Neem die Bybel aan vir wat dit werklik is
“[Ons] dank . . . God ook onophoudelik, want toe julle God se woord ontvang het, wat julle by ons gehoor het, het julle dit nie as die woord van mense aangeneem nie maar, soos dit waarlik is, as die woord van God, wat ook in julle, die gelowiges, aan die werk is.”—1 TESSALONISENSE 2:13.
1. Watter soort inligting in die Bybel maak dit waarlik ’n voortreflike boek?
DIE Heilige Bybel is die boek wat in verreweg die meeste tale vertaal is en die grootste verspreiding ter wêreld geniet. Daar word geredelik erken dat dit een van die groot letterkundige werke is. Maar nog belangriker, die Bybel voorsien die leiding wat mense van elke ras en elke nasie dringend nodig het, ongeag hulle beroep of posisie in die lewe (Openbaring 14:6, 7). Op ’n wyse wat die verstand sowel as die hart bevredig, beantwoord die Bybel vrae soos: Wat is die doel van die mens se lewe? (Genesis 1:28; Openbaring 4:11). Waarom kon menseregerings nog nooit blywende vrede en veiligheid teweegbring nie? (Jeremia 10:23; Openbaring 13:1, 2). Waarom sterf mense? (Genesis 2:15-17; 3:1-6; Romeine 5:12). Hoe kan ons, in hierdie moeilike wêreld, die probleme van die lewe met welslae die hoof bied? (Psalm 119:105; Spreuke 3:5, 6). Wat hou die toekoms vir ons in?—Daniël 2:44; Openbaring 21:3-5.
2. Waarom voorsien die Bybel heeltemal betroubare antwoorde op ons vrae?
2 Waarom beantwoord die Bybel sulke vrae met gesag? Omdat dit die Woord van God is. Hy het mense gebruik om dit op skrif te stel, maar soos 2 Timoteus 3:16 dit duidelik stel, ‘is die hele Skrif deur God geïnspireer’. Dit spruit nie voort uit persoonlike uitlegging van menseaangeleenthede nie. “Profesie [die bekendmaking van toekomstige dinge, Goddelike bevele, die Bybel se sedelike standaard] is nooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar mense het uit God gespreek namate hulle deur heilige gees meegevoer is.”—2 Petrus 1:21.
3. (a) Gee voorbeelde wat toon hoe kosbaar die Bybel vir mense in verskeie lande was. (b) Waarom was individue bereid om hulle lewe in gevaar te stel ten einde die Skrif te kon lees?
3 Baie mense het besef hoe kosbaar die Bybel is en het hulle aan gevangeneming, selfs die dood, blootgestel ten einde dit te besit en te lees. Dit was jare gelede die geval in Katolieke Spanje, waar die geestelikes gevrees het dat hulle invloed ondermyn sou word as mense die Bybel in hulle eie taal lees; dit was ook die geval in Albanië, waar streng maatreëls onder ’n ateïstiese regering toegepas is om ’n einde aan alle godsdiensinvloed te maak. Tog het godvresende mense eksemplare van die Skrif bewaar, dit gelees en dit met mekaar bespreek. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is ’n Bybel in die Sachsenhausen-konsentrasiekamp versigtig van een selblok na ’n ander aangegee (hoewel dit verbode was), en diegene wat toegang daartoe gehad het, het gedeeltes gememoriseer om met ander te bespreek. Gedurende die vyftigerjare het Jehovah se Getuies wat weens hulle geloof opgesluit is in die destydse Kommunistiese Oos-Duitsland die gevaar van lang tydperke van alleenopsluiting geloop wanneer hulle klein gedeeltetjies van die Bybel van een gevangene na ’n ander aangegee het sodat dit snags gelees kon word. Waarom het hulle dit gedoen? Omdat hulle besef het dat die Bybel die Woord van God is, en hulle het geweet dat “die mens nie van brood alleen lewe nie”, maar dat hy van “elke uiting van Jehovah se mond lewe” (Deuteronomium 8:3, NW). Hierdie uitinge, wat in die Bybel opgeteken is, het dit vir daardie Getuies moontlik gemaak om geestelik lewend te bly ondanks die ongelooflike wreedheid wat hulle moes verduur.
4. Watter rol moet die Bybel in ons lewe speel?
4 Die Bybel is nie ’n boek wat net op die rak moet staan en nou en dan geraadpleeg moet word nie, en dit is ook nie bedoel om net gebruik te word wanneer medegelowiges vir aanbidding byeenkom nie. Dit moet elke dag gebruik word om lig te werp op situasies waarvoor ons te staan kom en om aan ons te toon wat die regte weg is om te bewandel.—Psalm 25:4, 5.
Bedoel om gelees en verstaan te word
5. (a) Wat moet elkeen van ons besit, indien dit enigsins moontlik is? (b) Hoe het mense in eertydse Israel uitgevind wat in die Skrif staan? (c) Hoe beïnvloed Psalm 19:8-12 jou gesindheid teenoor Skriflesing?
5 Vandag is Bybels in die meeste lande geredelik beskikbaar, en ons spoor elke leser van Die Wagtoring aan om een aan te skaf. Gedurende die tyd toe die Bybel op skrif gestel is, was daar nie drukperse nie. Mense het oor die algemeen nie ’n persoonlike Bybel gehad nie. Maar Jehovah het gereël dat sy knegte dit hoor wat opgeteken was. Derhalwe het Moses, volgens Exodus 24:7, neergeskryf wat Jehovah beveel het en daarna “die boek van die verbond geneem en dit voor die ore van die volk gelees”. (Ons kursiveer.) Aangesien hulle getuies van die bonatuurlike gebeurtenisse by die berg Sinai was, het hulle besef dat dít wat Moses aan hulle voorgelees het van God afkomstig was en dat hulle met hierdie inligting bekend moes wees (Exodus 19:9, 16-19; 20:22). Ons moet ook bekend wees met wat in God se Woord opgeteken is.—Psalm 19:8-12.
6. (a) Wat het Moses gedoen voordat die nasie Israel die Beloofde Land binnegegaan het? (b) Hoe kan ons Moses se voorbeeld volg?
6 Terwyl die nasie Israel gereedgemaak het om die Jordaanrivier oor te steek sodat hulle die Beloofde Land kon binnegaan en daardeur hulle nomadiese lewe in die woestyn sou beëindig, was dit gepas dat hulle Jehovah se Wet en sy handelinge met hulle hersien. Moses is deur God se gees beweeg om die Wet met hulle te hersien. Hy het hulle aan besonderhede van die Wet herinner en het ook grondbeginsels en gesindhede beklemtoon wat ’n uitwerking op hulle verhouding met Jehovah moes hê (Deuteronomium 4:9, 35; 7:7, 8; 8:10-14; 10:12, 13). Wanneer ons vandag nuwe toewysings aanpak of voor nuwe situasies in die lewe te staan kom, sal dit raadsaam wees as ons ook nadink oor die invloed wat die raad in die Skrif behoort te hê op wat ons doen.
7. Wat is gedoen kort nadat die Israeliete die Jordaan oorgesteek het om Jehovah se Wet in hulle verstande en harte in te grif?
7 Kort nadat Israel die Jordaanrivier oorgesteek het, het die volk weer byeengekom om te hersien wat Jehovah deur Moses vir hulle gesê het. Die nasie het sowat 50 kilometer noord van Jerusalem byeengekom. Die helfte van die stamme was voor die berg Ebal en die ander helfte voor die berg Gerisim. Daar het Josua “al die woorde van die wet voorgelees, die seën en die vloek”. Gevolglik het die manne, die vroue en die kinders, asook die vreemdeling, ’n tydige herhaling gehoor van die wette in verband met gedrag wat tot Jehovah se veroordeling sou lei en van die seëninge wat hulle sou ontvang as hulle Jehovah gehoorsaam (Josua 8:34, 35). Hulle moes duidelik in gedagte hê wat goed en wat sleg is uit Jehovah se oogpunt. Daarbenewens moes hulle ’n liefde vir wat goed is en ’n haat vir wat sleg is in hulle hart ingegrif het, soos elkeen van ons vandag moet doen.—Psalm 97:10; 119:103, 104; Amos 5:15.
8. Van watter nut was die periodieke voorlesing van God se Woord by sekere nasionale byeenkomste in Israel?
8 Benewens voorlesings van die Wet by daardie geskiedkundige geleenthede is ’n voorsiening vir gereelde voorlesing van God se Woord in Deuteronomium 31:10-12 uiteengesit. Elke sewende jaar moes die hele nasie byeenkom om ’n voorlesing van God se Woord te hoor. Dit het hulle van geestelike voedsel voorsien. Dit het die beloftes omtrent die Saad in hulle verstand en hart laat voortleef en het getroues derhalwe na die Messias gelei. Die reëlings vir geestelike voeding wat ingestel is toe Israel in die woestyn was, het nie tot ’n einde gekom toe hulle die Beloofde Land binnegegaan het nie (1 Korintiërs 10:3, 4). God se Woord is eerder verryk deurdat die verdere openbarings van die profete daarin opgeneem is.
9. (a) Het die Israeliete die Skrif gelees net wanneer hulle in groot groepe byeengekom het? Verduidelik. (b) Hoe is daar in afsonderlike gesinne uit die Skrif onderrig, en met watter doel?
9 Die raad in God se Woord moes nie net hersien word op die tye wanneer die volk as ’n groot groep byeen was nie. Dele van die Woord van God en die beginsels wat daarin vervat word, moes elke dag bespreek word (Deuteronomium 6:4-9). Op die meeste plekke kan jongmense vandag hulle eie Bybel hê, en dit is vir hulle baie nuttig om een te hê. Maar in eertydse Israel was dit nie die geval nie. Wanneer ouers destyds uit God se Woord onderrig het, moes hulle staatmaak op wat hulle gememoriseer het en op die waarhede wat hulle in hulle hart bewaar het, asook op enige uittreksels wat hulle dalk self neergeskryf het. Deur hierdie dinge dikwels te herhaal, het hulle daarna gestreef om liefde vir Jehovah en sy weë in hulle kinders op te bou. Die doel was nie bloot om ’n kop vol feite te hê nie, maar om elke gesinslid te help om op ’n manier te lewe wat van liefde vir Jehovah en sy Woord getuig.—Deuteronomium 11:18, 19, 22, 23.
Skriflesing in die sinagoges
10, 11. Watter program van Skriflesing is in die sinagoges gevolg, en hoe het Jesus hierdie geleenthede beskou?
10 ’n Geruime tyd nadat die Jode in ballingskap na Babilon weggevoer is, is sinagoges as plekke van aanbidding opgerig. Meer afskrifte van die Skrif is gemaak sodat God se Woord by hierdie vergaderplekke gelees en bespreek kon word. Dit het daartoe bygedra dat sowat 6 000 ou handgeskrewe afskrifte, wat dele van die Hebreeuse Geskrifte bevat, behoue gebly het.
11 ’n Belangrike deel van die diens by die sinagoge was die voorlesing van die Tora, wat dieselfde is as die eerste vyf boeke van hedendaagse Bybels. Handelinge 15:21 sê dat so ’n voorlesing in die eerste eeu G.J. op elke Sabbat gedoen is, en die Misjna toon dat daar teen die tweede eeu ook op die tweede en vyfde dae van die week voorlesings uit die Tora was. ’n Aantal mense het beurte gemaak om toegewese dele te lees. Onder Jode wat in Babilon gewoon het, was dit die gebruik om elke jaar die hele Tora te lees; in Palestina was dit gebruiklik om dit oor ’n tydperk van drie jaar te lees. ’n Deel uit die Profete is ook gelees en verduidelik. Dit was Jesus se gewoonte om vir Bybelleesprogramme op die Sabbat teenwoordig te wees daar waar hy gewoon het.—Lukas 4:16-21.
Persoonlike reaksie en toepassing
12. (a) Hoe het die volk daarby baat gevind toe Moses die Wet aan hulle voorgelees het? (b) Hoe het die volk gereageer?
12 Die voorlesing van die geïnspireerde Skrif was nie bedoel om bloot ’n formalisme te wees nie. Dit is nie gedoen bloot om die volk se nuuskierigheid te bevredig nie. Toe Moses “die boek van die verbond” op die vlakte voor die berg Sinai aan Israel voorgelees het, het hy dit gedoen sodat hulle hulle verantwoordelikhede voor God sou ken en dit sou nakom. Sou hulle dit doen? Die voorlesing het ’n reaksie vereis. Die volk het dit besef en gesê: “Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen en daarna luister.”—Exodus 24:7; vergelyk Exodus 19:8; 24:3.
13. Wat moes die volk doen toe Josua die vloeke vir ongehoorsaamheid gelees het, en met watter doel?
13 Later, toe Josua die beloofde seëninge en die vloeke, of vervloekinge, aan die nasie voorgelees het, moes hulle daarop reageer. Ná elke vervloeking is die opdrag gegee: “En die hele volk moet sê: Amen” (Deuteronomium 27:4-26). Hulle het dus puntsgewys hulle instemming met Jehovah se veroordeling van die genoemde euwels bekend gemaak. Wat ’n indrukwekkende gebeurtenis moes dit tog gewees het wanneer die hele nasie hulle instemming luid betuig het!
14. Waarom was die openbare voorlesing van die Wet in Nehemia se dag veral voordelig?
14 In Nehemia se dag, toe die hele volk in Jerusalem byeengekom het om die Wet te hoor, het hulle besef dat hulle die opdragte wat daarin staan nie ten volle uitgevoer het nie. By daardie geleentheid het hulle sonder versuim toegepas wat hulle geleer het. Wat was die gevolg? “Baie groot blydskap” (Nehemia 8:14-18). Ná ’n week van daaglikse Bybellees gedurende die fees het hulle besef dat selfs meer vereis word. Hulle het die geskiedenis van Jehovah se handelinge met sy volk van Abraham se dag af biddend hersien. Al hierdie dinge het hulle beweeg om ’n eed af te lê dat hulle die vereistes van die Wet sal nakom, nie met vreemdelinge sal trou nie en die verpligtinge sal aanvaar om die tempel en die diens daarvan te onderhou.—Nehemia, hoofstukke 8-10.
15. Hoe toon die voorskrifte in Deuteronomium 6:6-9 dat onderrigting uit God se Woord binne die gesin nie ’n blote formalisme moes wees nie?
15 Binne die gesin was onderrigting uit die Skrif eweneens nie bedoel om ’n blote formalisme te wees nie. Soos ons reeds gesien het, is die volk in Deuteronomium 6:6-9 in figuurlike taal beveel om ‘God se woorde as ’n teken op hulle hand te bind’—en dus deur hulle voorbeeld en handelswyse hulle liefde vir Jehovah se weë te toon. En hulle moes God se woorde as ‘’n voorhoofsband tussen hulle oë’ plaas—en dus die beginsels wat in die Skrif vervat word voortdurend in gedagte hou en dit as ’n grondslag vir hulle besluite gebruik. (Vergelyk die taal wat in Exodus 13:9, 14-16 gebruik word.) Hulle moes ‘dit op die deurposte van hulle huise en op hulle poorte skrywe’—en dus duidelik toon dat hulle huise en hulle gemeenskappe plekke is waar God se woord gerespekteer en toegepas word. Met ander woorde, hulle lewe moes oorvloedige bewys daarvan lewer dat hulle Jehovah se regverdige voorskrifte liefhet en toepas. Hoe nuttig kon dit tog wees! Speel God se Woord so ’n vername rol in die daaglikse lewe van ons gesin? Ongelukkig het die Jode al hierdie dinge in blote formaliteit verander deur dosies met skrifgedeeltes daarin te dra asof dit gelukbringers is. Hulle aanbidding het nie meer uit die hart gekom nie en is deur Jehovah verwerp.—Jesaja 29:13, 14; Matteus 15:7-9.
Verantwoordelikheid van diegene wat die leiding neem
16. Waarom was gereelde Skriflesing vir Josua belangrik?
16 Wanneer dit by Skriflesing gekom het, is spesiale aandag op diegene gevestig wat die nasie se opsieners was. Jehovah het vir Josua gesê: ‘Handel nougeset volgens die hele wet.’ Met die oog op hoe hy daardie verantwoordelikheid moes nakom, is daar vir hom gesê: “Jy moet dag en nag met ’n gedempte stem daarin lees, . . . want dan sal jy jou weg suksesvol maak en dan sal jy wys optree” (Josua 1:7, 8, NW). Soos vandag met enige Christenopsiener die geval is, is Josua deur sy gereelde Skriflesing gehelp om die spesifieke gebooie wat Jehovah Sy volk gegee het duidelik voor oë te hou. Josua moes ook verstaan hoe Jehovah onder verskillende omstandighede met Sy knegte gehandel het. Wanneer hy verklarings van God se voorneme gelees het, was dit belangrik dat hy oor sy eie verantwoordelikheid in verband met daardie voorneme nadink.
17. (a) Wat moes die konings doen benewens lees as hulle by Skriflesing wou baat vind op die manier wat Jehovah gesê het? (b) Waarom is gereelde Bybellees en bepeinsing baie belangrik vir Christen- ouer manne?
17 Jehovah het opdrag gegee dat enigiemand wat as koning oor Sy volk dien aan die begin van sy koningskap ’n afskrif van God se Wet moes maak en dit moes grond op die afskrif wat deur die priesters gehou is. Dan moes hy “al die dae van sy lewe daarin lees”. Die doel was nie bloot om die inhoud daarvan te memoriseer nie. Dit was eerder sodat “hy kan leer om die HERE sy God te vrees” en sodat “sy hart hom nie verhef oor sy broers nie” (Deuteronomium 17:18-20). Dit het vereis dat hy peins oor wat hy lees. Party van die konings het klaarblyklik gedink dat hulle te besig met administratiewe pligte is om dit te doen, en die hele nasie het weens hulle versuim gely. Die rol van ouer manne in die Christengemeente is geensins dié van konings nie. Maar soos met die konings die geval was, is dit noodsaaklik dat ouer manne God se Woord lees en bepeins. As hulle dit doen, sal dit hulle help om altyd die regte beskouing te hê van diegene wat aan hulle sorg toevertrou is. Dit sal hulle ook in staat stel om hulle verantwoordelikheid as onderrigters na te kom op ’n manier wat God waarlik verheerlik en mede-Christene geestelik versterk.—Titus 1:9; vergelyk Johannes 7:16-18; sien daarenteen 1 Timoteus 1:6, 7.
18. Watter voorbeeld wat deur die apostel Paulus gestel is, sal die gereelde lees en bestudering van die Bybel ons help om te volg?
18 Die apostel Paulus, ’n eerste-eeuse Christenopsiener, was iemand wat die geïnspireerde Skrif goed geken het. Toe hy vir mense in eertydse Tessalonika getuig het, kon hy op bekwame wyse uit die Skrif met hulle redeneer en hulle help om die betekenis daarvan te snap (Handelinge 17:1-4). Hy het opregte luisteraars se hart bereik. Gevolglik het baie wat na hom geluister het gelowiges geword (1 Tessalonisense 2:13). Stel jou program van Bybellees en -studie jou in staat om op bekwame wyse uit die Skrif te redeneer? Toon die rol wat Bybellees in jou lewe speel en die manier waarop jy dit doen dat jy werklik besef wat dit beteken om die Woord van God te besit? In die volgende artikel sal ons bespreek hoe selfs diegene wat ’n baie vol program het ’n positiewe antwoord op hierdie vrae kan gee.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Waarom was mense bereid om hulle aan die dood en gevangeneming bloot te stel ten einde die Bybel te kon lees?
◻ Hoe vind ons daarby baat as ons voorsienings hersien wat gemaak is sodat eertydse Israel God se Woord kon hoor?
◻ Wat moet ons doen met dit wat ons in die Bybel lees?
◻ Waarom is Bybellees en bepeinsing veral vir Christen- ouer manne belangrik?
[Prent op bladsy 9]
Jehovah het vir Josua gesê: “Jy moet dag en nag met ’n gedempte stem daarin lees”