Onderskraag deur die God wat nie kan lieg nie
SOOS VERTEL DEUR MARY WILLIS
Die gevolge van die wêrelddepressie het die agterveld van Wes-Australië teen 1932 bereik. Daardie jaar, toe ek maar net 19 was, is ek en Ellen Davies gestuur om in ’n gebied van ongeveer 100 000 vierkante kilometer te gaan preek. Ons beginpunt sou die klein dorpie Wiluna wees, wat sowat 950 kilometer noordoos van ons tuiste in Perth, die hoofstad van Wes-Australië, geleë is.
OP PAD soontoe het ek en Ellen saam met ’n vriendelike kondukteur in die trein se kondukteurswa gereis. Elke keer wanneer die trein by ’n spoorweghalte stilgehou het, was die kondukteur gaaf genoeg om vir ons te sê hoe lank ons daar sou vertoef. Dit het ons die geleentheid gegee om af te klim en vir mense in daardie afgesonderde spoorweggemeenskappies te getuig. Ons het uiteindelik, tydens ’n stofstorm, op die myndorp Wiluna aangekom.
Maar die spoorweghalte by Wiluna was byna drie kilometer van die dorp af. Nie een van ons twee was juis baie sterk nie en ons het drie swaar kartonne lektuur sowel as twee tasse gehad. Wat moes ons doen? Ons het ’n karton aan ’n stok gehang en elkeen ’n punt van die stok gevat. So het ons die kartonne, een vir een, gedra. Ons het die drie kilometer sewe keer afgelê om die drie kartonne en ons tasse dorp toe te dra. Ons het dikwels gestop om te rus, want ons hande het baie seer geraak.
Ten spyte van die stof, seer hande en moeë bene het ons die uitdaging en die opwinding geniet. Ons het albei gevoel dat Jehovah met ons is, dat hy ons onderskraag om teen hierdie moeilike inleiding tot die predikingswerk in afgeleë gebiede opgewasse te wees. Ons het ook kort voor lank gesien hoe hy ons werk seën, want ons pogings tydens daardie reistog het daartoe gelei dat die jong Bob Horn Bybelwaarheid aangeneem het. Ons is verheug dat Bob etlike jare in Bethel kon dien en dat hy Jehovah byna 50 jaar lank getrou gedien het tot sy dood in 1982.
Van Wiluna af het ons meer as 725 kilometer na Geraldton aan die kus gereis en in nedersettings langs die pad gepreek. Van Geraldton af het ons na Perth teruggekeer. Party nagte het ons in leë spoorwegwagkamers geslaap en eenkeer selfs in ’n hooimied langs die spoorlyn.
Ons het ’n kussingsloop vol tuisgemaakte koringbeskuitjies saamgeneem. Ons het die eerste helfte van ons reistog hoofsaaklik daarvan gelewe. Partykeer het ons ons maaltye verdien deur in losieshuise en eetplekke skottelgoed te was en vloere te skrop. Ander kere het ons in die warm son ertjies of bone gepluk. Bydraes van belangstellendes wat Bybellektuur geneem het, het ons met ons onkoste gehelp.
Twee dinge wat my die krag gegee het om voortdurend geloof in Jehovah te stel en met vreugde talle moeilike situasies destyds die hoof te bied, was my ma se voorbeeld en die vroeë opleiding wat sy my gegee het.
’n Christelike erfenis
My ma het sterk geloof in ’n Skepper gehad, en vandat ek kan onthou, het sy met ons as kinders oor hom gepraat. Haar geloof is egter swaar beproef toe ons sewejarige boetie in ’n tragiese ongeluk by die skool gesterf het. My ma het nie verbitterd teenoor God geraak nie, maar het eerder ’n ernstige studie van die Bybel begin maak. Sy wou, indien moontlik, uitvind waarom sulke tragedies gebeur. Haar soeke na Bybelwaarheid is beloon, en sy het in die vroeë twintigerjare deur middel van waterdoop haar toewyding aan die ware God, Jehovah, gesimboliseer.
Van toe af het sy in haar besprekings met ons dikwels beklemtoon hoe onfeilbaar God se beloftes is. Sy het ons aangespoor om altyd, ongeag wat gebeur, te onthou dat ‘God nie kan lieg nie’ (Titus 1:2). Gevolglik is ek en my suster en twee van ons broers, asook ons gesinne en kleinkinders, vandag almal lowers van Jehovah God. Twee van my suster se seuns, Alan en Paul Mason, dien vandag as reisende opsieners.
Van jongs af ’n begeerte om evangelisasiewerk te doen
Ek het nie goed gevaar op skool nie en het in 1926, toe ek 13 was, die skool verlaat. Maar ek het ’n sterk begeerte gehad om ander te vertel wat ek omtrent die Bybel geleer het. My pa het gedink dat ek nie genoeg skoolopleiding het om enigiemand te help nie, maar my ma het gesê: “Al vertel sy mense net van die naderende oorlog van Armageddon en dat die sagmoediges die aarde sal beërwe, sal dit God se Koninkryk adverteer.” Ek het dus in my vroeë tienderjare aan die predikingswerk van deur tot deur begin deelneem, hoewel ek eers in 1930 gedoop is. Kort daarna het ek voltydse evangelisasiewerk in die gebied rondom Perth begin doen.
In die daaropvolgende jaar, 1931, het ons ons nuwe naam Jehovah se Getuies begin gebruik. Baie huisbewoners het egter daarteen kapsie gemaak dat ons hierdie heilige naam van God gebruik en het heftig gereageer. Maar ek het ondanks die onaangename reaksies in die bediening volgehou. Ek was vol vertroue dat God nie lieg wanneer hy belowe dat sy knegte kan ‘dien uit die krag wat hy verleen’ nie.—1 Petrus 4:11; Filippense 4:13.
Die “groot menigte” word geïdentifiseer
In 1935 het ek ’n toewysing aan die ander kant van die ontsaglike Australiese kontinent ontvang. Ek het dus vir jare daarna as ’n pionierbedienaar in die omgewing van Nieu-Engeland in die staat Nieu-Suid-Wallis, sowat 4 000 kilometer van my vorige tuiste in Perth af, gedien.
Tot op daardie stadium het ek die embleme van die ongesuurde brood en rooi wyn by die jaarlikse herdenking van Jesus se dood gebruik. Hoewel dit destyds as korrek beskou is, veral vir ywerige voltydse bedienaars, was ek nooit daarvan oortuig dat ek ’n hemelse hoop het nie. Toe, in 1935, is daar aan ons verduidelik dat ’n groot menigte ingesamel word wat die vooruitsig het om vir ewig op die aarde te lewe. Baie van ons was verheug om tot die besef te kom dat ons ’n deel van daardie groot menigte is, en ons het opgehou om die embleme te gebruik (Johannes 10:16; Openbaring 7:9). Bybelwaarheid het al helderder begin skyn, net soos Jehovah belowe het.—Spreuke 4:18.
Nuwe predikingsmetodes
In die middel-dertigerjare het ons die grammofoon in ons bediening begin gebruik. Daarom moes ’n rakkie voor en agter aan ons stewige fietse aangebring word, nie alleen vir die swaar grammofone nie, maar ook vir die plate sowel as ons lektuursakke. Ek moes baie versigtig wees wanneer alles op my fiets gelaai was, want as dit omgeval het, sou dit vir my te swaar gewees het om dit weer op te lig!
Ons het om en by daardie tyd ook met so genoemde inligtingsoptogte begin. Ons het in die hoofstrate van dorpe afgestap en plakkate, of reklameborde, gedra waarop treffende slagspreuke gepryk het. Hierdie werk was ’n groot toets van my geloof, veral toe ek in hegtenis geneem en oornag in ’n klein tronksel in die dorp Lismore opgesluit is. Ek het baie vernederd gevoel toe ek die volgende dag in die hof ingebring is en nie eens toegelaat is om my hare te kam nie! Maar Jehovah het my weer eens onderskraag soos hy belowe het. Die saak is afgewys, want die enigste aanklag wat teen my ingebring is deur die polisieman wat my in hegtenis geneem het, was dat my plakkaat vir sy godsdiens aanstootlik was.
Terug na die weste toe
In die vroeë veertigerjare is ek gestuur om weer in die plattelandse dorpe in Wes-Australië as ’n pionier te gaan dien. Daar het ek verdere onvergeetlike ondervindinge en geestelike seëninge gehad. Terwyl ek in Northam gedien het, het ek ’n besige huisvrou, Flo Timmins, ongeveer 11 kilometer buite die dorp ontmoet. Sy het die boek Reconciliation geneem, en kort voor lank het sy ’n toegewyde Getuie van Jehovah God geword. Sy is steeds bedrywig in die Koninkryksdiens, en haar dogter, wat destyds net vier was, het toe sy groot was ’n spesiale pionierbedienaar geword.
Maar daar was ander onvergeetlike ondervindinge. Eenkeer toe ek en my pioniermaat met ons perdekar oor ’n brug in Northam gery het, het die perd skielik op loop gesit en ons ’n skrikwekkende rit oor die bruisende waters van die Avonrivier ver benede ons gegee. Die perd het eers ná ongeveer ’n kilometer tot bedaring gekom.
Die huwelik en ’n gesin
In 1950 is ek met Arthur Willis getroud, wat toe ook al baie jare ’n pionier was. Ons het in die Wes-Australiese plattelandse dorp Pingelly gaan woon, waar ons met ’n seun, Bentley, en ’n dogter, Eunice, geseën is. Toe ons kinders byna klaar was met die skool het Arthur besluit om weer die pionierdiens te betree. My man se goeie voorbeeld het albei ons kinders aangespoor om dadelik die gewone pionierdiens te betree toe hulle aan die vereistes voldoen het.
Arthur het die kinders dikwels na afgeleë plattelandse gebiede geneem om te preek. Partykeer was hulle ’n week of langer van die huis af weg en het hulle elke aand uitgekamp. Wanneer hulle weggegaan het, het ek tuisgebly om na ons meubelonderneming om te sien, wat dit moontlik gemaak het dat hulle drie as pioniers kon dien.
Ons bediening onder die Australiese inboorlinge
Een oggend net nadat die gesin van een van hulle besoeke aan die platteland teruggekom het, het ons ’n onverwagte besoeker gekry. Die besoeker was ’n Australiese inboorling, wat gevra het: “Wat moet ek doen om terug te kan kom?” Aanvanklik was ons uit die veld geslaan. Toe het Arthur hom herken as ’n man wat baie jare tevore weens dronkenskap uit die Christengemeente gesit is. Hy het daarna ’n skokkende reputasie as ’n strawwe drinker en ’n skuldmaker opgebou.
Arthur het aan hom verduidelik wat hy moet doen om in Jehovah se rein organisasie herstel te word. Hy is stil daar weg sonder om veel te sê, en ons het almal gewonder wat hy sou doen. Nie een van ons het verwag om te sien wat gedurende die daaropvolgende paar maande gebeur het nie. Die veranderinge wat daardie man aangebring het, was byna ongelooflik! Hy het nie alleen sy drinkery laat staan nie, maar het ook mense in die omgewing besoek, hulle daaraan herinner dat hy hulle geld skuld en hulle dan betaal! Vandag is hy weer eens ’n broer in die geloof, en hy het ’n ruk lank as ’n pionierbedienaar gedien.
Daar was baie Australiese inboorlinge in Pingelly en dit het ons bediening uiters lonend gemaak om hierdie nederige mense te help om die waarheid van God se Woord te leer en aan te neem. Hoe geloofversterkend was dit tog vir my om baie van die Australiese inboorlinge te help om die waarheid te leer!
’n Gemeente is in Pingelly gestig, en aan die begin was die meeste gemeentelede Australiese inboorlinge. Ons moes baie van hulle leer lees en skryf. In daardie vroeë jare was die mense baie bevooroordeeld teenoor hulle, maar die dorpsmense het mettertyd die Australiese inboorlinge wat Getuies was, begin respekteer omdat hulle ’n rein lewe lei en betroubare burgers is.
Jehovah se getroue onderskraging
My geliefde man, Arthur, wat God 57 jaar lank getrou gedien het, is vroeg in 1986 oorlede. Al die sakemanne in Pingelly sowel as die mense in die omgewing het groot agting vir hom gehad. Jehovah het my weer eens onderskraag en my die krag gegee om hierdie skielike verlies te verduur.
My seun, Bentley, dien as ’n ouere man in die noorde van Wes-Australië, waar hy en sy vrou, Lorna, hulle gesin in die waarheid grootgemaak het. Nog iets wat vir my ’n groot bron van vreugde is, is die feit dat my dogter, Eunice, tot vandag toe nog in die voltydse diens is. Sy en haar man, Jeff, dien as pioniers. Ek woon nou by hulle en is dankbaar dat ek as ’n gereelde hulppionier kan dien.
Ek ondervind nou al meer as 60 jaar die vervulling van Jehovah se liefdevolle belofte dat hy sy knegte sal versterk en hulle sal help om enige omstandighede waarin hulle hulle mag bevind die hoof te bied. Hy voorsien in al ons behoeftes as ons nooit aan hom twyfel of wat hy vir ons doen as vanselfsprekend aanvaar nie. Dit het my geloof versterk om te sien hoe God sake rig, en ek het gesien hoe hy ons bo al ons verwagtinge seën (Maleagi 3:10). Waarlik, God kan nie lieg nie!
[Prent op bladsy 27]
Mary in 1933
[Prente op bladsy 29]
Mary en Arthur in latere jare