Betoon tere medelye
“Beklee julle . . . met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid.”—KOLOSSENSE 3:12, NW.
1. Waarom is daar vandag ’n groot behoefte aan medelye?
DAAR was nog nooit vantevore in die geskiedenis soveel mense wat medelydende hulp nodig gehad het nie. Miljoene het hulp nodig as gevolg van siekte, honger, werkloosheid, misdaad, oorloë, anargie en natuurrampe. Maar daar is ’n probleem wat selfs ernstiger is, en dit is die haglike geestelike toestand waarin die mensdom verkeer. Satan, wat weet dat hy min tyd het, ‘verlei die hele wêreld’ (Openbaring 12:9, 12). Gevolglik loop veral diegene buite die ware Christengemeente gevaar om hulle lewe te verloor, en die Bybel toon dat diegene wat gedurende God se komende oordeelsdag tereggestel word geen hoop op ’n opstanding het nie.—Mattheüs 25:31-33, 41, 46; 2 Thessalonicense 1:6-9.
2. Waarom het Jehovah nog nie die goddeloses vernietig nie?
2 Tog toon Jehovah God tot op hierdie laat stadium nog geduld en medelye teenoor die ondankbares en die goddeloses (Mattheüs 5:45; Lukas 6:35, 36). Hy doen dit om dieselfde rede as wat hy die ontroue nasie Israel nie dadelik gestraf het nie. “So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel?”—Esegiël 33:11.
3. Watter voorbeeld het ons van Jehovah se medelye met mense wat nie lede van sy volk was nie, en wat leer ons hieruit?
3 Jehovah se medelye is ook aan die goddelose Nineviete bewys. Jehovah het sy profeet Jona gestuur om hulle teen die komende vernietiging te waarsku. Hulle het positief op Jona se predikingswerk gereageer en berou getoon. Dit het die medelydende God, Jehovah, beweeg om die stad nie op daardie tydstip te vernietig nie (Jona 3:10; 4:11). As God jammer gevoel het vir die Nineviete, wat die kans op ’n opstanding sou gehad het, hoeveel te meer moet hy tog nie medelye hê met mense wat vandag voor ewige vernietiging staan nie!—Lukas 11:32.
’n Ongeëwenaarde werk van medelye
4. Hoe toon Jehovah vandag medelye met mense?
4 In ooreenstemming met sy medelydende persoonlikheid het Jehovah sy Getuies die opdrag gegee om hulle naaste met die “goeie nuus van die koninkryk” te besoek (Mattheüs 24:14, NW). En wanneer mense met waardering op hierdie lewensreddende werk reageer, open Jehovah hulle hart om die Koninkryksboodskap te verstaan (Mattheüs 11:25; Handelinge 16:14). In navolging van hulle God toon ware Christene tere medelye deur terug te gaan na belangstellendes en hulle, waar moontlik, deur middel van ’n Bybelstudie te help. Daarom het meer as vier en ’n half miljoen Getuies van Jehovah in 1993, in 231 lande, meer as ’n miljard uur daaraan bestee om die predikingswerk van huis tot huis te doen en die Bybel met hulle naaste te studeer. Hierdie nuwelinge het op hulle beurt die geleentheid om hulle lewe aan Jehovah toe te wy en by die geledere van sy gedoopte Getuies aan te sluit. Sodoende verbind hulle hulle ook tot hierdie ongeëwenaarde werk van medelye ten behoewe van voornemende dissipels wat steeds in Satan se sterwende wêreld vasgevang is.—Mattheüs 28:19; Johannes 14:12.
5. Wat sal gebeur met godsdiens wat God verkeerd voorgestel het wanneer Goddelike medelye tot die uiterste toe beproef is?
5 Jehovah gaan binnekort as “’n krygsman” optree (Exodus 15:3). Uit medelye met sy naam en met sy volk sal hy goddeloosheid verwyder en ’n regverdige nuwe wêreld tot stand bring (2 Petrus 3:13). Die kerke van die Christendom sal die eerstes wees wat God se dag van gramskap gaan beleef. Net soos God nie sy eie tempel in Jerusalem uit die hand van die koning van Babilon gespaar het nie, sal hy ook nie godsdiensorganisasies spaar wat hom verkeerd voorgestel het nie. God sal dit in die hart van die lede van die Verenigde Nasies gee om die Christendom en alle ander vorme van valse godsdiens te verwoes (Openbaring 17:16, 17). “Daarom ook, wat My aangaan”, sê Jehovah, “my oog sal nie verskoon nie, en Ek sal nie spaar nie; Ek sal hulle wandel op hulle hoof laat neerkom.”—Esegiël 9:5, 10.
6. Op watter maniere word Jehovah se Getuies beweeg om medelye te toon?
6 Terwyl daar nog tyd is, hou Jehovah se Getuies aan om medelye teenoor hulle naaste te toon deur God se reddingsboodskap ywerig te verkondig. En waar moontlik, help hulle natuurlik mense wat materieel gebrek ly. In hierdie opsig is hulle eerste verantwoordelikheid egter om te voorsien in die behoeftes van onmiddellike familielede en diegene wat in die geloof aan hulle verwant is (Galasiërs 6:10; 1 Timotheüs 5:4, 8). Die talle noodlenigingsendings wat deur Jehovah se Getuies uitgevoer word ten behoewe van medegelowiges wat deur verskillende rampe getref is, dien as treffende voorbeelde van medelye. Christene hoef nietemin nie vir ’n krisis te wag voordat hulle tere medelye toon nie. Hulle huiwer nie om hierdie eienskap aan die dag te lê wanneer dit by alledaagse probleme kom nie.
’n Deel van die nuwe persoonlikheid
7. (a) Hoe word medelye in Kolossense 3:8-13 met die nuwe persoonlikheid gekoppel? (b) Wat maak tere geneentheid vir Christene makliker om te doen?
7 Ons sondige natuur en die slegte invloed van Satan se wêreld is weliswaar struikelblokke in ons strewe daarna om tere medelye te toon. Daarom spoor die Bybel ons aan om “gramskap, toorn, slegtheid, smadende taal en onwelvoeglike praatjies” van ons te verwyder. Ons word aangeraai om ons eerder ‘met die nuwe persoonlikheid te beklee’—’n persoonlikheid wat met God se beeld ooreenkom. In die eerste plek word ons beveel om ons “met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid” te beklee. Die Bybel toon dan op watter praktiese manier ons hierdie eienskappe kan openbaar. “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen.” Dit is baie makliker om vergewensgesind te wees as ons die ‘tere geneentheid van medelye’ vir ons broers aangekweek het.—Kolossense 3:8-13, NW.
8. Waarom is dit belangrik om vergewensgesind te wees?
8 Daarenteen kan dit ons verhouding met Jehovah in gevaar stel as ons versuim om medelydende vergifnis aan die dag te lê. Dit is op sprekende wyse deur Jesus getoon in sy gelykenis van die onvergewensgesinde slaaf, wat deur sy heer in die tronk gesit is “totdat hy sou betaal het alles wat hy hom skuldig was”. Die slaaf het hierdie behandeling verdien omdat hy op skokkende wyse versuim het om medelye teenoor ’n medeslaaf te toon wat hom om genade gesmeek het. Jesus het die gelykenis afgesluit deur te sê: “So sal ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy broeder van harte sy oortredinge vergewe nie.”—Mattheüs 18:34, 35.
9. Hoe hou tere medelye met die belangrikste aspek van die nuwe persoonlikheid verband?
9 Om tere medelye te hê, is ’n belangrike aspek van die liefde. En liefde is die vernaamste kenmerk van die ware Christelike geloof (Johannes 13:35). Daarom word die Bybel se beskrywing van die nuwe persoonlikheid op die volgende wyse afgesluit: “Beklee julle, benewens al hierdie dinge, met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid.”—Kolossense 3:14, NW.
Afguns—’n struikelblok tot medelye
10. (a) Wat kan veroorsaak dat jaloesie in ons hart posvat? (b) Watter slegte gevolge kan uit jaloesie voortspruit?
10 Vanweë ons sondige menslike natuur kan afguns maklik in ons hart posvat. ’n Broer of ’n suster is dalk geseën met natuurlike vermoëns of materiële voordele wat ons nie het nie. Of miskien het iemand spesiale geestelike seëninge en voorregte ontvang. Sal ons sulke persone met tere medelye kan behandel as ons afgunstig op hulle raak? Waarskynlik nie. In plaas daarvan kan jaloesie uiteindelik deur kritiese praatjies of onvriendelike dade geopenbaar word, want Jesus het van mense gesê: “Uit die oorvloed van die hart spreek sy mond” (Lukas 6:45). Ander stem dalk saam met sulke kritiek. Só kan die vrede van ’n gesin of ’n gemeente van God se volk versteur word.
11. Hoe het Josef se tien broers geen plek vir medelye in hulle hart gelaat nie, en met watter gevolg?
11 Kyk byvoorbeeld wat in een groot gesin gebeur het. Jakob se tien oudste seuns het jaloers geraak op hulle jonger broer Josef omdat hy hulle vader se oogappel was. Gevolglik “kon [hulle] nie vriendelik met hom praat nie”. Later is Josef met Goddelike drome geseën, wat bewys het dat hy Jehovah se guns geniet het. Dit het veroorsaak dat sy broers “hom nog meer gehaat” het. Aangesien hulle nie jaloesie uit hulle hart uitgeroei het nie, het dit geen plek gelaat vir medelye nie en tot ernstige sonde gelei.—Genesis 37:4, 5, 11.
12, 13. Wat moet ons doen wanneer jaloesie in ons hart opkom?
12 Hulle het wreed opgetree en Josef as slaaf verkoop. In ’n poging om hulle verkeerde daad toe te smeer, het hulle hulle vader bedrieg en hom laat dink dat Josef deur ’n wilde dier verskeur is. Jare later het hulle sonde aan die lig gekom toe hulle deur ’n hongersnood gedwing is om na Egipte te gaan en voedsel te koop. Die voedseladministrateur, wat hulle nie as Josef herken het nie, het hulle daarvan beskuldig dat hulle spioene is en gesê dat hulle hom nie weer om hulp moet vra nie tensy hulle hulle jongste broer, Benjamin, saambring. Teen hierdie tyd het Benjamin hulle vader se oogappel geword, en hulle het geweet dat Jakob hom nie sou wou laat gaan nie.
13 Terwyl hulle dus voor Josef gestaan het, het hulle gewete hulle beweeg om te erken: “Voorwaar, ons boet nou vanweë ons broer [Josef], omdat ons die benoudheid van sy siel gesien het toe hy ons gesmeek het en ons nie geluister het nie—daarom kom hierdie benoudheid oor ons” (Genesis 42:21). Josef het sy broers deur sy medelydende maar ferm optrede gehelp om die opregtheid van hulle berou te bewys. Toe het hy sy ware identiteit aan hulle bekend gemaak en hulle ruimhartig vergewe. Gesinseenheid is herstel (Genesis 45:4-8). As Christene moet ons ’n les hieruit leer. Aangesien ons weet watter slegte gevolge afguns het, moet ons tot Jehovah om hulp bid sodat ons jaloesie deur die ‘tere geneentheid van medelye’ kan vervang.
Ander struikelblokke tot medelye
14. Waarom moet ons onnodige blootstelling aan geweld vermy?
14 ’n Ander struikelblok wat keer dat ons medelydend is, kan ontstaan wanneer ons ons onnodig aan geweld blootstel. Sport en vermaak wat deur geweld gekenmerk word, bevorder bloeddorstigheid. In Bybeltye het die heidene gereeld na gladiatorgevegte en ander vorme van mensemarteling in die arenas van die Romeinse Ryk gaan kyk. Volgens een geskiedskrywer het sulke vermaak “die gevoel van simpatie vir lyding wat die mens van die dier onderskei, vernietig”. Die meeste van die vermaak in vandag se moderne wêreld het dieselfde uitwerking. Christene, wat daarna streef om tere medelye te hê, moet uiters selektief wees in hulle keuse van leesstof, rolprente en TV-programme. Hulle toon dat hulle verstandig is deur die woorde in Psalm 11:5 in gedagte te hou: “[Jehovah] haat . . . die wat geweld liefhet.”
15. (a) Hoe kan iemand ’n ernstige gebrek aan medelye toon? (b) Hoe reageer ware Christene op die behoeftes van medegelowiges en hulle naaste?
15 ’n Selfsugtige persoon sal ook waarskynlik nie medelye hê nie. Dit is ernstig, aangesien die apostel Johannes verduidelik: “Wie ook al hierdie wêreld se middele vir lewensonderhoud het en sy broer sien gebrek ly en tog die deur van sy tere medelye vir hom sluit, in watter opsig bly die liefde vir God in hom?” (1 Johannes 3:17, NW). ’n Soortgelyke gebrek aan medelye is deur die selfvoldane priester en die Leviet in Jesus se gelykenis van die barmhartige Samaritaan getoon. Toe hulle die ellendige toestand van hulle halfdooie Joodse broer sien, het hulle na die ander kant van die pad geloop en verder gegaan (Lukas 10:31, 32). In teenstelling hiermee reageer medelydende Christene gou op die materiële en geestelike behoeftes van hulle broers. En soos die Samaritaan van Jesus se gelykenis, is hulle ook besorg oor die behoeftes van vreemdelinge. Derhalwe gee hulle met graagte van hulle tyd, energie en middele om die dissipelmaakwerk te bevorder. Só dra hulle tot die redding van miljoene by.—1 Timotheüs 4:16.
Medelye met die siekes
16. Voor watter beperkings kom ons te staan wanneer ons met siekte te doen het?
16 Siekte is die lot van die onvolmaakte, sterwende mensdom. Christene is geen uitsondering nie, en die meeste van hulle is nie medici nie, en hulle kan ook nie wonderwerke verrig soos party van die vroeë Christene wat krag van Christus en sy apostels ontvang het nie. Met die dood van Christus se apostels en hulle onmiddellike metgeselle het sulke wonderdadige kragte verdwyn. Daarom is ons vermoë om diegene te help wat aan fisiese siektes ly, waaronder breindisfunksies en hallusinasies, beperk.—Handelinge 8:13, 18; 1 Korinthiërs 13:8.
17. Watter les leer ons uit die manier waarop die siek en bedroefde Job behandel is?
17 Siekte gaan dikwels met depressie gepaard. Godvresende Job was byvoorbeeld baie terneergedruk weens ernstige siekte en die rampe wat Satan oor hom gebring het (Job 1:18, 19; 2:7; 3:3, 11-13). Hy het vriende nodig gehad wat hom met tere medelye sou behandel en ‘vertroostend sou praat’ (1 Thessalonicense 5:14, NW). In plaas daarvan het drie sogenaamde troosters hom besoek en die verkeerde gevolgtrekkings gemaak. Hulle het Job se terneergedrukte toestand vererger deur te sê dat die rampe wat hom getref het die gevolg was van iets wat hy gedoen het. As Christene tere medelye het, sal hulle nie in ’n soortgelyke strik trap wanneer medegelowiges siek of terneergedruk is nie. Soms het sulke persone net ’n paar vriendelike besoeke van die ouere manne of ander ryp Christene nodig wat met ’n simpatieke oor sal luister, begrip sal toon en liefdevolle skriftuurlike raad sal voorsien.—Romeine 12:15; Jakobus 1:19.
Medelye met die swakkes
18, 19. (a) Hoe moet ouere manne teenoor die swakkes of oortreders optree? (b) Waarom is dit belangrik dat ouere manne oortreders met tere medelye behandel, selfs al is dit nodig om ’n regterlike komitee saam te roep?
18 Veral ouere manne moet tere medelye toon (Handelinge 20:29, 35). Die Bybel beveel: “Ons wat sterk is, . . . [behoort] die swakhede te dra van die wat nie sterk is nie” (Romeine 15:1). Aangesien ons onvolmaak is, maak ons almal foute (Jakobus 3:2). Teerheid is nodig om iemand te help wat “die een of ander misstap [begaan] voordat hy daarvan bewus is” (Galasiërs 6:1, NW). Die ouere manne moet nooit soos die selfvoldane Fariseërs wees wat onredelik was in hulle toepassing van God se Wet nie.
19 Inteendeel, ouere manne volg eerder Jehovah God en Jesus Christus se voorbeelde van tere medelye. Hulle vernaamste werk is om God se skape te voed, aan te moedig en te verkwik (Jesaja 32:1, 2). Hulle beroep hulle eerder op die uitstekende beginsels in God se Woord as om deur ’n magdom reëls beheer te probeer uitoefen. Die ouere manne se funksie is dus om op te bou, om vreugde en waardering vir Jehovah se goedheid in die harte van hulle broers aan te wakker. As ’n medegelowige die een of ander geringe fout begaan, sal ’n ouere man dit gewoonlik vermy om hom tereg te wys waar ander dit kan hoor. As dit hoegenaamd nodig is om daaroor te praat, sal tere medelye die ouere man beweeg om daardie persoon eenkant toe te neem en die probleem buite hoorafstand van ander te bespreek. (Vergelyk Mattheüs 18:15.) Dit maak nie saak hoe moeilik iemand is om mee oor die weg te kom nie, die ouere man se benadering moet van geduld en hulpvaardigheid getuig. Hy moet nooit verskonings soek om so iemand uit die gemeente te laat sit nie. Selfs wanneer dit nodig is om ’n regterlike komitee saam te roep, sal die ouere manne tere medelye toon in hulle optrede teenoor die persoon wat by ’n ernstige oortreding betrokke is. Hulle liefdevolle behandeling kan help om daardie persoon tot berou te bring.—2 Timotheüs 2:24-26.
20. Wanneer is emosionele blyke van medelye onvanpas, en waarom?
20 Daar is egter tye wanneer ’n kneg van Jehovah nie medelye kan toon nie. (Vergelyk Deuteronomium 13:6-9.) Dit kan ’n ware toets vir ’n Christen wees om nie met ’n intieme vriend of familielid wat uitgesit is “om te gaan” nie. In so ’n geval is dit belangrik dat ’n mens nie aan gevoelens van deernis toegee nie (1 Korinthiërs 5:11-13). Sulke standvastigheid kan die oortreder selfs aanmoedig om tot berou te kom. Daarbenewens moet Christene in hulle handelinge met die ander geslag onvanpaste blyke van medelye vermy wat tot geslagsonsedelikheid kan lei.
21. In watter ander opsigte moet ons tere medelye toon, en watter voordele bring dit mee?
21 Weens ’n gebrek aan ruimte kan ons nie die talle situasies bespreek waar tere medelye nodig is nie—in ons handelinge met bejaardes, persone wat geliefdes aan die dood afgestaan het, diegene wat deur ongelowige huweliksmaats vervolg word. Hardwerkende ouere manne moet eweneens met tere medelye behandel word (1 Timotheüs 5:17). Respekteer hulle en ondersteun hulle (Hebreërs 13:7, 17). “Julle [moet] almal . . . tere medelye hê”, het die apostel Petrus geskryf (1 Petrus 3:8, NW). Deur só op te tree in alle situasies wat dit vereis, bevorder ons eenheid en geluk in die gemeente en trek ons buitestanders na die waarheid toe. Bowenal vereer ons sodoende Jehovah, ons Vader van tere medelye.
Vrae ter hersiening
◻ Hoe toon Jehovah medelye met die sondige mensdom?
◻ Waarom is dit belangrik om tere medelye te hê?
◻ Wat is van die struikelblokke wat kan verhinder dat ons tere medelye toon?
◻ Hoe moet ons die siekes en terneergedruktes behandel?
◻ Veral wie moet tere medelye hê, en waarom?
[Venster op bladsy 19]
DIE HARDVOGTIGE FARISEËRS
DIE Sabbatdag van rus was bedoel om ’n geestelike en fisiese seën vir God se volk te wees. Die Joodse godsdiensleiers het egter baie reëls gemaak wat God se Sabbatswet oneer aangedoen het en dit vir die volk moeilik gemaak het. As iemand byvoorbeeld ’n ongeluk gehad het of siek was, kon hy nie op die Sabbat hulp ontvang nie tensy sy lewe in gevaar was.
Een groep Fariseërs was so streng in hulle uitleg van die Sabbatswet dat dit gesê het: “Op die Sabbat troos ’n mens nie mense wat rou nie, en ’n mens besoek ook nie siekes nie.” Ander godsdiensleiers het sulke besoeke op die Sabbat toegelaat, maar het gestipuleer: “Trane is verbode.”
Jesus het die Joodse godsdiensleiers dus tereg veroordeel omdat hulle die belangriker vereistes van die Wet, soos geregtigheid, liefde en barmhartigheid, oor die hoof gesien het. Dit is geen wonder nie dat hy vir die Fariseërs gesê het: ‘Julle maak die woord van God kragteloos deur julle oorlewering’!—Markus 7:8, 13; Mattheüs 23:23; Lukas 11:42.
[Prente op bladsy 17]
Jehovah se Getuies verrig in 231 lande ’n ongeëwenaarde medelydende werk in mense se huise, op straat en selfs in tronke
[Prente op bladsy 18]
Blootstelling aan geweld, soos dié op TV, ondermyn tere medelye