Kommunikasie—nie net praatjies nie
STEL jou ’n groep toeriste voor wat na ’n skilderagtige landskap kyk. Hoewel die hele groep dieselfde toneel aanskou, sien elkeen dit op ’n ander manier. Waarom? Omdat elke persoon dit uit ’n ander hoek sien. Twee mense kan nie op presies dieselfde plek staan nie. Boonop kyk nie almal na dieselfde deel van die toneel nie. Elkeen vind ’n ander aspek wat hom veral boei.
Dieselfde geld in ’n huwelik. Al pas huweliksmaats baie goed bymekaar, is daar nie twee wat presies dieselfde beskouing van sake het nie. ’n Man en vrou verskil wat faktore soos hulle emosionele samestelling, ondervindinge as kind en die invloed van hulle gesin betref. Die verskillende perspektiewe wat dit tot gevolg het, kan ’n bron van bittere twis wees. Die apostel Paulus het onomwonde gesê: “Diegene wat trou, sal pyn en hartseer ervaar.”—1 Korinthiërs 7:28, The New English Bible.
Kommunikasie sluit die inspanning in wat nodig is om hierdie verskille in ’n eenvlees-verhouding te laat saamsmelt. Dit vereis dat tyd opsygesit word om te gesels. (Sien venster op bladsy 7.) Maar dit behels veel meer.
Toon insig
’n Bybelspreuk sê: “Die hart van die wyse laat sy mond van insig getuig en aan sy lippe voeg hy oorredingskrag toe” (Spreuke 16:23, NW). Die Hebreeuse woord wat hier vertaal word met ‘laat van insig getuig’, beteken om verstandig te wees, om sake versigtig in jou gedagtes te oorweeg. Daarom is die fokus van doeltreffende kommunikasie die hart en nie die mond nie. ’n Goeie kommunikeerder moet meer as ’n prater wees; hy moet met empatie luister (Jakobus 1:19). Hy moet die onderliggende gevoelens en kwellinge raaksien wat deur sy huweliksmaat se gedrag geopenbaar word.—Spreuke 20:5.
Hoe? Dit kan soms gedoen word deur die omstandighede van ’n geskil in ag te neem. Is jou huweliksmaat onder geweldige emosionele of fisiese spanning? Dra ’n siekte tot jou maat se gemoedstoestand by? “Wat is beter as die regte woord op die regte tyd?” sê die Bybel (Spreuke 15:23, NAV). As jy dus die omstandighede in ag neem, sal dit jou help om dienooreenkomstig op te tree.—Spreuke 25:11.
Die oorsaak van ’n geskil is egter dikwels in sake buite die huidige omstandighede gewortel.
Verstaan die verlede
Ondervindinge uit ons kinderdae vorm in ’n groot mate ons denkwyse as volwassenes. Aangesien huweliksmaats uit verskillende gesinne kom, is teenstrydige sienings onvermydelik.
’n Gebeurtenis in die Bybel lig dit toe. Toe die verbondsark na Jerusalem teruggebring is, het Dawid in die openbaar aan sy opgewondenheid uiting gegee. Maar wat van sy vrou Migal? Die Bybel vertel: “[Toe] kyk Migal, die dogter van Saul, juis deur die venster en sien koning Dawid huppel en dans voor die aangesig van die HERE; en sy het hom in haar hart verag.”—2 Samuel 6:14-16.
Migal het die ongelowige gesindheid van haar onregverdige vader, Saul, geopenbaar. Bybelkommentators C. F. Keil en F. Delitzsch meen dat dít die rede is waarom daar in vers 16 na Migal verwys word as “die dogter van Saul” pleks van Dawid se vrou. Hoe dit ook al sy, die rusie wat daarop gevolg het, toon duidelik dat Dawid en Migal nie dieselfde beskouing van hierdie vreugdevolle gebeurtenis gehad het nie.—2 Samuel 6:20-23.
Hierdie voorbeeld toon dat die subtiele invloede van ’n mens se opvoeding kan veroorsaak dat ’n man en sy vrou ’n heeltemal verskillende siening van sake het. Dit is die geval al is albei verenig in hulle diens aan Jehovah. ’n Vrou wat byvoorbeeld as kind nie genoeg emosionele ondersteuning ontvang het nie, sal moontlik ’n buitengewone behoefte aan goedkeuring en gerusstelling openbaar. Dit kan haar man verwar. “Ek kan haar honderd maal vertel dat ek haar liefhet”, sê hy dalk, “en dit sal steeds nie genoeg wees nie!”
In hierdie geval behels kommunikasie dat ‘elkeen nie net aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander’ (Filippense 2:4, NAV). Om te kommunikeer, moet ’n man sy vrou eerder vanuit die oogpunt van haar verlede beskou, as vanuit sy eie oogpunt. En ’n vrou moet natuurlik beweeg word om dieselfde vir haar man te doen.—1 Korinthiërs 10:24.
As jou huweliksmaat in die verlede mishandel was
Persoonlike besorgdheid is veral belangrik indien ’n huweliksmaat as kind verkrag of seksueel gemolesteer is—en ongelukkig is dit vandag ’n toenemende probleem. ’n Vrou kan byvoorbeeld vind dat sy ten tye van geslagsomgang nie die hede van die verlede, haar huweliksmaat van die molesteerder of geslagsgemeenskap van seksuele molestering kan skei nie. Dit kan frustrerend wees, veral as die man nie hierdie netelige saak vanuit sy vrou se oogpunt beskou nie.—1 Petrus 3:8.
Hoewel jy nie die verlede ongedaan kan maak of die gevolge heeltemal kan uitwis nie, kan jy baie doen om jou ontstelde huweliksmaat te vertroos (Spreuke 20:5). Hoe? “Julle manne moet probeer om die vrou saam met wie julle leef te verstaan”, het Petrus geskryf (1 Petrus 3:7, Phillips). Om jou huweliksmaat se verlede te verstaan, is ’n noodsaaklike deel van kommunikasie. Sonder empatie en medelye sal jou woorde nutteloos wees.
Jesus het ‘jammer gevoel’ vir die siekes wat hy teëgekom het, hoewel hy nooit self siek was nie (Mattheüs 14:14). Jy het dalk eweneens nie dieselfde verwaarlosing of mishandeling as jou vrou ondervind nie, maar pleks dat jy haar pyn geringag, moet jy haar verlede in ag neem en haar jou ondersteuning gee (Spreuke 18:13). Paulus het geskryf: “Op ons wat sterk is, rus die verpligting om die swakhede te dra van die wat nie sterk is nie, en nie onsself te behaag nie.”—Romeine 15:1.
Vasgevang in gegriefdheid
’n Huwelik is soos ’n kosbare vaas. Wanneer dit deur owerspel beskadig word, word onberekenbare skade aangerig (Spreuke 6:32). As die onskuldige huweliksmaat besluit om te vergewe, kan die stukke weliswaar deur versoening aanmekaargeheg word. Maar die krake bly daar, en gedurende ’n argument kan ’n huweliksmaat dalk geneig wees om na daardie krake te kyk en die verlede as ’n wapen te gebruik.
Gegriefdheid is ’n normale reaksie op ’n huweliksmaat se ontrouheid. Maar as jy jou huweliksmaat vergewe het, moet jy daarteen waak dat voortdurende gegriefdheid die goeie gevolge van jou vergifnis ongedaan maak. Voortdurende gegriefdheid benadeel albei huweliksmaats óf dit nou innerlik in stilte kook óf genadeloos losgelaat word. Waarom? Een dokter het aan die hand gedoen: “As jou huweliksmaat jou seergemaak laat voel, beteken dit dat jy nog steeds vir hom omgee. As jy jou onttrek of vergelding soek, maak jy dus nie net jou maat seer nie, maar jy vernietig ook jouself. Jy breek die verhouding wat jy wens ongeskonde was, verder af.”
Ja, jy kan eenvoudig nie geskille in jou huwelik skik sonder om jou woede te stil nie. Bespreek dus jou gevoelens met jou huweliksmaat wanneer julle emosies nie hoog loop nie. Verduidelik waarom jy seergemaak voel, wat nodig is om jou weer gerus te stel en wat jy sal doen om die verhouding in stand te hou. Moet nooit die verlede bloot as ’n wapen gebruik om die oorhand in ’n argument te kry nie.
Verslawing skaad kommunikasie
’n Huwelik word aan geweldige spanning onderwerp as ’n huweliksmaat alkohol of dwelms misbruik. Die maat wat nie verslaaf is nie, is dalk in ’n soortgelyke situasie as dié van Abigail, wat in die Bybel opgeteken is. Hoewel haar man Nabal “baie dronk” was, het Abigail alles in haar vermoë probeer om die gevolge van sy onverstandige optrede ongedaan te maak (1 Samuel 25:18-31, 36). Huwelike waarin die een huweliksmaat deur verslawing geteister word en die ander een vasgevang is in pogings om die verslaafde se gedrag te verander, kom dikwels met Nabal en Abigail se huishouding ooreen.a
Dit is natuurlik ’n groot verligting as ’n verslaafde begin herstel. Maar dit is slegs die begin. Stel jou ’n hewige orkaan voor wat in ’n dorpie verwoesting saai. Huise stort inmekaar, bome word ontwortel en telefoondrade val op die grond. Daar is groot vreugde wanneer die storm verby is. Maar nou moet grootskaalse herstelwerk gedoen word. Dieselfde geld wanneer ’n huweliksmaat begin herstel. Gespanne verhoudings moet weer reggestel word. Vertroue en integriteit moet weer opgebou word. Kommunikasie moet herstel word. Hierdie geleidelike herbouing is vir ’n verslaafde wat herstel ’n deel van “die nuwe persoonlikheid” wat die Bybel sê Christene moet aankweek. Hierdie nuwe persoonlikheid moet “die krag wat jou denke aandryf”, insluit.—Efesiërs 4:22-24, NW.
’n Bybelstudie het Leonard en Elaine gehelp om nie meer dwelms te misbruik nie, maar die krag wat hulle denke aandryf, het nog nie hulle lewe ten volle beïnvloed nie.b Kort voor lank het dit aan die lig gekom dat hulle ook aan ander dinge verslaaf is. “Twintig jaar lank het ons probeer om Bybelbeginsels toe te pas en ’n gelukkige huwelik te hê, maar dit was altyd buite ons bereik”, sê Elaine. “Die dinge waaraan ons verslaaf was, was diep gewortel. Studie en gebede het ons nie gehelp om dit te bowe te kom nie.”
Leonard en Elaine het raad gaan vra om die oorsaak van hulle verslaafdheid te verstaan. Tydige inligting van “die getroue en verstandige dienskneg” oor kindermolestering, alkoholisme en respek vir vroue het hulle veral gehelpc (Mattheüs 24:45-47). “Ons is gehelp om die skade ongedaan te maak en weer nader aan mekaar te kom”, sê Elaine.
Los probleme op
Rebekka was baie ontsteld oor haar seun Esau se vrouens. Uit vrees dat haar ander seun, Jakob, Esau se voorbeeld sou volg, het Rebekka aan haar frustrasie uiting gegee deur vir haar man Isak te sê: “Ek is moeg vir my lewe vanweë die dogters van Het. As Jakob ’n vrou neem uit die dogters van Het, soos húlle is, uit die dogters van die land—waarvoor lewe ek dan?”—Genesis 27:46.
Let daarop dat hoewel Rebekka reguit gesê het hoe sy voel, sy Isak nie persoonlik aangeval het nie. Sy het nie gesê: “Dit is alles jou skuld!” of “Jy behoort beter beheer oor hierdie situasie te hê!” nie. Rebekka het eerder die voornaamwoord “ek” gebruik om te toon hoe die probleem haar raak. Hierdie benadering het Isak se empatie gewek, nie sy begeerte om sy aansien te red nie. Omdat Isak nie gevoel het dat hy persoonlik aangeval word nie, het hy blykbaar dadelik op Rebekka se pleidooi gereageer.—Genesis 28:1, 2.
Mans en vrouens kan uit Rebekka se voorbeeld leer. As ’n geskil opduik, moet julle die probleem oplos pleks van mekaar aan te val. Soos Rebekka, kan jy uiting gee aan jou frustrasie deur te sê hoe dit jou raak. “Ek is gefrustreerd, omdat . . .” of: “Ek voel dat ek nie verstaan word nie, omdat . . .”, is baie doeltreffender as: “Jy frustreer my!” of: “Jy verstaan my nooit nie!”
Meer as uithouvermoë
Die eerste mensepaar, Adam en Eva, se huwelik het eeue lank voortgeduur, en hulle het ’n gesin van seuns en dogters voortgebring (Genesis 5:3-5). Maar dit beteken nie dat hulle huwelik navolgenswaardig was nie. Vroeër het ’n gees van onafhanklikheid en ’n verontagsaming van die Skepper se regverdige wette hulle eenvlees-band geskend.
Net so kan ’n huwelik vandag voortduur en tog noodsaaklike elemente van kommunikasie kortkom. Stewig gevestigde redenasies en onvanpaste karaktertrekke moet dalk ontwortel word. (Vergelyk 2 Korinthiërs 10:4, 5, NW.) Dit is ’n voortdurende leerproses. Maar die inspanning is die moeite werd. Jehovah God stel baie in die huweliksreëling belang, aangesien hy die Insteller daarvan is (Maleagi 2:14-16; Hebreërs 13:4). As ons dus ons deel doen, kan ons verseker wees dat hy ons pogings sal erken en ons van die nodige wysheid en krag sal voorsien om enige kommunikasieprobleem in die huwelik op te los.—Vergelyk Psalm 25:4, 5; 119:34.
[Voetnote]
a Hulp vir alkoholiste se gesinne word in die Ontwaak! van 22 Mei 1992, bladsye 3-7, bespreek.
b Name is verander.
c Sien die Ontwaak! van 8 Oktober 1991, 22 Mei 1992 en 8 Julie 1992.
[Venster op bladsy 6]
“Die vullis het meer tyd gekry!”
’N MAN en sy vrou wat huweliksprobleme ondervind het, is gevra om te skat hoeveel tyd hulle elke week daaraan bestee om die vullis uit te neem. Hulle antwoord was dat dit hulle ongeveer 35 minute per week, of 5 minute per dag, neem. Hulle is toe gevra hoeveel tyd hulle daaraan bestee om met mekaar te gesels. Die man was geskok. “Die vullis het meer tyd gekry!” het hy uitgeroep en bygevoeg: “Ons bedrieg ons as ons dink dat vyf minute per dag genoeg tyd is om ’n huwelik in stand te hou. En dit is beslis nie genoeg tyd om die huwelik te versterk nie.”
[Venster op bladsy 7]
Stel grondreëls vas
◻ Bespreek een onderwerp op ’n slag (1 Korinthiërs 14:33, 40)
◻ Druk jou gevoelens uit; moenie beskuldigings maak nie (Genesis 27:46)
◻ Geen geslaan nie (Efesiërs 5:28, 29)
◻ Geen uitskellery nie (Spreuke 26:20)
◻ Probeer om versoen te raak, nie om te wen nie (Genesis 13:8, 9)
[Prent op bladsy 4]
As ’n geskil opduik, moet julle die probleem oplos pleks van mekaar aan te val
[Prent op bladsy 8]
Druk jou gevoelens uit; moenie beskuldigings maak nie