Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 10/1 bl. 29-30
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Soortgelyke materiaal
  • Moet julle nie in dieselfde juk met ongelowiges verenig nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Bewaar Christelike eenheid in sakebetrekkinge
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 10/1 bl. 29-30

Vrae van lesers

Sou dit gepas wees as ’n Christen ’n vennootskap met ’n ongelowige aangaan, aangesien die Bybel vir ons sê: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie”?

Ons tref hierdie raad in 2 Korinthiërs 6:14–16 aan: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Belial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode?”

Daar is geen rede om te dink dat die apostel Paulus hierdie raad gegee het met die doel om spesifieke beperkings neer te lê, soos dat ’n Christen nie ’n vennootskap met ’n ongelowige mag aangaan nie. Tog het sy raad beslis betrekking op daardie saak sowel as op ander aspekte van die lewe.

Paulus het daardie raad aan sy Christenbroers in eertydse Korinthe geskryf. Aangesien hulle in ’n stad gewoon het wat buitengewoon verdorwe was, het hulle daagliks met sedelike en geestelike gevare te kampe gehad. Tensy hulle versigtig was, kon blootstelling aan slegte invloede geleidelik hulle vasbeslotenheid ondermyn het om ’n afgeskeie volk, “’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry”, te wees.—1 Petrus 2:9.

Voordat Paulus die woorde in 2 Korinthiërs 6:14–16 geskryf het, het hy ’n ernstige probleem onder sy Korinthiese broers opgelos. Hulle het growwe onsedelikheid in hulle midde toegelaat, en Paulus het hulle toe opdrag gegee om die onberouvolle sondaar te verwyder, of uit die gemeente te sit (1 Korinthiërs 5:1). Daardie man se sonde het getoon dat slegte omgang of onoordeelkundige betrokkenheid by die wêreld se sedelike klimaat ’n invloed op Christene kan hê.

Die Korinthiese Christene moes nie met daardie uitgesette persoon omgaan nie, maar het dit beteken dat hulle hulle heeltemal van ongelowiges moes afskei? Moes hulle feitlik alle kontak of omgang met nie-Christene vermy en by ’n soort monnikesekte aansluit, soos die Jode wat hulle by Qumran naby die Dooie See afgesonder het? Laat Paulus antwoord: “Ek het julle in my brief geskrywe om nie met hoereerders om te gaan nie—dit wil sê, nie hoereerders van hierdie wêreld . . . in die algemeen nie, want dan sou julle uit die wêreld moet uitgaan.”—1 Korinthiërs 5:9, 10.

Die strekking van daardie woorde is duidelik. Paulus het besef dat Christene nog op hierdie planeet is en onder ongelowiges met slegte sedes sowel as ander standaarde moet woon en feitlik daagliks met hulle kontak moet hê. Aangesien dit basies onvermydelik is, moet Christene bewus wees van die gevare wat sulke kontak inhou.

Kom ons kyk nou weer na Paulus se tweede brief aan die Korinthiërs. Hy het daarop gewys dat gesalfde Christene bevoeg is om God se bedienaars, gesante vir Christus, te wees. Hy het hulle gewaarsku om geen aanleiding tot struikeling te gee wat hulle bediening in ’n slegte lig kan stel nie (2 Korinthiërs 4:1–6:3). Paulus het sy Korinthiese broers, wat soos sy geestelike kinders was, reguit vermaan om in hulle liefde verruim te word (2 Korinthiërs 6:13). Daarna het hy hulle vermaan: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie.” Hy het ’n reeks retoriese teenstellings gebruik om daardie punt te beklemtoon.

Die konteks toon dat Paulus nie van ’n spesifieke aspek van die lewe, soos die sakewêreld of die werkkring, gepraat het en ’n vaste reël neergelê het wat in daardie verband gehandhaaf moes word nie. Hy het eerder breë, gegronde, nuttige raad aan broers gegee vir wie hy baie lief was.

Geld hierdie raad byvoorbeeld in die geval van ’n Christen wat daaraan dink om te trou? Ongetwyfeld. In sy eerste brief het die apostel Korinthiërs wat wou trou, vermaan om “net in die Here” te trou (1 Korinthiërs 7:39). Hy het die wysheid van daardie woorde beklemtoon deur wat hy later in 2 Korinthiërs 6:14-18 geskryf het. As ’n Christen dit sou oorweeg om met iemand te trou wat nie ’n kneg van Jehovah en ’n volgeling van Christus is nie, oorweeg hy of sy dit om ’n verbintenis met ’n ongelowige aan te gaan. (Vergelyk Levitikus 19:19; Deuteronomium 22:10.) Dit is duidelik dat die grondliggende uiteenlopendheid probleme sal skep, waaronder probleme ten opsigte van geestelike dinge. Die ongelowige aanbid dalk byvoorbeeld tans ’n valse god of sal dit miskien in die toekoms doen. Paulus het geredeneer: “Watter ooreenstemming het Christus met Belial?”

Maar wat van ’n ander aspek van die lewe—om ’n vennootskap met ’n ongelowige aan te gaan? In sommige gevalle sal ’n Christen dit dalk nodig ag om ’n vennootskap met iemand aan te gaan wat nie ’n mede-Christen is nie sodat hy ’n bestaan kan maak en na sy gesin kan omsien (1 Timotheüs 5:8). Beskou hierdie gevalle ter toeligting:

’n Christen wil miskien ’n onderneming begin om die een of ander handelsware te verkoop, maar die enigste moontlike manier is om ’n vennootskap aan te gaan met ’n man wat toegang tot die nodige produkte of geld het. ’n Ander Christen wil boer (of ’n veesoort teel); maar daar is geen grond beskikbaar nie, en daarom sal hy dit in vennootskap met iemand moet doen wat bereid is om die grond aan hom te verhuur vir ’n aandeel in die wins. ’n Ander Christen kan moontlik nie die loodgietersbedryf betree nie omdat die regering net ’n paar lisensies uitreik en hulle almal reeds uitgereik is; die enigste manier waarop hy dit sal kan doen, is om saam met ’n ongelowige familielid te werk wat ’n lisensie het.—Markus 12:17.

Dit is net voorbeelde. Ons probeer nie al die moontlikhede opnoem nie en ons probeer ook nie enige situasie goedkeur of afkeur nie. Maar kan jy, met hierdie voorbeelde in gedagte, sien waarom die raad in 2 Korinthiërs 6:14-18 nie verontagsaam moet word nie?

’n Christen wat ’n vennootskap met ’n ongelowige aangaan, hetsy dit ’n familielid is of nie, kan heel moontlik voor onvoorsiene probleme en versoekinge te staan kom. Die vennoot meen dalk dat as ’n mens ’n redelike wins wil maak jy nie al die inkomste moet rapporteer of nie van al die werknemers rekord moet hou nie, al is dit teen die regeringswette. Hy is dalk bereid om afleweraars agteraf te betaal vir goedere wat nie op die amptelike faktuur verskyn nie. Sou ’n Christen hoegenaamd ’n aandeel daaraan of aan soortgelyke oneerlikheid wou hê? En wat sal die Christen doen wanneer albei vennote belastingvorms of ander regsdokumente moet onderteken oor hoe hulle hulle sake behartig?—Exodus 23:1, NAV; Romeine 13:1, 7.

Of miskien wil die ongelowige vennoot artikels in voorraad hou wat met heidense vakansiedae verband hou, kaartjies vir sulke dae in die naam van die onderneming uitstuur en die sakeonderneming vir godsdienstige vakansiedae versier. Paulus het gevra: “Watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God.” Hoe gepas is die kommentaar tog: “Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem”! (2 Korinthiërs 6:16, 17). Na aanleiding van daardie wyse raad het baie Christene sekulêre werk gekies wat hulle so min as moontlik aan potensiële probleme sal blootstel.—Hebreërs 13:5, 6, 18.

Die gemeente het nie die verantwoordelikheid gekry om toesig te hou oor of ondersoek in te stel na alles wat Christene, hetsy as werknemers of as eienaars van sakeondernemings, in hulle sekulêre werk doen nie. As dit bekend word dat ’n Christen hom aan wanpraktyke skuldig maak, soos om valse aanbidding te bevorder of op die een of ander manier te lieg of te steel, moet die gemeente natuurlik stappe doen om Jehovah se standaarde te handhaaf.

Die hoofpunt is egter dat Paulus se geïnspireerde raad: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie”, Christene kan help om probleme en enige geregtelike stappe wat dalk sal nodig wees te vermy. Verstandige Christene sal daardie raad ter harte neem en hulle nie met oop oë in situasies begewe waar hulle onder groter druk sal wees om Bybelbeginsels prys te gee nie. As iemand dit nodig ag om ’n vennootskap met ’n ongelowige aan te gaan, moet ander hom nie veroordeel of kritiseer nie, maar besef dat hy die verantwoordelikheid vir sy keuse moet dra. Basies het Paulus nie ’n vaste reël neergelê wat ’n mens verbied om ’n vennootskap met ’n ongelowige aan te gaan nie. Nogtans moet sy raad nie verontagsaam word nie. God het daardie raad geïnspireer en dit tot ons voordeel in die Bybel laat opteken. Ons sal verstandig wees as ons daarop ag slaan.

    Afrikaanse publikasies (1975-2021)
    Teken af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2021 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel