Dankbaar vir Jehovah se onfeilbare ondersteuning
SOOS VERTEL DEUR SHARON GASKINS
PARADYS op aarde! Ek het gesien hoe ek in die graslande baljaar, skoenlappers jaag, met leeuwelpies speel. Dit het so goed geklink! Maar ek het bedenkings gehad. Hoe dikwels het my hoop tog nie in wanhoop geëindig nie!
So ver terug as wat ek kan onthou, is die rystoel my getroue metgesel. Van geboorte af het serebrale gestremdheid my van kindervreugdes ontneem. Ander kinders het op rolskaatse en fietse baljaar, maar ek het alleen gesit, sonder om eers te kon loop. Toe Ma my dus van die een geloofsgeneser na die ander geneem het, het ons opreg op ’n wonderwerk gehoop. Maar keer op keer moes sy my maar net weer daar wegstoot. Dit het my teleurgestel, maar hoe hartseer was dit tog nie vir haar nie!
My ma het na ’n ware hoop gehunker en het gevolglik vroeg in 1964 begin om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer. Ek was toe omtrent ses en ’n half jaar oud.
Dit was wonderlik om te leer dat daar vroeër ’n pragtige paradys op hierdie aarde was. Ongelukkig het die eerste mens, Adam, dit alles versmaai, maar ek het die intieme verhouding begeer wat hy vantevore met God geniet het. Hoe was dit om ’n verhouding met God te kon geniet? Of om te kon leef toe sy eie Seun op die aarde was? My dagdrome het my ook weggevoer na die toekomstige Paradys. Dit was vir my, selfs op daardie jong ouderdom, duidelik dat ons die waarheid gevind het.
My ma het die gesin na die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies begin neem. Hulle vergaderinge was so anders as wat ons in die kerke gesien het! Die mense en die omgewing het my diep ontroer.
Dit was aan die begin vir my ma moeilik om ons by die Koninkryksaal te kry. Buiten my was daar drie jonger kinders, en ons het nie ’n motor gehad nie. Ons het ’n huurmotor gebruik wanneer sy dit kon bekostig. Ek onthou steeds hoe moeilik dit een Sondag vir haar was. Daar was nêrens ’n huurmotor in sig nie. Toe het ’n man skielik en onverwags in sy vragmotor verbygekom en ons ’n geleentheid gegee. Ons was laat vir die vergadering, maar ons het daar gekom. Hoe dankbaar was ons tog nie teenoor Jehovah nie!
Spoedig het ons dierbare, geestelike broers en susters wat motors gehad het ons uit liefde om die beurt opgelaai. My ma se aanmoediging om nooit vergaderinge te mis nie, tensy ons werklik siek was, het in my jong verstand die belangrikheid daarvan ingeprent om ‘ons onderlinge byeenkoms’ nie te versuim nie (Hebreërs 10:24, 25). My ma is deur wat sy geleer het, beweeg om haar lewe aan Jehovah toe te wy en is in 1965 gedoop.
Teen daardie tyd was ek oud genoeg om vergaderinge meer te waardeer. In die Cypress Hills-gemeente in Brooklyn, New York, was daar wit mense, swart mense, Spanjaarde en ander wat sy aan sy aanbid het. Dit het so reg gelyk dat godvresende mense in sulke ware broederskap moes leef.—Psalm 133:1.
My ma het my geleer hoe om vir vergaderinge voor te berei. Dit was nie verstandelik ’n probleem nie, maar fisies wel. Serebrale gestremdheid verander eenvoudige takies in groot projekte. Dit was, en is steeds, vir my onmoontlik om ’n reguit lyn te trek sodat ek antwoorde in ons Bybellektuur kan merk. Maar deur oefening kon ek mettertyd beter onderstreep.
My verstand was vol dinge om te sê. Maar die woorde het op pad uit my mond deurmekaar geraak. Dit was noodsaaklik om te ontspan sodat my spiere nie gespanne sou raak nie. Ek moes my ook daarop toelê om elke woord so duidelik moontlik uit te spreek. Ek het gefrustreerd geraak as die kommentaar nie uitgekom het soos dit moes nie of wanneer ek geweet het dat mense my woorde nie verstaan het nie. Maar toe hulle my eers leer ken het, kon die broers en susters in die gemeente my spraak beter verstaan. Ek het egter steeds goeie en slegte dae met hierdie probleem.
Ses ontstellende maande
Toe ek agt was, het ek ’n ses maande lange ondervinding gehad wat my tot vandag toe raak. Ten spyte van al die fisiese, arbeids- en spraakterapie wat ek reeds ontvang het, het die dokters my na ’n rehabilitasiehospitaal in West Haverstraw, New York, gestuur. Ek en my ma was ontroosbaar. Jare gelede toe dokters my verkeerdelik as verstandelik vertraagd gediagnoseer het, het sy vir hulle gesê dat sy my nooit in ’n gestig sou laat sit nie. Daarom was selfs ’n tydelike skeiding vir haar moeilik. Maar sy het besef dat ek fisies so selfstandig moontlik moet wees as ek onafhanklik van haar en my pa ’n produktiewe lewe gaan lei.
Dit was ’n goeie inrigting, maar ek het gevoel ek is in die steek gelaat. Huilbuie en woedeaanvalle het duidelik getoon hoe ek oor die plek voel. My ouers kon selde die busrit van drie uur aflê om my te besoek, veral omdat Ma swanger was met haar vyfde kind. Wanneer hulle moes vertrek, het dit my so ontstel dat die dokter gesê het hulle my minder gereeld moet besoek. Ek is net twee keer toegelaat om huis toe te gaan.
Terapeute het my geleer hoe om met behulp van stutte sowel as krukke met loodgewigte te loop. Dit het gevoel asof dit ’n ton weeg. Maar die gewig het my gehelp om my balans te behou en het gekeer dat ek omval. Dit was die eerste stap wat daartoe sou lei dat ek self, sonder stutte, kan loop.
Die opsny van kos, vasmaak van knope—enige taak waarvoor ’n mens jou vingers moet gebruik—was vir my moeilik, indien nie onmoontlik nie. Maar ek het in ’n mate geleer hoe om self te eet en aan te trek. Dit het my later in my diens aan God gehelp.
Nadat my opleiding verby was, is ek weer terug huis toe. Ma het my toe werk gegee waarin ek my nuwe vaardighede moes gebruik. Dit was vir my ’n emosionele stryd, want hoewel ek dinge vir myself wou doen, was dit frustrerend, tydrowend en uitputtend om dit uit te voer. Trouens, dit was ’n projek van twee uur om my vir die vergaderinge aan te trek!
Toe ons reg oorkant die Koninkryksaal gaan bly het, het ek op my eie soontoe geloop. Dit was ’n groot oorwinning!
Die gelukkigste dag van my lewe
My ma het gesorg dat die gesin ’n gebalanseerde geestelike dieet volg. Sy het met my studeer en van my verwag om elke nommer van ons tydskrifte, Die Wagtoring en die Ontwaak!, te lees. Daar was vergaderinge waarvoor ons moes voorberei en wat ons moes bywoon. Hoewel my verstand en hart hierdie kennis ywerig ingeneem het, was ernstige gedagtes oor die toewyding van my lewe aan Jehovah en die simbolisering daarvan deur waterdoop op die agtergrond. Ma het my help besef dat God my ten spyte van my gebrek geestelik verantwoordelik hou vir myself. Ek kon nie verwag om die nuwe wêreld op haar meriete binne te gaan nie, om aan haar rokbande vas daarin te ry nie.
Ek was lief vir God, maar my toestand het my anders as ander gemaak—wat vir ’n tiener pynlik is om te aanvaar. Dit was moeilik om my beperkings te aanvaar. Ek is dikwels deur woede oorval, en dit moes onder beheer gebring word voordat ek gedoop kon word (Galasiërs 5:19, 20). En sê nou ek kon nie voldoen aan my toewyding aan Jehovah nie?
Op my ma se versoek het ’n gemeentelike ouere man met my gepraat. Hy het die profeet Elia se vraag aan die Israeliete aangehaal: “Hoe lank hink julle op twee gedagtes?” (1 Konings 18:21). Dit was duidelik dat Jehovah nie tevrede was met my besluiteloosheid nie.
Ek het geestelik wakker geskrik en opreg gebid om Jehovah se hulp en om die vasbeslotenheid sodat ek my lewe aan hom kan toewy. ’n Suster in die gemeente het met my studeer. Sy was jonger as ek en het haar ma op ’n jong ouderdom verloor. Maar sy het haar ten spyte daarvan aan God toegewy terwyl sy nog taamlik jonk was.
Ek het op 17-jarige ouderdom tot ’n besluit gekom. Ek wou Jehovah na my beste vermoë dien. Die 9de Augustus 1974—toe ek gedoop is—was die vreugdevolste dag in my lewe.
Vreugde in die bediening
Deelname aan die bediening het ’n paar bergagtige struikelblokke ingehou. Die grootste uitdaging was om my verstaanbaar te maak. Ek het so duidelik moontlik gepraat. Dan, wanneer dit ook al nodig was, het my metgesel in die veldbediening my opmerkings aan die huisbewoner herhaal. Party het negatief gereageer en my beskou as ’n slagoffer van uitbuiting deur die Getuies. Maar die predikingswerk is my reg en my hartgrondige begeerte.
As ek selfs net in een blok van deur tot deur loop, kan dit my uitput. Baie huise in ons predikingsgebied het trappe, met die gevolg dat ek nie daar kan uitkom nie. In die winter veroorsaak ys op straat dat die huis-tot-huis-werk vir my amper onmoontlik is (Handelinge 20:20). Geestelike broers het egter geweldig baie gehelp, en Jehovah het my nou met ’n gemotoriseerde rystoel geseën, wat die bediening soveel vergemaklik.
Ek het mettertyd deur middel van briewe begin preek. Dit sou nie help as ek briewe met die hand skryf nie omdat my skrif vir die meeste mense onleesbaar is. Die elektriese tikmasjien het dus my skrywer geword. Ek tik baie stadig weens my slegte handkoördinasie. Ek mik die helfte van die tyd vir die een letter, maar dan slaan ek ’n ander letter raak. Dit kan ’n uur of langer duur om net een bladsy te tik.
Ek dien, ten spyte van ’n gebrek aan stamina, van tyd tot tyd as ’n hulppionier en bestee dan 60 of meer uur per maand aan die bediening. Dit vereis ’n goeie rooster, ekstra inspanning en die ondersteuning van medegelowiges. Hulle pioniergees bemoedig my. Ma het ook ’n goeie voorbeeld gestel deur as ’n gewone of ’n hulppionier te dien terwyl sy beproewinge, swak gesondheid en die uitdaging om sewe kinders groot te maak in ’n huis wat godsdienstig verdeeld is, moes verduur.
Op my eie
Ek het op 24-jarige ouderdom besluit om op my eie te gaan bly. My verhuising na die Bensonhurst-deel van Brooklyn was ’n seën. Die Marlboro-gemeente was soos ’n hegte gesin. Hoe geloofversterkend was dit tog nie om by hulle te wees nie! Hoewel daar net twee of drie motors in die gemeente beskikbaar was, het my geestelike broers my na al die vergaderinge geneem. Maar ek het nie lank daar gewoon nie.
Ek het soos ’n volslae mislukking gevoel en het teruggekeer na my gesin, waarna ek drie jaar lank aan ernstige depressie gely het. Die woedeaanvalle het teruggekeer. Toe het ek selfmoordgedagtes gekry en verskeie kere probeer om dit uit te voer. Die dood het soos ’n donker wolk opgedoem. Maar ek het sterk op God geleun en beloof om waardering vir sy gawe van die lewe te toon. Die ouere manne het bemoediging en raad verskaf. Dít, asook gebed, persoonlike studie, geduld aan die kant van my gesin en ’n bietjie professionele hulp, het my denkwyse reggeruk.
Jehovah het deur Die Wagtoring op tere wyse insig in ernstige depressie verskaf. Ja, hy gee om vir sy volk en verstaan ons gevoelens (1 Petrus 5:6, 7). Die ernstige depressie het mettertyd afgeneem. Tien jaar later help Jehovah my steeds om frustrasie en depressie die hoof te bied. Partykeer oorweldig gevoelens van nutteloosheid my amper. Gebed, Bybelstudie en my geestelike familie is nietemin wonderlike oorlewingsmiddele.
Ná ’n vrugtelose soektog na ’n ander woonstel het ek onwillig besluit om die res van my lewe by my gesin te woon. Toe het Jehovah my gebede beantwoord. ’n Plek het in die Bedford-Stuyvesant-deel van Brooklyn beskikbaar gekom. Teen die einde van die somer van 1984 het ek ingetrek, en ek woon steeds daar.
Lede van die baie liefdevolle Lafayette-gemeente het my na die vergaderinge geneem. Die eerste Gemeentelike Boekstudie wat ek bygewoon het, is nog vars in my geheue. Dit is op die derde verdieping gehou—en daar was geen hysbak nie! Ek het slegs met Jehovah se hulp by daardie trappe op en af gekom. Ek is mettertyd na ’n toegankliker vergaderplek aangewys. En nou het Jehovah my geseën met die voorreg om ’n Gemeentelike Boekstudie in my huis te hê.
’n Wonderlike pioniergees heers in hierdie gemeente. Toe ek daar gekom het, was daar ongeveer 30 pioniers en ’n paar het spesiale sorg en aandag aan my gegee. Die ywerige gees het my aangespoor om meer dikwels as ’n hulppionier te dien.
In April 1989 het die Lafayette- en die Pratt-gemeente ’n nuwe Koninkryksaal in dieselfde straat as my woonstel gebou. Dit was ook net betyds, want weens verdere fisiese agteruitgang het dit weer eens vir my moeilik geword om te loop. Maar met my bromponie en met geestelike broers en susters aan my sy is die reis na die vergaderinge en terug ’n genot. Hoe diep waardeer ek tog nie sulke liefdevolle hulp nie!
Dankbaar vir God se ondersteuning
Hoewel my bene wankel, is my hart standvastig. ’n Goeie opleiding het die lewe ’n bietjie vergemaklik, maar dit is God wat my krag gee. Ek het partykeer nie geweet waarvandaan die volgende ete sou kom nie, maar Jehovah het my ondersteun en was nog altyd ’n getroue Voorsiener. Dawid se woorde is vir my baie kosbaar: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.”—Psalm 37:23-25.
Jehovah het my verskeie kere gehelp om ’n skriftuurlike standpunt in te neem deur bloed gedurende ’n operasie te weier (Handelinge 15:28, 29). My pa is onlangs oorlede. Dit het my baie ontstel om iemand so na aan my te verloor. Dit is net krag van Jehovah af wat my deur hierdie en ander beproewinge gedra het.
My gesondheid gaan dalk agteruit, maar my vertroue in God en my verhouding met hom is my behoud. Hoe gelukkig is ek tog nie om onder Jehovah se volk te wees en sy onfeilbare ondersteuning te hê nie!