Die skepping sê: ‘Hulle het geen verontskuldiging nie’
“Sy onsigbare dinge [“eienskappe”, NW] kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.”—ROMEINE 1:20.
1, 2. (a) Hoe het Job bitterlik by Jehovah gekla? (b) Watter herroeping het Job later gemaak?
JOB, ’n man van die ou tyd wat onverbreeklik in sy onkreukbaarheid teenoor Jehovah God was, is deur Satan aan ’n verskriklike toets onderwerp. Die Duiwel het veroorsaak dat Job al sy materiële besittings verloor, hy het die dood van sy seuns en dogters veroorsaak en hom met ’n weersinwekkende siekte getref. Job het gedink dat God hierdie ellendes oor hom bring, en hy het bitterlik by Jehovah gekla: “Is dit voordeel vir U dat U verdruk . . . dat U soek na my ongeregtigheid en vra na my sonde, ofskoon U weet dat ek nie skuldig is nie?”—Job 1:12-19; 2:5-8; 10:3, 6, 7.
2 ’n Hele ruk later het Job se woorde aan God ’n totale ommekeer weerspieël: “So het ek dan gespreek sonder om te verstaan, dinge te wonderbaar vir my, wat ek nie begryp nie. Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien. Daarom herroep ek en het berou in stof en as” (Job 42:3, 5, 6). Wat het gebeur dat Job sy gesindheid verander het?
3. In watter nuwe lig het Job die skepping beskou?
3 Jehovah het Job intussen uit ’n stormwind aangespreek (Job 38:1, NAV). Hy het Job die een vraag ná die ander gevra. ‘Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Wie het die see met deure afgesluit en grense vir die golwe gestel? Kan jy die wolke hulle reën op die aarde laat uitstort? Kan jy die gras laat groei? Kan jy die sterrebeelde saambind en hulle in hulle bane rig?’ Van hoofstuk 38 tot 41 van die boek Job het Jehovah hierdie vrae en baie meer oor Sy skepping vir Job gevra. Hy het Job laat besef watter ontsaglike kloof daar tussen God en die mens is en Job op kragdadige wyse herinner aan die wysheid en krag wat weerspieël word in God se skeppingswerke, dinge wat ver bo Job se vermoë was om te verrig of selfs te verstaan. Job, wat oorweldig is deur die ontsagwekkende krag en ongelooflike wysheid van die almagtige God, soos dit deur Sy skeppingswerke geopenbaar is, was ontsteld om te dink dat hy die vermetelheid gehad het om met Jehovah te argumenteer. Daarom het hy gesê: “Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien.”—Job 42:5.
4. Wat moet ons uit Jehovah se skeppingswerke sien, en wat is die situasie met diegene wat dit nie sien nie?
4 Baie eeue later het ’n geïnspireerde Bybelskrywer bevestig dat Jehovah se eienskappe deur sy skeppingswerke gesien kan word. Die apostel Paulus het in Romeine 1:19, 20 geskryf: “Wat van God geken kan word, [is] in hulle openbaar . . . want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge [“eienskappe”, NW] kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.”
5. (a) Watter inherente behoefte het mense, en hoe voorsien sommige verkeerdelik daarin? (b) Wat het Paulus die Grieke in Athene aangemoedig om te doen?
5 Die mens is geskep met ’n inherente behoefte om ’n hoër mag te aanbid. Dr. C. G. Jung het in sy boek The Undiscovered Self na hierdie behoefte verwys as “’n instinktiewe gesindheid wat eie aan die mens is, en die vorme daarvan kan deur die mens se hele geskiedenis heen nagespeur word”. Die apostel Paulus het gepraat van die mens se inherente drang om te aanbid, wat verduidelik het waarom die Grieke in Athene beelde van en altare vir baie gode, bekend en onbekend, gemaak het. Paulus het ook die ware God aan hulle bekend gemaak en vir hulle gewys dat hulle hierdie inherente drang op die regte manier moet bevredig deur Jehovah, die ware God, te soek “of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie” (Handelinge 17:22-30). Hoe nader ons aan sy skeppingswerke is, hoe duideliker sien ons sy eienskappe en hoedanighede.
Die verstommende waterkringloop
6. Watter eienskappe van Jehovah sien ons in die waterkringloop?
6 Watter eienskappe van Jehovah sien ons byvoorbeeld in die vermoë wat donsige wolke het om tonne water te hou? Ons sien sy liefde en wysheid, want hy voorsien sodoende reënbuie tot seën van die aarde. Hy doen dit deur middel van die wonderlik ontwerpte waterkringloop wat in Prediker 1:7 genoem word: “Alle winterstrome gaan uit na die see; tog word die see self nie vol nie. Na die plek waarvandaan die winterstrome uitgaan, daarheen keer hulle terug om uit te gaan” (NW). Die Bybelboek Job vertel presies hoe dit gebeur.
7. Hoe kom die water uit die oseane in die wolke, en hoe kan donsige wolke tonne water hou?
7 Wanneer die winterstrome na die see vloei, bly hulle nie daar nie. Jehovah “trek waterdruppels uit die see en distilleer reën van die mis wat hy gemaak het”. Omdat die water in die vorm van waterdamp en op die lange duur ’n fyn mis is, “sweef die wolke bo in die lug, ’n wonderlike werk van sy volmaakte vaardigheid” (Job 36:27; 37:16; The New English Bible). Die wolke sweef so lank hulle mis is: “Hy bind die waters in sy wolke toe—die mis skeur nie onder hulle gewig nie.” Of soos ’n ander vertaling sê: “Hy hou die waters in digte wolkmassas opgesluit, en die wolke skeur nie oop onder hulle gewig nie.”—Job 26:8, The Jerusalem Bible; NE.
8. Deur watter verskillende stappe word “die waterkruike van die hemel” omgekeer en die waterkringloop voltooi?
8 ‘Wie kan hierdie waterkruike van die hemel omkeer’ sodat reën op die aarde val? (Job 38:37, NAV). Die Een wie se “volmaakte vaardigheid” hulle in die eerste plek daar gestel het, wat ‘reën distilleer van die mis wat hy gemaak het’. En wat is nodig om reëndruppels van die mis te distilleer? Daar moet mikroskopiese vaste stowwe wees, soos stof- of soutdeeltjies—van duisende tot honderdduisende van hulle in elke kubieke sentimeter lug—om as ’n kern te dien waarom druppeltjies kan vorm. Daar word geskat dat ’n miljoen van hierdie klein wolkdruppeltjies nodig is om ’n gemiddelde reëndruppel te vorm. Eers ná al hierdie dinge plaasgevind het, kan die wolke hulle stortreën op die aarde laat val om die strome te vorm wat die water na die see terugvoer. Só word die waterkringloop voltooi. En dit alles deur blote toeval? Onmoontlik!
Een bron van Salomo se wysheid
9. Wat het Salomo merkwaardig gevind omtrent een mierspesie?
9 In die antieke wêreld was Salomo se wysheid ongeëwenaar. Die meeste van daardie wysheid het betrekking gehad op Jehovah se skepping: “[Salomo] het oor die bome gespreek, van die seder op die Libanon tot die hisop wat teen die muur uitspruit; ook het hy gespreek oor die vee en oor die voëls en oor die kruipende diere en oor die visse” (1 Konings 4:33). Dit was hierdie selfde koning Salomo wat geskryf het: “Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë en word wys! Hy wat geen aanvoerder, opsigter of heerser het nie, maak sy brood klaar in die somer, bêre sy voedsel weg in die oestyd.”—Spreuke 6:6-8.
10. Hoe is Salomo se illustrasie van die oesmiere bevestig?
10 Wie het die miere geleer om voedsel in die somer te versamel sodat hulle genoeg vir die koue winter sou hê? Eeue lank is die akkuraatheid bevraagteken van Salomo se beskrywing van hierdie miere wat saad oes en dit vir hulle gebruik in die winter bêre. Niemand het enige bewys van hulle bestaan gevind nie. Maar in 1871 het ’n Britse natuurkundige hulle ondergrondse voorraadskure ontdek, en die Bybel se akkurate verslag oor hulle is geregverdig. Maar waar het hierdie miere die versiendheid gekry om in die somer te weet dat die winter se koue voorlê en die wysheid gekry om te weet wat hulle daaromtrent moet doen? Die Bybel self verduidelik dat baie van Jehovah se skeppingswerke ’n wysheid het wat vir hulle oorlewing in hulle geprogrammeer is. Die oesmier is ’n skeppingswerk wat hierdie seëning van sy Skepper ontvang het. Spreuke 30:24 praat daarvan: “Hulle is instinktief wys” (NW). Om te sê dat sulke wysheid per toeval tot stand gekom het, is onredelik; om nie ’n wyse Skepper daaragter te sien nie, kan nie verontskuldig word nie.
11. (a) Waarom is die reusesequoiaboom so ontsagwekkend? (b) Wat is so verbasend omtrent die eerste reaksie in fotosintese?
11 Iemand wat aan die voet van ’n reusesequoiaboom staan, is verstom oor sy ontsaglike grootheid en voel met reg soos ’n miertjie. Die boom se grootte is ontsagwekkend: 90 meter hoog, 11 meter in deursnee, die bas 0,6 meter dik en wortels wat oor 1,2 tot 1,6 hektaar strek. Maar nog ontsagwekkender is die chemie en fisika wat by sy groeiproses betrokke is. Die boom se blare neem water uit die wortels, koolstofdioksied uit die lug en energie van die son om suikers te vervaardig en suurstof af te gee—’n proses wat fotosintese genoem word en waarby sowat 70 chemiese reaksies betrokke is, waarvan nie almal verstaan word nie. Verbasend genoeg hang die eerste reaksie af van sonlig wat net die regte kleur en die regte golflengte moet hê; anders kan dit nie deur die chlorofilmolekules geabsorbeer word om die proses van fotosintese aan die gang te sit nie.
12. (a) Wat is merkwaardig omtrent die sequoiaboom se gebruik van water? (b) Waarom is stikstof nodig vir plante om te groei, en hoe word hierdie kringloop voltooi?
12 Nog iets verstommends is die feit dat die boom kolomme water uit die wortels na die top van hierdie 90 meter hoë kolos kan optrek. Baie meer water word opgetrek as wat vir fotosintese nodig is. Die blare laat oortollige water in die lug verdamp. Só word die boom deur water afgekoel, amper soos ons deur perspirasie afgekoel word. Stikstof moet by die suikers, of koolhidrate, gevoeg word om proteïen vir groei te vorm. Die blaar kan nie stikstof uit die lug neem nie, maar grondorganismes kan wel die stikstof in die grond in wateroplosbare nitrate en nitriete verander, wat dan van die wortels af na die blare beweeg. Wanneer plante en diere wat hierdie stikstof in hulle proteïene gebruik het, doodgaan en ontbind, word die stikstof vrygestel en die stikstofkringloop word voltooi. Dit is verstommend hoe ingewikkeld al hierdie prosesse is en is nouliks iets wat per toeval kon gebeur het.
Hulle spreek sonder spraak of woorde of stem!
13. Wat het die sterbesaaide hemele Dawid vertel, en wat sê hulle steeds vir ons?
13 Hoe ontsagwekkend word die Skepper tog weerspieël in ’n sterbesaaide naghemel wat kykers met eerbied vul! In Psalm 8:4, 5 het Dawid gepraat van die ontsag wat dit by hom ingeboesem het: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het—wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?” Hierdie sterbesaaide hemele spreek tot diegene wat oë het om te sien, ore om te hoor en ’n hart om te voel, soos hulle tot Dawid gespreek het: “Die hemele vertel die eer van God.”—Psalm 19:1-4.
14. Waarom is die dinamiese energie van een van die sterre vir ons so lewensbelangrik?
14 Hoe meer ons oor die sterre uitvind, hoe harder spreek hulle tot ons. In Jesaja 40:26 word ons genooi om op hulle ontsaglike energie te let: “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte [“oorvloed van dinamiese energie”, NW] en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie.” Dit is die swaartekrag en die dinamiese energie van een van daardie sterre, ons son, wat die aarde in sy baan hou, plante laat groei, ons warm hou en alle lewe hier op die aarde moontlik maak. Die apostel Paulus het onder inspirasie gesê: “Die een ster verskil in heerlikheid van die ander ster” (1 Korinthiërs 15:41). Die wetenskap weet van geelsterre soos ons son, ook van blousterre, rooireuse, witdwerge, neutronsterre en ontploffende supernovas wat onbegryplike krag vrystel.
15. Wat het baie uitvinders uit die skepping geleer en probeer naboots?
15 Baie uitvinders het uit die skepping geleer en die vermoëns van lewende wesens probeer naboots (Job 12:7-10). Let op net ’n paar buitengewone aspekte van die skepping. Seevoëls met kliere wat seewater ontsout; visse en palings wat elektrisiteit opwek; visse, wurms en insekte wat koue lig afgee; vlermuise en dolfyne wat sonar gebruik; wespe wat papier maak; miere wat brûe bou; bewers wat damme bou; slange wat ingeboude termometers het; insekte in damme wat snorkels en duikerklokke gebruik; seekatte wat straalaandrywing gebruik; spinnekoppe wat sewe soorte spinnerakke maak, asook valdeure, nette en lasso’s, en kleintjies het wat ballonreisigers is en duisende kilometers op groot hoogtes aflê; visse en skaaldiere wat flottasietenks soos duikbote gebruik en voëls, insekte, seeskilpaaie, visse en soogdiere wat verstommende migrasiewondere verrig—vermoëns wat nie deur die wetenskap verduidelik kan word nie.
16. Watter wetenskaplike waarhede is in die Bybel opgeteken duisende jare vóór die wetenskap dit ontdek het?
16 Wetenskaplike waarhede is in die Bybel opgeteken duisende jare vóór die wetenskap daarvan geweet het. Die Mosaïese Wet (16de eeu v.G.J.) het duisende jare voor Pasteur die mens reeds van siektekieme bewus gemaak (Levitikus, hoofstukke 13, 14). Job het in die 17de eeu v.G.J. gesê: “Hy wat . . . die aarde ophang oor ’n niks” (Job 26:7). Duisend jaar voor Christus het Salomo oor die sirkulasie van bloed geskryf; die mediese wetenskap moes tot die 17de eeu wag voordat hulle dit vasgestel het (Prediker 12:6). Voor daardie tyd het Psalm 139:16 kennis van die genetiese kode weerspieël: “U oë het my ongevormde klomp [“embrio”, NW] gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.” In die 7de eeu v.G.J., voor natuurkundiges migrasie verstaan het, het Jeremia geskryf, soos in Jeremia 8:7 opgeteken is: “Die ooievaar in die lug ken die tyd om te migreer, die duif en die swaeltjie en die draaihals ken die seisoen van terugkeer.”—NE.
Die “skepper” wat evolusioniste kies
17. (a) Wat sê Romeine 1:21-23 oor party wat weier om ’n intelligente Skepper agter geskape wonders te sien? (b) Wat kies evolusioniste in werklikheid as hulle “skepper”?
17 Een teks sê aangaande diegene wat weier om ’n intelligente Skepper agter die geskape wonders te sien: “Hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ’n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere.” Hulle “wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper” (Romeine 1:21-23, 25). Dit is dieselfde met evolusiewetenskaplikes wat in werklikheid ’n denkbeeldige, progressiewe ketting van protosoë-wurms-visse-amfibieë-reptiele-soogdiere-“aapmense” as hulle “skepper” verheerlik. Hulle weet egter dat daar geen waarlik eenvoudige, eensellige organisme is om die ketting te begin nie. Die eenvoudigste organisme wat aan die mens bekend is, bevat honderdmiljard atome, met duisende chemiese reaksies wat gelyktydig binne-in die organisme plaasvind.
18, 19. (a) Aan wie moet die erkenning vir die oorsprong van lewe tereg gegee word? (b) Hoeveel van Jehovah se skepping kan ons sien?
18 Jehovah God is die Skepper van lewe (Psalm 36:9). Hy is die groot Eerste Oorsaak. Sy naam, Jehovah, beteken “Hy laat word”. Ons kan nie sy skeppingswerke tel nie. Daar is beslis miljoene meer as waarvan die mens bewus is. Psalm 104:24, 25 sinspeel hierop: “Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak.” Job 26:14 sê baie duidelik: “Kyk, dit is maar die uitlopers van sy weë, en wat ’n fluisterwoord hoor ons maar van Hom! Wie sou dan die donder van sy magtige dade verstaan?” Ons sien ’n paar uitlopers, ons hoor ’n paar fluisterwoorde, maar die volle betekenis van sy magtige dade gaan ons verstand te bowe.
19 Maar ons het ’n beter bron as sy fisiese skeppingswerke waardeur ons hom kan sien. Daardie beter bron is sy Woord, die Bybel. Ons vestig nou in die volgende artikel ons aandag op daardie bron.
Onthou jy?
◻ Wat het Job geleer toe Jehovah uit ’n stormwind met hom gepraat het?
◻ Waarom het Paulus gesê dat party mense geen verontskuldiging het nie?
◻ Hoe werk die waterkringloop?
◻ Watter belangrike dinge doen sonlig vir ons?
◻ Watter wetenskaplike waarhede het die Bybel bekend gemaak voordat die wetenskap dit ontdek het?