Vertrou dat Jehovah sy voornemens sal uitvoer
“Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.”—PSALM 37:29.
1. Wat is Jehovah se voorneme met betrekking tot die mens en hierdie aarde?
TOE Jehovah ons eerste ouers, Adam en Eva, geskep het, het hy hulle volmaak gemaak. En hy het hulle so geskep dat hulle vir ewig op hierdie aarde kon lewe—mits hulle sy wette gehoorsaam het (Genesis 1:26, 27; 2:17). Daarbenewens het God hulle in ’n paradysagtige omgewing geplaas (Genesis 2:8, 9). Jehovah het vir hulle gesê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit” (Genesis 1:28). Sodoende sou hulle nakomelinge mettertyd oor die hele aarde versprei, en hierdie planeet sou ’n paradys word wat met ’n volmaakte, gelukkige menseras gevul is. Wat ’n wonderlike begin het die mensdom tog nie gehad nie! “Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed.”—Genesis 1:31.
2. Watter vrae ontstaan as gevolg van die toestand waarin die mens hom bevind?
2 Maar die toestand waarin die mens hom al duisende jare bevind, kom glad nie ooreen met God se oorspronklike voorneme nie. Die mensdom is alles behalwe volmaak en gelukkig. Wêreldtoestande is sorgwekkend, en soos voorspel is, het dit in ons tyd dramaties versleg (2 Timotheüs 3:1-5, 13). Hoe kan ons dan die vaste vertroue hê dat God se voorneme met betrekking tot die mens in die nabye toekoms verwesenlik sal word? Sal daar nog lang tydperke verbygaan waartydens sorgwekkende toestande sal heers?
Wat het skeef geloop?
3. Waarom het Jehovah nie onmiddellik ’n einde aan die mens se opstand gemaak nie?
3 Diegene wat juiste kennis van God se geïnspireerde Woord het, weet waarom Jehovah hierdie slegte toestande op die aarde toelaat. Hulle weet ook wat hy daaromtrent gaan doen. Hulle het uit die Bybelverslag geleer dat ons eerste ouers die wonderlike gawe van keusevryheid misbruik het wat God die mens gegee het. (Vergelyk 1 Petrus 2:16.) Hulle het verkeerdelik gekies om die weg van onafhanklikheid van God in te slaan (Genesis, hoofstukke 2 en 3). Hulle opstand het uiters belangrike vrae laat ontstaan, soos: Het die Universele Soewerein die reg om oor mense te regeer? Is sy heerskappy in belang van die mens? Kan menseheerskappy sonder God se toesig slaag? Die beste manier om die antwoorde op hierdie vrae te vind, was om toe te laat dat die mens hom eeue lank self regeer. Die resultate sou ongetwyfeld toon of mense sonder hulle Maker welslae sou kon behaal.
4, 5. (a) Wat was die gevolg van die mens se verwerping van God se heerskappy? (b) Wat is bo alle twyfel deur die verloop van tyd bewys?
4 Nadat Adam en Eva God verlaat het, het hy hulle nie meer gehelp om volmaak te bly nie. Sonder sy steun het hulle agteruitgegaan. Die gevolg was onvolmaaktheid, veroudering en uiteindelik die dood. Weens die erflikheidswette het ons eerste ouers daardie negatiewe hoedanighede aan al hulle nakomelinge oorgedra, en dit sluit ons in (Romeine 5:12). En wat van die resultaat van duisende jare van menseheerskappy? Dit was rampspoedig, net soos Prediker 8:9 tereg sê: “Die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk.”
5 Die verloop van tyd het bo alle twyfel bewys dat mense nie hulle aangeleenthede sonder hulle Skepper met welslae kan rig nie. Die geïnspireerde Bybelskrywer Jeremia het gesê: “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.”—Jeremia 10:23; Deuteronomium 32:4, 5; Prediker 7:29.
God se voorneme het nie verander nie
6, 7. (a) Het duisende jare van geskiedenis Jehovah se voorneme verander? (b) Wat behels Jehovah se voorneme ook?
6 Het die verloop van duisende jare van mensegeskiedenis—wat so vol goddeloosheid en lyding was—God se voorneme verander? Sy Woord sê: “So sê die HERE, wat die hemel geskape het—Hy is God!—wat die aarde geformeer en dit gemaak het—Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word” (Jesaja 45:18). God het die aarde dus gemaak om deur mense bewoon te word, en dit is steeds sy voorneme.
7 Jehovah het nie net die aarde geskep om bewoon te word nie, maar dit is ook sy voorneme dat dit ’n paradys word wat deur volmaakte, gelukkige mense geniet word. Dit is waarom die Bybel voorspel het dat daar “’n nuwe aarde”, ’n nuwe mensegemeenskap, sou wees waarin “geregtigheid woon” (2 Petrus 3:13). En in Openbaring 21:4 sê God se Woord vir ons hy sal in sy nuwe wêreld “al die trane van [die mensdom se] oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie”. Om hierdie redes kon Jesus van daardie toekomstige nuwe wêreld op aarde as die “Paradys” praat.—Lukas 23:43, NW.
8. Waarom kan ons seker wees dat Jehovah sy voorneme sal uitvoer?
8 Aangesien Jehovah die almagtige en alwyse Skepper van die heelal is, kan niemand sy voorneme dwarsboom nie. “Die HERE van die leërskare het gesweer en gesê: Waarlik, soos Ek gedink het, so gebeur dit; en soos Ek besluit het, kom dit tot stand” (Jesaja 14:24). As God dus sê dat hy hierdie aarde ’n paradys gaan maak wat deur volmaakte mense bewoon word, sal dit wel gebeur. Jesus het gesê: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.” (Mattheüs 5:5; vergelyk Psalm 37:29.) Ons kan op die vervulling van daardie belofte staatmaak. Trouens, ons kan ons lewe daarvoor op die spel plaas.
Hulle het Jehovah vertrou
9. Wat het Abraham gedoen wat getoon het dat hy op Jehovah vertrou het?
9 Baie godvresende mense het deur die geskiedenis heen hulle lewe ter wille van God se voorneme met die aarde op die spel geplaas omdat hulle oortuig was dat hy sy voorneme sou uitvoer. Hoewel hulle kennis moontlik beperk was, het hulle God vertrou en hulle lewe daarop gebou om sy wil te doen. Daar was byvoorbeeld Abraham, wat geleef het ongeveer 2 000 jaar voor Jesus op die aarde was—lank voor daar begin is om die Bybel te skryf. Hy het vertrou dat Jehovah Sy beloftes sou vervul. Abraham het moontlik by sy getroue voorvader Sem, wat deur Noag onderrig is, van die Skepper geleer. Toe God dus vir Abraham gesê het om uit die welvarende Ur van die Chaldeërs na die onbekende en gevaarlike land Kanaän te trek, het daardie patriarg geweet dat hy Jehovah kon vertrou, en daarom het hy gegaan (Hebreërs 11:8). Jehovah het mettertyd vir hom gesê: “Ek sal jou ’n groot nasie maak.”—Genesis 12:2.
10, 11. Waarom was Abraham bereid om sy enigverwekte seun, Isak, te offer?
10 Wat het gebeur nadat Isak vir Abraham gebore is? Jehovah het vir Abraham gesê dat sy nakomelinge deur Isak ’n groot nasie sou word (Genesis 21:12). Dit moes dus na ’n baie groot teenstrydigheid gelyk het toe Jehovah vir Abraham, as ’n toets van sy geloof, gesê het om sy seun Isak te offer (Genesis 22:2). Tog het Abraham ten volle op Jehovah vertrou en stappe gedoen om Jehovah se opdrag uit te voer deur selfs sy mes te neem om sy seun Isak te slag. Op die laaste oomblik het God ’n engel gestuur om Abraham te keer.—Genesis 22:9-14.
11 Waarom was Abraham so gehoorsaam? Hebreërs 11:17-19 toon waarom: “Deur geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak so goed as geoffer, en die man wat die beloftes met blydskap ontvang het, het probeer om sy enigverwekte seun te offer, hoewel daar vir hom gesê is: ‘Wat “jou saad” genoem sal word, sal deur Isak wees.’ Maar hy het gereken dat God hom selfs uit die dode kon opwek; en daaruit het hy hom dan ook op sinnebeeldige wyse ontvang” (NW). Romeine 4:20, 21 sê eweneens: “[Abraham] het nie deur ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie . . . en was ten volle oortuig dat [God] ook die mag het om te doen wat Hy beloof het.”
12. Hoe is Abraham vir sy geloof beloon?
12 Abraham is nie net vir sy geloof beloon deurdat Isak se lewe gespaar is en deurdat ’n “groot nasie” deur hom gekom het nie, maar ook op ’n ander manier. God het vir Abraham gesê: “In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het” (Genesis 22:18). Hoe? Die Koning van God se hemelse Koninkryk sou deur Abraham se nageslag kom. Daardie Koninkryk sal hierdie bose wêreld onder Satan uitwis (Daniël 2:44; Romeine 16:20; Openbaring 19:11-21). Dan, op ’n gereinigde aarde onder Koninkryksheerskappy, sal die Paradys oor die hele aarde tot stand gebring word, en mense uit “al die nasies” wat God se wil doen, sal volmaakte gesondheid en die ewige lewe geniet (1 Johannes 2:15-17). En hoewel Abraham se kennis van die Koninkryk beperk was, het hy God vertrou en uitgesien na die oprigting daarvan.—Hebreërs 11:10.
13, 14. Waarom het Job God vertrou?
13 ’n Paar honderd jaar later was daar Job, wat tussen die 17de en 16de eeu v.G.J. gewoon het in wat nou Arabië is. Hy het ook geleef voordat daar begin is om die Bybel te skryf. Job “was vroom en opreg en godvresend en een wat afgewyk het van die kwaad” (Job 1:1). Toe Satan Job met ’n afskuwelike, pynlike siekte geteister het, het daardie getroue man tydens al sy beproewinge “nie een sondige woord geuiter nie” (Job 2:10, The New English Bible). Job het God vertrou. En hoewel hy nie presies geweet het waarom hy so ly nie, het hy sy lewe ter wille van God en Sy beloftes op die spel geplaas.
14 Job het geweet dat selfs as hy sou sterf God hom eendag deur die opstanding weer kan laat lewe. Hy het getoon dat hy hierdie hoop koester toe hy vir Jehovah God gesê het: “Ag, as U my maar in die doderyk [die graf] wou wegsteek, . . . my ’n bepaalde tyd wou stel en dan aan my wou dink! As ’n mens sterwe, sal hy weer lewe? . . . U sou roep, en ek sou U antwoord” (Job 14:13-15). Hoewel Job geweldige pyn moes verduur, het hy getoon dat hy geloof in Jehovah se soewereiniteit het deur te sê: “Totdat ek die asem uitblaas, sal ek my onskuld [“onkreukbaarheid”, NW] nie prysgee nie.”—Job 27:5.
15. Hoe het Dawid sy vertroue in Jehovah se voorneme uitgespreek?
15 Sowat ses eeue ná Job en ongeveer duisend jaar voor Jesus na die aarde toe gekom het, het Dawid sy vertroue in ’n nuwe wêreld uitgespreek. Hy het in die psalms gesê: “Die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit. En nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie . . . Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede. Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.” Vanweë sy onwankelbare hoop het Dawid mense met hierdie woorde aangespoor: “Vertrou op die HERE . . . en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.”—Psalm 37:3, 4, 9-11, 29.
16. Watter hoop het “’n groot wolk van getuies” gekoester?
16 Getroue manne en vroue het deur die eeue heen hierdie selfde hoop op die ewige lewe op aarde gekoester. Trouens, hulle het “’n groot wolk van getuies” gevorm wat letterlik hulle lewe ter wille van Jehovah en sy beloftes op die spel geplaas het. Baie van daardie eertydse getuies van Jehovah is weens hulle geloof gemartel en doodgemaak “om ’n beter opstanding te kan verkry”. Hoe so? In die nuwe wêreld sal God hulle met ’n beter opstanding en die vooruitsig op die ewige lewe beloon.—Johannes 5:28, 29; Hebreërs 11:35; 12:1.
Christengetuies vertrou op God
17. Hoe groot was die eerste-eeuse Christene se vertroue in Jehovah?
17 In die eerste eeu G.J. het Jehovah verdere besonderhede oor die Koninkryk en die heerskappy daarvan oor die aarde aan die pas gestigte Christengemeente geopenbaar. Sy gees het byvoorbeeld die apostel Johannes geïnspireer om te skryf dat daar 144 000 saam met Jesus Christus in die Koninkryk van die hemel sou wees. Hulle sou getroue knegte van God wees wat “gekoop is uit die mense” (Openbaring 7:4; 14:1-4). Hulle gaan saam met Christus in die hemel “as konings” oor die aarde regeer (Openbaring 20:4-6). Daardie eerste-eeuse Christene het so ’n vaste vertroue gehad dat Jehovah sy voorneme met betrekking tot die hemelse Koninkryk en die aardse domein daarvan sou uitvoer dat hulle bereid was om vir hulle geloof te sterf. Baie van hulle het dit ook gedoen.
18. Hoe volg Jehovah se hedendaagse Getuies hulle broers van lank gelede na?
18 Vandag het byna vyfmiljoen Getuies van Jehovah dieselfde vertroue in God as hulle broers wat eeue voor hulle geleef het. Hierdie hedendaagse Getuies het ook hulle lewe ter wille van God se beloftes op die spel geplaas. Hulle het hulle lewe aan hom toegewy en het die volledige Bybel om hulle geloof te versterk (2 Timotheüs 3:14-17). Hierdie hedendaagse Getuies van Jehovah volg Jesus se eerste-eeuse volgelinge na wat gesê het dat hulle “aan God meer gehoorsaam [sal] wees as aan die mense” (Handelinge 5:29). Baie van hierdie Christengetuies is in hierdie eeu al wreed vervolg. Sommige is selfs weens hulle geloof doodgemaak. Ander het aan siekte, weens ongelukke of weens ouderdom gesterf. Maar soos getroue getuies van die verlede het hulle God vertrou omdat hulle geweet het dat hy hulle deur ’n opstanding in sy nuwe wêreld weer sal laat lewe.—Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15; Openbaring 20:12, 13.
19, 20. Wat besef ons oor Bybelprofesieë vir ons dag?
19 Jehovah se Getuies besef dat daar lank gelede in Bybelprofesieë voorspel is dat hulle uit al die nasies in ’n wêreldwye broederskap byeengebring sou word (Jesaja 2:2-4; Openbaring 7:4, 9-17). En Jehovah laat hulle ’n wêreldwye predikingswerk doen om nog opregtes van hart in te samel sodat hulle sy guns en beskerming kan geniet (Spreuke 18:10; Mattheüs 24:14; Romeine 10:13). Hulle stel almal hulle volle vertroue in Jehovah omdat hulle weet dat hy sy wonderlike nuwe wêreld binnekort sal inlui.—Vergelyk 1 Korinthiërs 15:58; Hebreërs 6:10.
20 Bybelprofesieë toon dat Satan se wêreld nou al byna 80 jaar, sedert die spiljaartal 1914, in sy laaste dae is. Hierdie wêreld nader sy einde (Romeine 16:20; 2 Korinthiërs 4:4; 2 Timotheüs 3:1-5). Jehovah se Getuies skep dus moed omdat hulle besef dat God se Koninkryk binnekort die volle beheer oor die hele aarde se aangeleenthede sal oorneem. Deur hierdie huidige, bose wêreld uit die weg te ruim en sy regverdige nuwe wêreld in te lui, sal God die slegte toestande wat al soveel eeue lank op die aarde bestaan heeltemal uitwis.—Spreuke 2:21, 22.
21. Waarom kan ons ondanks huidige probleme verheug wees?
21 Dan sal God tot in alle ewigheid wys hoeveel hy vir ons omgee deur seëninge op ons uit te stort wat ruimskoots sal vergoed vir enige pyn wat ons in die verlede ondervind het. Daar sal soveel goeie dinge met ons in die nuwe wêreld gebeur dat ons probleme van die verlede mettertyd heeltemal sal vervaag. Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat Jehovah dan ‘sy hand sal oopmaak en alles wat lewe met welbehae sal versadig’.—Psalm 145:16; Jesaja 65:17, 18.
22. Waarom moet ons ons vertroue in Jehovah stel?
22 In die nuwe wêreld sal die getroue mensdom die vervulling van Romeine 8:21 sien: “Die skepping self [sal] vrygemaak . . . word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God.” Hulle sal die vervulling sien van hierdie gebed wat Jesus sy volgelinge geleer het: “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mattheüs 6:10). Jy kan dus jou volle vertroue in Jehovah stel omdat sy onfeilbare belofte is: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:29.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Wat is Jehovah se voorneme met betrekking tot die mens en hierdie aarde?
◻ Waarom laat God slegte toestande op die aarde toe?
◻ Hoe het getroue mense van die ou tyd hulle vertroue in Jehovah getoon?
◻ Waarom vertrou God se hedendaagse knegte op Jehovah?
[Prente op bladsy 16]
God het mense geskep om vir ewig in geluk op ’n paradysaarde te lewe
[Prente op bladsy 18]
Abraham het sy vertroue gestel in Jehovah se vermoë om die dooies op te wek