Die goeie versus boosheid—’n eeue oue stryd
IN DIE rolprente van die verlede het die “goeie ou” altyd die bose magte oorwin. Maar die werklikheid was nog nooit so eenvoudig nie. Dit wil voorkom asof boosheid in die werklike lewe alte dikwels die oorhand kry.
Boosheid werp elke aand sy donker skaduwee oor die nuusuitsending. In die noorde van die Verenigde State vermoor ’n man van Milwaukee 11 mense en stop die oorskot van hulle verminkte liggame in sy vrieskas. In die suide bars ’n vreemdeling by ’n kafeteria in Texas in en vuur tien minute lank blindelings op die mense en 23 sterf, onder andere hyself. In Korea steek ’n verbitterde teëstander ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies aan die brand, en 14 aanbidders sterf.
Maar buiten hierdie verspreide, bose uitbarstings is daar ook ’n afskuwelike boosheid wat die wêreld raak—rassemoord. Daar word geskat dat daar net in hierdie eeu eenmiljoen Armeniërs, sesmiljoen Jode en meer as eenmiljoen Kambodjane in rasse- en politieke suiwerings uitgewis is. Sogenaamde etniese reiniging het baie mense in die eertydse Joego-Slawië swaar getref. Niemand weet hoeveel miljoene onskuldige mense oor die aarde heen wreed gemartel is nie.
Sulke tragedies bring ons voor die ontstellende vraag te staan: Waarom tree mense so op? Ons kan nie hierdie gruwels ignoreer asof dit die produk van ’n paar versteurde verstande is nie. Die blote omvang van die boosheid wat in ons eeu gepleeg is, weerspreek so ’n verduideliking.
’n Bose daad word gedefinieer as ’n daad wat sedelik verkeerd is. Dit is ’n daad wat deur iemand gepleeg is wat tussen goeie en bose optrede kan kies. Op die een of ander manier raak sy sedelike oordeel benewel en kry boosheid die oorhand. Maar waarom en hoe gebeur dit?
Godsdiensverduidelikings van boosheid is dikwels onbevredigend. Die Katolieke filosoof Thomas van Aquino het beweer dat “talle goeie dinge weggeneem sal word as God geen boosheid laat bestaan nie”. Baie Protestantse filosowe huldig soortgelyke menings. Volgens The Encyclopædia Britannica het Gottfried Leibniz byvoorbeeld boosheid beskou “as ’n blote teenstelling van die goeie in die wêreld wat vergroot word deur die kontras wat dit skep”. Hy het met ander woorde geglo dat ons die boosheid nodig het sodat ons die goeie kan waardeer. Met so ’n redenasie kan jy net sowel vir ’n kankerpasiënt sê dat sy siekte net die ding is wat iemand anders nodig het om waarlik lewend en gesond te voel.
Bose bedoelings moet êrens vandaan kom. Dra God indirek die skuld? Die Bybel antwoord: “Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.” As God nie daarvoor verantwoordelik is nie, wie is dan? Die volgende verse gee die antwoord: “Elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde” (Jakobus 1:13-15). Gevolglik ontstaan ’n bose daad wanneer ’n bose begeerte eerder gevoed word pleks van dit te verwerp. Maar dit is nie al nie.
Die Skrif verduidelik dat bose begeertes ontstaan omdat die mensdom ’n wesenlike gebrek het—inherente onvolmaaktheid. Die apostel Paulus het geskryf: “Soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het” (Romeine 5:12). Weens oorgeërfde sonde kan goedhartigheid in ons denke deur selfsug oorheers word en barmhartigheid deur wreedheid.
Baie mense weet natuurlik instinktief dat sekere gedrag verkeerd is. Hulle gewete—of ‘wet wat in hulle harte geskrywe staan’ soos Paulus dit noem—weerhou hulle daarvan om ’n bose daad te pleeg (Romeine 2:15). Nogtans kan ’n wrede omgewing sulke gevoelens onderdruk, en ’n gewete kan afgestomp word as dit herhaaldelik geïgnoreer word.a—Vergelyk 1 Timotheüs 4:2.
Kan menslike onvolmaaktheid alleen die georganiseerde boosheid van ons tyd verduidelik? Die geskiedskrywer Jeffrey Burton Russell het gesê: “Dit is waar dat daar in ons almal boosheid is, maar al tel ons die groot aantal afsonderlike bose dade bymekaar, verklaar dit nog nie ’n Auschwitz nie . . . Dit wil voorkom asof boosheid op hierdie skaal kwalitatief asook kwantitatief anders is.” Dit was niemand anders nie as Jesus Christus wat hierdie kwalitatiewe ander bron van boosheid uitgewys het.
Nie lank voor sy dood nie, het Jesus verduidelik dat die mense wat beplan om hom dood te maak nie heeltemal uit eie beweging optree nie. ’n Onsigbare mag het hulle gerig. Jesus het vir hulle gesê: “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ’n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie” (Johannes 8:44). Die Duiwel, wie Jesus “die owerste van hierdie wêreld” genoem het, speel duidelik ’n prominente rol om boosheid aan te stook.—Johannes 16:11; 1 Johannes 5:19.
Menslike onvolmaaktheid asook sataniese invloede het al duisende jare lank baie lyding tot gevolg gehad. En daar is geen teken dat hulle greep op die mensdom verslap nie. Is boosheid hier om te bly? Of sal die goeie magte uiteindelik boosheid verdelg?
[Voetnoot]
a Navorsers het onlangs ’n verband tussen eksplisiete geweld op televisie en jeugmisdaad gesien. Gebiede met ’n hoë misdaadsyfer en gebroke gesinne is ook faktore wat tot antisosiale gedrag lei. In Nazi-Duitsland het onophoudelike rassistiese propaganda daartoe gelei dat party mense die gruwels teen Jode en Slawe geregverdig het—en selfs verheerlik het.
[Foto-erkenning op bladsy 2]
U.S. Army photo
[Foto-erkenning op bladsy 3]
U.S. Army photo