’n Sleutel tot ’n gelukkige gesinslewe
“ONS sit met ’n verbrokkelende gesinseenheid”, het ’n kandidaat vir die Amerikaanse presidentskap verlede jaar gesê. Dit is inderdaad skokkend om te sien in watter ernstige mate die gesin verbrokkel het. “As sulke groot veranderinge oor dieselfde tydperk op ekonomiese of industriële gebied plaasgevind het”, het die tydskrif Fortune gesê, “sou ons stom van verbasing gewees het.”
Selfs gesinne wat Bybelbeginsels probeer toepas, word dikwels op ’n tragiese wyse geraak. ’n Paar jaar gelede het ’n welmenende mede-Christen vir ’n vader van ses kinders wat nog nie in hulle tienerjare was nie, gesê: “Jy kan verwag dat vier van jou kinders die waarheid sal verlaat.” Maar hierdie vader het geglo dat dit nie eens met een van sy kinders hoef te gebeur nie. Hy het verduidelik waarom hy so gedink het.
“Ons kinders behoort nie eintlik aan ons nie”, het hy gesê. “Jehovah God het hulle aan my en my vrou se sorg toevertrou as ’n ‘erfdeel’, of ’n gawe, van hom af. En hy het gesê as ons hulle in die regte weg oplei, ‘sal hulle nie daarvan afwyk nie’. Daarom het ons nog altyd vir hulle probeer sorg asof hulle aan Jehovah behoort.”—Psalm 127:3; Spreuke 22:6.
Die vader het hier een van die sleutels tot ’n gelukkige gesinslewe geïdentifiseer—ouers moet vir hulle kinders sorg asof hulle vir God se eiendom sorg. Hoewel dit nie beteken dat kinders in alle gevalle op jou goeie leiding sal reageer nie, het jy nogtans die verantwoordelikheid om na die kinders om te sien wat God aan jou sorg toevertrou het.
’n Ernstige verantwoordelikheid
Jy kan hierdie sorg behoorlik voorsien deur dit met eerbied en diepe besorgdheid te doen en nie nalatig of onverskillig te wees nie. Jy moet altyd jou bes doen, aangesien jy besef dat jy aan God verantwoording sal doen vir die erfdeel, of gawe, wat hy jou gegee het. Dit is nie nodig om met verskillende kinderopvoedingsmetodes te eksperimenteer nie. Al wat ouers nodig het, is God se riglyne wat in sy Woord, die Bybel, voorsien word, en hulle moet hierdie riglyne nougeset volg.
Jehovah God se opdrag is: “Jy moet [my woorde by] jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan. Ook moet jy dit as ’n teken bind op jou hand, en dit moet as ’n voorhoofsband tussen jou oë wees. En jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte skrywe.” Die Bybel gee ook dié vermaning: “Vaders‚ . . . hou aan om [julle kinders] in die dissipline en die geestesregulering van Jehovah groot te maak.”—Deuteronomium 6:7–9; Efesiërs 6:4, NW.
Om vir kinders te sorg, vereis dus daaglikse aandag; ja, dit beteken dat jy hulle baie van jou tyd moet gee en veral liefde en diepe besorgdheid teenoor hulle moet betoon. Ouers wat hierdie basiese behoeftes van hulle kinders bevredig, doen wat God sê nodig is om ’n gelukkige gesinslewe te hê.
Dink jy dit is te veel gevra? Baie ouers toon deur hulle optrede dat hulle so dink. Maar hierdie gawes van God—jou kinders—verdien werklik heel besonderse aandag.
Hoe om vir hulle te sorg
Dit is verstandig om na die voorbeeld te kyk van diegene wat sukses met kinderopvoeding behaal het. Een tydskrif het in sy voorbladartikel “Verbasende gesinne” vier dinge genoem wat belangrik vir suksesvolle kinderopvoeding is: “[1] Stimulerende gesprekke om die etenstafel, [2] die geselskap van goeie boeke, [3] die inspirasie van goeie rolmodelle, [4] die wete dat daar ’n gesinstradisie is wat gevolg moet word.”—U.S.News & World Report, 12 Desember 1988.
Wat “gesprekke om die etenstafel” betref, moet ’n mens onthou dat God ouers beveel om hulle kinders te leer wanneer hulle in die huis sit. Sit jou gesin gereeld by ’n tafel aan vir maaltye, sodat daar daaglikse geleenthede vir kameraadskap en stimulerende gesprekke is? Sulke tye is vir kinders noodsaaklik en onvergeetlik, want dit gee hulle ’n gevoel van stabiliteit en veiligheid. ’n Sesjarige het gesê hy hou van etenstye, “want dan hoef jy nie oor mekaar bekommerd te wees nie” omdat almal bymekaar is.
Wat van die kwaliteit van julle gesprekke om die etenstafel? Handel dit dikwels oor die inhoud van “goeie boeke”, waaronder die Bybel en Bybelse lektuur wat ons diens aan God of dinge in verband met God se skepping bespreek? Benewens sulke gesprekke om die etenstafel moet ouers deur middel van ’n gereelde studieprogram ’n liefde vir Jehovah en sy regverdige wette in hulle kinders kweek.
“Dit was nie ’n probleem om gereeld ons maaltye saam te eet nie”, het die vader van ses wat vroeër gemeld is, gesê. “Dit het vanself gekom, en dit het ons saamgebind. Maar dit was moeilik om ’n gereelde Bybelstudieprogram te volg.” Hy het partykeer ná ’n dag se harde werk van absolute uitputting gedurende die studie aan die slaap geraak. Maar hy het nooit opgehou om ’n gereelde Bybelstudie met sy kinders te hou nie, en hy het gereeld lank met elkeen afsonderlik gesels en na hulle geluister.
Benewens die feit dat jy die leiding in opbouende gesprekke om die etenstafel neem en die geselskap van goeie boeke voorsien, maak jy seker dat jou kinders “die inspirasie van goeie rolmodelle” kry? Dit is werklik noodsaaklik om te sorg dat jou kinders gereeld omgaan met diegene wat die grootste mens wat nog geleef het, Jesus Christus, navolg as jy wil hê dat hulle as volwassenes goed moet vaar.
Laastens, wat van “die wete dat daar ’n gesinstradisie is wat gevolg moet word”? Jou kinders moet weet dat daar gesinstandaarde is wat hulle moet volg—dat sekere gedrag, spraak, kleredrag, maniere, ensovoorts onaanvaarbaar is en die gesinstradisie skend. Hulle moet besef dat die skending van die gesinstradisie ’n ernstige saak is—dat dit jou baie seer sal maak, soos dit die aartsvader Jakob van die ou tyd seergemaak het toe sy seuns se skandelike optrede hom “gehaat gemaak het by die inwoners van die land”.—Genesis 34:30.
Die vader van ses wat sy kinders as God se eiendom beskou het, het baie klem op “gesinstradisie” gelê. Hy het gereeld met sy kinders geredeneer oor hoe die gesin se standaard van kleredrag, persoonsversorging en die weiering om die wêreld se maniere na te volg in ooreenstemming met die gees en leiding van die Skepper, Jehovah God, is. As gevolg van die baie tyd, liefde en diepe besorgdheid wat hulle ontvang het—en die feit dat hulle opgelei is in die weg wat hulle moet volg—het al ses kinders daarop gereageer deur ‘nie van die weg af te wyk nie’.—Spreuke 22:6.
Daar is wêreldwyd duisende sulke sterk gesinseenhede. Watter eer bring hulle tog aan hulle Skepper, en wat ’n beloning is hulle tog vir onselfsugtige, liefdevolle ouers! Met die verloop van jare word sulke ouers al hoe meer waardeer deur die kinders wat by hulle pogings baat gevind het. Beskou asseblief vervolgens die verhaal van ’n vrou wat deur godvrugtige ouers grootgemaak is, en let op die waardevolle lesse wat daaruit geleer kan word.