Geniet jy persoonlike studie?
ENIGE opregte kneg van God sal genot daaruit put om baie tyd aan persoonlike Bybelstudie te wy (Psalm 1:1, 2). Tog vind baie dit moeilik om, vanweë die hoë eise wat aan hulle tyd en krag gestel word, soveel tyd en energie as wat hulle graag wil aan persoonlike studie te bestee.
Maar om as bedrywige knegte van God voort te gaan, moet almal van dag tot dag hulle vreugde en krag hernieu deur nuwe of dieper aspekte van die waarheid van God se Woord te vind. Die Bybelwaarhede wat jou jare gelede aangevuur het, het nou dalk nie meer dieselfde uitwerking nie. Dit is derhalwe goed, selfs noodsaaklik, dat ons doelbewus en voortdurend probeer om nuwe insig in die waarheid te verkry sodat ons geestelik gestimuleerd sal bly.
Hoe het die eertydse manne van geloof hulleself deur persoonlike studie van God se Woord geestelik versterk? Wat doen sommige van Jehovah se hedendaagse knegte om hulle studie genotvoller sowel as lonender te maak? Hoe is hulle vir hulle pogings beloon?
Hulle het hulle krag deur persoonlike studie hernieu
Nadat “die boek van Jehovah se wet deur die hand van Moses” aan koning Josia van Juda voorgelees is, het hy sy veldtog teen afgodediens met selfs groter ywer aangepak. Dit was ongetwyfeld nie die eerste keer dat hy hierdie deel van God se Woord gehoor het nie; maar die feit dat hy die boodskap direk uit die oorspronklike manuskrip gehoor het, het hom in sy stryd vir ware aanbidding aangespoor.—2 Kronieke 34:14-19, vgl. NW.
Die profeet Daniël het ‘die getal jare met betrekking tot die puinhope van Jerusalem’ en die sekerheid van die vervulling nie net uit die boek Jeremia vasgestel nie, maar ook uit “die boeke”. Dit het heel waarskynlik boeke soos Levitikus (26:34, 35), Jesaja (44:26-28), Hosea (14:4-7) en Amos (9:13-15) ingesluit. Wat hierdie godvrugtige man deur sy ywerige studie van die Bybelboeke vasgestel het, het hom God in vurige gebed laat nader. Sy opregte versoek is met verdere openbaringe en versekering met betrekking tot die stad Jerusalem sowel as sy volk beantwoord.—Daniël, hoofstuk 9.
Josia, wat gedoen het “wat reg was in die oë van die HERE”, en Daniël, wat in God se oë “’n geliefde man” was, was nie wesenlik anders as ons vandag nie (2 Konings 22:2; Daniël 9:23). Hulle persoonlike pogings om die Skrif wat destyds beskikbaar was ywerig te bestudeer, het hulle geestelikheid versterk en hulle gehelp om hegter bande met God te geniet. Dieselfde kan gesê word van baie ander eertydse knegte van Jehovah, soos Jefta, ’n psalmis van die huis van Asaf, Nehemia en Stefanus. Hulle almal het klaarblyklik noukeurige persoonlike studie gedoen van die deel van die Bybel wat in hulle tyd beskikbaar was.—Rigters 11:14-27; Psalms 79, 80; Nehemia 1:8-10; 8:10-13; 13:29-31; Handelinge 6:15–7:53.
Laat die bediening jou aanspoor
Die meeste hedendaagse knegte van Jehovah wat hom al baie jare dien, het ’n program vir persoonlike Bybelstudie. Hulle het gevind dat dít noodsaaklik is om geestelik wakker te bly en hulle Christelike verantwoordelikhede ten volle na te kom. Baie van hulle erken nietemin dat dit nie altyd maklik is om ’n balans te handhaaf tussen die gebruik van hulle tyd en energie vir hulle studie en vir ander sake wat nie verwaarloos moet word nie.
Tog is dit noodsaaklik om deur ywerige persoonlike studie geestelik wakker te bly sodat ’n mens op hierdie gevorderde stadium van die wêreldwye Koninkrykspredikingswerk in die behoeftes in die Christelike bediening kan voorsien. Diegene wat geesdriftig word wanneer hulle nuwe en dieper insig in die Woord van God verkry, kan die uitdaging die hoof bied om ontvanklike harte te bereik. Dit is die geval hetsy ’n mens dien waar daar groot vangste ten opsigte van geestelike visvangs verwag kan word of in deeglik gewerkte gebiede volhard waar mense oor die algemeen onverskillig is.
Word gereeld deur God se Woord gevoed
Wat ander doen, kan jou idees gee oor hoe jy jou studieroetine meer kan geniet of hoe jy en jou gesin julle studietyd nuttiger kan gebruik. Een van die dinge wat ’n kneg van God nie sal wil nalaat nie, is om God se Woord gereeld te lees. Baie het hulle dit ten doel gestel om elke week ’n minimum van drie tot vier hoofstukke uit die Bybel te lees. Wil jy die Bybel in een jaar deurlees? Dan sal jy meer tyd daaraan wil bestee om dit te lees—miskien ’n halfuur per dag.
Het jy die Bybel al meer as een keer deurgelees? Waarom stel jy nie volgende keer vir jou ’n nuwe doelwit nie? Een Christenvrou het by wyse van verandering die Bybelboeke in die volgorde gelees waarin hulle geskryf is. Sy het baie van die fyner puntjies ten opsigte van chronologiese agtergrond ontdek wat sy nie vantevore raakgesien het nie. ’n Ander Christenvrou het die Bybel oor die afgelope vyf jaar al vyf keer deurgelees—elke keer uit ’n ander oogpunt. Die eerste keer het sy dit net deurgelees. Die tweede keer het sy die inhoud van elke hoofstuk in een of twee reëls in ’n aantekeningboek opgesom. Van die derde jaar af het sy ’n groot naslaanuitgawe begin gebruik en eers selektief kruisverwysings in die kantlyn nagegaan en toe meer aandag aan die voetnote sowel as die inligting in die aanhangsel geskenk. Die vyfde keer het sy Bybelkaarte gebruik om haar begrip uit ’n aardrykskundige oogpunt te vergroot. Sy sê: “Bybellees het vir my so genotvol soos ’n maaltyd geword.”
Sommige ywerige Bybelstudente het gevind dat dit voordelig is om ’n eksemplaar van die Bybel te hê wat net vir persoonlike studie gebruik word waarin hulle in die kantlyn kort, interessante kommentare, gedagteprikkelende illustrasies of die bladsynommers van ander publikasies kan skryf waarna hulle later kan verwys. Een voltydse bedienaar geniet dit om aan die einde van elke maand nuwe punte wat sy gedurende die maand geleer het in haar studie-eksemplaar neer te skryf. “Omdat ek na hierdie kosbare ure uitsien”, sê sy, “help dit my om ander doelwitte vir die maand vroeër te bereik.”
’n Paar vindingryke idees
Meen jy dat jou program vol dinge is wat jy elke dag en week móét doen en dat jy ’n paar wenke nodig het om jou te help om jou beperkte tyd beter te gebruik? Wel, hou dít wat jy wil lees byderhand, en maak van jou ledige uurtjies gebruik. Probeer sover dit redelikerwys moontlik is om jou boeke en ander studiehulpe tuis of waar jy gewoonlik studeer só te rangskik dat dit maklik bereik kan word. Maak jou studieplek gesellig, maar nie so gemaklik dat jy lomerig word nie. Het jy ’n toewysing vir ’n toespraak? Lees die materiaal so gou moontlik deur, en dink dan aan idees wanneer jy rus of los werkies doen.
Ander kan met jou saamwerk sodat julle julle tyd beter kan gebruik tot almal se voordeel. Iemand kan byvoorbeeld ligte items vir jou voorlees terwyl jy alledaagse takies verrig of jou vriendelike leser met tee bedien. Waarom besluit almal in die huis nie op ’n stiltetyd vir persoonlike studie nie? “Wat het jy onlangs gelees wat jy geniet het?” Soms kan jy uitvind wat jou vriende geleer het deur ’n gesprek so te begin.
Stel jy belang in vars idees vir jou studieprogram? Jy kan ’n tyddoelwit vir studie stel net soos baie ’n tyddoelwit stel om met ander oor die Bybel te gesels. ’n Voltydse (pionier-)verkondiger stel ’n maandelikse minimum doelwit vir studie-ure, en wanneer sy die ure neerskryf, verskaf dit haar bevrediging om te sien hoe sy nader aan haar doelwit kom. Ander beperk die tyd wat hulle televisie kyk en vind op daardie manier tyd vir studie. Baie kies ’n studietema wat hulle ’n tyd lank navors, soos die vrugte van die gees, die agtergrond van Bybelboeke of die onderrigkuns. Sommige geniet dit om chronologiese tabelle te maak, soos dié wat die verhouding tussen die Israelitiese konings en die profetea of Die Handelinge van die Apostels en Paulus se briewe aandui.
Jongmense, wil julle sterker geloof hê? Kies dan gerus ’n publikasie wat julle gedurende julle volgende skoolvakansie deeglik kan bestudeer. ’n Gedoopte hoërskoolleerling het die boek Die mensdom se soeke na God gekies, wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee word. Sy het aan die einde van elke hoofstuk kort opsommings in ’n aantekeningboek gemaak van wat sy geleer het. Dit was ’n uitdaging en het langer geduur as wat sy gedink het. Maar toe sy met die hele boek klaar was, was sy verwonderd oor die egtheid van die Bybel se boodskap.
Wees altyd gretig om te leer
Baie van Jehovah se getroue hedendaagse knegte is reeds “oorvloedig in die werk van die Here” (1 Korinthiërs 15:58). Selfs met ’n hersiene program en opregte pogings sal die roetine wat jy in ’n tipiese week volg miskien nie baie verander nie. Maar jou volgehoue gretigheid om ’n dieper begrip van die waarheid te verkry en om jouself heeltemal op hoogte te hou van die ontplooiing van Jehovah se voornemens sal wel ’n verskil maak.
Dit is aanmoedigend om te hoor hoe diegene beloon is wat hulle studiepatroon verbeter het. ’n Christenman wat besef het dat hy sy geesdrif om ’n dieper begrip van die waarheid te probeer verkry algaande verloor het, het sy lewe so ingerig dat hy meer van sy vrye tyd aan persoonlike studie kon wy. “Dit het my vreugde verskaf wat ek nie voorheen geken het nie”, sê hy. “Met immer groeiende vertroue in die Bybel se Goddelike outeurskap vind ek dat ek met ware geesdrif met ander oor my geloof kan gesels. Ek voel aan die einde van elke dag goed gevoed, geestelik versterk en vergenoeg.”
’n Reisende opsiener van Jehovah se Getuies wat baie gemeentes besoek, het ander voordele as volg beskryf: “Diegene wat ywerig persoonlike studie doen, gebruik oor die algemeen lewendige en beeldende uitdrukkings. Hulle kom beter met ander oor die weg, en hulle word nie maklik deur negatiewe opmerkings van stryk gebring nie. Wanneer hulle in die veldbediening is, is hulle aanpasbaar sowel as opmerksaam vir die behoeftes van die mense wat hulle ontmoet.”
Hy meld verder iets wat sommige dalk in gedagte sal wil hou wanneer hulle hulle eie studiepatroon ontleed. “By vergaderinge vir skriftuurlike besprekings is baie geneig om hulle antwoorde van die gedrukte bladsy af te lees. Dit sal vir hulle nuttiger wees as hulle peins oor hoe die materiaal met wat hulle reeds geleer het of met hulle eie lewe verband hou.” Dink jy dat jy in hierdie opsig kan verbeter?
Ná ’n lewe van meer as 90 jaar het die profeet Daniël nie gemeen dat hy genoeg van die weë van Jehovah verstaan het nie. In sy laaste jare het hy oor ’n saak gevra wat hy nie ten volle kon verstaan nie: “My heer, wat is die uiteinde van hierdie dinge?” (Daniël 12:8). Hierdie voortdurende gretigheid om meer van God se waarheid te leer, was ongetwyfeld ’n sleutel tot sy voortreflike onkreukbaarheid deur sy hele gebeurtenisvolle lewe.—Daniël 7:8, 16, 19, 20.
Elke kneg van Jehovah het ’n soortgelyke verantwoordelikheid om as een van Sy Getuies vas te staan. Wees altyd gretig om te leer sodat jy geestelik sterk kan bly. Probeer een of twee nuwe fasette by jou weeklikse, maandelikse of jaarlikse persoonlike studieprogram voeg. Kyk hoe God die geringste poging wat jy aanwend, seën. Ja, geniet jou persoonlike Bybelstudie en die resultate wat dit meebring.—Psalm 107:43.
[Voetnoot]
a As grondslag vir jou breedvoeriger studie sal jy dalk die tabel wil gebruik in Insight on the Scriptures, Deel 1, bladsye 464-6, wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee word.