Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 2/1 bl. 13-18
  • Geniet die voordele van Goddelike onderrigting

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Geniet die voordele van Goddelike onderrigting
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Dit verander lewens
  • ’n Ware doel in die lewe
  • ’n Wêreldwye onderrigtingsprogram
  • Heilsame uitwerking op ons gees
  • Voordelig in menseverhoudinge
  • Altyd voordelig en seëvierend
  • Goddelike onderrigting behaal die oorwinning
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Goddelike onderrigting oefen ’n kragtige invloed uit
    Ons Koninkryksbediening—1993
  • God se Woord is nuttig om te onderrig
    Ons Koninkryksbediening—2013
  • ‘Julle behoort leraars te wees’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 2/1 bl. 13-18

Geniet die voordele van Goddelike onderrigting

“Ek, Jehovah, is jou God, die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel.”—JESAJA 48:17, NW.

 1. Hoe sal ons vaar as ons Goddelike onderrigting in ons lewe toepas?

JEHOVAH GOD weet wat die beste is. Daar is niemand wat hom in denke, woord of daad kan oortref nie. As ons Skepper is hy bewus van ons behoeftes, en hy voorsien mildelik daarin. Hy weet beslis hoe om ons te onderrig. En as ons Goddelike onderrigting toepas, bevoordeel ons onsself en ondervind ons ware geluk.

 2, 3. (a) Hoe sou God se eertydse volk hulleself bevoordeel het as hulle sy gebooie gehoorsaam het? (b) Wat sal gebeur as ons vandag Goddelike onderrigting in ons lewe toepas?

2 Goddelike onderrigting openbaar God se innige begeerte dat sy knegte ellende moet vermy en die lewe moet geniet deur sy wette en beginsels na te leef. As Jehovah se eertydse volk na hom geluister het, sou hulle ryk seëninge geniet het, want hy het vir hulle gesê: “Ek, Jehovah, is jou God, die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel, die Een wat jou laat tree op die weg waarop jy moet wandel. O, as jy tog maar aan my gebooie sal aandag skenk! Dan sal jou vrede word net soos ’n rivier en jou regverdigheid soos die golwe van die see.”—Jesaja 48:17, 18, NW.

3 God se eertydse volk sou hulleself bevoordeel het as hulle aan sy gebooie en voorskrifte aandag geskenk het. Pleks van die rampspoed wat die Babiloniërs oor hulle gebring het, sou hulle vrede en voorspoed geniet het wat so diep en standhoudend soos ’n rivier is. Daarbenewens sou hulle regverdige dade so ontelbaar soos die golwe van die see gewees het. As ons Goddelike onderrigting in ons lewe toepas, kan ons eweneens die baie voordele daarvan geniet. Wat is party van hierdie voordele?

Dit verander lewens

 4. Watter uitwerking het Goddelike onderrigting al op baie mense se lewe gehad?

4 Goddelike onderrigting het al baie mense bevoordeel deur hulle lewenswandel ten goede te verander. Diegene wat Jehovah se onderrigting toepas, laat vaar “werke van die vlees”, soos ongebondenheid, afgodery, towery, twis en jaloersheid. Hulle openbaar eerder die vrug van die gees, naamlik liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing (Galasiërs 5:19-26). Hulle slaan ook ag op die raad in Efesiërs 4:17-24 (NW) waar Paulus medegelowiges aanspoor om nie soos die nasies in die nutteloosheid van hulle verstand te wandel nie, terwyl hulle verstandelik in die duisternis is, vervreemd van die lewe wat aan God behoort. Persone wat Christus se gesindheid openbaar, word nie deur ’n ongevoelige hart gelei nie, maar ‘lê die ou persoonlikheid af wat met hulle vroeëre lewenswandel ooreenkom en word vernuwe in die krag wat hulle verstand aandrywe’. Hulle ‘beklee hulle met die nuwe persoonlikheid wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is’.

 5. Watter uitwerking het Goddelike onderrigting op mense se lewenswandel?

5 Nog ’n uitstekende voordeel wat die toepassing van Goddelike onderrigting inhou, is dat dit toon hoe ons met God kan wandel. As ons met Jehovah wandel, soos Noag gedoen het, volg ons die lewensweg wat deur ons Grootse Onderrigter uiteengesit is (Genesis 6:9; Jesaja 30:20, 21, NW). Mense van die nasies ‘wandel in die nutteloosheid van hulle verstand’, soos die apostel Paulus gesê het. En hoe nutteloos is party geskrifte van sulke verstande tog! ’n Waarnemer wat opgemerk het wat ander op ’n muur in Pompeii geskryf het, het self geskryf: “Dit is ’n wonder, o muur, dat jy nog nie onder die gewig van soveel geskrewe onsin verkrummel het nie.” Maar daar is geen onsin in “die leer van Jehovah” en in die Koninkrykspredikingswerk wat daardeur moontlik gemaak word nie (Handelinge 13:12, NW). Waarheidliewendes word deur middel van daardie werk tot besinning gebring. Hulle word geleer hoe om die sondige weg te laat vaar wat hulle weens onkunde omtrent God se voorneme bewandel het. Hulle is nie meer verstandelik in duisternis nie, en hulle word ook nie deur ’n ongevoelige hart beweeg om nuttelose doelwitte na te streef nie.

 6. Hoe hou ons gehoorsaamheid aan die onderrigting van Jehovah met ons geluk verband?

6 Goddelike onderrigting strek ons ook tot voordeel omdat ons Jehovah en sy handelinge daardeur leer ken. Sulke kennis bring ons nader aan God, verinnig ons liefde vir hom en vergroot ons begeerte om hom te gehoorsaam. Eerste Johannes 5:3 sê: “Dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie.” Ons gehoorsaam ook Jesus se opdragte omdat ons weet dat sy leer van God af kom (Johannes 7:16-18). Sulke gehoorsaamheid beskerm ons teen geestelike skade en bevorder ons geluk.

’n Ware doel in die lewe

 7, 8. (a) Hoe moet ons Psalm 90:12 verstaan? (b) Hoe kan ons ’n wyse hart bekom?

7 Die onderrigting van Jehovah is voordelig, want dit toon hoe ons ons lewe op ’n sinvolle manier kan gebruik. Trouens, Goddelike onderrigting toon hoe ons ons dae op ’n spesiale manier kan tel. ’n Lewensverwagting van 70 jaar behels sowat 25 550 dae. Vir iemand wat 50 jaar oud is, is 18 250 van daardie dae reeds verby, en die oorblywende 7 300 dae waarop hy nog hoop, voel beslis min. Veral dán verstaan hy dalk beter waarom die profeet Moses in Psalm 90:12 tot God gebid het: “Leer ons om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart mag bekom.” Maar wat het Moses daarmee bedoel?

8 Moses het nie bedoel dat God die presiese aantal dae van elke Israeliet se lewe bekend sou maak nie. Volgens Psalm 90, verse 9 en 10, het daardie Hebreeuse profeet besef dat ’n mens se lewensduur ongeveer 70 of 80 jaar kan wees—inderdaad kort. Die woorde in Psalm 90:12 het blykbaar Moses se biddende begeerte uitgespreek dat Jehovah vir hom en Sy volk sou toon, of leer, om wysheid te beoefen deur ‘die dae van hulle jare’ te waardeer en dit op ’n manier te gebruik wat God se goedkeuring wegdra. Maar wat van ons? Waardeer ons elke kosbare dag? Bekom ons ’n wyse hart deur elke dag op ’n sinvolle manier tot verheerliking van ons Grootse Onderrigter, Jehovah God, te probeer gebruik? Goddelike onderrigting help ons om juis dít te doen.

 9. Wat kan ons verwag as ons leer om ons dae tot verheerliking van Jehovah te tel?

9 As ons leer om ons dae tot verheerliking van Jehovah te tel, sal ons waarskynlik kan aanhou tel, want Goddelike onderrigting gee ons kennis wat tot die ewige lewe lei. “Dit is die ewige lewe”, het Jesus gesê, “dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (Johannes 17:3). Al sou ons al die beskikbare wêreldse kennis verkry, sal dit ons natuurlik nie die ewige lewe gee nie. Maar ons kan die ewige lewe verkry as ons juiste kennis aangaande die twee belangrikste persone in die heelal opdoen, dit toepas en werklik geloof beoefen.

10. Wat sê een ensiklopedie aangaande opvoeding, en hoe vergelyk dit met die voordele van Goddelike onderrigting?

10 Ongeag hoe lank ons al lewe, ons moet hierdie belangrike voordeel van Goddelike onderrigting onthou: Dit gee diegene wat dit toepas ’n ware doel in die lewe. The World Book Encyclopedia sê: “Opvoeding behoort mense te help om nuttige lede van die samelewing te word. Dit behoort hulle ook te help om waardering vir hulle kultuurerfenis op te bou en ’n meer bevredigende lewe te lei.” Goddelike onderrigting is voordelig omdat dit ons help om ’n bevredigende lewe te lei. Dit bou in ons ’n diepe waardering op vir ons geestelike erfenis as God se volk. En dit maak ons beslis nuttiger lede van die samelewing, want ons kan as gevolg daarvan ’n belangrike rol daarin speel om in die behoeftes van mense regdeur die wêreld te voorsien. Waarom kan ons so sê?

’n Wêreldwye onderrigtingsprogram

11. Hoe het Thomas Jefferson die behoefte aan behoorlike opvoeding beklemtoon?

11 Geen ander onderrigtingsprogram voorsien in mense se behoefte aan opvoeding soos Goddelike onderrigting nie. Thomas Jefferson, wat die derde president van die Verenigde State geword het, het besef dat mense onderrigting nodig het. In ’n brief van 13 Augustus 1786 aan George Wythe, ’n vriend en mede-ondertekenaar van die Onafhanklikheidsverklaring, het Thomas Jefferson geskryf: “Ek dink die wet oor die verspreiding van kennis onder die mense is die allerbelangrikste wet in ons hele wetboek. Geen ander vaste grondslag kan vir die beskerming van vryheid en geluk gelê word nie. . . . My liewe vriend, trek te velde teen onkunde; bekragtig en verbeter die wet om die gewone mens op te voed. Laat ons landsgenote weet . . . dat die belasting wat [vir opvoeding] betaal sal word nie meer as ’n duisendste deeltjie is van wat aan konings, priesters en edelmanne betaal sal word wat uit ons midde sal verrys as ons die mense in onkunde laat nie.”

12. Waarom kan daar gesê word dat Goddelike onderrigting die suksesvolste en voordeligste program vir wêreldwye opvoeding is?

12 Die onderrigting van Jehovah af laat regverdiggesindes nie in onkunde nie, maar voorsien eerder die allerbeste program vir wêreldwye opvoeding tot hulle voordeel. Terwyl die Tweede Wêreldoorlog 50 jaar gelede nog gewoed het, het die Verenigde State se Komitee vir Opvoedkundige Heropbouing besef dat daar ’n dringende behoefte aan “wêreldwye opvoeding” bestaan. Daardie behoefte bestaan nog steeds, maar Goddelike onderrigting is die enigste suksesvolle program vir wêreldwye opvoeding. Dit is ook die voordeligste, want dit verhef mense uit wanhoop, hef hulle moreel en geestelik op, red hulle van die wêreld se trots en vooroordeel en gee hulle kennis wat tot die ewige lewe lei. Bowenal strek hierdie program mense in alle wêrelddele tot voordeel omdat hulle leer om Jehovah God te dien.

13. Hoe word Jesaja 2:2-4 vandag vervul?

13 Die voordele van Goddelike onderrigting word deur die menigtes geniet wat nou God se knegte word. Hulle is bewus van hulle geestelike behoefte en weet baie goed dat Jehovah se dag naby is (Mattheüs 5:3, NW; 1 Thessalonicense 5:1-6). Vandag, “aan die einde van die dae”, stroom hierdie mense van alle nasies na Jehovah se berg, sy suiwer aanbidding. Dit staan vas en is hoog verhewe bo alle aanbidding wat in stryd met God se wil is (Jesaja 2:2-4). Is jy nie, as jy ’n toegewyde Getuie van Jehovah is, verheug om onder die immertoenemende menigtes te wees wat hom aanbid en deur Goddelike onderrigting bevoordeel word nie? Hoe wonderlik is dit tog om onder diegene te wees wat uitroep: “Loof Jah!”—Psalm 150:6, NW.

Heilsame uitwerking op ons gees

14. Watter voordele hou dit vir ons in as ons Paulus se raad in 1 Korinthiërs 14:20 volg?

14 Een van die talle voordele van Goddelike onderrigting is die heilsame uitwerking wat dit op ons denke en gees kan hê. Dit beweeg ons om regverdige, rein, deugsame en loflike dinge te bedink (Filippense 4:8). Jehovah se onderrigting help ons om Paulus se raad te volg: “Wees kinders in die boosheid en wees volwassenes in die verstand” (1 Korinthiërs 14:20). As ons op hierdie vermaning ag slaan, sal ons nie kennis van goddeloosheid wil opdoen nie. Paulus het ook geskryf: “Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid” (Efesiërs 4:31). As ons op sulke raad ag slaan, sal dit ons help om onsedelikheid en ander growwe sondes te vermy. Hoewel dít ons fisies en verstandelik tot voordeel kan strek, sal die wete dat ons God behaag ons veral vreugde verskaf.

15. Wat kan ons help om deugsaam in ons denke te bly?

15 As ons deugsaam in ons denke wil bly, sal dit ons help as ons ‘slegte gesprekke vermy wat goeie sedes bederf’ (1 Korinthiërs 15:33). As Christene sal ons nie met hoereerders, egbrekers en ander kwaaddoeners omgaan nie. Ons moet dan logieserwys nie met sulke mense omgaan deur ter wille van sinsgenot oor hulle te lees of na televisieprogramme of rolprente van hulle te kyk nie. Die hart is bedrieglik, kan maklik ’n begeerte na slegte dinge ontwikkel en kan in die versoeking kom om daardie dinge te doen (Jeremia 17:9). Laat ons dus sulke versoekings vermy deur streng volgens Goddelike onderrigting te leef. Dit kan so ’n voordelige invloed op ‘liefhebbers van Jehovah’ se denke hê dat hulle ‘die kwaad sal haat’.—Psalm 97:10.

16. Watter uitwerking kan God se onderrigting hê op die gees wat ons aan die dag lê?

16 Paulus het vir sy medewerker Timotheüs gesê: “Mag die Here wees met die gees wat jy aan die dag lê. Mag sy onverdiende goedheid met julle wees” (2 Timotheüs 4:22, NW). Dit was die apostel se begeerte dat God, deur middel van die Here Jesus Christus, die krag waardeur Timotheüs en ander Christene aangedrywe is, goedkeur. God se onderrigting help ons om ’n liefdevolle, goedhartige en sagmoedige gees aan die dag te lê (Kolossense 3:9-14, NW). En hoe verskil dit tog van die gees wat baie in hierdie laaste dae openbaar! Hulle is trots, ondankbaar, sonder natuurlike liefde, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, verwaand, liefhebbers van plesier en sonder ware godvrugtige toegewydheid (2 Timotheüs 3:1-5, vgl. NW). Maar namate ons Goddelike onderrigting in ons lewe toepas en die voordele daarvan smaak, openbaar ons ’n gees wat ons by God en ons medemens geliefd maak.

Voordelig in menseverhoudinge

17. Waarom is nederige samewerking so belangrik?

17 Die onderrigting van Jehovah help ons om te sien hoe voordelig dit is as ons nederig met ons mede-aanbidders saamwerk (Psalm 138:6). In teenstelling met baie mense vandag skend ons nie regverdige beginsels nie, maar is bereid om tot ’n ooreenkoms te kom. Hoe voordelig is dit byvoorbeeld wanneer aangestelde opsieners tydens oueremanvergaderings bereid is om tot ’n ooreenkoms te kom. Hierdie manne kan kalm in die belang van waarheid praat en nie toelaat dat hulle emosies hulle logiese denke vertroebel of onenigheid veroorsaak nie. Al die gemeentelede sal bevoordeel word deur die gees van eenheid wat onder ons heers as ons almal voortgaan om Goddelike onderrigting toe te pas.—Psalm 133:1-3.

18. Goddelike onderrigting help ons om watter beskouing van ons medegelowiges te hê?

18 Goddelike onderrigting is ook voordelig omdat dit ons help om die regte beskouing van ons medegelowiges te hê. Jesus het gesê: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie” (Johannes 6:44). Jehovah het toegesien dat sy knegte veral sedert 1919 sy oordele verkondig, en Satan se wêreldstelsel is deur hierdie wêreldwye waarskuwing geskud. Terselfdertyd is godvresende mense—“die begeerlike dinge”—deur God getrek om hulle van die nasies af te skei en saam met gesalfde Christene te werk om Jehovah se huis van aanbidding met heerlikheid te vervul (Haggai 2:7, NW). Ons moet hierdie begeerlikes wat deur God getrek is sekerlik as geliefde metgeselle beskou.

19. Wat leer Goddelike onderrigting ons omtrent die uitstryk van persoonlike probleme met mede-Christene?

19 Omdat ons almal onvolmaak is, sal dinge natuurlik nie altyd glad verloop nie. Toe Paulus op die punt gestaan het om op sy tweede sendingreis te vertrek, was Barnabas vasbeslote om Markus saam te neem. Paulus was nie ten gunste daarvan nie, omdat Markus “van Pamfilië af hulle verlaat het en nie saam met hulle na die werk gegaan het nie”. Dit het toe tot “’n skerp uitbarsting van toorn” gelei. Barnabas het Markus saam met hom na Ciprus geneem, terwyl Paulus Silas saam met hom deur Sirië en Cilicië geneem het (Handelinge 15:36-41, vgl. NW). Later het daar klaarblyklik ’n versoening plaasgevind, want Markus was saam met Paulus in Rome, en die apostel het gunstig van hom gepraat (Kolossense 4:10). Een voordeel van Goddelike onderrigting is dat dit toon hoe ons persoonlike probleme tussen Christene kan uitstryk deur raad te volg soos dié wat Jesus in Mattheüs 5:23, 24 en Mattheüs 18:15-17 gegee het.

Altyd voordelig en seëvierend

20, 21. Wat moet ons bespreking omtrent Goddelike onderrigting ons beweeg om te doen?

20 Selfs uit ons kort bespreking van party voordele en oorwinnings van Goddelike onderrigting kan ons almal ongetwyfeld die belangrikheid daarvan sien om dit voortdurend in ons lewe toe te pas. Laat ons dus met ’n biddende gees voortgaan om by ons Grootse Onderrigter te leer. Goddelike onderrigting gaan binnekort oorwin soos nog nooit tevore nie. Dit sal die oorwinning behaal wanneer hierdie wêreld se intellektueles hulle laaste asem uitgeblaas het. (Vergelyk 1 Korinthiërs 1:19.) En namate nog miljoene van God se wil te wete kom en dit doen, sal die kennis van Jehovah die aarde vul soos die waters die seebodem oordek (Jesaja 11:9). Op watter wonderlike wyse sal dit tog die gehoorsame mensdom bevoordeel en Jehovah as die Universele Soewerein regverdig!

21 Die onderrigting van Jehovah sal altyd voordelig wees en die oorwinning behaal. Sal jy as ’n ywerige student van God se groot Handboek voortgaan om voordele daaruit te put? Lewe jy in ooreenstemming met die Bybel en verkondig jy die waarhede daarin aan ander? Indien wel, kan jy uitsien na die volkome oorwinning van Goddelike onderrigting, wat tot die verheerliking van ons Grootse Onderrigter, die Soewereine Heer Jehovah, sal strek.

Wat het jy geleer?

◻ Watter uitwerking kan Goddelike onderrigting op ons lewe hê?

◻ Hoe voorsien Jehovah se onderrigting in die behoefte aan opvoeding?

◻ Watter voordelige uitwerking kan Goddelike onderrigting op ons denke en gesindheid hê?

◻ Hoe is Goddelike onderrigting voordelig wanneer dit by menseverhoudinge kom?

[Prent op bladsy 15]

Goddelike onderrigting toon hoe ons met God kan wandel, soos Noag gedoen het

[Prent op bladsy 17]

Mense van alle nasies stroom na Jehovah se berg

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel