“Ou Testament” of “Hebreeuse Geskrifte”—Watter een?
VANDAG word die uitdrukkings “Ou Testament” en “Nuwe Testament” algemeen in die Christendom gebruik wanneer daar van die Hebreeuse/Aramese en die Griekse dele van die Bybel gepraat word. Maar is daar enige Bybelse grondslag vir die gebruik van hierdie uitdrukkings? En waarom vermy Jehovah se Getuies dit oor die algemeen in hulle publikasies?
Dit kan weliswaar lyk of 2 Korintiërs 3:14 volgens die King James Version en nog ’n paar ouer vertalings, soos die Duitse Septembertestament, Martin Luther se eerste vertaling (1522), hierdie gebruik steun. In die King James Version lui hierdie vers: “Maar hulle sinne is verblind: want tot vandag toe bly daar by die lees van die ou testament dieselfde sluier sonder dat dit weggeneem word; die sluier wat in Christus vernietig word.”
Maar praat die apostel hier van die 39 boeke wat oor die algemeen die “Ou Testament” genoem word? Die Griekse woord wat hier met “testament” vertaal is, is di·a·theʹke. Die bekende Duitse teologiese ensiklopedie Theologische Realenzyklopädie sê in sy kommentaar oor 2 Korintiërs 3:14 dat ‘die lees van die ou di·a·theʹke’ in daardie vers dieselfde is as ‘wanneer Moses gelees word’ in die volgende vers. Dit sê dus dat ‘die ou di·a·theʹke’ die Wet van Moses, of hoogstens die Pentateug, beteken. Dit beteken beslis nie die hele voor-Christelike deel van die geïnspireerde Skrif nie.
Die apostel praat net van ’n deel van die Hebreeuse Geskrifte, die ou Wetsverbond, wat deur Moses in die Pentateug opgeteken is; hy praat nie van die Hebreeuse en Aramese Geskrifte in die geheel nie. Hy bedoel ook nie dat die geïnspireerde Christelike geskrifte van die eerste eeu G.J. ’n “nuwe testament” uitmaak nie, aangesien hierdie uitdrukking nêrens in die Bybel voorkom nie.
’n Mens moet ook daarop let dat die Griekse woord di·a·theʹke wat Paulus hier gebruik het in werklikheid “verbond” beteken. (Vir meer inligting, sien die New World Translation of the Holy Scriptures—With References, Byvoegsel 7E, bladsy 1585, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., 1984.) Talle moderne vertalings lees derhalwe tereg “ou verbond” en nie “ou testament” nie.
Die “National Catholic Reporter” het in hierdie verband gesê: “Die uitdrukking ‘Ou Testament’ skep uiteraard ’n atmosfeer van minderwaardigheid en verouderdheid.” Maar die Bybel is eintlik één werk, en geen deel is verouderd, of “oud”, nie. Sy boodskap is konsekwent van die eerste boek in die Hebreeuse deel tot die laaste boek in die Griekse deel (Romeine 15:4; 2 Timoteus 3:16, 17). Ons het dus geldige redes om hierdie uitdrukkings te vermy wat op onjuiste veronderstellings gegrond is, en ons verkies om die juister uitdrukkings “Hebreeuse Geskrifte” en “Christelike Griekse Geskrifte” te gebruik.