Jy is kosbaar in God se oë!
“Ek het jou liefgehad met ’n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid.”—JEREMIA 31:3.
1. Hoe het Jesus se gesindheid teenoor die gewone mense van sy dag van die Fariseërs s’n verskil?
HULLE kon dit in sy oë sien. Hierdie man, Jesus, was glad nie soos hulle godsdiensleiers nie; hy het omgegee. Hy het medelye vir hierdie mense gevoel, want hulle “was gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder” (Matteus 9:36). Hulle godsdiensleiers was veronderstel om liefdevolle herders te wees wat ’n liefdevolle, barmhartige God verteenwoordig. In plaas daarvan het hulle op die gewone mense neergesien as ’n blote gespuis—en vervloektes!a (Johannes 7:47-49; vergelyk Esegiël 34:4.) Dit is duidelik dat so ’n verdraaide, onskriftuurlike sienswyse grootliks verskil het van hoe Jehovah sy volk beskou het. Hy het vir sy volk, Israel, gesê: “Ek het jou liefgehad met ’n ewige liefde.”—Jeremia 31:3.
2. Hoe het Job se drie metgeselle hom probeer oortuig dat hy in God se oë niks werd is nie?
2 Maar die Fariseërs was hoegenaamd nie die eerstes om Jehovah se geliefde skape te probeer oortuig dat hulle niks werd is nie. Neem die geval van Job. In Jehovah se oë was Job regverdig en vroom, maar die drie “vertroosters” het geïnsinueer dat hy ’n onsedelike, goddelose afvallige is wat sou sterf sonder om ’n spoor agter te laat. Hulle het volgehou dat God geen waarde sal heg aan enige regverdigheid aan die kant van Job nie, aangesien God nie eers sy eie engele vertrou nie en die hemel self as onrein beskou!—Job 1:8; 4:18; 15:15, 16; 18:17-19; 22:3.
3. Wat gebruik Satan vandag om mense te probeer oortuig dat hulle niks werd en onbeminlik is?
3 Vandag gebruik Satan steeds hierdie ‘slinkse set’, naamlik om mense te probeer oortuig dat hulle onbemind en niks werd is nie (Efesiërs 6:11, voetnoot in naslaanuitgawe). Hy verlei mense weliswaar dikwels deur hulle ydelheid en trots te prikkel (2 Korintiërs 11:3). Maar hy verlustig hom ook daarin om die selfrespek van dié wat kwetsbaar is te verpletter. Dit is veral die geval in hierdie kritieke “laaste dae”. Baie word vandag groot in gesinne waar daar geen “natuurlike geneentheid” is nie; baie het daagliks met mense te doen wat wreedaardig, selfsugtig en eiesinnig is (2 Timoteus 3:1-5). Jare van slegte behandeling, rassisme, haat of mishandeling kon sulke mense tot die slotsom laat kom het dat hulle niks werd en onbeminlik is. Een man het geskryf: “Ek het niemand lief nie en ek dink nie iemand het my lief nie. Dit is vir my baie moeilik om te glo dat God hoegenaamd vir my omgee.”
4, 5. (a) Waarom is die gedagte dat ’n mens niks werd is nie, in stryd met die Skrif? (b) Wat is ’n gevaarlike gevolg as ons glo dat nie een van ons pogings iets werd is nie?
4 Die gedagte dat jy as persoon niks werd is nie, is in stryd met die kern van die waarheid van God se Woord, naamlik die losprysleer (Johannes 3:16). As God bereid was om so ’n hoë prys te betaal—sy eie Seun se kosbare lewe—om vir ons die kans op ewige lewe te koop, moet Hy ons tog sekerlik liefhê; ons moet tog sekerlik iéts in sy oë werd wees!
5 Hoe ontmoedigend sal dit tog nie ook wees om te voel dat ons God mishaag nie, dat nie een van ons pogings iets werd is nie! (Vergelyk Spreuke 24:10, NW.) Met so ’n negatiewe beskouing kan selfs welmenende aanmoediging, wat bedoel is om ons te help om, waar moontlik, ons diens aan God te verbeter, vir sommige eerder na veroordeling klink. Dit lyk dalk na ’n bevestiging van ons eie innerlike oortuiging dat niks wat ons doen ooit genoeg is nie.
6. Wat is die beste teenmiddel vir uiters negatiewe gedagtes oor onsself?
6 As jy sulke negatiewe gevoelens in jouself bespeur, moet jy nie wanhopig raak nie. Van tyd tot tyd is baie van ons onredelik streng met onsself. En onthou, God se Woord is bedoel om “dinge reg te stel” en om “sterk verskanste dinge omver te werp” (2 Timoteus 3:16; 2 Korintiërs 10:4). Die apostel Johannes het geskryf: “Hieraan sal ons weet dat ons ons oorsprong by die waarheid het, en ons sal ons hart voor hom gerusstel met betrekking tot alles waarin ons hart ons veroordeel, want God is groter as ons hart en weet alles” (1 Johannes 3:19, 20). Kom ons ondersoek vervolgens drie maniere waarop ons volgens die Bybel vir Jehovah kosbaar is.
Jehovah waardeer jou
7. Hoe het Jesus alle Christene oor hulle waarde in God se oë geleer?
7 Eerstens leer die Bybel uitdruklik dat ons elkeen in God se oë belangrik is. Jesus Christus het gesê: “Vyf mossies word vir twee muntstukke van geringe waarde verkoop, nie waar nie? Tog word nie een van hulle voor God vergeet nie. Maar selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie vrees nie; julle is meer werd as baie mossies” (Lukas 12:6, 7). In daardie dae was die mossie die goedkoopste van die voëls wat as voedsel verkoop is, en tog het nie een van hulle onopgemerk gebly vir sy Skepper nie. Die grondslag is sodoende gelê vir ’n treffende teenstelling: Wanneer dit by mense kom—wat baie, baie meer werd is—ken God elke besonderheid. Dit is asof selfs elke haar op ons kop getel is!
8. Waarom is dit realisties om te dink dat Jehovah die hare op ons kop kan tel?
8 Die hare getel? As jy vermoed dat hierdie aspek van Jesus se illustrasie onrealisties is, dink net: God onthou sy getroue knegte so goed dat hy in staat is om hulle op te wek—hulle in elke besonderheid te herskep, met inbegrip van hulle ingewikkelde genetiese kodes en al hulle herinneringe en ondervindinge van oor die jare heen. Om ons hare te tel (waarvan daar ongeveer 100 000 op die gemiddelde kop groei), is vergelykenderwys ’n eenvoudige prestasie!—Lukas 20:37, 38.
Wat sien Jehovah in ons?
9. (a) Wat is van die eienskappe wat Jehovah waardeer? (b) Waarom dink jy is sulke eienskappe vir hom kosbaar?
9 Tweedens leer die Bybel ons wat Jehovah in ons waardeer. Eenvoudig gestel, hy skep behae in ons positiewe eienskappe en in die pogings wat ons aanwend. Koning Dawid het vir sy seun Salomo gesê: “Die HERE deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes” (1 Kronieke 28:9). Hoe verheug moet God tog nie wees wanneer hy miljarde menseharte in hierdie gewelddadige wêreld vol haat deursoek en op ’n hart afkom wat vrede, waarheid en regverdigheid liefhet nie! (Vergelyk Johannes 1:47; 1 Petrus 3:4.) Wat gebeur wanneer God ’n hart vind waarin liefde vir hom opwel, wat daarna streef om van hom te leer en sulke kennis aan ander oor te dra? In Maleagi 3:16 (NW) sê Jehovah vir ons dat hy na dié luister wat met ander oor hom praat en dat hy selfs “’n gedenkboek” het vir almal “wat Jehovah vrees en vir dié wat aan sy naam dink”. Sulke eienskappe is kosbaar vir hom!
10, 11. (a) Hoe is party dalk geneig om bewyse te ignoreer dat Jehovah hulle goeie eienskappe waardeer? (b) Hoe toon die voorbeeld van Abia dat Jehovah goeie eienskappe waardeer ongeag in watter mate dit geopenbaar word?
10 Maar die selfveroordelende hart weerstaan moontlik sulke bewyse dat ons in God se oë belangrik is. Hy fluister dalk knaend: ‘Maar daar is soveel ander wat in hierdie eienskappe voorbeeldiger is as ek. Hoe teleurgesteld moet Jehovah tog nie wees wanneer hy my met hulle vergelyk nie!’ Jehovah tref nie vergelykings nie, en hy is ook nie ’n onbuigsame, alles-of-niks denker nie (Galasiërs 6:4). Dit is met groot skerpsinnigheid dat hy harte lees, en hy waardeer goeie eienskappe ongeag in watter mate dit geopenbaar word.
11 Toe Jehovah byvoorbeeld opdrag gegee het dat koning Jerobeam se hele afvallige vorstehuis vernietig moes word, soos “drek” weggevee moes word, het Hy beveel dat slegs een van die koning se seuns, Abia, ’n ordentlike begrafnis gegee moes word. Waarom? “In hom [was] iets goeds voor die HERE, die God van Israel, te vinde” (1 Konings 14:10, 13). Het dit beteken dat Abia ’n getroue aanbidder van Jehovah was? Nie noodwendig nie, want hy het gesterf, soos die res van sy goddelose huisgesin (Deuteronomium 24:16). Jehovah het nogtans die “iets goeds” wat hy in Abia se hart gesien het, waardeer en het dienooreenkomstig opgetree. Matthew Henry’s Commentary on the Whole Bible sê: “Waar daar maar net iets goeds van is, sal dit gevind word: God wat dit soek, sien dit, al is dit ook hoe klein, en hy skep behae daarin.” En moenie vergeet nie dat as God die een of ander goeie eienskap selfs in ’n geringe mate in jou vind, hy dit kan laat groei solank jy hom getrou probeer dien.
12, 13. (a) Hoe toon Psalm 139:3 dat Jehovah ons pogings waardeer? (b) In watter sin kan daar gesê word dat Jehovah ons bedrywighede sif?
12 Jehovah waardeer insgelyks ons pogings. In Psalm 139:1-3 lees ons: “HERE, U deurgrond en ken my. U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend.” Jehovah is dus bewus van al ons doen en late. Maar hy is nie net bewus daarvan nie. In Hebreeus kan die frase “U is met al my weë goed bekend” ook beteken “U waardeer al my weë” of “U koester al my weë”. (Vergelyk Matteus 6:19, 20.) Maar hoe kan Jehovah ons weë koester as ons so onvolmaak en sondig is?
13 Interessant genoeg, waar Dawid, volgens sommige geleerdes, geskryf het dat Jehovah sy reise en rustye “deurvors” het, het die Hebreeus letterlik beteken om te “sif” of te “wan”. Een naslaanwerk het gesê: “Dit beteken . . . om al die kaf uit te wan en al die graan agter te laat bly—om alles wat waardevol is te behou. Hier beteken dit dus dat God hom as ‘t ware gesif het. . . . Hy het alles wat kaf was, of alles wat waardeloos was, verstrooi en gekyk wat daar was wat eg en belangrik is.” Die selfveroordelende hart sif moontlik ons doen en late op die teenoorgestelde manier deur ons genadeloos te berispe oor vorige foute en ons prestasies as onbelangrik af te maak. Maar Jehovah vergeef ons sondes as ons opreg berou toon en ywerig daarna streef om nie ons foute te herhaal nie (Psalm 103:10-14; Handelinge 3:19). Hy sif ons goeie werke uit en onthou dit. Trouens, hy onthou dit vir ewig solank ons getrou aan hom bly. Hy sou dit as onregverdigheid beskou om dit te vergeet, en hy is nooit onregverdig nie!—Hebreërs 6:10.
14. Wat toon dat Jehovah ons bedrywighede in die Christelike bediening waardeer?
14 Wat is van die goeie werke wat God waardeer? Feitlik enigiets wat ons in navolging van sy Seun, Jesus Christus, doen (1 Petrus 2:21). Een baie belangrike werk is dan beslis die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk. In Romeine 10:15 lees ons: “Hoe lieflik is die voete van dié wat goeie nuus van goeie dinge bekend maak!” Hoewel ons nie gewoonlik aan ons eenvoudige voete as “lieflik” dink nie, het die apostel Paulus hier dieselfde woord gebruik as wat in die Griekse Septuagint-vertaling gebruik is om Rebekka, Ragel en Josef—wat al drie bekend was vir hulle skoonheid—te beskryf (Genesis 26:7; 29:17; 39:6). Die feit dat ons besig is in die diens van ons God, Jehovah, is dus baie mooi en kosbaar in sy oë.—Matteus 24:14; 28:19, 20.
15, 16. Waarom waardeer Jehovah ons volharding, en hoe beklemtoon koning Dawid se woorde in Psalm 56:9 hierdie feit?
15 Nog ’n eienskap wat God waardeer, is ons volharding (Matteus 24:13). Onthou dat Satan wil hê jy moet Jehovah die rug toekeer. Elke dag wat jy lojaal aan Jehovah bly, is nóg ’n dag wat jy gehelp het om ’n antwoord op Satan se smaad te verskaf (Spreuke 27:11). Volharding is soms alles behalwe maklik. Gesondheidsprobleme, finansiële moeilikhede, emosionele angs en ander struikelblokke kan van elke dag ’n beproewing maak. As ons ondanks sulke beproewinge volhard, is dit veral vir Jehovah kosbaar. Dit is waarom koning Dawid Jehovah gevra het om sy trane in ’n figuurlike “kruik” te hou en met vertroue gevra het: “Is hulle nie in u boek nie?” (Psalm 56:9). Ja, Jehovah waardeer en onthou al die trane en lyding wat ons verduur terwyl ons ons lojaliteit teenoor hom handhaaf. Ook dít is kosbaar in sy oë.
16 Hoe duidelik is dit tog, in die lig van ons beter eienskappe en ons pogings, dat Jehovah baie in ons elkeen vind wat hy waardeer! Ongeag hoe Satan se wêreld ons behandel het, Jehovah beskou ons as kosbaar en deel van “die begeerlike dinge van al die nasies”.—Haggai 2:7, NW.
Wat Jehovah gedoen het om sy liefde te toon
17. Waarom moet Christus se losprysofferande ons daarvan oortuig dat Jehovah en Jesus ons as individue liefhet?
17 In die derde plek doen Jehovah baie om sy liefde vir ons te bewys. Christus se losprysofferande is ongetwyfeld die kragtigste antwoord op die sataniese leuen dat ons niks werd en onbemind is. Ons moet nooit vergeet dat die pynlike dood wat Jesus op die folterpaal gesterf het en die selfs groter pyn wat Jehovah verduur het toe hy sy geliefde Seun se dood aanskou het bewys van hulle liefde vir ons was nie. Daarbenewens is daardie liefde op ons as individue van toepassing. Dit is hoe die apostel Paulus dit beskou het, want hy het geskryf: “Die Seun van God . . . [het] my liefgehad . . . en homself vir my oorgegee.”—Galasiërs 2:20.
18. In watter sin trek Jehovah ons na Christus?
18 Jehovah het sy liefde vir ons bewys deur ons individueel te help om die voordele van Christus se offerande te benut. Jesus het in Johannes 6:44 gesê: “Geen mens kan na my toe kom tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie.” Deur middel van die predikingswerk, wat ons individueel bereik, en deur middel van Jehovah se heilige gees, wat hy gebruik om ons te help om geestelike waarhede ondanks ons beperkinge en tekortkominge te snap en toe te pas, trek Jehovah ons persoonlik na sy Seun en die hoop op ewige lewe. Jehovah kan dus dieselfde van ons sê as wat hy van Israel gesê het: “Ek het jou liefgehad met ’n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid.”—Jeremia 31:3.
19. Waarom behoort die voorreg van gebed ons van Jehovah se persoonlike liefde vir ons oortuig?
19 Maar dit is moontlik deur die voorreg van gebed dat ons Jehovah se liefde op die intiemste manier ervaar. Hy nooi elkeen van ons om “onophoudelik” tot hom te bid (1 Tessalonisense 5:17). Hy luister! Hy word selfs die “Hoorder van die gebed” genoem (Psalm 65:3). Hy het nie hierdie taak aan enige ander persoon oorgedra nie, selfs nie aan sy eie Seun nie. Dink net: Die Skepper van die heelal spoor ons aan om hom in gebed te nader met vrymoedigheid van spraak. Jou smekinge kan Jehovah selfs beweeg om te doen wat hy andersins moontlik nie sou gedoen het nie.—Hebreërs 4:16; Jakobus 5:16; sien Jesaja 38:1-16.
20. Waarom is God se liefde vir ons geen verskoning vir verwaandheid of egotisme aan ons kant nie?
20 Geen gebalanseerde Christen sal sulke bewys van God se liefde en agting as ’n verskoning gebruik om homself belangriker te ag as wat hy werklik is nie. Paulus het geskryf: “Deur die onverdiende goedhartigheid wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen daar onder julle om nie meer van homself te dink as wat dit nodig is om te dink nie, maar om só te dink dat hy ’n gesonde verstand het, elkeen na die maat van geloof wat God hom toebedeel het” (Romeine 12:3). Terwyl ons dus die hartlikheid van ons hemelse Vader se liefde geniet, moet ons gesond van verstand wees en onthou dat God se liefderyke goedhartigheid onverdiend is.—Vergelyk Lukas 17:10.
21. Watter sataniese leuen moet ons voortdurend weerstaan, en watter Goddelike waarheid moet ons altyddeur bepeins?
21 Laat ons almal alles in ons vermoë doen om al die idees te weerstaan wat Satan in hierdie sterwende ou wêreld bevorder. Dit sluit in dat ons die gedagte verwerp dat ons niks werd of onbemind is. As die lewe in hierdie stelsel jou geleer het om jouself te sien as ’n struikelblok wat selfs te groot is vir God se ontsaglike liefde om te oorkom, of jou goeie werke as te onbeduidend om selfs deur sy alsiende oë opgemerk te word, of jou sondes as te groot om selfs deur die dood van sy kosbare Seun bedek te word, is jy ’n leuen geleer. Verwerp sulke leuens met al die afkeer wat dit verdien! Laat ons altyd die geïnspireerde woorde van die apostel Paulus in Romeine 8:38, 39 in gedagte hou: “Ek is daarvan oortuig dat nie die dood of die lewe of engele of regerings of teenswoordige dinge of toekomstige dinge of magte of hoogte of diepte of enige ander skepping ons sal kan skei van God se liefde wat in Christus Jesus, ons Here, is nie.”
[Voetnoot]
a Trouens, hulle het met minagting na die armes verwys as “ʽam-ha·ʼaʹrets”, of “mense van die aarde”. Volgens een geleerde het die Fariseërs gesê dat ’n mens niks waardevols aan hierdie mense moes toevertrou of hulle getuienis moes vertrou of hulle as gaste moes ontvang of hulle gaste moes wees of selfs by hulle moes koop nie. Die godsdiensleiers het gesê dat as jou dogter met een van hierdie mense trou sy as ‘t ware gebind en hulpeloos aan ’n dier oorgelewer word.
Wat dink jy?
◻ Waarom probeer Satan ons oortuig dat ons niks werd en onbemind is?
◻ Hoe het Jesus ons geleer dat elkeen van ons vir Jehovah belangrik is?
◻ Hoe weet ons dat Jehovah ons goeie eienskappe op prys stel?
◻ Hoe kan ons seker wees dat Jehovah ons pogings waardeer?
◻ Hoe het Jehovah sy liefde vir ons as individue bewys?
[Prent op bladsy 13]
Jehovah sien en onthou almal wat oor sy naam dink