Maak julle huwelik ’n blywende verbintenis
“Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.”—MATTHEÜS 19:6.
1. Wat is die grondslag vir suksesvolle huwelike onder hedendaagse ware Christene?
BAIE duisende onder Jehovah se volk geniet vandag bevredigende en bestendige huwelike. Maar hierdie grootskaalse sukses is glad nie toevallig nie. Christenhuwelike is voorspoedig wanneer albei huweliksmaats (1) God se beskouing van die huwelik respekteer en (2) volgens die beginsels van sy Woord probeer lewe. Dit is immers God self wat die huweliksreëling ingestel het. Hy is die Een ‘van wie elke geslag op die aarde sy naam ontvang’ (Efesiërs 3:14, 15). Aangesien Jehovah weet wat dit verg om ’n huwelik te laat slaag, bevoordeel ons onsself as ons sy leiding volg.—Jesaja 48:17, NW.
2. Wat is die gevolge as ons versuim om Bybelbeginsels in die huwelik toe te pas?
2 Daarenteen kan ’n versuim om Bybelbeginsels toe te pas tot ongelukkigheid in die huwelik lei. Party deskundiges meen dat tot twee derdes van dié wat vandag in die Verenigde State trou eindelik sal skei. Selfs Christene is nie gevrywaar teen die druk en spanning van hierdie ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’ nie (2 Timotheüs 3:1, NW). Ekonomiese druk en die spanning by die werkplek kan ’n nadelige uitwerking op enige huwelik hê. Party Christene is ook al diep teleurgestel omdat hulle huweliksmaat versuim het om Bybelbeginsels toe te pas. “Ek het Jehovah lief”, sê een Christenvrou, “maar my huwelik is al 20 jaar vol probleme. My man is selfsugtig en wil geen veranderinge aanbring nie. Dit voel of ek vasgevang is.” Baie Christenmans of -vrouens het al soortgelyke gevoelens uitgespreek. Waar loop dinge skeef? En wat kan verhinder dat ’n huwelik tot kille onverskilligheid of openlike vyandigheid lei?
Die permanensie van die huwelik
3, 4. (a) Wat is God se standaard vir die huwelik? (b) Waarom is die permanensie van die huwelik regverdig en nuttig?
3 Selfs onder die beste omstandighede is die huwelik ’n verbintenis tussen twee onvolmaakte mense (Deuteronomium 32:5, NW). Daarom het die apostel Paulus gesê dat ‘die wat trou verdrukking vir die vlees sal hê’ (1 Korinthiërs 7:28). Party uiterste omstandighede kan selfs daartoe lei dat egpare uitmekaar gaan of skei (Mattheüs 19:9; 1 Korinthiërs 7:12-15). Maar in die meeste gevalle pas Christene Paulus se raad toe dat “die vrou nie van die man moet skei nie . . . en dat die man sy vrou nie moet verstoot nie” (1 Korinthiërs 7:10, 11). Die huwelik moes beslis ’n permanente band wees, want Jesus Christus het gesê: “Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.”—Mattheüs 19:6.
4 Vir iemand wat voel dat hy in ’n vyandige of liefdelose huwelik vasgevang is, lyk Jehovah se standaard moontlik ongevoelig en onredelik. Maar dit is nie. Die permanensie van die huweliksband beweeg ’n godvresende egpaar om eerder hulle probleme aan te pak en op te los as om hulle verpligtinge te versaak wanneer probleme begin kop uitsteek. Een man wat al langer as 20 jaar getroud is, het dit so gestel: “Julle kan nie moeilike tye vermy nie. Julle gaan nie heeltyd met mekaar gelukkig wees nie. Dít is wanneer jou verbintenis tot die huwelik werklik belangrik is.” Christenegpare weet natuurlik dat hulle hoofsaaklik ’n verpligting teenoor Jehovah God, die Insteller van die huwelik, het.—Vergelyk Prediker 5:3.
Hoofskap en onderdanigheid
5. Watter raad gee Paulus onder meer vir mans en vrouens?
5 Wanneer probleme derhalwe ontstaan, is dit nie die tyd om ’n uitweg te soek nie, maar om na ’n beter manier te soek om die raad in God se Woord toe te pas. Beskou byvoorbeeld hierdie woorde van Paulus in Efesiërs 5:22-25, 28, 29: “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees. Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het. So behoort die mans hul eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente.”
6. Hoe moet Christenmans anders as die mans van die wêreld wees?
6 Mans misbruik dikwels hulle gesag as eggenoot en oorheers hulle vrou (Genesis 3:16). Maar Paulus het Christenmans aangespoor om anders as die mans van die wêreld te wees, om soos Christus te wees en nie ’n tiran te wees wat elke besonderheid van hulle vrou se lewe beheer nie. Die man Jesus Christus was beslis nooit ongevoelig of baasspelerig nie. Hy het sy volgelinge met waardigheid en respek behandel en gesê: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart.”—Mattheüs 11:28, 29.
7. Hoe kan ’n man aan sy vrou eer bewys as sy sekulêre werk moet doen?
7 ’n Christenman bewys eer aan sy vrou as die swakkere geslag (1 Petrus 3:7). Gestel sy moet byvoorbeeld sekulêre werk doen. Hy sal dit in ag neem en so behulpsaam en bedagsaam as moontlik wees. Een groot rede wat vrouens vir egskeiding aanvoer, is dat hulle man die kinders of die huis verwaarloos. Dus streef ’n Christenman daarna om haar op sinvolle maniere tuis te help wat die hele gesin sal bevoordeel.
8. Wat behels onderdanigheid vir Christenvrouens?
8 As Christenvrouens met respek behandel word, is dit vir hulle makliker om aan hulle man onderdanig te wees. Dit beteken egter nie dat sy ’n willose slaaf is nie. God het nie bepaal dat die vrou ’n slaaf moet wees nie, maar ’n “komplement” (“teëhanger”, voetnoot in NW), wat te kenne gee dat dit iets is wat by die man pas (Genesis 2:18, NW). In Maleagi 2:14 word daar van die vrou as die man se “metgesel” gepraat. In hierdie opsig het vrouens in Bybeltye aansienlike vryheid en beweegruimte geniet. Die Bybel sê oor die “deugsame vrou”: “Die hart van haar man vertrou op haar.” Aan haar is sake toevertrou soos om die algemene bestuur van die huishouding te behartig, die voedselaankope te reël, eiendomstransaksies aan te gaan en ’n klein sakeonderneming te bestuur.—Spreuke 31:10-31.
9. (a) Hoe het godvresende vroue in Bybeltye ware onderdanigheid geopenbaar? (b) Wat kan ’n Christenvrou vandag help om onderdanig te bly?
9 Die godvresende vrou het nogtans haar man se gesag erken. Byvoorbeeld, Sara ‘was gehoorsaam aan Abraham en het hom heer genoem’, nie as ’n beleefde formaliteit nie, maar as ’n opregte weerspieëling van haar onderdanigheid (1 Petrus 3:6; Genesis 18:12). Sy het ook haar gerieflike huis in die stad Ur gewillig verlaat om saam met haar man in tente te woon (Hebreërs 11:8, 9). Maar onderdanigheid het nie beteken dat ’n vrou nie die verantwoordelikheid op haar kon neem wanneer dit nodig was nie. Toe Moses versuim het om aan God se wet oor die besnydenis gehoor te gee, het Sippora ’n ramp afgeweer deur beslissend op te tree (Exodus 4:24-26). Meer is hierby betrokke as om ’n onvolmaakte man te behaag. Vrouens moet ‘aan hulle eie mans onderdanig wees soos aan die Here’ (Efesiërs 5:22). Wanneer ’n Christenvrou haar verhouding met God in gedagte hou, help dit haar om haar man se geringe foute en tekortkominge oor te sien, net soos hy in haar geval moet doen.
Kommunikasie—die lewensaar van ’n huwelik
10. Hoe belangrik is kommunikasie vir ’n huwelik?
10 Toe ’n egskeidingsprokureur gevra is wat die grootste enkele rede is dat egpare uitmekaar gaan, het hy geantwoord: “Die onvermoë om eerlik met mekaar te praat, hulle diepste gevoelens te openbaar en mekaar as hulle beste vriend te behandel.” Ja, kommunikasie is die lewensaar van ’n sterk huwelik. Dit is soos die Bybel sê: “Planne misluk waar daar geen vertroulike gesprek is nie” (Spreuke 15:22, NW). Mans en vrouens moet ‘vertroude vriende’ wees en ’n innige, intieme verhouding geniet (Spreuke 2:17, NW). Tog sukkel baie egpare wanneer dit by kommunikasie kom totdat daar mettertyd ’n wrok opbou wat uiteindelik tot ’n vernietigende woedeuitbarsting lei. Of huweliksmaats skuil dalk agter ’n dun lagie geveinsde beleefdheid terwyl hulle mekaar emosioneel op ’n afstand hou.
11. Hoe kan kommunikasie tussen man en vrou verbeter word?
11 ’n Deel van die probleem is blykbaar dat mans en vrouens dikwels op verskillende maniere kommunikeer. Dit is vir die meeste vrouens maklik om gevoelens te bespreek, terwyl mans dit gewoonlik verkies om feite te bespreek. Vrouens is meer geneig om empatie te toon en emosionele steun te verleen, terwyl mans geneig is om oplossings te soek en voor te stel. Tog is goeie kommunikasie moontlik waar albei huweliksmaats vasbeslote is om “gou [te] wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word” (Jakobus 1:19). Maak oogkontak en luister werklik aandagtig. Gebruik bedagsame vrae om uit te vind wat die ander een dink. (Vergelyk 1 Samuel 1:8; Spreuke 20:5.) Pleks van met ’n kitsoplossing vorendag te kom wanneer jou huweliksmaat oor ’n probleem praat, moet jy aandagtig luister terwyl julle sake probeer regstel. En bid nederig saam terwyl julle Goddelike leiding soek.—Psalm 65:3; Romeine 12:12.
12. Hoe kan Christenhuweliksmaats die tyd vir mekaar uitkoop?
12 Soms het huweliksmaats vanweë die druk en spanning van die lewe maar min tyd of krag oor vir sinvolle gesprekke. Maar as Christene hulle huwelik eerbaar wil hou en dit teen besmetting wil beskerm, moet hulle na aan mekaar bly. Hulle moet hulle huwelik as iets kosbaars, iets waardevols, beskou en die tyd daarvoor en vir mekaar uitkoop. (Vergelyk Kolossense 4:5.) In sommige gevalle kan die oplossing om tyd vir opbouende gesprekke te vind so maklik wees as om die TV af te skakel. As huweliksmaats gereeld saam ’n koppie tee of koffie drink, kan dit hulle help om emosioneel met mekaar in voeling te bly. By sulke geleenthede kan hulle oor verskillende gesinsake “saam beraadslaag” (Spreuke 13:10, NW). En hoe verstandig is dit tog om in die gewoonte te kom om klein irritasies en misverstande uit te praat voor hulle ’n groot bron van spanning word!—Vergelyk Mattheüs 5:23, 24; Efesiërs 4:26.
13. (a) Watter voorbeeld het Jesus ten opsigte van openhartigheid en eerlikheid gestel? (b) Wat is sommige maniere waarop huweliksmaats nader aan mekaar kan kom?
13 Een man het erken: “Dit is baie dikwels vir my moeilik om werklik te sê wat ek dink en vir [my vrou] te sê presies hoe ek voel.” Selfonthulling is egter ’n belangrike sleutel tot die ontwikkeling van intimiteit. Let op hoe openhartig en eerlik Jesus met die toekomstige lede van sy bruidsklas was. Hy het gesê: “Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het” (Johannes 15:15). Jy moet jou huweliksmaat dus as ’n vriend beskou. Maak jou huweliksmaat jou vertroueling deur jou gevoelens met hom of haar te deel. Wend ’n poging aan om eenvoudige, eerlike “betuigings van liefde” te maak (Hooglied 1:2, NW). Hoewel dit soms moeilik kan wees om openhartig te kommunikeer, sal huweliksmaats, wanneer albei hard genoeg probeer, baie daartoe bydra om hulle huwelik ’n blywende verbintenis te maak.
Hoe om meningsverskille te besleg
14, 15. Hoe kan rusies vermy word?
14 Daar sal wel van tyd tot tyd geldige meningsverskille ontstaan. Maar julle huis hoef nie in ’n ‘huis vol getwis’ te ontaard nie (Spreuke 17:1). Wees versigtig om nie netelige sake te bespreek wanneer die kinders kan hoor nie, en neem jou huweliksmaat se gevoelens in ag. Toe Ragel haar ellende oor haar onvrugbaarheid uitgespreek het en Jakob gevra het om vir haar kinders te gee, het hy woedend gesê: “Is ek dan in die plek van God wat die vrug van die skoot aan jou onthou het?” (Genesis 30:1, 2). As huislike probleme ontstaan, moet jy die probleem onder hande neem, nie die persoon nie. Gedurende ’n private bespreking moet julle nie “onverskillig woorde uitspreek” of mekaar onnodig in die rede val nie.—Spreuke 12:18.
15 Jy voel dalk sterk oor jou beskouing, maar jy kan jou gevoelens sonder “bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering” openbaar (Efesiërs 4:31). “Bespreek julle probleme op ’n normale stemtoon”, sê een eggenoot. “As een sy stem verhef, moet julle ophou met die gesprek. Keer ná ’n kort rukkie weer terug na die probleem. Begin weer.” Spreuke 17:14 gee hierdie goeie raad: “Laat die twis vaar voordat dit losbreek.” Probeer sake weer bespreek wanneer julle albei afgekoel het.
Bly getrou aan mekaar
16. Waarom is owerspel so ’n ernstige saak?
16 Hebreërs 13:4 sê: “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.” Owerspel is ’n sonde teen God. Dit het ook ’n verwoestende uitwerking op ’n huwelik (Genesis 39:9). Een huweliksraadgewer skryf: “Wanneer owerspel ontdek word, tref dit ’n hele gesin soos ’n groot orkaan wat huishoudings vernietig, vertroue en eiewaarde skend en kinders skade berokken.” Dit kan ook swangerskap of ’n seksueel oordraagbare siekte tot gevolg hê.
17. Hoe kan owerspelige neigings vermy of verwerp word?
17 Party mense bevorder owerspelige neigings deur die wêreld se verdorwe beskouing van seks in te neem soos dit in boeke, op televisie en in rolprente uitgebeeld word (Galasiërs 6:8). Maar navorsers sê dat dit gewoonlik nie bloot ’n begeerte na seks is wat tot owerspel lei nie, maar die veronderstelde behoefte daaraan om te bewys dat ’n mens nog aantreklik is of die begeerte daarna om meer bemind te voel. (Vergelyk Spreuke 7:18.) Wat ook al die rede, ’n Christen moet onsedelike fantasieë verwerp. Bespreek jou gevoelens eerlik met jou huweliksmaat. Indien nodig, moet jy die gemeentelike ouere manne om hulp vra. As jy dit doen, sal dit jou heel waarskynlik help om nie te sondig nie. Daarbenewens moet Christene versigtig wees in hulle handelinge met lede van die ander geslag. Dit sal strydig met skriftuurlike beginsels wees om met een persoon getroud te wees maar dan met begeerte na ’n ander te kyk (Job 31:1; Mattheüs 5:28). Christene moet veral versigtig wees dat hulle nie emosioneel betrokke raak by werkmaats nie. Hou sulke verhoudinge vriendelik maar formeel.
18. Wat lei dikwels tot seksuele probleme in ’n huwelik, en hoe kan dit opgelos word?
18 ’n Selfs groter beskerming is ’n hartlike, openhartige verhouding met jou huweliksmaat. Baie navorsers sê dat seksuele probleme in die huwelik selde fisies van aard is, maar dat dit gewoonlik die gevolg van swak kommunikasie is. Hierdie soort probleme is ongewoon wanneer ’n egpaar openhartig kommunikeer en die huweliksplig uit liefde nakom en nie omdat hulle moet nie.a Onder sulke omstandighede kan geslagsomgang help om die huweliksband te versterk.—1 Korinthiërs 7:2-5; 10:24.
19. Wat is “’n volmaakte band van eenheid”, en watter invloed kan dit op ’n huwelik hê?
19 Dit is liefde wat “’n volmaakte band van eenheid” in die Christengemeente is. Deur liefde aan te kweek, kan ’n godvresende egpaar ‘aanhou om mekaar te verdra en mekaar vrylik te vergewe’ (Kolossense 3:13, 14, NW). Beginselvaste liefde dra ander se welstand op die hart (1 Korinthiërs 13:4-8). Kweek sulke liefde aan. Dit sal julle help om julle huweliksband te versterk. Pas Bybelbeginsels in julle huwelikslewe toe. As julle dit doen, sal julle huwelik ’n blywende verbintenis wees en sal dit Jehovah God tot lof en eer strek.
[Voetnoot]
a Die artikel “Kommunikasie—nie net praatjies nie”, wat in Die Wagtoring van 1 Augustus 1993 verskyn het, het getoon hoe egpare probleme op hierdie gebied kan oorkom.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Waarom moet die huwelik ’n permanente band wees?
◻ Wat is die Bybelse beskouing van hoofskap en onderdanigheid?
◻ Hoe kan egpare hulle kommunikasie verbeter?
◻ Hoe kan egpare hulle meningsverskille op ’n Christelike wyse besleg?
◻ Wat sal help om die huweliksband te versterk?
[Prent op bladsy 12]
As ’n Christenman se vrou sekulêre werk moet doen, sal hy nie toelaat dat sy te swaar belas word nie