Vrae van lesers
Sal dit gepas wees om ’n inenting of ’n ander medisinale inspuiting te aanvaar waarin daar albumien is wat uit mensebloed verkry is?
Om die waarheid te sê, moet elke Christen persoonlik hieroor besluit.
God se knegte wil tereg gehoorsaam wees aan die voorskrif in Handelinge 15:28, 29 om hulle van bloed te onthou. Christene sal gevolglik nie vleis waarvan die bloed nie uitgeloop het nie of produkte soos bloedwors eet nie. Maar God se wet is ook op die mediese gebied van toepassing. Jehovah se Getuies dra ’n dokument wat sê dat hulle nie ‘bloedoortappings, heelbloed, rooi bloedselle, wit bloedselle, bloedplaatjies of bloedplasma’ aanvaar nie. Maar wat van seruminspuitings wat ’n klein hoeveelheid van ’n bloedproteïen bevat?
Getuies besef al lank dat elkeen self in ooreenstemming met sy Bybelopgeleide gewete hieroor moet besluit. Dit is getoon in Die Wagtoring van 1 Junie 1990 se “Vrae van lesers”, wat seruminspuitings bespreek het wat ’n geneesheer dalk sal voorskryf as iemand aan sekere siektes blootgestel word. Die aktiewe komponente van sulke inspuitings is nie bloedplasma as sodanig nie, maar teenliggaampies van die bloedplasma van dié wat al weerstand opgebou het. Sommige Christene wat meen dat hulle sulke inspuitings met ’n goeie gewete kan aanvaar, het opgemerk dat teenliggaampies van ’n swanger vrou se bloed na die bloed van die baba in haar baarmoeder deurgaan. Die “Vrae van lesers” het hiervan melding gemaak, sowel as van die feit dat ’n bietjie albumien van ’n swanger vrou na haar baba deurgaan.
Baie vind dit insiggewend, aangesien sommige entstowwe wat nie uit bloed berei word nie ’n relatief klein hoeveelheid plasma-albumien kan bevat wat gebruik of bygevoeg is om die bestanddele in die preparaat te stabiliseer. Tans word ’n klein hoeveelheid albumien ook in inspuitings van die sintetiese hormoon EPO (eritropoiëtien) gebruik. Sommige Getuies het al EPO-inspuitings aanvaar omdat dit die vervaardiging van rooi bloedselle kan bespoedig en sodoende kan voorkom dat ’n geneesheer dalk ’n bloedoortapping sal oorweeg.
Ander mediese preparate wat ’n betreklik klein hoeveelheid albumien bevat, sal dalk in die toekoms in gebruik geneem word, aangesien farmaseutiese maatskappye nuwe produkte ontwikkel of die formules van bestaande produkte verander. Christene sal dus moontlik wil vasstel of daar albumien in ’n inenting of ’n ander inspuiting is wat ’n dokter aanbeveel. As hulle twyfel of rede het om te glo dat albumien ’n komponent is, kan hulle hulle geneesheer vra.
Soos reeds genoem is, het baie Getuies nie daarteen beswaar om ’n inspuiting te aanvaar wat ’n klein hoeveelheid albumien bevat nie. Tog moet enigiemand wat die saak noukeuriger wil bestudeer voordat hy ’n persoonlike besluit neem die inligting in Die Wagtoring van 1 Junie 1990 se “Vrae van lesers” hersien.