Jehovah se barmhartigheid red ons van wanhoop
“Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid [“liefderyke goedhartigheid”, NW]; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid.”—PSALM 51:3.
1, 2. Watter uitwerking kan ernstige sonde op ’n kneg van Jehovah hê?
DIE skending van Jehovah se wet sal nie ongestraf bly nie. Hoe duidelik word dit tog wanneer ons die een of ander ernstige sonde teen God pleeg! Hoewel ons Jehovah jare lank getrou gedien het, veroorsaak dit groot onrus of ernstige terneergedruktheid as ons sy wet oortree. Ons kan voel dat Jehovah ons verlaat het en dat ons nie meer waardig is om hom te dien nie. Ons sonde kan lyk soos ’n enorme wolk wat die lig van God se guns uitsluit.
2 Koning Dawid van eertydse Israel was op ’n keer in so ’n toestand. Hoe het hierdie situasie ontstaan?
Misstappe kan tot growwe sonde lei
3, 4. Wat het met koning Dawid gedurende ’n tydperk van voorspoed gebeur?
3 Dawid het God liefgehad, maar het misstappe begaan wat tot ernstige sondes gelei het. (Vergelyk Galasiërs 6:1, NW.) Dit kan met enige onvolmaakte mens gebeur, veral as hy gesag oor ander het. As ’n welvarende koning het Dawid roem en mag geniet. Wie sou dit waag om sy woord teë te staan? Hy kon bekwame manne hiet en gebied, en mense het gretig gedoen wat hy gesê het. Tog het Dawid gesondig deur vir hom baie vrouens te neem en die volk te laat tel.—Deuteronomium 17:14-20; 1 Kronieke 21:1.
4 Dawid het gedurende hierdie tydperk van materiële voorspoed ernstige sondes teen God en mense gepleeg. Trouens, een sonde het tot ’n ander gelei, soos die inmekaargevlegte drade van ’n geweefde stof wat deur Satan ontwerp is! Terwyl mede-Israeliete teen die Ammoniete geveg het, het Dawid van sy dak af gestaan en kyk hoe Uria se pragtige vrou, Batseba, ’n bad neem. Aangesien Uria op die slagveld was, het die koning die vrou na sy paleis ontbied en owerspel met haar gepleeg. Stel jou sy skok voor toe hy later uitvind dat sy swanger is! Dawid het Uria laat kom in die hoop dat hy die nag by Batseba sou deurbring en die kind as sy eie sou beskou. Hoewel Dawid hom dronk gemaak het, het Uria geweier om by haar te slaap. Dawid was nou radeloos en het ’n geheime bevel aan Joab, die bevelvoerder, gestuur om Uria in die voorste linies te plaas waar hy beslis sou omkom. Uria het in die geveg gesneuwel, sy weduwee het die gebruiklike routydperk nagekom en Dawid het met haar getrou vóór mense van haar swangerskap kon uitvind.—2 Samuel 11:1-27.
5. Wat het gebeur nadat Dawid met Batseba gesondig het, en watter uitwerking het sy sondes op hom gehad?
5 God het Dawid se sonde deur middel van die profeet Natan blootgelê en gesê: “Ek sal uit jou huis onheil oor jou verwek.” Die kind wat vir Batseba gebore is, het gevolglik gesterf (2 Samuel 12:1-23). Dawid se eersgebore seun, Amnon, het sy eie halfsuster Tamar verkrag en is deur haar broer vermoor (2 Samuel 13:1-33). Die koning se seun Absalom het die troon onwettig in besit probeer neem en het oneer op sy vader gebring deur met Dawid se byvroue geslagsomgang te hê (2 Samuel 15:1–16:22). Burgeroorlog het op Absalom se dood en op meer verdriet vir Dawid uitgeloop (2 Samuel 18:1-33). Maar Dawid se sondes het hom nederig gemaak en het hom laat besef hoe noodsaaklik dit is om na aan sy barmhartige God te bly. As ons sou sondig, moet ons nederig berou toon en tot Jehovah nader.—Vergelyk Jakobus 4:8.
6. Waarom was koning Dawid veral skuldig?
6 Dawid was veral skuldig omdat hy as Israelitiese heerser Jehovah se Wet ten volle geken het (Deuteronomium 17:18-20). Hy was nie ’n Egiptiese farao of ’n Babiloniese koning wat nie hierdie kennis gehad het nie en dalk gereeld dinge gedoen het wat God afgekeur het. (Vergelyk Efesiërs 2:12; 4:18.) As lid van ’n volk wat aan Jehovah toegewy was, het Dawid besef dat owerspel en moord growwe sondes is (Exodus 20:13, 14). Christene ken ook God se wet. Maar, soos Dawid, oortree sommige van hulle God se wet weens oorgeërfde sondigheid, menslike swakheid en versoeking wat hulle nie weerstaan nie. As dit met enigeen van ons sou gebeur, hoef ons nie in ’n verduisterde toestand te bly wat ons geestelike siening vertroebel en ons in diepe wanhoop dompel nie.
Belydenis bring verligting
7, 8. (a) Wat het met Dawid gebeur toe hy sy sondes probeer verberg het? (b) Waarom moet ’n mens jou sondes bely en laat staan?
7 As ons ons aan ernstige oortreding van God se wet skuldig gemaak het, vind ons dit dalk moeilik om ons sondes te bely, selfs teenoor Jehovah. Wat kan onder sulke omstandighede gebeur? In Psalm 32 het Dawid erken: “Toe ek geswyg het [pleks van te bely], het my gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag; want u hand [Jehovah s’n] was dag en nag swaar op my; my murg het verander soos deur somergloed” (Verse 3, 4). Dit het sondige Dawid uitgemergel om sy sonde te probeer verberg en ’n skuldige gewete te probeer onderdruk. Sielswroeging het sy krag so uitgeput dat hy soos ’n droogtegeteisterde boom sonder lewegewende vog was. Trouens, hy het heel moontlik verstandelik en fisies nadelige gevolge ondervind. In ieder geval, hy het sy vreugde verloor. Wat moet ons doen as enigeen van ons ons in ’n soortgelyke toestand bevind?
8 Belydenis teenoor God kan vergifnis en verligting bring. “My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie”, het Dawid gesing. “Ek het gesê: Ek wil aan die HERE my oortredinge bely; en Ú het die ongeregtigheid van my sonde vergewe” (Psalm 32:5). Word jy deur die een of ander verborge sonde gekwel? Sou dit nie die beste wees om dit te bely en te laat staan sodat God jou barmhartig kan wees nie? Waarom vra jy nie die gemeentelike ouere manne om hulp sodat jy geestelik genees kan word nie? (Spreuke 28:13; Jakobus 5:13-20). Jehovah sal kennis neem van jou berouvolle gees en jy kan dan mettertyd jou Christelike vreugde herwin. “Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is”, het Dawid gesê. “Welgeluksalig is die mens aan wie die HERE die ongeregtigheid nie toereken nie en in wie se gees geen bedrog is nie.”—Psalm 32:1, 2.
9. Wanneer is Psalm 51 gekomponeer, en waarom?
9 Dawid en Batseba was voor Jehovah God aanspreeklik vir hulle oortreding. Hoewel hulle tereggestel kon word vir hulle sondes was God hulle barmhartig. Hy was veral barmhartig teenoor Dawid vanweë die Koninkryksverbond (2 Samuel 7:11-16). Dawid se berou oor sy sondes in verband met Batseba kan in Psalm 51 gesien word. Hierdie hartroerende psalm is deur die berouvolle koning gekomponeer nadat die profeet Natan sy gewete geprikkel het om te besef hoe ernstig sy oortredinge van die Goddelike wet was. Dit het moed van Natan geverg om Dawid se sondes onder sy aandag te bring, soos aangestelde Christen- ouere manne vandag ook moed moet hê om só op te tree. In plaas van die beskuldiging te ontken en te beveel dat Natan tereggestel word, het die koning sy sondes nederig bely (2 Samuel 12:1-14). Psalm 51 toon wat hy in gebed tot God aangaande die onsmaaklike saak gesê het, en hierdie gebed is baie gepas vir biddende bepeinsing, veral as ons gesondig het en na Jehovah se barmhartigheid smag.
Ons is voor God aanspreeklik
10. Hoe kon Dawid geestelik herstel word?
10 Dawid het nie sy sonde probeer verskoon nie, maar het gesmeek: “Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid [“liefderyke goedhartigheid”, NW]; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid” (Psalm 51:3). Deur sy oortreding het Dawid die grense van God se Wet oorskry. Maar daar was hoop dat hy geestelik kon herstel as God hom na Sy liefderyke goedhartigheid, of lojale liefde, genadig sou wees. Die oorvloed van God se barmhartigheid in die verlede het die berouvolle koning ’n grondslag vir geloof gegee dat sy Maker sy oortredinge sou uitdelg.
11. Waarop het die Versoensdagofferandes gedui, en wat is vandag ’n vereiste vir redding?
11 Jehovah het deur middel van die profetiese afskaduwings van die Versoensdagofferandes te kenne gegee dat hy ’n manier het waarop berouvolle mense van hulle sondes gereinig kon word. Ons weet nou dat hy sy barmhartigheid aan ons bewys en ons vergifnis ontvang op grond van ons geloof in die losprysoffer van Jesus Christus. As Dawid, met net tipes en afskaduwings van hierdie offerande in gedagte, op Jehovah se liefderyke goedhartigheid en barmhartigheid kon vertrou, hoeveel te meer behoort God se hedendaagse knegte nie geloof te beoefen in die losprys wat vir hulle redding voorsien is nie!—Romeine 5:8; Hebreërs 10:1.
12. Wat beteken dit om te sondig, en hoe het Dawid oor sy oortreding gevoel?
12 In sy pleidooi tot God het Dawid bygevoeg: “Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde. Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my” (Psalm 51:4, 5). Om te sondig, is om te kort te skiet wat Jehovah se standaarde betref. Dawid het dit beslis gedoen. Tog was hy nie soos ’n moordenaar of ’n owerspeler wat hom nie oor sy oortreding kwel nie, maar wat hom net bekommer oor sy straf of die moontlikheid dat hy ’n siekte kan opdoen. Dawid het as ’n liefhebber van Jehovah die kwaad gehaat (Psalm 97:10). Sy eie sonde het hom gewalg en hy wou hê God moes hom heeltemal daarvan reinig. Dawid was ten volle bewus van sy oortredinge en was opreg jammer dat hy sy sondige begeerte die oorhand oor hom laat kry het. Sy sonde was voortdurend voor hom, aangesien ’n godvresende persoon se skuldige gewete nooit gestil word tot hy berou toon, sy sonde bely en Jehovah se vergifnis ontvang nie.
13. Waarom kon Dawid sê dat hy teen God alleen gesondig het?
13 Dawid het sy aanspreeklikheid teenoor Jehovah erken en gesê: “Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou” (Psalm 51:6). Dawid het God se wette verbreek, die koninklike amp oneer aangedoen en “Jehovah onteenseglik met minagting bejeën” en smaad oor Hom gebring (2 Samuel 12:14, NW; Exodus 20:13, 14, 17). Dawid se sondige dade was ook oortredinge teen die Israelitiese gemeenskap en lede van sy gesin, net soos ’n gedoopte oortreder vandag hartseer of leed in die Christengemeente en onder geliefdes veroorsaak. Hoewel die berouvolle koning geweet het dat hy teen mense soos Uria gesondig het, het hy besef dat hy ’n hoër verantwoordelikheid teenoor Jehovah het. (Vergelyk Genesis 39:7-9.) Dawid het erken dat Jehovah se oordeel regverdig sou wees (Romeine 3:4). Christene wat gesondig het, moet dieselfde beskouing hê.
Versagtende omstandighede
14. Van watter versagtende omstandighede het Dawid melding gemaak?
14 Hoewel Dawid hom nie probeer verontskuldig het nie, het hy wel gesê: “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang” (Psalm 51:7). Dawid is in ongeregtigheid gebore, en sy moeder het geboortepyne gehad as gevolg van oorgeërfde sondigheid (Genesis 3:16; Romeine 5:12). Sy woorde beteken nie dat behoorlike huweliksomgang, bevrugting en geboorte sondig is nie, aangesien God voorsiening gemaak het vir die huwelik en kinders; Dawid het ook nie van enige spesifieke sonde van sy moeder gepraat nie. Hy is in sonde ontvang omdat sy ouers soos alle onvolmaakte mense sondig was.—Job 14:4.
15. Wat moet ons nooit doen nie, hoewel God versagtende omstandighede in aanmerking neem?
15 As ons gesondig het, kan ons in gebed tot God melding maak van enige versagtende omstandighede wat tot ons oortreding kon bygedra het. Maar ons moet nie God se genade as ’n verskoning gebruik vir losbandige gedrag of oorgeërfde sondigheid as ’n rookskerm gebruik waaragter ons kan skuil om aanspreeklikheid vir ons sonde vry te spring nie (Judas 3, 4). Dawid het verantwoordelikheid aanvaar vir die onreine gedagtes wat hy gekoester het en die feit dat hy aan versoeking toegegee het. Laat ons bid dat ons nie in versoeking gelei sal word nie en laat ons dan in ooreenstemming met hierdie gebed optree.—Mattheüs 6:13.
’n Pleidooi om reiniging
16. Aan watter eienskap het God ’n welgevalle, en hoe behoort dit ons optrede te beïnvloed?
16 Op die oog af lyk dit dalk asof mense edel en aan God toegewy is, maar hy kyk onder die oppervlak en sien wat hulle werklik van binne is. Dawid het gesê: “Kyk, U [Jehovah] het ’n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend” (Psalm 51:8). Dawid het bedrieglik en slinks opgetree deur Uria se dood te bewerkstellig en die feite aangaande Batseba se swangerskap te probeer verdoesel. Hy het nietemin geweet dat God welgevalle het aan waarheid en heiligheid. Dit behoort ons gedrag ten goede te beïnvloed, want Jehovah sal ons veroordeel as ons slinks optree (Spreuke 3:32, NW). Dawid het ook besef dat as God aan hom as ’n berouvolle koning ‘wysheid sou bekend maak’, hy vir die res van sy lewe aan Goddelike standaarde sou kon voldoen.
17. Wat was die betekenis van Dawid se bede om met hisop gereinig te word?
17 Aangesien die psalmis besef het dat hy God se hulp nodig het om sondige neigings te oorkom, het hy verder gesmeek: “Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu” (Psalm 51:9). Die hisopplant (moontlik marjoelein, of Origanum maru) is onder andere tydens die reinigingseremonie gebruik vir mense wat voorheen met melaatsheid besmet was (Levitikus 14:2-7). Dit was dus gepas dat Dawid gebid het om met hisop van sy sonde gereinig te word. Die gedagte van reinheid hou ook verband met sy pleidooi dat Jehovah hom moet was sodat hy heeltemal rein kan word, witter as sneeu wat nie vol roet of ander afval is nie (Jesaja 1:18). As enigeen van ons nou gewetenskwellinge oor die een of ander oortreding het, moet ons glo dat as ons God berouvol om vergifnis vra, hy ons op grond van Jesus se losprysoffer kan suiwer en reinig.
Pleidooi om herstel
18. In watter toestand was Dawid voordat hy berou gehad en sy sondes bely het, en hoe kan hierdie kennis ons vandag help?
18 Enige Christen wat al ooit deur ’n skuldige gewete gekwel is, kan Dawid se woorde begryp: “[Jehovah] laat my vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente juig wat U verbrysel het” (Psalm 51:10). Voor Dawid berou gehad en sy sondes bely het, het sy gekwelde gewete hom bitter ongelukkig laat voel. Hy het nie eens genot geput uit liedere van vreugde en blydskap wat goeie sangers en bekwame musikante voorgedra het nie. Sondige Dawid se foltering oor God se veroordeling was so groot dat hy soos iemand was wie se gebeente pynlik verbrysel is. Hy het gesmag na vergifnis, geestelike herstel en die herwinning van die vreugde wat hy voorheen ervaar het. ’n Berouvolle oortreder het vandag ook Jehovah se vergifnis nodig sodat hy die vreugde kan herwin wat hy gehad het voor hy iets gedoen het wat sy verhouding met God in gevaar gestel het. Wanneer ’n berouvolle persoon weer “die vreugde van die heilige gees” ervaar, toon dit dat Jehovah hom vergewe het en hom liefhet (1 Thessalonicense 1:6, NW). Watter vertroosting bied dit tog!
19. Hoe sou Dawid voel as God al sy ongeregtighede uitgedelg het?
19 Dawid het verder gebid: “Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede” (Psalm 51:11). Daar kon nie verwag word dat Jehovah sonde met goedkeuring moes aanskou nie. Hy is gevolglik gevra om sy aangesig van Dawid se sondes te verberg. Die koning het ook gesmeek dat God al sy ongeregtighede uitdelg, al sy foute uitwis. As Jehovah dit tog net sou doen! Dit sou Dawid opbeur, die las van ’n gekwelde gewete verwyder en die nou berouvolle koning verseker dat hy deur sy liefdevolle God vergewe is.
En as jy gesondig het?
20. Wat word aanbeveel vir enige Christen wat ernstig gesondig het?
20 Psalm 51 toon dat enige van Jehovah se toegewyde knegte wat ernstig gesondig het, maar wat berouvol is, Jehovah vol vertroue kan vra om hulle genade te betoon en hulle van hulle sonde te reinig. As jy ’n Christen is wat só gesondig het, kan jy ons hemelse Vader gerus in nederige gebed om vergifnis smeek. Erken dat jy God se hulp nodig het sodat jy weer sy goedkeuring kan geniet, en vra hom dat hy jou vroeëre vreugde herstel. Berouvolle Christene kan met vertroue tot Jehovah in gebed gaan met sulke versoeke, want “Hy vergeef menigvuldiglik” (Jesaja 55:7; Psalm 103:10-14). Gemeentelike ouere manne moet natuurlik om hulp genader word sodat hulle die nodige geestelike bystand kan verleen.—Jakobus 5:13-15.
21. Wat gaan ons vervolgens ondersoek?
21 Jehovah se barmhartigheid red inderdaad sy volk van wanhoop. Maar kom ons ondersoek berouvolle Dawid se ander hartgrondige pleidooie in Psalm 51. Ons studie sal toon dat Jehovah nie ’n gebroke hart verag nie.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Watter uitwerking kan ernstige sonde op ’n kneg van Jehovah hê?
◻ Watter uitwerking het dit op Dawid gehad toe hy sy sonde probeer verberg het?
◻ Waarom het Dawid gesê dat hy teen God alleen gesondig het?
◻ Wat moet ons nooit doen nie, hoewel God versagtende omstandighede in aanmerking neem?
◻ Wat moet ’n Christen doen as hy ernstig gesondig het?