Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 4/1 bl. 25-28
  • Hoe kan die mens na die beeld van God wees?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan die mens na die beeld van God wees?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah se eienskappe
  • Pogings om God na te volg
  • Hoe kan ons vandag meer soos God wees?
  • Die verkondiging van die goeie nuus
  • Verheerlik Jehovah as die enigste ware God
    Aanbid die enigste ware God
  • “Dit is hoe God ons liefgehad het”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Geregtigheid binnekort vir alle nasies
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Volg Jehovah na—Beoefen geregtigheid en regverdigheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 4/1 bl. 25-28

Hoe kan die mens na die beeld van God wees?

“GOD het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.” Dit is wat die geïnspireerde verslag sê, maar wat beteken dit? Hoe is die eerste man en vrou na die beeld van God geskep?—Genesis 1:27.

Was hulle fisies soos God? Nee, dit is onmoontlik. Die mens is sterflik, vleeslik, gemaak om op die aarde te woon. God is gees en hy woon in hemelse heerlikheid wat die mens hom nie kan voorstel en wat vir geen mens enigsins toeganklik is nie (Exodus 33:18-20; 1 Korinthiërs 15:50). Hoe is die mens dan na die beeld van God geskep? In die sin dat die mens die vermoë gegee is om God se voortreflike eienskappe—liefde, geregtigheid, wysheid en mag—asook ander eienskappe aan die dag te lê.

Jehovah se eienskappe

Jehovah God se eienskappe word in sy hele skepping weerspieël, maar hulle is op dramatiese wyse geopenbaar in sy handelinge met die eerste mensepaar, Adam en Eva (Romeine 1:20). Sy liefde is daarin gesien dat hy die aarde net reg geskep het vir die mens om op te woon. Jehovah het vir die man ’n volmaakte vrou geskep om sy metgesel en die ma van sy kinders te wees. Hy het hulle twee in ’n pragtige tuin geplaas en hulle oorvloedig voorsien van alles wat hulle nodig gehad het om aan die lewe te bly en gelukkig te wees. Maar die wonderlikste van alles is dat God hulle die geleentheid gebied het om vir ewig te lewe.—Genesis 2:7-9, 15-24.

God se wysheid is daarin gesien dat hy die eerste mensepaar getoets het. As hulle lede van Jehovah se universele gesin wou bly en as hulle vir ewig as die ouers van die mensdom wou lewe, sou hulle ’n voorbeeld in getrouheid en ware aanbidding moes stel. Daarom het Jehovah hulle die geleentheid gebied om hulle hartstoestand onder ’n gepaste toets te openbaar—hulle is verbied om van die boom van die kennis van goed en kwaad te eet. Hoe wys was dit tog van Jehovah om mense die geleentheid te bied om hulle gehoorsaamheid en liefde aan hom te bewys voordat hy hulle die wonderlike voorregte sou gee wat hy in gedagte gehad het!

God se geregtigheid is daarin gesien dat hy hoë standaarde van sy skepsele vereis het en dat hy nie daardie standaarde prysgegee het nie. Dit blyk uit die feit dat hy Adam en Eva elke moontlike geleentheid gebied het om te doen wat reg is. En toe hulle ongehoorsaam was, is sy geregtigheid daarin gesien dat hy hulle die straf vir hulle opstand opgelê het soos hy gesê het hy sou.

En laastens is Jehovah se mag daarin gesien dat hy sy vonnis voltrek het. Satan, die groot opstandeling, het te kenne gegee dat Jehovah ’n leuenaar is, en Satan het Eva groot dinge belowe indien sy aan God ongehoorsaam sou wees (Genesis 3:1-7). Maar Satan kon nie sy belofte nakom nie. Hy kon nie keer dat Jehovah Adam en Eva uit die tuin van Eden dryf nie, en hy kon ook nie voorkom dat God se woorde aan Adam vervul word nie: “Stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:19). Maar Jehovah het nie die doodsvonnis onmiddellik voltrek nie, en dit was ’n verdere blyk van sy liefde. Hy het Adam en Eva tyd gegun om kinders voort te bring deur wie sy oorspronklike voorneme vir die mensdom uiteindelik verwesenlik sou word.—Genesis 1:28.

Jehovah God se geregtigheid, liefde, mag en wysheid is verder geopenbaar in sy belofte om ’n saad te voorsien wat Satan se werke sou vernietig en die droewige gevolge van daardie eerste opstand teen God se soewereiniteit ongedaan sou maak (Genesis 3:15). Wat ’n wonderlike Skepper het ons tog!

Pogings om God na te volg

Hoewel mense nie meer volmaak is nie, kan hulle steeds God se eienskappe aan die dag lê. Daarom het Paulus die Christene van sy dag aangespoor: “Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders” (Efesiërs 5:1). Maar deur die geskiedenis heen het die meeste mense growwe minagting vir God se eienskappe getoon. In Noag se tyd was die mense reeds so verdorwe dat Jehovah besluit het om die hele mensdom behalwe Noag en sy gesin te vernietig. Noag was “’n regverdige, opregte man onder sy tydgenote”, en hy het sy liefde vir God getoon deur God se gebooie na te kom. “Noag het dit gedoen. Net soos God hom beveel het, so het hy gedoen” (Genesis 6:9, 22). Noag het getoon dat hy sy medemens liefhet en geregtigheid najaag deur ’n “prediker van geregtigheid” te wees (2 Petrus 2:5). Hy het verstandig opgetree en sy liggaamlike krag op gepaste wyse gebruik deur God se opdrag uit te voer en ’n ontsaglike ark te bou, voedsel daarin op te berg, diere bymekaar te maak en op Jehovah se bevel in die ark in te gaan. Hy het ook sy liefde vir regverdigheid getoon deur nie toe te laat dat sy goddelose medemense hom verderf nie.

Die Bybel beskryf baie ander wat eweneens goddelike eienskappe aan die dag gelê het. Die vernaamste voorbeeld was Jesus Christus, wat volmaak na God se beeld geskep is en dus kon sê: “Hy wat My gesien het, het die Vader gesien” (Johannes 14:9). Van die eienskappe wat Jesus aan die dag gelê het, was veral sy liefde uitsonderlik. Liefde vir sy Vader en vir die mensdom het hom beweeg om sy hemelse tuiste te verlaat en as ’n mens op die aarde te woon. Dit het hom beweeg om sy Vader deur sy regverdige gedrag te verheerlik en om die goeie nuus van redding aan die mensdom te verkondig (Mattheüs 4:23; Johannes 13:31). Daarna het liefde Jesus beweeg om sy volmaakte lewe vir die redding van die mensdom, en nog belangriker, vir die heiliging van God se naam op te offer (Johannes 13:1). Is daar enige beter voorbeeld as Jesus Christus wat ons kan navolg in ons strewe om God na te volg?—1 Petrus 2:21.

Hoe kan ons vandag meer soos God wees?

Hoe kan ons vandag God se eienskappe aan die dag lê en sodoende na God se beeld optree? Wel, beskou eerstens die eienskap van liefde. Jesus het gesê: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.” Hoe betoon ons liefde teenoor God? Die apostel Johannes antwoord: “Dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie.”—Mattheüs 22:37; 1 Johannes 5:3.

Om Jehovah se gebooie te gehoorsaam, moet ons hulle natuurlik ken. Dit verg dat ons God se Woord, die Bybel, en Bybellektuur lees, bestudeer en daaroor peins. Ons moet soos die psalmis kan sê: “Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag” (Psalm 119:97). Namate ons ’n grondiger begrip van God se Woord verkry, begin ons al hoe meer soos God dink. Ons leer om regverdigheid lief te hê en wetteloosheid te haat (Psalm 45:7, vgl. NW). Dit is waar Adam ’n fout begaan het. Hy het Jehovah se wet geken, maar hy het dit nie lief genoeg gehad om daarby te bly nie. Wanneer ons God se Woord lees, moet ons ons gedurig afvra: ‘Hoe is dit op my van toepassing? Wat kan ek doen om my gedrag meer met God se eienskappe in ooreenstemming te bring?’

Jesus het ook gesê: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Mattheüs 22:39). Elke normale mens het homself lief en wil die beste vir homself hê. Dit is nie verkeerd nie. Maar betoon ons soortgelyke liefde teenoor ons naaste? Gehoorsaam ons die Bybelse opdrag: “Hou ’n weldaad nie terug van hom aan wie dit toekom as dit in jou mag is om dit te doen nie”?—Spreuke 3:27; Galasiërs 6:10.

Wat van die eienskap van wysheid? Ons begeerte om hierdie eienskap te openbaar, beweeg ons om die Bybel te bestudeer omdat dit die skatkamer van Goddelike wysheid is. Psalm 119:98-100 lui: “U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig. Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u getuienisse is my bepeinsing. Ek het meer verstand as die ou mense, want ek bewaar u bevele.” In Spreuke 3:18 word wysheid as “’n lewensboom” beskryf. As ons wysheid verwerf en dit aan die dag lê, sal ons God se goedkeuring en die beloning van die ewige lewe ontvang.—Prediker 7:12.

Wat van geregtigheid? In hierdie goddelose wêreld is geregtigheid ’n noodsaaklike eienskap vir diegene wat God wil behaag. Jesus het regverdigheid (geregtigheid) liefgehad en wetteloosheid gehaat (Hebreërs 1:9). Hedendaagse Christene doen dieselfde. Geregtigheid spoor hulle aan om die regte eienskappe te waardeer. Hulle vermy die onregverdige weë van hierdie wêreld en stel die doen van God se wil eerste in hulle lewe.—1 Johannes 2:15-17.

Ons almal het ’n mate van mag of krag. Ons het van nature fisiese en verstandelike krag, en namate ons as Christene vooruitgang maak, verkry ons krag in ’n geestelike sin. Jehovah vul ons krag met sy heilige gees aan sodat ons, hoewel dit dalk lyk of ons swak is, Jehovah se wil kan volbring. Paulus het gesê: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Filippense 4:13). Ons kan dieselfde krag verkry as ons om Jehovah se gees bid.

Die verkondiging van die goeie nuus

Die wyse waarop ons die volgende bevel gehoorsaam, dui aan in watter mate ons God se vier hoofeienskappe openbaar: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Mattheüs 28:19, 20). So ’n onderrigtingswerk beteken lewe vir die wat gunstig daarop reageer. Wat ’n uitstekende bewys van liefde vir diegene wat, in die meeste gevalle, aanvanklik vir ons volslae vreemdelinge is!

Daarbenewens is hierdie onderrigting die verstandige weg. Dit lewer blywende vrugte op. Van watter ander werk kan daar gesê word: “Deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor”? (1 Timotheüs 4:16). Daar is geen verloorders in die dissipelmaakwerk nie. Diegene wat luister sowel as diegene wat onderrig gee, verkry ewige seëninge.

Wat geregtigheid betref, leer Christene hulle Bybelstudente regverdige beginsels. Ons help hulle om Jehovah, “die God van geregtigheid”, te dien (Maleagi 2:17, NW). Diegene wat vandag hulle lewe daaraan wy om Jehovah te dien en getrou daarmee volhou, word regverdig verklaar, wat daartoe sal lei dat hulle Armageddon oorleef.—Romeine 3:24, vgl. NW; Jakobus 2:24-26, vgl. NW.

Wat ’n bewys van krag is die wêreldwye verkondiging van en onderrigting in die goeie nuus tog! (Mattheüs 24:14). Dit verg volharding om die predikingswerk voortdurend in gebiede te doen waar die meeste nie wil hoor nie. Maar Jehovah gee ons die nodige krag deur sy gees om tot die einde toe te volhard.—Jesaja 40:30, 31; Mattheüs 24:13; Lukas 11:13.

As onvolmaakte nakomelinge van Adam kan ons weliswaar nie hierdie goeie eienskappe volmaak aan die dag lê nie. Maar ons moet onthou dat die mens na God se beeld geskep is, en as ons daarna strewe om meer soos God te wees, vervul ons deels die rede vir ons bestaan (Prediker 12:13). As ons ons inspan om ons bes te doen en vergifnis vra wanneer ons te kort skiet, kan ons hoop om tot in God se regverdige nuwe wêreld te bly lewe, waar ons eindelik volmaaktheid kan bereik. Dan sal ons op ’n paradysaarde wees wat met volmaakte mense bevolk sal wees wat almal Jehovah God se eienskappe ten volle sal openbaar. Wat ’n vreugde sal dit tog wees! Eindelik sal die mens in die volste sin na die beeld van God wees.

[Prent op bladsy 25]

Jesus het getoon hoe ons Jehovah se Goddelike eienskappe kan aankweek

[Prent op bladsy 26]

Eindelik sal die mens in die volste sin na die beeld van God wees

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel