Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 11/15 bl. 29-31
  • Sy was hoogs begunstig deur Jehovah

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Sy was hoogs begunstig deur Jehovah
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Haar wonderlike voorreg
  • Sy word Josef se vrou
  • Maria het ander kinders gehad
  • ’n Godvresende moeder
  • Maria as Jesus se dissipel
  • Ewige voorregte
  • “Kyk! Jehovah se slavin!”
    Volg hulle geloof na
  • Wat ons uit Maria se voorbeeld kan leer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • “Kyk! Jehovah se slavin!”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Sy het die swaard van droefheid oorwin
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 11/15 bl. 29-31

Sy was hoogs begunstig deur Jehovah

“GOEIEDAG, hoogbegunstigde, Jehovah is met jou.” Wat ’n manier om gegroet te word! Die spreker is niemand anders as die engel Gabriël nie. Hy spreek ’n jong vrou aan met ’n nederige hart—Maria, die dogter van ’n man met die naam Eli. Dit is die jaar 3 v.G.J. in die stad Nasaret.—Lukas 1:26-28, NW.

Maria is in die huwelik aan Josef die timmerman beloof. Volgens die Joodse wet en gebruik word sy reeds as sy vrou beskou (Mattheüs 1:18). Net soos sy, beklee hy ’n nederige posisie in die samelewing. Waarom groet die engel haar dan as iemand wat hoogs begunstig is?

Haar wonderlike voorreg

Gabriël voeg by: “Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. En kyk, jy sal swanger word en ’n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.”—Lukas 1:29-33.

Maria is verbaas en dronkgeslaan, en sy vra: “Hoe kan dit wees aangesien ek geen [gemeenskap met ’n] man het nie?” Gabriël antwoord: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word.” Om enige twyfel uit die weg te ruim, sê die engel voorts: “Kyk, Elisabet, jou bloedverwant, het self ook ’n seun ontvang in haar ouderdom, en hierdie maand is die sesde vir haar wat onvrugbaar genoem is. Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie.”—Lukas 1:34-37, vgl. NW.

Maria aanvaar hierdie wonderlike diensvoorreg onmiddellik. Sy antwoord gewillig, maar nederig: “Hier is die diensmaagd van die Here. Laat dit met my gaan volgens u woord.” Daarna gaan Gabriël weg. Maria haas haar na ’n stad in die bergstreek van Juda. Wanneer sy by die huis van die priester Sagaria en sy vrou, Elisabet, aankom, vind sy dat alles presies is soos die engel dit beskryf het. Hoe bly maak dit Maria se hart tog nie! Haar lippe stort woorde tot lof van Jehovah uit.—Lukas 1:38-55.

Sy word Josef se vrou

’n Maagd moet Jesus se menseliggaam voorsien, want so ’n geboorte is voorspel (Jesaja 7:14; Mattheüs 1:22, 23). Maar waarom is ’n verloofde maagd nodig? Sodat daar ’n pleegvader kan wees wat die kind die wetlike reg tot koning Dawid se troon kan gee. Josef sowel as Maria behoort aan die stam van Juda en is nakomelinge van koning Dawid. Die erfgenaamskapsregte van Jesus sal dus dubbeld vasgestel wees (Mattheüs 1:2-16; Lukas 3:23-33). Dit is waarom die engel Josef later verseker dat hy nie moet huiwer om Maria as sy wettige vrou te neem nie, al is sy swanger.—Mattheüs 1:19-25.a

’n Bevel wat vir belastingdoeleindes deur keiser Augustus uitgevaardig is, verplig Josef en Maria om hulle in Betlehem te laat registreer. Terwyl hulle daar is, skenk sy geboorte aan haar eersgebore seun. Herders kom om die kindjie te sien, en hulle loof sy Vader, Jehovah. Ná die 40 dae van haar reiniging volgens die Mosaïese Wet gaan Maria na die tempel in Jerusalem om vir haar sondes versoening te doen (Levitikus 12:1-8; Lukas 2:22-24). Ja, aangesien sy nie sondeloos gebore is en dus nie vry van die vlek van die sonde is nie, moet haar aangebore onvolmaakthede deur versoeningsofferandes bedek word.—Psalm 51:7.

Terwyl Maria en Josef by die tempel is, is die bejaarde Simeon en die bejaarde profetes Anna bevoorreg om die Seun van God te aanskou. Maria is nie die middelpunt van belangstelling nie (Lukas 2:25-38). Later bring wyse manne hulde aan Jesus, nie aan haar nie.—Mattheüs 2:1-12.

Nadat hulle na Egipte gevlug het en daar gebly het totdat die bose Herodes gesterf het, keer Jesus se ouers terug en gaan woon hulle in die dorpie Nasaret (Mattheüs 2:13-23; Lukas 2:39). Dit is waar Josef en Maria Jesus onder godvrugtige huislike omstandighede grootmaak.

Maria het ander kinders gehad

Mettertyd gee Maria en Josef aan Jesus natuurlike broers en susters. Wanneer Jesus tydens sy bediening na sy tuisdorp Nasaret terugkeer, word hy deur sy kennisse uit sy kinderjare herken. “Is Hy nie die seun van die timmerman nie?” vra hulle. “Is die naam van sy moeder nie Maria en die van sy broers Jakobus en Joses en Simon en Judas nie? En sy susters, is hulle nie almal by ons nie?” (Mattheüs 13:55, 56). Die Nasareners verwys na die vleeslike gesin van Josef en Maria, met inbegrip van haar seuns en dogters, wat hulle as Jesus se natuurlike broers en susters ken.

Hierdie broers en susters is nie Jesus se neefs en niggies nie. Hulle is ook nie sy dissipels of geestelike broers en susters nie, want Johannes 2:12 tref ’n duidelike onderskeid tussen die twee groepe deur te sê: “Hy [Jesus, het] na Kapernaüm afgegaan, Hy en sy moeder en sy broers en sy dissipels.” Jare later het die apostel Paulus vir Cefas, of Petrus, in Jerusalem gesien en bygevoeg: “Ek het niemand anders van die apostels gesien nie, behalwe Jakobus, die broer van die Here” (Galasiërs 1:19). Daarbenewens is die verklaring dat Josef “geen gemeenskap met [Maria] gehad [het] totdat sy aan ’n seun geboorte gegee het nie” ’n aanduiding dat Jesus se aangenome vader wel later met haar gemeenskap gehad en haar ander kinders verwek het (Mattheüs 1:25, NW). In ooreenstemming daarmee noem Lukas 2:7 Jesus haar “eersgebore” seun.

’n Godvresende moeder

As ’n godvresende moeder gee Maria haar samewerking aan Josef in die onderrigting van haar kinders in regverdigheid (Spreuke 22:6). Dat sy ’n vurige student van die Skrif is, word aan die geestelike rykdom van haar woorde gesien wanneer Elisabet haar groet. By daardie geleentheid herhaal Jesus se moeder gedagtes uit Hanna se lied en toon sy haar kennis van die psalms, historiese en profetiese geskrifte en boeke van Moses (Genesis 30:13; 1 Samuel 2:1-10; Spreuke 31:28; Maleagi 3:12; Lukas 1:46-55). Maria het profetiese gebeure en woorde gememoriseer, hulle soos ’n skat in haar hart bewaar en in haar verstand bepeins. Sy is dus goed toegerus om te help om ouerlike onderrigting aan die seun Jesus te voorsien.—Lukas 2:19, 33.

Die goed onderrigte, 12-jarige Jesus openbaar skriftuurlike kennis wat geleerde manne by die tempel verbaas. Omdat hy tydens daardie Pasgaseisoen van sy ouers geskei raak, sê sy moeder: “Kind, waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het met angs na jou gesoek.” Jesus antwoord: “Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?” Omdat Maria nie hierdie antwoord verstaan nie, bewaar sy dit in haar hart. Nadat Jesus na Nasaret teruggekeer het, hou hy aan om ‘verstandelik en liggaamlik te groei en in guns by God en die mense toe te neem’.—Lukas 2:42-52, vgl. NAV.

Maria as Jesus se dissipel

Hoe gepas is dit tog dat Maria uiteindelik Jesus se toegewyde dissipel word! Sy is sagmoedig en het geen begeerte om bo ander uit te blink nie ten spyte van haar unieke, godgegewe toewysing. Maria ken die Skrif. As jy dit self ondersoek, sal jy nie vind dat sy beskryf word as iemand wat met ’n stralekrans op ’n troon as die “moeder-koningin” sit en met die weerkaatste heerlikheid van Christus oorstraal word nie. Jy sal haar eerder ver op die agtergrond aantref, waar sy geen aandag trek nie.—Mattheüs 13:53-56; Johannes 2:12.

Jesus het enigiets soos Maria-verering onder sy navolgers in die kiem gesmoor. Terwyl hy by een geleentheid gepraat het, “het ’n vrou uit die menigte hardop uitgeroep en vir Hom gesê: ‘Hoe bevoorreg is die vrou wat U in haar liggaam gedra en aan haar bors gevoed het!’ Maar Hy sê: ‘Nog meer bevoorreg is hulle wat die woord van God hoor en dit onderhou’” (Lukas 11:27, 28, NAV). By ’n bruilofsfees het Jesus vir Maria gesê: “Vrou, wat het Ek met u te doen? My uur het nog nie gekom nie” (Johannes 2:4). Ander vertalings sê: “Laat die saak aan my oor” (Weymouth). “Moet my nie probeer vertel wat ek moet doen nie” (An American Translation). Ja, Jesus het sy moeder gerespekteer, maar hy het haar nie op ’n voetstuk geplaas nie.

Ewige voorregte

Watter voorregte het Maria tog geniet! Sy het aan Jesus geboorte geskenk. Daarna het sy as sy moeder die jong kind versorg en hom opgevoed. Laastens het sy geloof beoefen en Christus se dissipel en geestelike suster geword. In die laaste kykie wat ons van Maria in die Skrif kry, sien ons haar in ’n bovertrek in Jerusalem. Sy is daar saam met Jesus se apostels, haar ander seuns en ’n paar getroue vroue—almal aanbidders van Jehovah.—Handelinge 1:13, 14.

Later het Maria gesterf, en haar liggaam het tot stof teruggekeer. Soos ander gesalfde navolgers van haar dierbare seun, het sy in die dood geslaap tot God se bestemde tyd om haar as ’n geesskepsel tot onsterflike lewe in die hemel op te wek (1 Korinthiërs 15:44, 50; 2 Timotheüs 4:8). Hoe moet hierdie “hoogbegunstigde” haar tog nie nou in die teenwoordigheid van Jehovah God en Jesus Christus verbly nie!

[Voetnoot]

a Wie sou met Maria wou trou as sy nie ’n maagd was nie? Die Jode het vereis dat ’n meisie ’n maagd moet wees.—Deuteronomium 22:13-19; vergelyk Genesis 38:24-26.

[Prent op bladsy 31]

Maria was as die moeder van Jesus hoogs begunstig

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel