanvaar nie (Lukas 4:5-8; Johannes 6:15; 14:30). Jesus het groot medelye betoon teenoor diegene wat op die een of ander wyse geteister was, en hy het vir hulle verligting gebring op maniere wat ander nie kon nie. Maar hy het geweet dat blywende verligting nie moontlik is binne die raamwerk van ’n mensegemeenskap wat weens aangebore sonde onder Goddelike veroordeling staan en wat deur onsigbare bose geesmagte gemanipuleer word nie. Met Goddelike insig het Jesus sy hele lewe om die uitvoering van God se wil laat draai.—Hebreërs 10:7.
10. Op watter maniere en met watter doel het Jesus as die lig van die wêreld gedien?
10 Op watter maniere en met watter doel het Jesus dan as die lig van die wêreld gedien? Hy het hom daaraan gewy om die goeie nuus van die Koninkryk van God te verkondig (Lukas 4:43; Johannes 18:37). Deur van die waarheid oor Jehovah se voorneme te getuig, het Jesus ook die naam van sy hemelse Vader verheerlik (Johannes 17:4, 6). Daarbenewens het Jesus, as die lig van die wêreld, godsdiensleuens blootgelê en sodoende geestelike vryheid voorsien aan diegene wat in godsdiensslawerny verkeer het. Hy het Satan aan die kaak gestel as die onsigbare manipuleerder van diegene wat toelaat dat hy hulle gebruik. Jesus het ook die werke wat by die duisternis hoort duidelik geïdentifiseer (Mattheüs 15:3-9; Johannes 3:19-21; 8:44). Hy het op ’n besondere manier bewys dat hy die lig van die wêreld is deur sy volmaakte menselewe as ’n losprys af te lê, en sodoende het hy vir diegene wat geloof beoefen in hierdie voorsiening die weg gebaan om vergifnis van sondes, ’n goedgekeurde verhouding met God en die vooruitsig op ewige lewe as deel van Jehovah se universele gesin te verkry (Mattheüs 20:28; Johannes 3:16). En ten slotte het Jesus, deur volmaakte godvrugtige toegewydheid deur sy hele lewe heen te handhaaf, Jehovah se soewereiniteit ondersteun en bewys dat die Duiwel ’n leuenaar is, en sodoende het hy ewige voordele vir liefhebbers van regverdigheid moontlik gemaak. Maar sou Jesus die enigste ligdraer wees?
“Julle is die lig van die wêreld”
11. Wat moes Jesus se dissipels doen as hulle ligdraers wou wees?
11 In Mattheüs 5:14 het Jesus vir sy dissipels gesê: “Julle is die lig van die wêreld.” Hulle moes sy voetspoor volg. Hulle moes ander deur hulle lewenswyse sowel as deur hulle prediking na Jehovah as die Bron van ware verligting rig. In navolging van Jesus moes hulle Jehovah se naam bekend maak en Sy soewereiniteit ondersteun. Hulle moes, soos Jesus, verkondig dat die Koninkryk van God die mens se enigste hoop is. Hulle moes ook godsdiensleuens en werke wat by die duisternis hoort, sowel as die bose persoon wat sulke boosheid aanstig, aan die kaak stel. Volgelinge van Christus moes oral vir mense vertel van Jehovah se liefdevolle voorsiening vir redding deur middel van Jesus Christus. Met watter ywer het die vroeë Christene tog daardie toewysing uitgevoer, eers in Jerusalem en Judea en toe in Samaria, soos Jesus hulle beveel het!—Handelinge 1:8.
12. (a) Hoe verreikend sou die verspreiding van geestelike lig wees? (b) Wat het Jehovah se gees Paulus in staat gestel om aangaande Jesaja 42:6 te besef, en watter invloed behoort daardie profesie op ons lewe te hê?
12 Maar die verkondiging van die goeie nuus sou nie tot daardie gebied beperk word nie. Jesus het sy volgelinge die opdrag gegee om ‘dissipels van al die nasies te maak’ (Mattheüs 28:19). Toe Saulus van Tarsus bekeer is, het die Here spesifiek getoon dat Saulus (wat die apostel Paulus geword het) nie net vir die Jode sou preek nie, maar ook vir die nie-Jode (Handelinge 9:15). Later het Paulus met behulp van die heilige gees besef wat dit behels. Hy het sodoende besef dat die profesie in Jesaja 42:6, wat regstreeks in Jesus Christus vervul is, ook by implikasie ’n bevel aan almal is wat geloof in Christus beoefen. Daarom het Paulus, toe hy in Handelinge 13:47 uit Jesaja aangehaal het, gesê: “So het die Here aan ons bevel gegee: Ek het U ’n lig van die nasies gemaak, sodat U tot redding sal wees tot aan die einde van die aarde.” Wat van jou? Het jy daardie verantwoordelikheid om ’n ligdraer te wees ter harte geneem? Draai jou lewe, soos dié van Jesus en Paulus, om die uitvoering van God se wil?
Lig en waarheid van God om ons te lei
13. Wat is ons innige gebed in ooreenstemming met Psalm 43:3, en waarteen beskerm dit ons?
13 As ons probeer om deur ons eie pogings ‘die ligte weer te laat skyn’, om die toekoms vir die mensdom helderder te maak, sal ons die kern van God se geïnspireerde Woord heeltemal miskyk. Maar ongeag wat die wêreld oor die algemeen doen, kyk ware Christene na Jehovah as die ware Bron van lig. Hulle gebed is soos die een in Psalm 43:3 wat lui: “Stuur u lig en u waarheid; laat dié my lei; laat dié my bring na u heilige berg en na u woninge.”
14, 15. (a) Hoe stuur Jehovah nou sy lig en waarheid uit? (b) Hoe kan ons toon dat God se lig en waarheid ons waarlik lei?
14 Jehovah verhoor steeds daardie gebed van sy lojale knegte. Hy stuur lig uit deur sy voorneme bekend te maak, deur sy knegte in staat te stel om dit te verstaan en deur wat hy bekend gemaak het dan in vervulling te laat gaan. Wanneer ons tot God bid, is dit nie ’n blote formaliteit wat eenvoudig gedoen word om heilig voor te kom nie. Ons opregte begeerte is dat die lig wat van Jehovah af kom ons moet lei, soos die psalm sê. Ons aanvaar die verantwoordelikheid wat dit meebring wanneer ’n mens die lig ontvang wat God voorsien. Ons besef, soos die apostel Paulus, dat die vervulling van Jehovah se Woord by implikasie ’n bevel bevat vir almal wat geloof daarin stel. Ons beskou ons as skuldenaars teenoor ander mense totdat ons vir hulle van die goeie nuus vertel het wat God met daardie doel aan ons toevertrou het.—Romeine 1:14, 15.
15 Die lig en waarheid wat Jehovah in ons dag uitgestuur het, openbaar dat Jesus Christus daadwerklik van sy hemelse troon af regeer (Psalm 2:6-8; Openbaring 11:15). Jesus het voorspel dat hierdie goeie nuus van die Koninkryk gedurende sy koninklike teenwoordigheid oor die hele bewoonde aarde as ’n getuienis verkondig sou word (Mattheüs 24:3, 14, NW). Daardie werk word nou intensief oor die hele wêreld gedoen. As ons daardie werk die belangrikste plek in ons lewe gee, dan lei God se lig en waarheid ons, soos die psalmis gesê het.
Die heerlikheid van Jehovah self het geskyn
16, 17. Hoe het Jehovah sy heerlikheid in 1914 oor sy gemalinorganisasie laat skyn, en watter opdrag het hy haar gegee?
16 In besielende taal verduidelik die Skrif hoe Goddelike lig oral tot mense se voordeel versprei word. Jesaja 60:1-3 wat gerig is tot Jehovah se “vrou”, of sy hemelse organisasie van lojale knegte, sê: “Staan op, o vrou, versprei lig, want jou lig het gekom en die heerlikheid van Jehovah self het oor jou geskyn. Want kyk! duisternis sal die aarde oordek, en dik donkerheid die volke; maar oor jou sal Jehovah skyn, en oor jou sal sy heerlikheid gesien word. En nasies sal beslis na jou lig toe gaan, en die konings na die glans van jou lig.”—NW.
17 In 1914 het die heerlikheid van Jehovah oor sy hemelse gemalinorganisasie geskyn toe sy, na ’n lang wagtyd, geboorte gegee het aan die Messiaanse Koninkryk met Jesus Christus as Koning (Openbaring 12:1-5). Jehovah se glorieryke lig skyn goedkeurend oor daardie regering as die regmatige een vir die hele aarde.
18. (a) Waarom oordek duisternis die aarde, soos in Jesaja 60:2 voorspel is? (b) Hoe kan individue van die aarde se duisternis verlos word?
18 In teenstelling hiermee oordek duisternis die aarde en dik donkerheid die volke. Waarom? Omdat die nasies die regering van God se geliefde Seun ten gunste van menseheerskappy verwerp. Hulle dink dat hulle hulle probleme sal oplos deur een regeringsvorm af te skaf en ’n ander aan te neem. Maar dit bring nie die verligting waarop hulle hoop nie. Hulle sien nie wie agter die skerms besig is om die nasies vanuit die geesteryk te manipuleer nie (2 Korinthiërs 4:4). Hulle verwerp die Bron van ware lig en is derhalwe in duisternis (Efesiërs 6:12). Maar ongeag wat die nasies doen, individue kan uit daardie duisternis verlos word. Hoe? Deur hulle volle geloof in die Koninkryk van God te stel en hulle daaraan te onderwerp.
19, 20. (a) Waarom en hoe het Jehovah se heerlikheid oor Jesus se gesalfde volgelinge geskyn? (b) Waarom het Jehovah sy gesalfdes ligdraers gemaak? (c) Hoe is daar, soos voorspel is, “konings” en “volke” na die Godgegewe lig toe aangetrek?
19 Die Christendom het nie geloof in God se Koninkryk gestel en hom daaraan onderwerp nie. Maar die geesgesalfde volgelinge van Jesus Christus het. As gevolg daarvan het Jehovah se lig van Goddelike goedkeuring op hierdie sigbare verteenwoordigers van sy hemelse vrou geskyn, en sy heerlikheid is oor hulle geopenbaar (Jesaja 60:19-21). Hulle geniet geestelike lig wat geen verandering in die wêreld se politieke of ekonomiese stelsel hulle kan ontneem nie. Hulle het Jehovah se verlossing uit Babilon die Grote ondervind (Openbaring 18:4). Hulle geniet sy goedkeuring omdat hulle sy dissipline aanvaar het en sy soewereiniteit lojaal ondersteun. Hulle het rooskleurige vooruitsigte vir die toekoms, en hulle verheug hulle in die hoop wat hy voor hulle gestel het.
20 Maar met watter doel het Jehovah só met hulle gehandel? Soos hy self in Jesaja 60:21 gesê het, is dit sodat hy ‘verheerlik’ kan word, sy naam vereer kan word en ander na hom as die enigste ware God getrek kan word—en dit tot hulle ewige voordeel. In ooreenstemming hiermee het hierdie aanbidders van die ware God in 1931 die naam Jehovah se Getuies aangeneem. Is “konings” as gevolg van hulle getuieniswerk na die lig toe getrek wat deur hulle weerspieël is, soos Jesaja voorspel het sou gebeur? Ja! Nie die politieke heersers van die aarde nie, maar die oorblywende aantal van dié wat as konings saam met Christus in sy hemelse Koninkryk gaan regeer (Openbaring 1:5, 6; 21:24). En wat van “nasies”? Is hulle na hierdie lig toe aangetrek? Beslis! Geen afsonderlike politieke nasie is daardeur aangetrek nie, maar ’n groot menigte mense uit alle nasies het hulle standpunt aan die kant van God se Koninkryk ingeneem, en hulle wag gretig op hulle verlossing en behoud tot in God se nuwe wêreld. Dit sal waarlik ’n nuwe wêreld wees waarin geregtigheid sal seëvier.—2 Petrus 3:13; Openbaring 7:9, 10.
21. Hoe kan ons toon dat ons nie die doel gemis het van Jehovah se onverdiende goedheid wat hy aan ons betoon het deur ons ’n begrip van sy wil te gee nie?
21 Is jý een van daardie toenemende menigte ligdraers? Jehovah het ons ’n begrip van sy wil gegee sodat ons, soos Jesus, ligdraers kan wees. Mag ons almal, deur ons ywer in die werk wat Jehovah in ons dag aan sy knegte toevertrou het, toon dat ons nie die doel gemis het van die onverdiende goedheid wat God teenoor ons betoon het nie (2 Korinthiërs 6:1, 2, vgl. NW). Daar is in ons dag geen belangriker werk nie. En ons kan geen groter voorreg smaak as om Jehovah te verheerlik deur die glorieryke lig wat van hom af kom na ander uit te dra nie.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Wat is die grondoorsake van die mensdom se ernstige probleme?
◻ Op watter maniere is Jesus sowel as sy volgelinge “die lig van die wêreld”?
◻ Hoe lei Jehovah se lig en waarheid ons?
◻ Hoe het Jehovah sy heerlikheid oor sy organisasie laat skyn?
◻ Met watter doel het Jehovah sy volk ligdraers gemaak?
[Prente op bladsy 9]
’n Gebeurtenis in Eden help ons om die mensdom se ernstige probleme vandag te verstaan
[Erkennings]
Tom Haley/Sipa
Paringaux/Sipa