Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 11/15 bl. 17-22
  • Hou goeie moed!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hou goeie moed!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Moed om Christus na te volg
  • Moed om aan te hou preek
  • Moed om ons aan Jehovah se kant te skaar
  • Moed in verdeelde gesinne
  • Moed om ‘ons lewe te waag’
  • Moed bring vreugde mee
  • Hou voortdurend goeie moed
  • ‘Wees moedig en baie sterk’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • “Wees moedig . . . en tree op”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • ‘Wees moedig en sterk!’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Wees moedig—Jehovah is met jou!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 11/15 bl. 17-22

Hou goeie moed!

“Hou goeie moed en sê: ‘Jehovah is my helper.’”—HEBREËRS 13:6, NW.

1. Watter vrymoedigheid is in die eerste eeu G.J. deur diegene aan die dag gelê wat tot ’n kennis van God se waarheid gekom het?

DIT was die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling. Die langverwagte Messias het gekom. Hy het sy dissipels deeglik onderrig en ’n lewensbelangrike predikingswerk van stapel gestuur. Dit was tyd dat mense die goeie nuus van God se Koninkryk hoor. Mans en vroue wat tot ’n kennis van die waarheid gekom het, het derhalwe daardie wonderlike boodskap met vrymoedigheid verkondig.—Mattheüs 28:19.

2. Waarom het Jehovah se Getuies vandag moed nodig?

2 Die Koninkryk is nie destyds opgerig nie. Maar die aangewese Koning, Jesus Christus, het sy toekomstige onsigbare teenwoordigheid in Koninkryksmag voorspel. Dit sou gekenmerk word deur dinge soos ongeëwenaarde oorloë, hongersnood, pessiektes, aardbewings en die wêreldwye verkondiging van die goeie nuus (Mattheüs 24:3-14; Lukas 21:10, 11). As Getuies van Jehovah het ons moed nodig om hierdie toestande, asook die vervolging wat oor ons gebring word, te verduur. Dit sal derhalwe nuttig wees om Bybelverslae oor moedige Koninkryksverkondigers van die eerste eeu G.J. te bespreek.

Moed om Christus na te volg

3. Wie is die beste voorbeeld van moed, en wat is in Hebreërs 12:1–3 oor hom gesê?

3 Jesus Christus is die beste voorbeeld van moed. Nadat die apostel Paulus die “groot wolk” van moedige voor-Christelike getuies van Jehovah gemeld het, het hy die aandag op Jesus gevestig deur te sê: “Terwyl ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die [folterpaal] verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het. Want julle moet ag gee op Hom wat so ’n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie.”—Hebreërs 12:1-3, vgl. NW.

4. Hoe het Jesus moed aan die dag gelê toe hy deur Satan versoek is?

4 Nadat Jesus gedoop is en 40 dae in die woestyn gemediteer, gebid en gevas het, het hy Satan onverskrokke weerstaan. Die Duiwel het hom versoek deur hom te vra om klippe in brode te verander, maar Jesus het geweier omdat dit verkeerd sou wees om ’n wonderwerk te doen om persoonlike begeertes te bevredig. Jesus het gesê: “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.” Toe Satan hom uitgedaag het om van die tempel se dak af te spring, het Jesus geweier omdat dit ’n sonde sou wees om God te versoek deur van Hom te verwag om hom van moontlike selfmoord te red. Christus het gesê: “Daar is óók geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie.” Satan het hom al die koninkryke van die wêreld aangebied vir een “daad van aanbidding”, maar Jesus het geweier om afvallig te word en die Duiwel se aantyging te staaf dat mense nie onder beproewing aan God getrou sal bly nie. Daarom het Jesus gesê: “Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” Toe het die Versoeker “’n tyd lank van Hom gewyk”.—Mattheüs 4:1-11, vgl. NW; Lukas 4:13.

5. Wat kan ons help om versoeking te weerstaan?

5 Jesus was onderdanig aan Jehovah en het Satan weerstaan. As ons ons eweneens ‘aan God onderwerp en die duiwel weerstaan, sal hy van ons wegvlug’ (Jakobus 4:7). Soos Jesus kan ons versoeking moedig weerstaan as ons die Skrif toepas en selfs daaruit aanhaal wanneer ons in die versoeking kom om iets verkeerds te doen. Hoe waarskynlik is dit dat ons voor die versoeking sal swig om te steel as ons op daardie oomblik God se wet: “Jy mag nie steel nie”, vir onsself herhaal? Sal twee Christene voor geslagsonsedelikheid swig as selfs net een van hulle moedig die woorde aanhaal: “Jy mag nie egbreek nie”?—Romeine 13:8-10; Exodus 20:14, 15.

6. Hoe was Jesus ’n moedige wêreldoorwinnaar?

6 As Christene wat deur hierdie wêreld gehaat word, kan ons die gees en sondige gedrag daarvan vermy. Jesus het vir sy volgelinge gesê: “In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin” (Johannes 16:33). Hy het die wêreld oorwin deur nie soos die wêreld te word nie. Sy voorbeeld as ’n oorwinnaar en die eindresultaat van sy weg van onkreukbaarheid kan ons die moed gee om hom na te volg deur afgeskeie van hierdie wêreld te bly en nie daardeur besmet te word nie.—Johannes 17:16.

Moed om aan te hou preek

7, 8. Wat sal ons help om ondanks vervolging aan te hou preek?

7 Jesus en sy dissipels het op God staatgemaak vir moed sodat hulle ondanks vervolging kon aanhou preek. Christus het sy bediening ondanks vervolging onverskrokke vervul, en ná Pinkster 33 G.J. het sy vervolgde volgelinge aangehou om die goeie nuus te verkondig, al het die Joodse godsdiensleiers hulle werk probeer stopsit (Handelinge 4:18-20; 5:29). Die dissipels het gebid: “Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek.” En wat het gebeur? Die verslag sê: “Toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek.”—Handelinge 4:24–31.

8 Aangesien die meeste mense vandag nie na die goeie nuus luister nie, het ons dikwels moed nodig om vir hulle te bly preek. Jehovah se knegte het veral tydens vervolging godgegewe moed nodig sodat hulle ’n deeglike getuienis kan lewer (Handelinge 2:40, NW; Han 20:24, NW). Die moedige Koninkryksverkondiger Paulus het vir ’n jong, minder ervare medewerker gesê: “God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing. Skaam jou dan nie oor die getuienis van onse Here of oor my, sy gevangene nie, maar ly saam verdrukkinge vir die evangelie na die krag van God” (2 Timotheüs 1:7, 8). As ons om moed bid, sal ons kan aanhou preek, en selfs vervolging sal ons nie ons vreugde as Koninkryksverkondigers ontneem nie.—Mattheüs 5:10-12.

Moed om ons aan Jehovah se kant te skaar

9, 10. (a) Wat het eerste-eeuse Jode en nie-Jode gedoen om gedoopte volgelinge van Christus te kon word? (b) Waarom het dit moed geverg om ’n Christen te word?

9 Baie eerste-eeuse Jode en nie-Jode het onskriftuurlike tradisies moedig laat vaar om gedoopte volgelinge van Christus te word. Kort ná Pinkster 33 G.J. het “die getal van die dissipels . . . in Jerusalem baie vermeerder, en ’n groot menigte van priesters het gehoorsaam geword aan die geloof” (Handelinge 6:7). Daardie Jode het die moed gehad om die bande met hulle godsdiens te verbreek en Jesus as die Messias aan te neem.

10 Van 36 G.J. af het baie nie-Jode gelowiges geword. Toe Cornelius, lede van sy huisgesin sowel as ander nie-Jode die goeie nuus gehoor het, het hulle dit dadelik aangeneem, heilige gees ontvang en is hulle ‘in die Naam van die Here, Jesus Christus, gedoop’ (Handelinge 10:1-48). In Filippi het ’n nie-Joodse tronkbewaarder en sy huisgesin die Christelike geloof sonder huiwering aangeneem, en “hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy mense” (Handelinge 16:25-34). Dit het moed geverg om sulke stappe te doen, aangesien die Christene ’n vervolgde, ongewilde minderheid was. Dit is nog steeds die geval. Is dit dan nie tyd dat jy hierdie moedige stappe doen indien jy jou nog nie aan God toegewy het en as een van Jehovah se Getuies gedoop is nie?

Moed in verdeelde gesinne

11. Watter goeie voorbeeld van moed het Eunice en Timotheüs gestel?

11 Eunice en haar seun Timotheüs het ’n voortreflike voorbeeld van moedige geloof in ’n godsdienstig verdeelde gesin gestel. Hoewel Eunice ’n heidense man gehad het, het sy haar seun van kleins af “die heilige Skrifte” geleer (2 Timotheüs 3:14-17). Toe sy ’n Christen geword het, het sy “ongeveinsde geloof” aan die dag gelê (2 Timotheüs 1:5). Sy het ook die moed gehad om die Christelike leer aan Timotheüs oor te dra, terwyl sy steeds respek vir die hoofskap van haar ongelowige man getoon het. Haar geloof en moed is ongetwyfeld beloon toe haar goed onderrigte seun gekies is om Paulus op van sy sendingreise te vergesel. Hoe kan dit Christenouers tog bemoedig wat hulle in soortgelyke omstandighede bevind!

12. Watter soort persoon het Timotheüs geword, en wie is vandag soos hy?

12 Hoewel Timotheüs in ’n godsdienstig verdeelde huishouding gewoon het, het hy die Christelike geloof moedig aangeneem en ’n geestelike mens geword van wie Paulus kon sê: “Ek hoop in die Here Jesus om Timotheüs gou na julle [die Filippense] te stuur, sodat ek ook welgemoed kan wees as ek julle omstandighede te wete gekom het. Want ek het niemand van dieselfde gesindheid wat julle belange opreg sal behartig nie; . . . julle ken sy beproefdheid [of, “julle weet watter bewys hy van homself gelewer het”, NW], dat hy, soos ’n kind teenoor sy vader, saam met my in die evangelie gedien het” (Filippense 2:19-22). Vandag neem baie seuns en dogters in godsdienstig verdeelde gesinne die ware Christelike geloof moedig aan. Soos Timotheüs lewer hulle bewys van hulleself, en hoe verheug is ons tog dat hulle ’n deel van Jehovah se organisasie is!

Moed om ‘ons lewe te waag’

13. Hoe het Aquila en Priscilla moed aan die dag gelê?

13 Aquila en sy vrou, Priscilla, het ’n voorbeeld gestel deur moedig ‘hulle lewe te waag’ vir ’n medegelowige. Hulle het Paulus in hulle huis ingeneem, saam met hom tente gemaak en hom gehelp om die nuwe gemeente in Korinthe op te bou (Handelinge 18:1-4). Gedurende hulle 15 jaar lange vriendskap het hulle selfs op ’n onvermelde wyse hulle lewe vir hom gewaag. Hulle het in Rome gewoon toe hy vir Christene daar gesê het: “Groet Priscilla en Aquila, my medewerkers in Christus Jesus, wat vir my hulle lewe gewaag het; nie ek alleen dank hulle nie, maar ook al die gemeentes van die heidene.”—Romeine 16:3, 4.

14. In ooreenstemming met watter gebod het Aquila en Priscilla opgetree toe hulle hulle lewe vir Paulus gewaag het?

14 Deur hulle lewe vir Paulus te waag, het Aquila en Priscilla in ooreenstemming met Jesus se woorde opgetree: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê” (Johannes 13:34). Dit was ’n “nuwe” gebod in die sin dat dit meer vereis het as die Mosaïese Wet, wat beveel het dat ’n mens jou naaste moet liefhê soos jouself (Levitikus 19:18). Dit het selfopofferende liefde vereis wat ’n mens selfs sou beweeg om, soos Jesus, jou lewe vir ander op te offer. Die skrywer Tertullianus van die tweede en derde eeue G.J. het wêreldse mense se woorde aangaande Christene aangehaal toe hy geskryf het: “‘Kyk’, sê hulle, ‘hoe lief het hulle mekaar . . . en hoe gewillig is hulle om selfs vir mekaar te sterf’” (Apology, hoofstuk XXXIX, 7). Veral tydens vervolging sal ons dalk ons broederliefde moet toon deur moedig ons lewe in gevaar te stel om te verhoed dat die vyand ons medegelowiges wreed behandel of doodmaak.—1 Johannes 3:16.

Moed bring vreugde mee

15, 16. Hoe kan moed en vreugde met mekaar verbind word, soos Handelinge hoofstuk 16 toon?

15 Paulus en Silas lewer bewys dat dit vreugde kan meebring as ’n mens tydens beproewinge moed aan die dag lê. Hulle is op bevel van die regters in die stad Filippi in die openbaar met stokke geslaan en in die gevangenis in die blok gesit. Maar hulle was nie moedeloos en deur vrees oorweldig nie. Ten spyte van hulle moeilike omstandighede het hulle steeds godgegewe moed gehad sowel as die vreugde wat dit vir getroue Christene meebring.

16 Omstreeks middernag was Paulus en Silas besig om te bid en God met sang te loof. Skielik het ’n aardbewing die tronk geskud, hulle boeie laat losraak en die deure oopgegooi. Die vreesbevange tronkbewaarder en sy gesin het ’n goeie getuienis ontvang, wat daartoe gelei het dat hulle as Jehovah se knegte gedoop is. Hy “het hom verheug met sy hele huisgesin dat hy tot geloof in God gekom het” (Handelinge 16:16-34). Hoeveel vreugde moes dit Paulus en Silas tog nie verskaf het nie! Hoe kan ons, noudat ons hierdie en ander skriftuurlike voorbeelde van moed bespreek het, as Jehovah se knegte moedig bly?

Hou voortdurend goeie moed

17. Watter verband is daar tussen hoop op Jehovah en moed, soos Psalm 27 toon?

17 As ons ons hoop op Jehovah stel, sal dit ons help om moedig te bly. Dawid het gesing: “Hoop op Jehovah; wees moedig en laat jou hart sterk wees. Ja, hoop op Jehovah” (Psalm 27:14, NW). Psalm 27 toon dat Dawid op Jehovah vertrou het as “die toevlug” van sy lewe (Vers 1). Die manier waarop God tevore teen Dawid se teenstanders opgetree het, het Dawid moed gegee (Verse 2, 3). Waardering vir Jehovah se plek van aanbidding was nog ’n faktor (Vers 4). Vertroue op Jehovah se hulp, beskerming en verlossing het ook Dawid se moed versterk (Verse 5-10). Nog iets wat hom gehelp het, was voortdurende onderrig in die beginsels van Jehovah se regverdige weg (Vers 11). Wanneer Dawid met volle vertroue gebid het om van sy vyande verlos te word en geloof en hoop aan die dag gelê het, het dit hom gehelp om moedig te wees (Verse 12-14, vgl. NW). Ons kan ons moed op soortgelyke maniere versterk en sodoende toon dat ons werklik ons “hoop op Jehovah” stel.

18. (a) Wat toon dat gereelde omgang met mede-aanbidders van Jehovah ons kan help om moedig te bly? (b) Watter rol speel Christelike vergaderinge daarin om ons moed te versterk?

18 Gereelde omgang met mede-aanbidders van Jehovah kan ons help om moedig te bly. Toe Paulus hom op die keiser beroep het en na Rome onderweg was, het medegelowiges hom by die Appius-mark en die Drie Herberge gaan ontmoet. “Toe Paulus hulle sien”, sê die verslag, “het hy God gedank en moed gevat” (Handelinge 28:15). Wanneer ons Christelike vergaderinge gereeld bywoon, slaan ons ag op Paulus se raad: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan [of, “aanmoedig”, NW], en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:24, 25). Wat beteken dit om mekaar aan te moedig? Om aan te moedig, beteken “om met moed, gees of hoop te vervul” (Webster’s Ninth New Collegiate Dictionary). Ons kan baie doen om ander Christene met moed te vervul, en húlle aanmoediging kan eweneens hierdie eienskap in ons versterk.

19. Hoe help die Skrif en Christelike publikasies ons om moedig te bly?

19 As ons moedig wil bly, moet ons God se Woord gereeld bestudeer en die raad daarin in ons lewe toepas (Deuteronomium 31:9-12; Josua 1:8). Ons gereelde studie moet Christelike publikasies insluit wat op die Skrif gebaseer is, aangesien die goeie raad wat ons daardeur ontvang ons sal help om toetse van geloof met godgegewe moed te deurstaan. Ons het uit die Bybelverslae gesien hoe Jehovah se knegte in verskillende situasies moedig was. Ons weet dalk nie op die oomblik hoe sulke inligting ons kan help nie, maar God se Woord is kragtig, en wat ons daaruit leer, kan ons altyd tot voordeel strek (Hebreërs 4:12). As mensevrees byvoorbeeld ons bediening begin skaad, kan ons nadink oor hoe Henog die moed gehad het om God se boodskap aan die goddeloses oor te dra.—Judas 14, 15.

20. Waarom kan daar gesê word dat gebed noodsaaklik is as ons as Jehovah se knegte moedig wil bly?

20 As ons moedig wil bly as Jehovah se knegte moet ons in die gebed volhard (Romeine 12:12). Jesus het sy beproewinge moedig deurstaan omdat hy “gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs” (Hebreërs 5:7). As ons in gebed na aan God bly, sal ons nie soos wêreldse lafaards wees wie se deel “die tweede dood” is waaruit daar geen opstanding is nie (Openbaring 21:8, NW). God se moedige knegte sal sy beskerming geniet en die lewe in sy nuwe wêreld ontvang.

21. Waarom kan lojale Getuies van Jehovah moedig wees?

21 As lojale Getuies van Jehovah hoef ons nie demoniese of menslike vyande te vrees nie, want ons het God se ondersteuning en Jesus se moedige voorbeeld as wêreldoorwinnaar. Geestelik opbouende omgang met Jehovah se volk sal ons eweneens help om moedig te wees. Ons moed word ook versterk deur die leiding en raad wat ons uit die Skrif en Christelike publikasies ontvang. En Bybelverslae van God se eertydse knegte help ons om moedig in sy weë te wandel. Laat ons dus in hierdie kritieke laaste dae onverskrokke vorentoe beur in heilige diens. Ja, laat alle lede van Jehovah se volk goeie moed hou!

Hoe sou jy antwoord?

◻ Hoe kan Jesus se voorbeeld ons met moed besiel?

◻ Wat het Jesus en sy dissipels die moed gegee om aan te hou preek?

◻ Waarom het Jode en nie-Jode moed nodig gehad om hulle aan Jehovah se kant te skaar?

◻ Watter voorbeeld van moed het Eunice en Timotheüs gestel?

◻ Watter bewys is daar dat moed selfs tydens vervolging vreugde meebring?

[Prent op bladsy 18]

Soos Jesus kan ons versoeking weerstaan as ons die Skrif toepas en daaruit aanhaal

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel