My besluit om tot rypheid te vorder
SOOS VERTEL DEUR CARL DOCHOW
“Vorder tot rypheid of verval weer in sonde, watter een?” was die titel van ’n artikel in Die Wagtoring van 1 Oktober 1948. Daardie artikel het my as ‘t ware uit geestelike gevaar in die boerderygebiede van die Verenigde State geruk tot ’n sendingloopbaan in Suid-Amerika wat oor ’n tydperk van meer as 43 jaar gestrek het.
EK IS op 31 Maart 1914 as die derde van vier seuns in ’n houthuis, in Vergas, Minnesota, gebore. My jeugjare was genotvol. Ek onthou hoe ek saam met my pa gaan visvang het. My ma was egter dikwels siek, en ek moes in standerd drie die skool verlaat om haar in die huis te help. Toe ek 13 was, is daar vasgestel dat sy longkanker het.
My ma het geweet dat sy nie lank het om te lewe nie, daarom het sy my begin voorberei om haar plek in te neem. Sy het in die kombuis gesit en vir my gesê hoe om te kook en te bak. Daarbenewens het sy my geleer om klere te was, die tuin te versorg en om na honderd hoenders om te sien. Sy het my ook aangemoedig om elke dag ’n hoofstuk uit die Bybel te lees, wat ek ondanks my beperkte leesvermoë gedoen het. Nadat sy my tien maande lank opgelei het, het my ma op 27 Januarie 1928 gesterf.
Die oorlog verander ons lewens
Nadat die Tweede Wêreldoorlog in September 1939 begin het, is daar elke Sondag in ons Lutherse kerk vir die troepe gebid. My ouer broer Frank was vasbeslote om niemand dood te maak nie, en toe hy geweier het om in die leër te veg, is hy in hegtenis geneem. Tydens sy verhoor het hy verklaar: “Voordat ek onskuldige mense doodmaak, kan julle my skiet!” Hy is gevonnis om ’n jaar in die tronk op McNeil-eiland langs die kus van die staat Washington uit te dien.
Daar het Frank meer as 300 Getuies van Jehovah gevind wat opgesluit was weens hulle streng neutraliteit gedurende die oorlog (Jesaja 2:4; Johannes 17:16). Hy het gou met hulle begin assosieer en is reg daar in die tronk gedoop. Sy vonnis is weens goeie gedrag tot nege maande ingekort. In November 1942 het ons die tyding ontvang dat Frank vry is, en kort daarna het hy ons van die goeie nuus van God se Koninkryk vertel. Nadat ons die boodskap sorgvuldig in ons Bybels ondersoek het, kon ons almal sien dat dit die waarheid is wat Frank ons geleer het.
Hindernisse vir geestelike vordering
In 1944 het ek na die omgewing van Malta, Montana, getrek om by my oom te bly. Ons het iets in gemeen gehad—vrouens wat ons ná ses maande van getroude lewe verlaat het. Hy was bly dat ek hom met die boerdery en kookwerk kon help, en ons het die winste gelykop gedeel. My oom het gesê dat ek sy plaas van 260 hektaar sou erf indien ek by hom sou bly. Daardie jare het dit baie goed met die boerderybedryf gegaan, en ek het dit baie liefgehad! Ons het elke jaar ’n rekordoes gehad, en koring het tot $3,16 per boesel behaal.
My oom het egter nie van die idee gehou dat ek die vergaderinge van ’n klein gemeente van Getuies in Malta bywoon nie. Op 7 Junie 1947, sonder my oom se medewete, is ek by ’n kringbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Wolf Point gedoop. Daar het ’n Christenbroer my genooi om ’n pionier, oftewel voltydse bedienaar, te word. Hoewel dit my hartsbegeerte was om my lewe op so ’n manier te gebruik, het ek verduidelik dat my oom my nooit sou toelaat om soveel tyd aan die bediening te bestee nie.
Kort daarna het my oom ’n brief wat aan my geadresseer was, oopgemaak en gelees waarin ’n vriend my aangespoor het om ’n voltydse bedienaar te word. Rasend van woede het my oom aan my ’n ultimatum gestel—hou op preek of gee pad. Daardie ultimatum was ’n goeie ding, want ek het boerdery so liefgehad dat ek nie weet of ek dit op my eie sou kon verlaat nie. Ek het dus na my gesin in Minnesota teruggekeer, waarvan almal nou gedoop was en met die Detroit Lakes-gemeente geassosieer het.
Aanvanklik het my gesin my aangemoedig om ’n pionier te word, maar in 1948 het hulle geestelik begin afkoel. Dit was op daardie stadium dat die artikel “Vorder tot rypheid of verval weer in sonde, watter een?” my die geestelike versterking gegee het wat ek nodig gehad het. Die artikel het gewaarsku dat dit tot “baie treurige gevolge sou lei as ons moedswillig weier om met vooruitgaande kennis tred te hou”. Dit het gesê: “Ons [kan] nie bekostig om stil te staan en agteruit te gaan nie, maar moet in geregtigheid vorder. Vordering, nie stilstand nie, is die grootste mag teen verval.”
Hoewel my gesin ander verskonings aangegee het, glo ek dat hulle eintlike probleem die begeerte was om ryk te word. Hulle kon die ekonomiese voordele daarvan sien om meer tyd aan boerdery te bestee en minder aan die predikingswerk. Ek het liewer reëlings begin tref om die pionierdiens te betree as om deur ’n begeerte na rykdom verstrik te raak. Ek het geweet dat dit nie maklik sou wees nie en het selfs gedink dat ek dit nie sou regkry nie. Daarom het ek myself in 1948 op die proef gestel deur doelbewus aansoek te doen om in die slegste deel van die jaar—Desember—met pionierdiens te begin.
Ek begin met pionierdiens
Jehovah het my pogings geseën. Dit was byvoorbeeld eendag 27 grade onder vriespunt, en dít sonder die windverkoelingsfaktor. Ek was soos gewoonlik met straatgetuieniswerk besig, en het my hande dikwels omgeruil—ek het die koue hand in my sak gesit terwyl ek die tydskrifte met die ander hand vasgehou het totdat dit verkluim en weer ’n beurt in die sak moes kry. ’n Man het my genader. Hy het gesê dat hy my bedrywigheid ’n tyd lank dopgehou het en het gevra: “Wat is in daardie tydskrifte wat so belangrik is? Gee vir my hierdie twee sodat ek hulle kan lees.”
Intussen kon ek sien dat my omgang met my gesin besig was om my eie geestelikheid in gevaar te stel en ná ek die Wagtoringgenootskap gevra het, het ek ’n nuwe toewysing in Miles City, Montana, ontvang. Daar het ek gedien as die groepkneg, wat vandag as die presiderende opsiener bekend staan. Ek het in ’n karavaan van twee by drie meter gewoon en myself onderhou deur deeltyds in ’n droogskoonmakery te werk. Soms is ek gehuur om te doen wat ek baie liefgehad het—oeswerk.
Gedurende hierdie tydperk het ek gereeld gehoor dat my gesin se geestelike toestand verswak. Op die ou end het hulle, asook ander in die Detroit Lakes-gemeente, teen Jehovah se organisasie gedraai. Van die 17 Koninkryksverkondigers in die gemeente het net 7 getrou gebly. My gesin was vasbeslote om my ook uit Jehovah se organisasie te kry, daarom het ek besef dat daar net een oplossing was, naamlik om verder vordering te maak. Maar hoe?
Sendingdiens
Gedurende die internasionale byeenkoms in die stad New York in 1950 was ek by die graduering van sendelinge van die 15de klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead. ‘Ag, as ek net onder diegene kon wees wat Jehovah in ’n buitelandse toewysing gaan dien’, het ek gedink.
Ek het ’n aansoek ingestuur en is aanvaar as ’n lid van die 17de klas van Gilead, wat in Februarie 1951 begin het. Die skool is in ’n pragtige omgewing op ’n plaas noord van New York geleë. Hoe graag wou ek tog ná klas op die plaas werk, miskien in die skuur met die koeie of buite op die lande! Maar John Booth, die opsiener by Kingdom Farm op daardie stadium, het verduidelik dat ek die enigste een is met ondervinding in droogskoonmaakwerk. Daarom is ek daardie werk gegee.
Gilead was nie maklik vir iemand met net ’n standerd drie skoolopleiding nie. Hoewel die ligte teen 10:30 nm. af moes wees, het ek dikwels tot middernag gestudeer. Een van die instrukteurs het my eendag na sy kantoor toe ingeroep. “Carl”, het hy gesê, “ek kan sien dat jou punte nie baie goed is nie.”
‘O, nee’, het ek by myself gedink, ‘hulle gaan my vra om te loop.’
Die instrukteur het my egter liefdevol raad gegee oor hoe ek my tyd die beste kon gebruik sonder om so laat te studeer. Ek het vreesbevange gevra: “Is ek goed genoeg om hier by Gilead aan te bly?”
“O ja”, het hy geantwoord. “Maar ek weet nie of jy aan die vereistes sal voldoen om ’n diploma te kry nie.”
Ek is bemoedig deur die woorde van die skool se president, Nathan H. Knorr. Hy het vroeër vir die studente gesê dat punte hom nie soveel beïndruk soos die deursettingsvermoë van sendelinge wat in hulle toewysings aangebly het nie.
My moeilikste vak was Spaans, maar ek het gehoop op ’n toewysing in Alaska, waar die koue weer dieselfde is as waaraan ek by die huis gewoond was. Bowendien sou ek in Engels kon preek. Jy kan jou dus my verbasing voorstel toe ek halfpad deur die kursus Ecuador, Suid-Amerika, as my toewysing ontvang het. Ja, ek sou Spaans moes praat, en dit reg op die stomende ewenaar!
Eendag het ’n FBI-agent my by Gileadskool kom sien. Hy het uitgevra oor die seun van die groepkneg wat ons organisasie in Detroit Lakes verlaat het. Die Koreaanse oorlog was aan die gang, en hierdie jong man het beweer dat hy ’n bedienaar van Jehovah se Getuies is en derhalwe van militêre diens vrygestel is. Ek het verduidelik dat hy nie meer een van Jehovah se Getuies is nie. Toe die agent my groet, het hy gesê: “Mag jou God jou seën in jou werk.”
Later het ek gehoor dat die jeugdige in een van sy eerste veldslae in Korea gesneuwel het. Wat ’n tragiese gevolg vir iemand wat tot rypheid in God se organisasie kon vorder!
Ons heuglike gradueringsdag het eindelik op 22 Julie 1951 aangebreek. Daar was natuurlik geeneen van my familie teenwoordig nie, maar my vreugde was volkome toe ek ’n diploma ontvang het weens die vordering wat ek gemaak het.
Aanpassing in ’n buitelandse toewysing
Toe ek met my toewysing begin het, het ek gevind dat my ma se opleiding werklik goed te pas gekom het. Koskook, klere met die hand was en ’n gebrek aan lopende water was niks nuuts vir my nie. Maar om in Spaans te preek, was wel nuut! Ek het ’n gedrukte Spaanse prekie ’n geruime tyd lank gebruik. Dit het drie jaar geneem voordat ek ’n openbare toespraak in Spaans kon hou en dit met behulp van breedvoerige aantekeninge.
Toe ek in 1951 in Ecuador aangekom het, was daar minder as 200 Koninkryksverkondigers. Die dissipelmaakwerk het die eerste 25 jaar of wat stadig gevorder. Ons Bybelleringe het hemelsbreed van die onskriftuurlike tradisies van Katolisisme verskil, en ons gehoorsaamheid aan die Bybel se opdrag om getrou aan een huweliksmaat te wees, was veral ongewild.—Hebreërs 13:4.
Ons het nietemin baie Bybellektuur versprei. Ons bediening in Machala, wat in die hartjie van die piesangproduserende gebied geleë is, lig dit toe. Ek en Nicholas Wesley was die enigste Getuies in die gebied toe ons in 1956 daar aangekom het. Ons het vroeg in die oggend vertrek op die stortvragmotors wat destyds gebruik is in die werk om die hoofweë te bou. Nadat ons ’n hele ent gery het, het ons afgeklim en al die pad terug na waar ons gebly het vir mense getuig.
Op ’n sekere dag het ek en Nick aantekeninge gehou om te sien wie van ons die meeste tydskrifte sou versprei. Ek onthou nog dat ek teen die middag meer as Nick versprei het, maar teen die aand was ons gelykop met 114 tydskrifte elk. Ons het elke maand honderde van ons tydskrifte by mense op ons tydskrifroetes gelaat. Ses keer het ek meer as duisend tydskrifte gedurende ’n maand versprei. Dink net hoeveel mense Bybelwaarhede van daardie tydskrifte kon leer!
In Machala het ons ook die voorreg gehad om die eerste Koninkryksaal in Ecuador te bou wat aan die gemeente behoort het. Dit was 35 jaar gelede, in 1960. Destyds het omtrent net 15 ons vergaderinge bygewoon. Vandag is daar 11 florerende gemeentes in Machala!
’n Besoek aan die Verenigde State
Aan die einde van die sewentigerjare het ek met vakansie na die Verenigde State teruggekeer en ’n paar uur saam met my broer Frank deurgebring. Hy het my in sy motor tot op ’n bultjie geneem vanwaar ons ver oor die Red River-vallei kon sien. Dit was pragtig, met die graan wat ryp word en in die wind waai, ’n see van swaarbelaaide koringare. In die verte was die boomryke Sheyenne-rivier sigbaar. Terwyl ek daardie stille skoonheid bewonder het, is dit onderbreek toe my broer met sy gewone ou storie begin het.
“As jy nie so onnosel was om daar in Suid-Amerika rond te hardloop nie, kon dit ook joune gewees het!”
“Frank”, het ek hom gou in die rede geval. “Hou nou dadelik op.”
Hy het nie ’n woord verder gesê nie. ’n Paar jaar later het hy skielik aan beroerte gesterf, en drie pragtige plase in Noord-Dakota van altesaam meer as vierhonderd hektaar agtergelaat, asook my oom se plaas van 260 hektaar in Montana waarvan hy die erfgenaam geword het.
Nou is almal in my gesin oorlede. Maar ek is bly dat ek in Detroit Lakes, waar ons almal jare gelede as Getuies van Jehovah begin het, ’n geestelike familie van meer as 90 Christenbroers en -susters het.
Ek maak steeds geestelike vordering
Die afgelope 15 jaar het rekordoeste in die geestelike oeswerk hier in Ecuador opgelewer. Van ongeveer 5 000 Koninkryksverkondigers in 1980 het ons nou meer as 26 000. Ek het die seëning gesmaak om meer as honderd van hulle tot doop te help.
Nou, op 80-jarige leeftyd, is dit moeiliker om 30 uur per maand in die bediening te werk as toe ek 150 uur in 1951 gewerk het. Sedert 1989, toe daar vasgestel is dat ek prostaatkanker het, het ek my hersteltyd gebruik om te lees. Sedert daardie jaar het ek die Bybel 19 keer deurgelees en die boek Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk 6 keer. Sodoende hou ek aan om geestelik te vorder.
Ja, ek het baie geleenthede gehad om materiële voordele in die boerderygebiede van die Verenigde State te maai. Maar die belonings van materiële rykdom is niks in vergelyking met die vreugde wat ek in die geestelike oeswerk ervaar het nie. Die takkantoor hier in Ecuador sê dat ek meer as 147 000 tydskrifte en 18 000 boeke in my loopbaan as ’n sendeling versprei het. Ek beskou dit as geestelike saadjies, waarvan baie al ontkiem het; ander sal dalk nog in die harte van mense ontkiem as hulle aangaande hierdie Koninkrykswaarhede lees.
Ek kan aan niks beters dink as om vooruit te gaan tot in God se nuwe wêreld saam met al my geestelike kinders en miljoene ander wat gekies het om ons God, Jehovah, te dien nie. Geld sal ’n mens nie deur die einde van hierdie goddelose wêreld red nie (Spreuke 11:4; Esegiël 7:19). Maar die vrug van ons geestelike werk sal voortgaan—as elkeen van ons aanhou om tot rypheid te vorder.
[Prent op bladsy 24]
Gereed om in Miles City, Montana, in 1949 aan die pionierdiens deel te neem
[Prent op bladsy 24]
Ek koop water vir ons sendinghuis, 1952
[Prent op bladsy 25]
Predikingswerk in Machala, 1957
[Prent op bladsy 25]
Sedert ek in 1989 siek geword het, het ek die Bybel al 19 keer deurgelees