Moet Christene ’n rusdag hou?
JUNIE was buitengewoon reënerig gewees. Om dié rede is ’n eeue oue wêreldlike tradisie gedurende die 1991-Wimbledon-tenniskampioenskappe verbreek. Om verlore tyd te probeer inhaal, is wedstryde vir die eerste keer in die geskiedenis op ’n Sondag gespeel. Met die uitsondering van enkele gevalle soos hierdie een, waar die reëls so ’n bietjie verander word, is Sondag in Engeland en ook in baie ander lande steeds ’n heilige rusdag.
Party mense hou hulle rusdag op ’n ander dag. Wêreldwyd hou Jode die Sabbat streng van Vrydag sononder tot Saterdag sononder. Op die Sabbat vlieg die vliegtuie van Israel se nasionale lugdiens nie, en in sekere dorpe is daar nie openbare vervoer nie. In Jerusalem laat tradisionaliste sekere strate afsluit sodat geen verkeer, wat hulle as ongeoorloof beskou, kan deurgaan nie.
Die feit dat baie godsdienste steeds ’n weeklikse rusdag of sabbat hou, laat verskeie vrae ontstaan. Is die Sabbat slegs vir die Jode? Waarom het die meeste godsdienste van die Christendom ’n ander rusdag aangeneem? Is dit vandag nog ’n Bybelse vereiste om ’n weeklikse rusdag te hou?
Was die Sabbat nog altyd daar?
Ons vind die eerste skriftuurlike melding van ’n sabbat in die boek Exodus. Terwyl die Israeliete in die woestyn was, het hulle manna, ’n wondervoedsel, van Jehovah ontvang. Elke sesde dag van die week moes hulle ’n dubbele porsie bymekaarmaak omdat die sewende dag ’n “sabbat van die HERE” sou wees waartydens hulle verbied is om enige werk te doen.—Exodus 16:4, 5, 22-25.
Verder is die Sabbat aan die Israeliete gegee om hulle daaraan te herinner dat hulle slawe in Egipteland was. Hierdie herinnering sou nie veel beteken het as hulle voorheen so ’n wet nagekom het nie. Die voorskrifte met betrekking tot die Sabbat is dus net aan die Israeliete gegee.—Deuteronomium 5:2, 3, 12-15.
Gekompliseerde en veeleisende instellings
Omdat die Mosaïese Wet nie die Sabbat in veel besonderhede bespreek nie, het rabbi’s deur die eeue heen talryke interdikte opgestel wat hoofsaaklik alle vorme van werk op die Sabbat verbied het. Volgens die Misjna is die verbode werk in 39 hoofkategorieë ingedeel, soos naaldwerk, skryfwerk en plaaswerk. Baie van hierdie bepalings is nie op die Bybel gebaseer nie. Waar dit uit die Misjna aanhaal, erken die Encyclopædia Judaica dat die bepalings soos “berge [is] wat aan hare hang, want daar is min oor die onderwerp in die Skrif, maar daar is baie reëls”.
Om die gebod na te kom dat ’n man nie “op die sewende dag van sy woonplek af [mag] weggaan nie”, is ’n maksimum afstand bepaal wat die “Sabbatsreis” genoem is. Volgens sekere bronne was dit gelyk aan tweeduisend el, of ongeveer 900 meter (Exodus 16:29). Maar hierdie bepalings kon op ’n baie slim manier omseil word: Sabbatmaaltye kon die vorige aand tweeduisend el van die huis af neergesit word. Hierdie plek kon dan beskou word as ’n uitbreiding van die gesin se huis en nog tweeduisend el kon van daardie punt af getel word.
Baie van hierdie mensgemaakte beperkings was in Jesus se dag van krag. Godsdiensleiers het sy dissipels dus veroordeel omdat hulle are gepluk en geëet het terwyl hulle deur graanlande gestap het. Hulle is daarvan beskuldig dat hulle die Sabbat ontheilig het—volgens die godsdiensleiers het hulle graan geoes deur dit te pluk en dit gemaal deur die are uit te vryf. Jesus het hulle ekstremistiese opvattings op verskeie geleenthede veroordeel, want hulle het die gees van Jehovah se wet verdraai.—Mattheüs 12:1-8; Lukas 13:10-17; 14:1-6; Johannes 5:1-16; 9:1-16.
Van ’n Saterdagsabbat tot ’n Sondagsabbat
“’n Sondag sal uitgehou word om God vroom te dien.” So lui die Vierde Gebod aangaande die Sabbat soos uiteengesit deur die Katolieke Kerk. Die onlangs gepubliseerde Franse Catéchisme pour adultes verduidelik: “Die Sondag van Christene word die dag na die Sabbat gevier: op die agtste dag, dit wil sê die eerste dag van die nuwe skepping. Dit neem die wesenlike elemente van die Sabbat op, maar draai hoofsaaklik om Christus se Pasga.” Hoe het dit gebeur dat ’n Saterdagsabbat ’n Sondagsabbat geword het?
Hoewel Jesus op ’n Sondag opgewek is, was dit vir die vroeë Christene ’n werksdag soos enige ander dag. Maar ’n besluit deur ’n kerkraad in Laodicea (middel- tot laat vierde eeu G.J.) bring aan die lig dat die Joodse Sabbat op ’n Saterdag mettertyd deur ’n “Christelike” sabbat op ’n Sondag vervang is. Hierdie kerkreël “het Christene verbied om te Judaïseer en ledig te wees op die dag van die [Joodse] Sabbat, en hulle moes die dag van die Here [die dag van die week waarop hy opgewek is] op ’n Christelike manier hou”. Sedertdien moes die Christendom se navolgers op ’n Saterdag werk en hulle op ’n Sondag van werk onthou. Later is daar van hulle vereis om die Mis op ’n Sondag by te woon.
Met die steun van die sekulêre owerhede is werk op Sondae kort daarna regdeur die Christendom verbied. Sedert die sesde eeu is oortreders beboet of lyfstraf toegedien, en daar kon op hulle osse beslag gelê word. Soms kon onberouvolle sondaars tot slawe verlaag word.
In sekere sin was wette met betrekking tot aanvaarbare werk op Sondae net so ingewikkeld soos die tradisies met betrekking tot die Joodse Sabbat. Die Dictionnaire de théologie catholique gee omslagtige verduidelikings oor die ontwikkeling van kerkkasuïstiek, en onder die dinge wat verbied is, word slawewerk, plaaswerk, hofsake, markte en jag genoem.
Dit is ironies dat die Joodse Sabbat gebruik is as regverdiging vir hierdie verbooie. Die New Catholic Encyclopedia meld keiser Karel die Grote se wette aangaande Sondae: “Die Sabbatariese idee, wat onomwonde deur Hieronimus verwerp is en in 538 deur die Raad van Orléans as Joods en nie-Christelik veroordeel is, is duidelik uiteengesit in Karel die Grote se verordening van 789, wat alle werk op Sondae as ’n oortreding [van die Tien Gebooie] verbied het.” Hoewel dit die kerk behaag het om te sien dat die burgerlike owerheid ’n Sondag as ’n rusdag verklaar, het hy hierdie sekulêre tak toegelaat om hierdie beperkings te regverdig op grond van ’n wetlike kode wat hy verwerp het, naamlik die Mosaïese wet aangaande die Sabbat.
’n Nieskriftuurlike standpunt
Eeue tevore het verskeie Kerkvaders, en Augustinus in die besonder, tereg verklaar dat die Sabbat ’n tydelike reëling net vir die Jode was. Sodoende het daardie Kerkvaders eenvoudig dít aangeneem wat die Christelike Griekse Geskrifte verduidelik, naamlik dat die Sabbat ’n integrerende deel is van die Wetsverbond wat deur Jesus se offerande afgeskaf is.—Romeine 6:14; 7:6; 10:4; Galasiërs 3:10-14, 24, 25.
In die Vocabulaire biblique van ons tyd word die Protestantse teoloog Oscar Cullmann aangehaal waar hy erken dat “die feeste van die O[u] T[estament] vervul is, aangesien Jesus gekom, gesterf en opgewek is, en om aan te hou om hulle te vier, ‘beteken dat daar na die ou verbond teruggekeer word asof Christus nooit gekom het nie’”. Kan ons verpligte Sabbatsheiliging regverdig met hierdie geldige punt in gedagte?
Ter ondersteuning wend Katolieke skrywers hulle vandag gewoonlik tot Handelinge 20:7 wat van “die eerste dag van die week” (Sondag) praat toe Paulus ’n maaltyd saam met sy metgeselle geniet het. Maar dit was bloot besonderhede. Daar is niks in hierdie teks of in ander Bybelverse wat toon dat hierdie verslag veronderstel was om ’n voorbeeld vir Christene te wees nie, en dit was beslis nie ’n verpligting nie. Ja, die heiliging van ’n sabbat op ’n Sondag het geen skriftuurlike steun nie.
Watter rus is daar vir Christene?
Hoewel Christene nie verplig is om ’n weeklikse dag van rus te hou nie, word hulle nietemin genooi om ’n ander soort rus te hou. Paulus verduidelik dit aan sy mede-Joodse Christene en sê: “Daar bly dus ’n sabbatsrus oor vir die volk van God; . . . Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus” (Hebreërs 4:4-11). Hierdie Jode het voorheen, voordat hulle Christene geword het, die Mosaïese Wet so nougeset moontlik nageleef. Nou het Paulus hulle nie meer aangemoedig om deur werke redding te soek nie, maar eerder van hulle dooie werke te “rus”. Van toe af moes hulle geloof in Jesus se offerande hê, wat die enigste manier was waardeur die mensdom in God se oë regverdig kon wees.
Hoe kan ons vandag dieselfde agting vir God se sienswyse toon? Soos hulle medemens waardeer Jehovah se Getuies as redelike mense die weeklikse rusdag van sekulêre werk wat in baie lande van krag is. Dit maak dit vir hulle moontlik om tyd saam met die gesin deur te bring en verkwik te word. Maar dit is veral ’n tyd vir ander Christelike bedrywighede (Efesiërs 5:15, 16). Dit sluit vergaderinge in en ’n deelname aan die openbare bediening deur hulle bure te besoek met Bybelse inligting oor die naderende tyd wanneer gelowige mense wêreldwye vrede sal geniet. As jy inligting hieroor wil hê, sal Jehovah se Getuies jou graag help, of dit nou op ’n Saterdag, Sondag of enige ander dag van die week is.
[Prent op bladsy 28]
Jesus het eerder die Sabbatwet volmaak gehou, as Joodse tradisies
[Prent op bladsy 29]
Christelike bedrywighede op dae wanneer ons van sekulêre werk rus, bied verkwikking