Job se beloning—’n bron van hoop
“Die HERE het die einde van Job meer geseën as sy begin.”—JOB 42:12.
1. Wat doen Jehovah vir sy volk, selfs wanneer beproewinge hulle baie swak maak?
JEHOVAH word “die beloner . . . van dié wat hom ernstig soek” (Hebreërs 11:6, NW). Hy motiveer ook sy toegewyde volk om moedig te getuig, selfs al het beproewinge hulle so swak soos dooies gemaak (Job 26:5, NW; Openbaring 11:3, 7, 11). Dit was waar in die geval van Job, wat lyding moes verduur. Hoewel hy deur drie valse troosters beswadder is, is hy nie deur mensevrees tot swye gebring nie. Hy het eerder vrymoedig getuig.
2. Hoe het Jehovah se Getuies hulle beproewinge deurstaan, hoewel hulle vervolging en ontberinge verduur het?
2 Baie hedendaagse Getuies van Jehovah het al soveel bittere vervolging en ontberinge verduur dat hulle by die dood omgedraai het (2 Korinthiërs 11:23). Maar soos Job het hulle liefde vir God getoon en regverdigheid beoefen (Esegiël 14:14, 20). Hulle het ook hulle beproewinge deurstaan; vasbeslote om Jehovah te behaag, versterk om vrymoedig te getuig en vervul met ware hoop.
Job getuig vrymoedig
3. Watter soort getuienis het Job in sy laaste toespraak gelewer?
3 In sy laaste toespraak het Job ’n selfs groter getuienis as vroeër gegee. Hy het sy valse vertroosters heeltemal die swye opgelê. Met bytende sarkasme het hy gesê: “Hoe goed het [julle] die onmagtige bygestaan!” (Job 26:2). Job het Jehovah verheerlik, die een wie se krag ons aardbol oor ’n niks in die hemelruim ophang en wolke vol water oor die aarde laat hang (Job 26:7-9). Tog het Job gesê dat sulke wondere ‘maar die begin van Jehovah se dade is’.—Job 26:14, NAV.
4. Wat het Job oor onkreukbaarheid gesê, en waarom kon hy hom op hierdie wyse uitdruk?
4 Job was oortuig van sy onskuld en het gesê: “Totdat ek die asem uitblaas, sal ek my onskuld [“onkreukbaarheid”, NW] nie prysgee nie” (Job 27:5). In teenstelling met die valse aantygings wat voor sy kop gegooi is, het hy niks gedoen om te verdien wat oor hom gekom het nie. Job het geweet dat Jehovah nie die gebede van afvalliges verhoor nie, maar dat hy handhawers van onkreukbaarheid sal beloon. Dit herinner ons heel waarskynlik daaraan dat die storm van Armageddon die goddeloses binnekort uit hulle magsposisie gaan verwyder en dat hulle nie God se hand van vergelding sal vryspring nie. Tot dan sal Jehovah se volk in hulle onkreukbaarheid wandel.—Job 27:11-23.
5. Hoe het Job ware wysheid gedefinieer?
5 Stel jou voor hoe die wêreldwyse drietal na Job luister terwyl hy toon hoe die mens sy vernuf gebruik het om goud, silwer en ander skatte in die aarde en in die see te vind. “Maar”, het hy gesê, “’n sak vol wysheid is meer werd as een vol pêrels” (Job 28:18, NW). Job se valse troosters kon nie ware wysheid koop nie. Die bron daarvan is die Skepper van die wind, die reën, die weerlig en die donderweer. Trouens, die eerbiedige “vrees van [Jehovah] is wysheid; en om van die kwaad af te wyk, is verstand”.—Job 28:28.
6. Waarom het Job oor sy vroeëre lewe gepraat?
6 Ten spyte van sy lyding het Job nie opgehou om Jehovah te dien nie. Hierdie man van onkreukbaarheid het nie die Allerhoogste die rug toegekeer nie, maar hy het eerder na die tyd verlang toe hy ’n “vertroueling van God” was (Job 29:4, NAV). Job het nie gespog toe hy vertel het hoe hy ‘die ellendige gered het, hom met geregtigheid geklee het en ’n vader vir die behoeftiges’ was nie (Job 29:12-16). Hy het eerder die feite van sy lewe as ’n getroue kneg van Jehovah opgenoem. Het jy so ’n goeie reputasie opgebou? Job het natuurlik ook die valsheid van die drie vroom bedrieërs se aantygings oopgevlek.
7. Watter soort persoon was Job voorheen?
7 Jonger manne ‘wie se vaders hy nie eers by sy herdershonde sou laat sit nie’, het Job uitgelag. Hy is verag en daar is op hom gespuug. Selfs in sy erg geteisterde toestand is Job geen agting getoon nie (Job 30:1, 10, 30). Aangesien hy heelhartig aan Jehovah toegewy was, het hy egter ’n skoon gewete gehad en kon hy sê: “Hy sal my op ’n noukeurige weegskaal weeg en God sal my onkreukbaarheid te wete kom” (Job 31:6, NW). Job was nie ’n egbreker of ’n bedrieër nie, en hy het ook nie versuim om die behoeftiges te help nie. Hoewel hy ryk was, het hy nooit op materiële rykdom vertrou nie. Daarbenewens het Job hom nie aan afgodediens skuldig gemaak deur lewelose dinge soos die maan te vereer nie (Job 31:26-28). Deur op God te vertrou, het hy ’n goeie voorbeeld as ’n handhawer van onkreukbaarheid gestel. Ten spyte van al sy smarte en die teenwoordigheid van valse troosters het Job homself meesterlik verweer en ’n uitstekende getuienis gelewer. Nadat hy klaar gepraat het, het hy op God as sy Regter en Beloner vertrou.—Job 31:35-40.
Elihu praat
8. Wie was Elihu, en hoe het hy respek sowel as moed getoon?
8 Die jong man Elihu, ’n afstammeling van Nahor se seun Bus en dus verlangs familie van Jehovah se vriend Abraham, het daar naby gesit (Jesaja 41:8). Elihu het respek vir die ouer mans getoon deur na albei kante van die debat te luister. Tog het hy moedig gepraat aangaande dinge waaroor hulle verkeerd was. Sy toorn het byvoorbeeld ontvlam omdat Job “volgehou het dat hy reg het, nie God nie”. Elihu se toorn was veral teen die valse troosters gerig. Hulle stellings het God oënskynlik verhef, maar in werklikheid het hulle hom oneer aangedoen deur Satan se kant van die geskil te kies. Elihu, “vol woorde” en aangedryf deur die heilige gees, was ’n onpartydige getuie vir Jehovah.—Job 32:2, 18, 21, vgl. NAV.
9. Hoe het Elihu op ’n herstel vir Job gesinspeel?
9 Job was nou meer besorg oor sy eie regverdiging as dié van God. Hy het in werklikheid teen God gestry. Maar namate Job se siel nader aan die dood gekom het, was daar ’n beduidenis van herstel. Hoe so? Wel, Elihu is beweeg om te sê dat Jehovah Job met hierdie boodskap begunstig het: “Verlos hom, dat hy in die kuil nie afdaal nie: Ek het ’n losprys gevind—dan word sy vlees fris van jeugdige krag, hy keer terug na die dae van sy jonkheid.”—Job 33:24, 25.
10. In watter mate sou Job getoets word, maar waarvan kan ons in die lig van 1 Korinthiërs 10:13 seker wees?
10 Elihu het Job tereggewys omdat hy gesê het dat dit nutteloos is om behae in God te skep deur jou onkreukbaarheid te handhaaf. Elihu het gesê: “Ver is God van goddeloosheid en die Almagtige van onreg! Veelmeer vergeld Hy die mens na sy werk.” Job het voortvarend opgetree deur sy eie regverdigheid te beklemtoon, maar hy het dit sonder voldoende kennis en insig gedoen. Elihu het bygevoeg: “Mag Job getoets word tot die einde toe weens die antwoorde in die trant van kwaaddoeners” (Job 34:10, 11, 35, 36). Ons geloof en onkreukbaarheid kan eweneens net ten volle bewys word as ons op die een of ander wyse ‘tot die einde toe getoets’ word. Nogtans sal ons liefdevolle hemelse Vader nie toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie.—1 Korinthiërs 10:13.
11. Wat moet ons onthou wanneer ons swaar beproef word?
11 Terwyl Elihu verder gepraat het, het hy weer eens getoon dat Job te veel klem op sy eie regverdigheid lê. Die aandag moet op ons Grootse Maker gevestig word (Job 35:2, 6, 10, vgl. NW). God “laat die goddelose nie lewe nie, maar aan die ellendiges verskaf Hy reg”, het Elihu gesê (Job 36:6). Niemand kan rekenskap van God eis oor sy dade en sê dat hy onregverdig was nie. Hy is groter as wat ons kan begryp en sy jare kan nie bereken word nie (Job 36:22-26). Wanneer ons swaar beproef word, moet ons in gedagte hou dat ons ewige God regverdig is en ons sal beloon vir ons getroue bedrywighede wat hom tot lof strek.
12. Wat toon Elihu se slotwoorde omtrent God se voltrekking van oordeel aan die goddeloses?
12 Terwyl Elihu gepraat het, het ’n storm opgesteek. Terwyl dit al hoe nader gekom het, het sy hart begin bewe en aan die ruk gegaan. Hy het van groot dinge gepraat wat Jehovah gedoen het en gesê: “Luister hierna, o Job! Staan stil en gee ag op die wonders van God.” Soos Job moet ons God se wonderlike werke en vreesinboesemende waardigheid in ag neem. “Wat die Almagtige betref, ons het hom nie deurgrond nie”, het Elihu gesê. “Hy is verhewe in krag, en geregtigheid en oorvloed van regverdigheid sal hy nie geringag nie. Laat die mense hom dus vrees” (Job 37:1, 14; 37:23, 24, NW). Elihu se slotwoorde herinner ons daaraan dat, wanneer God binnekort oordeel aan die goddeloses gaan voltrek, hy nie geregtigheid en regverdigheid sal geringag nie en dat hy diegene sal bewaar wat hom as sy eerbiedige aanbidders vrees. Wat ’n voorreg is dit tog om onder sulke handhawers van onkreukbaarheid te wees wat Jehovah as die Universele Soewerein erken! Volhard soos Job en moet nooit toelaat dat die Duiwel jou van jou geseënde plek onder hierdie blymoedige menigte weglok nie.
Jehovah antwoord Job
13, 14. (a) Waaroor het Jehovah Job begin uitvra? (b) Watter punte kan geleer word uit ander vrae wat God Job gevra het?
13 Hoe verstom moes Job tog gewees het toe Jehovah uit die windstorm met hom gepraat het! Die storm was ’n daad van God, anders as die groot wind wat Satan gebruik het om die huis te laat ineenstort en Job se kinders te laat sterf. Job was sprakeloos toe God vra: “Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? . . . Wie het sy hoeksteen gelê? Toe die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het?” (Job 38:4, 6, 7). Jehovah het Job die een vraag na die ander gevra—oor die see, sy wolkmantel, die daeraad, die poorte van die dood, lig en duisternis en die sterrebeelde. Job kon niks sê nie toe hy gevra is: “Ken jy die wette van die hemel?”—Job 38:33.
14 Ander vrae het getoon dat, vóór die mens geskep en gesag oor die visse, voëls, wilde diere en kruipende diere gegee is, God na hulle omgesien het—sonder enige hulp of raad van die mens. In Jehovah se verdere vrae het hy melding gemaak van diere soos die wilde bul, die volstruis en die perd. Job is gevra: “Vlieg die adelaar hoog op jou bevel en bou hy hoog sy nes?” (Job 39:30). Natuurlik nie! Stel jou Job se reaksie voor toe God hom vra: “Wil die berisper met die Almagtige twis?” Dit is geen wonder nie dat Job gesê het: “Kyk, ek is te gering. Wat kan ek U antwoord? Ek lê my hand op my mond” (Job 39:35, 37 NW). Aangesien Jehovah altyd reg is, moet ons, as ons ooit in die versoeking kom om oor hom te kla, ons ‘hand op ons mond lê’. God se vrae het ook sy verhewenheid, waardigheid en krag, soos dit in die skepping weerspieël word, verheerlik.
Behemot en Leviatan
15. Wat is die algemene beskouing oor watter dier Behemot is, en wat is sommige van sy eienskappe?
15 Jehovah het vervolgens melding gemaak van Behemot, wat volgens algemene beskouing die seekoei is (Job 40:10-19, vgl. NW). Hierdie plantetende dier wat merkwaardig is vanweë sy ontsaglike grootte, enorme gewig en sterk vel ‘eet gras’. Die bron van sy krag en sterkte is in sy kruis en in die spiere van sy buik. Die gebeente van sy bene is so sterk soos “pype van koper”. Behemot raak nie paniekerig in vloedwaters nie, maar swem met gemak teen die gety.
16. (a) Die beskrywing van Leviatan pas watter dier, en wat is ’n paar feite omtrent hierdie dier? (b) Wat gee die krag van Behemot and Leviatan moontlik te kenne oor die vervulling van toewysings in Jehovah se diens?
16 God het Job ook gevra: “Kan jy [Leviatan] met ’n hoek uittrek? En met ’n tou sy tong afdruk?” Die beskrywing van Leviatan pas die krokodil (Job 40:20–41:25, vgl. NW). Hy sal nie ’n vredesverbond met enigeen sluit nie en geen verstandige mens sal so vermetel wees as om hierdie reptiel te terg nie. Pyle laat hom nie vlug nie en “hy lag oor die gesuis van die lans”. Die briesende Leviatan laat die diepte kook soos ’n kokende salfpot. Die feit dat Leviatan en Behemot baie sterker as Job is, het gehelp om hom nederig te maak. Ons moet ook nederig erken dat ons nie in onsself magtig is nie. Ons het godgegewe wysheid en krag nodig om die kloue van Satan, die Slang, te ontduik en ons toewysings in Jehovah se diens te vervul.—Filippense 4:13; Openbaring 12:9.
17. (a) Hoe het Job “God aanskou”? (b) Wat is bewys deur die vrae wat Job nie kon beantwoord nie, en hoe kan dit ons help?
17 Hierdie ondervinding het Job heeltemal nederig gemaak en hom laat erken dat hy die verkeerde beskouing gehad het en dat hy sonder kennis gespreek het. Tog het hy geglo dat hy ‘God sal aanskou’ (Job 19:25-27). Hoe kon dit gebeur, aangesien geen mens Jehovah kan sien en bly leef nie? (Exodus 33:20). Job het in werklikheid die weerspieëling van Goddelike mag gesien, God se woord gehoor, en sy oë van begrip is geopen sodat hy die waarheid omtrent Jehovah kon sien. Job het gevolglik sy woorde ‘herroep en in stof en as berou’ (Job 42:1-6). Die baie vrae wat hy nie kon beantwoord nie, het God se oppermag bewys en het die geringheid van die mens getoon, selfs van ’n mens so toegewyd aan Jehovah soos Job. Dit help ons om te besef dat ons belange nie bo die heiliging van Jehovah se naam en die regverdiging van sy soewereiniteit gestel moet word nie (Mattheüs 6:9, 10). Ons vernaamste besorgdheid moet wees om ons onkreukbaarheid teenoor Jehovah te handhaaf en sy naam te eer.
18. Wat moes Job se valse troosters doen?
18 Maar wat van die eiegeregtige valse troosters? Jehovah kon Elifas, Bildad en Sofar met reg doodgemaak het omdat hulle nie soos Job die waarheid oor hom gepraat het nie. “Neem dan nou vir julle sewe bulle en sewe ramme, en gaan na my kneg Job”, het God gesê, “en bring ’n brandoffer vir julle, en laat my kneg Job vir julle bid.” Die drietal moes nederigheid toon om hieraan gehoor te gee. Job, wat sy onkreukbaarheid gehandhaaf het, moes vir hulle bid en Jehovah het sy gebed aanneemlik gevind (Job 42:7-9). Maar wat van Job se vrou, wat hom aangemoedig het om God te vervloek en te sterf? Dit lyk asof sy deur God se genade met hom versoen is.
Beloofde belonings bied ons hoop
19. Hoe het Jehovah in Job se geval bewys dat Hy magtiger as Satan is?
19 Die oomblik toe Job opgehou het om hom oor sy lyding te bekommer en in God se diens herstel is, het Jehovah sy omstandighede verander. Nadat Job vir die drietal gebid het, het God ‘sy toestand van gevangenskap verander’ en het sy “besittings vermeerder tot dubbel soveel as voorheen”. Jehovah het getoon dat Hy magtiger as die Duiwel is deur die siekte wat Satan oor Job gebring het wonderdadig te genees. God het ook die demoonhordes verdryf en hulle op ’n afstand gehou deur Job te beskerm met Sy laer van engele.—Job 42:10, vgl. NW; Psalm 34:8.
20. Op watter maniere het Jehovah Job beloon en geseën?
20 Job se broers, susters en sy kennisse van vroeër het na hom bly kom en saam met hom geëet, hulle medelye aan hom betoon en hom vertroos oor die onheil wat Jehovah toegelaat het om oor hom te kom. Elkeen van hulle het Job geld en ’n goue ring gegee. Jehovah het die einde van Job meer geseën as sy begin, sodat hy 14 000 skape, 6 000 kamele, 1 000 beeste en 1 000 eselinne gehad het. Job het ook sewe seuns en drie dogters gehad, net soveel soos hy voorheen gehad het. Sy dogters—Jemima, Kesia en Keren-happug—was die mooiste vroue in die land en Job het hulle ’n erfdeel onder hulle broers gegee (Job 42:11-15). Daarbenewens het Job nog 140 jaar gelewe en vier geslagte van sy nageslag gesien. Die verslag sluit af: “Job het toe gesterf. Hy was oud en het ’n vol lewe gehad” (Job 42:16, 17, NAV). Die verlenging van sy lewe was ’n wonderwerk van Jehovah God.
21. Hoe help die skriftuurlike verslag aangaande Job ons, en wat moet ons vasbeslote wees om te doen?
21 Die skriftuurlike verslag aangaande Job maak ons meer bewus van Satan se liste en help ons om te sien hoe universele soewereiniteit met menslike onkreukbaarheid verband hou. Soos Job sal almal wat vir God lief is, getoets word. Maar ons kan volhard soos Job gedoen het. Hy het met geloof en hoop uit sy beproewinge gekom, en hy het baie beloninge ontvang. As Jehovah se hedendaagse knegte het ons ware geloof en hoop. En wat ’n wonderlike hoop stel die Groot Beloner vir ons elkeen in die vooruitsig! As die gesalfdes die hemelse beloning voor oë hou, sal dit hulle help om God vir die res van hulle lewe hier op aarde lojaal te dien. Baie met aardse vooruitsigte sal nooit sterf nie, maar diegene wat wel sterf, sal, saam met Job, met ’n opstanding in die Paradys op aarde beloon word. Met so ’n werklike hoop in hulle hart en verstand, moet almal wat vir God lief is Satan ’n leuenaar bewys deur standvastig aan Jehovah se kant te staan as handhawers van onkreukbaarheid en troue ondersteuners van sy universele soewereiniteit.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Wat is sommige van die punte wat Job gestel het in sy laaste antwoord aan sy valse troosters?
◻ Hoe het Elihu getoon dat hy ’n onpartydige getuie vir Jehovah is?
◻ Wat was sommige van God se vrae aan Job, en watter uitwerking het hulle gehad?
◻ Hoe het jy baat gevind by die skriftuurlike verslag aangaande Job?
[Prente op bladsy 18]
Jehovah se stellings aangaande Behemot en Leviatan het gehelp om Job nederig te maak