Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 6/1 bl. 11-16
  • Troos van “die God van alle vertroosting”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Troos van “die God van alle vertroosting”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah—die God van vertroosting
  • Jesus en Paulus—medelydende vertroosters
  • Hoe om diegene te vertroos wat treur
  • Wat om te vermy
  • Tekste wat vertroosting bied
  • “Huil saam met mense wat huil”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • Vertroos dié wat treur
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 6/1 bl. 11-16

Troos van “die God van alle vertroosting”

“Geseënd sy die God en Vader van ons Here Jesus Christus, die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting, wat ons in al ons verdrukking vertroos.”—2 KORINTIËRS 1:3, 4.

1, 2. Watter soort vertroosting het treurendes nodig?

TREURENDES het ware vertroosting nodig—nie afgesaagde uitdrukkings en clichés nie. Ons almal het al gehoor dat ‘die tyd wonde sal heel’, maar watter bedroefde persoon word deur daardie gedagte vertroos kort nadat hy iemand aan die dood afgestaan het? Christene weet dat God ’n opstanding belowe het, maar dit verhinder nie die diepe hartseer en trauma van die skielike verlies van ’n geliefde nie. En as jy ’n kind verloor het, kan die ander kinders wat agterbly beslis nie daardie kosbare een vervang nie.

2 Wanneer ’n geliefde sterf, help opregte vertroosting, vertroosting wat deeglik op God se beloftes gegrond is, ons die meeste. Ons het ook empatie nodig. Dit was beslis die geval met die mense van Rwanda, en veral met die honderde gesinne van Jehovah se Getuies daar wat geliefdes in daardie duiwelse etniese bloedbad verloor het. By wie kan almal wat treur vertroosting vind?

Jehovah—die God van vertroosting

3. Hoe het Jehovah die voorbeeld gestel wat vertroosting betref?

3 Jehovah het die voorbeeld gestel deur ons almal vertroosting te bied. Hy het sy enigverwekte Seun, Christus Jesus, na die aarde toe gestuur om ons ewige vertroosting en hoop te gee. Jesus het geleer: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Hy het ook vir sy volgelinge gesê: “Niemand het groter liefde as dít nie, dat iemand ten behoewe van sy vriende van sy siel afstand doen” (Johannes 15:13). By ’n ander geleentheid het hy gesê: “Die Seun van die mens [het] gekom . . . , nie om gedien te word nie, maar om te dien en om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matteus 20:28). En Paulus het gesê: “God beveel sy eie liefde by ons aan daarin dat Christus vir ons gesterf het terwyl ons nog sondaars was” (Romeine 5:8). Deur hierdie en baie ander tekste sien ons die liefde van God en van Christus Jesus.

4. Waarom was die apostel Paulus veral baie aan Jehovah verskuldig?

4 Die apostel Paulus was veral bewus van Jehovah se onverdiende goedhartigheid. Hy is uit ’n geestelik dooie toestand gered sodat hy nie meer ’n wrede vervolger van Christus se volgelinge was nie, maar self ’n vervolgde Christen (Efesiërs 2:1-5). Hy beskryf sy ondervinding: “Ek is die geringste van die apostels, en ek is nie werd om ’n apostel genoem te word nie, omdat ek die gemeente van God vervolg het. Maar deur God se onverdiende goedhartigheid is ek wat ek is. En sy onverdiende goedhartigheid teenoor my het nie tevergeefs geblyk nie, maar ek het meer as hulle almal gearbei, nogtans nie ek nie, maar die onverdiende goedhartigheid van God wat met my is.”—1 Korintiërs 15:9, 10.

5. Wat het Paulus oor vertroosting van God af geskryf?

5 Die apostel Paulus het dus gepas geskryf: “Geseënd sy die God en Vader van ons Here Jesus Christus, die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting, wat ons in al ons verdrukking vertroos, sodat ons dié wat in enigerlei verdrukking is, kan vertroos deur die vertroosting waarmee ons self deur God vertroos word. Want net soos die lyding vir die Christus in ons oorvloedig is, so is die vertroosting wat ons kry ook oorvloedig deur middel van die Christus. Hetsy ons dan in verdrukking verkeer, dit is tot julle vertroosting en redding; of hetsy ons vertroos word, dit is tot julle vertroosting, wat werksaam is om julle in staat te stel om dieselfde lyding te verduur as wat ons ook ondergaan. En daarom is ons hoop vir julle onwankelbaar, omdat ons weet dat julle, net soos julle deelgenote in die lyding is, op dieselfde wyse ook in die vertroosting deel sal hê.”—2 Korintiërs 1:3-7.

6. Wat word bedoel met die Griekse woord wat met “vertroosting” weergegee word?

6 Watter besielende woorde tog! Die Griekse woord wat hier met “vertroosting” weergegee word, hou daarmee verband om “iemand na jou toe te roep”. Dit is dus “om langs iemand te staan om hom te bemoedig wanneer hy kwaai beproewing ondergaan” (A Linguistic Key to the Greek New Testament). Een Bybelkenner het geskryf: “Die woord . . . beteken altyd baie meer as kalmerende simpatie. . . . Die Christelike vertroosting is die vertroosting wat moed gee, die vertroosting wat ’n mens in staat stel om alles wat die lewe aan jou kan doen die hoof te bied.” Dit sluit ook woorde van vertroosting in wat op ’n vaste belofte en hoop gegrond is—naamlik die opstanding van die dooies.

Jesus en Paulus—medelydende vertroosters

7. Hoe het Paulus sy Christenbroers vertroos?

7 Wat ’n wonderlike voorbeeld het Paulus tog daarin gestel om vertroosting te bied! Hy kon aan die broers in Tessalonika skryf: “Ons het teergevoelig geword in julle midde, soos wanneer ’n sogende moeder haar eie kinders koester. Omdat ons dan ’n tere geneentheid vir julle het, het ons julle met graagte nie net die goeie nuus van God meegedeel nie, maar ook ons eie siele, want julle het by ons gelief geword. In ooreenstemming daarmee weet julle goed hoe ons, soos ’n vader sy kinders, aangehou het om elkeen van julle te vermaan en te troos en aan julle getuienis af te lê.” Net soos liefdevolle, sorgsame ouers kan ons almal ons hartlikheid en begrip met ander in hulle tyd van nood deel.—1 Tessalonisense 2:7, 8, 11.

8. Waarom is Jesus se lering ’n vertroosting vir diegene wat treur?

8 Deur sulke medelye en liefde te betoon, het Paulus bloot sy groot Voorbeeld, Jesus, nagevolg. Onthou die vertroostende uitnodiging wat Jesus aan ons almal rig, soos dit in Matteus 11:28-30 opgeteken is: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik. Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind. Want my juk is sag en my vrag is lig.” Ja, Jesus se lering is verkwikkend omdat dit hoop en ’n belofte aan ons voorhou—die belofte van die opstanding. Dit is die hoop en die belofte wat ons mense bied wanneer ons byvoorbeeld die brosjure Wanneer ’n geliefde sterf by hulle laat. Hierdie hoop kan ons almal help, al treur ons al lank.

Hoe om diegene te vertroos wat treur

9. Waarom moet ons nie ongeduldig wees met mense wat treur nie?

9 Smart is nie tot die een of ander vasgestelde tydperk direk ná die dood van die geliefde beperk nie. Party mense gaan hulle hele lewe lank gebuk onder hulle smart, veral diegene wat kinders verloor het. ’n Getroue Christenegpaar in Spanje het hulle 11-jarige seun in 1963 weens meningitis verloor. Hulle huil vandag nog wanneer hulle oor Paquito praat. Herdenkings, foto’s of aandenkings kan hartseer herinneringe oproep. Ons moet dus nooit ongeduldig raak en dink dat ander teen dié tyd al hulle verlies moes verwerk het nie. ’n Gesaghebbende op mediese gebied erken: “Depressie en luimwisselinge kan selfs etlike jare aanhou.” Onthou dus, net soos fisiese littekens op die liggaam ons lewe lank daar kan bly, kan dit ook met baie emosionele letsels die geval wees.

10. Wat moet ons doen om treurendes te help?

10 Wat is party van die praktiese dinge wat ons kan doen om treurendes in die Christengemeente te vertroos? Ons sê dalk in alle opregtheid vir ’n broer of suster wat vertroosting nodig het: “As daar enigiets is wat ek kan doen om te help, moet jy my net sê.” Maar hoe dikwels bel daardie persoon ons om te sê: “Ek het aan iets gedink wat jy kan doen om my te help”? Dit is duidelik dat ons die gepaste inisiatief moet neem as ons die bedroefdes wil vertroos. Wat kan ons dus in ’n praktiese sin doen? Hier is ’n paar praktiese wenke.

11. Hoe kan dit ander vertroos as ons na hulle luister?

11 Luister: Een van die nuttigste dinge wat jy kan doen, is om in die bedroefde se pyn te deel deur te luister. Jy kan vra: “Wil jy daaroor praat?” Laat die persoon besluit. Een Christen onthou die tyd toe sy pa gesterf het: “Dit het my regtig gehelp wanneer ander gevra het wat gebeur het en dan werklik geluister het.” Soos Jakobus vermaan het, moet ons gou wees om te hoor (Jakobus 1:19). Luister geduldig en simpatiek. “Huil saam met mense wat huil”, raai die Bybel ons in Romeine 12:15 aan. Onthou dat Jesus saam met Marta en Maria gehuil het.—Johannes 11:35.

12. Watter soort versekering kan ons diegene bied wat treur?

12 Stel hulle gerus: Hou in gedagte dat die bedroefde persoon aanvanklik skuldig kan voel en kan dink dat daar meer is wat hy kon gedoen het. Verseker die persoon daarvan dat alles wat moontlik is waarskynlik gedoen is (of wat jy ook al weet waar en positief is). Verseker hom daarvan dat sy gevoelens glad nie ongewoon is nie. Sê vir hom van ander wat jy weet ’n soortgelyke verlies oorkom het. Met ander woorde, neem sy gevoelens in ag en wees simpatiek. Ons vriendelike hulp kan soveel beteken! Salomo het geskryf: “Goue appels op versierde silwerborde, so is ’n woord op sy tyd gespreek.”—Spreuke 16:24; 25:11; 1 Tessalonisense 5:11, 14.

13. Hoe kan dit help as ons ons beskikbaar stel?

13 Wees beskikbaar: Wees beskikbaar, nie net vir die eerste paar dae wanneer daar baie vriende en familielede is nie maar, indien nodig, selfs maande later wanneer ander na hulle normale roetine teruggekeer het. Die treurtydperk kan grootliks van persoon tot persoon verskil. Ons Christelike belangstelling en simpatie kan in enige tyd van nood soveel beteken. Die Bybel sê “daar is ’n vriend wat sterker aanhang as ’n broer”. Daarom moet die spreekwoord: “In die nood leer mens jou vriende ken”, ’n werklikheid in ons lewe wees.—Spreuke 18:24; vergelyk Handelinge 28:15.

14. Waaroor kan ons praat om die bedroefdes te vertroos?

14 Praat oor die goeie eienskappe van die oorledene: Dit is nog iets wat baie help as dit op die regte oomblik gedoen word. Vertel positiewe staaltjies wat jy oor die persoon kan onthou. Moenie bang wees om die persoon se naam te gebruik nie. Moenie maak asof die afgestorwe dierbare nooit bestaan het of onbelangrik was nie. Dit is vertroostend om te weet dat ’n publikasie van die Mediese Fakulteit van die Harvard-universiteit gesê het: “Die herstelproses begin wanneer die bedroefde persoon eindelik aan die afgestorwene kan dink sonder om deur hartseer oorweldig te word . . . Namate die nuwe werklikheid erken en verwerk word, gaan smart oor in mooi herinneringe.” “Mooi herinneringe”—hoe vertroostend is dit tog om daardie kosbare oomblikke te herroep wat saam met ’n geliefde deurgebring is! ’n Getuie wat sy vader ’n paar jaar gelede verloor het, het gesê: “’n Besondere herinnering vir my is hoe ek die Bybel saam met my pa gelees het kort nadat hy die waarheid begin bestudeer het. En hoe ons op ’n rivieroewer gelê en ek van my probleme met hom bespreek het. Ek het hom net elke drie of vier jaar gesien, en daarom was daardie geleenthede kosbaar.”

15. Hoe kan ’n mens die inisiatief neem om te help?

15 Neem die inisiatief wanneer dit gepas is: Party bedroefdes kan die verlies beter as ander verwerk. Doen dus praktiese stappe om te help, na gelang van die omstandighede. Een Christenvrou wat ’n geliefde verloor het, het gesê: “Baie het gesê: ‘As daar enigiets is wat ek kan doen, moet jy vir my sê.’ Maar een Christensuster het nie gevra nie. Sy het eenvoudig na die slaapkamer toe gegaan, die vuil lakens afgetrek en dit gewas. ’n Ander een het ’n emmer, water en skoonmaakmiddels geneem en die mat skoongemaak waar my man opgebring het. Hulle was ware vriendinne, en ek sal hulle nooit vergeet nie.” Neem die inisiatief waar dit duidelik is dat hulp nodig is—miskien deur ’n maaltyd voor te berei, met die skoonmaakwerk te help of takies te verrig. Ons moet egter oppas dat ons ons nie aan die bedroefde opdring wanneer hy of sy alleen wil wees nie. Ons moet derhalwe Paulus se woorde ter harte neem: “Beklee julle gevolglik, as God se uitverkorenes, heilig en gelief, met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid.” Vriendelikheid, geduld en liefde faal nooit nie.—Kolossense 3:12; 1 Korintiërs 13:4-8.

16. Waarom kan ’n brief of ’n kaartjie vertroosting bied?

16 Skryf ’n brief of stuur ’n bemoedigende kaartjie: Iets wat dikwels oor die hoof gesien word, is die waarde van ’n brief van vertroosting of ’n pragtige simpatiekaartjie. Wat is die voordeel daarvan? Dit kan oor en oor gelees word. So ’n brief hoef nie lank te wees nie, maar dit moet jou medelye oordra. Dit moet ook ’n geestelike strekking hê, maar moenie prekerig wees nie. Net die basiese boodskap: “Ons is hier as jy ons nodig het”, kan ’n vertroosting wees.

17. Hoe kan gebed vertroosting bied?

17 Bid saam met hulle: Moenie die waarde van jou gebede saam met en ten behoewe van mede-Christene wat ’n geliefde verloor het, onderskat nie. Die Bybel sê in Jakobus 5:16: “Die smeking van ’n regverdige man het groot krag.” Wanneer die bedroefdes byvoorbeeld hoor hoe ons ten behoewe van hulle bid, help dit hulle om negatiewe gevoelens, soos skuldgevoelens, te bowe te kom. In ons oomblikke van swakheid, van ontmoediging, probeer Satan ons met sy “sette”, of “listige dade”, ondermyn. Dit is wanneer ons die vertroosting en ondersteuning van gebed nodig het, soos Paulus gesê het: ‘Hou met elke vorm van gebed en smeking aan om by elke geleentheid in gees te bid. En bly met dié doel wakker met alle standvastigheid en met smeking ten behoewe van al die heiliges.’—Efesiërs 6:11, 18, Kingdom Interlinear; vergelyk Jakobus 5:13-15.

Wat om te vermy

18, 19. Hoe kan ons taktvol wees in ons gesprekke?

18 Wanneer iemand treur, is daar ook dinge wat nie gesê of gedoen moet word nie. Spreuke 12:18 waarsku: “Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke, maar die tong van die wyse is genesing.” Partykeer is ons taktloos sonder dat ons dit besef. Ons sê byvoorbeeld dalk: “Ek weet hoe jy voel.” Maar is dit werklik so? Het jy presies dieselfde verlies ervaar? En mense reageer ook nie dieselfde nie. Jy het dus miskien nie dieselfde as die bedroefde gereageer nie. Dit sal groter simpatie toon as jy sê: “Ek het werklik meegevoel met jou, want ek het ’n soortgelyke verlies gehad toe my . . . ’n tyd gelede gesterf het.”

19 Dit sal ook toon dat jy ander se gevoelens in ag neem as jy dit vermy om daaroor kommentaar te lewer of die afgestorwene ’n opstanding sal kry of nie. Party broers en susters is al diep seergemaak deur veroordelende opmerkings oor die toekomstige moontlikhede vir ’n ongelowige huweliksmaat wat gesterf het. Ons kan nie oordeel oor wie ’n opstanding gaan kry en wie nie. Dit is gerusstellend dat Jehovah, wat die hart sien, baie barmhartiger sal wees as wat die meeste van ons ooit sal wees.—Psalm 86:15; Lukas 6:35-37.

Tekste wat vertroosting bied

20, 21. Wat is party van die tekste wat die bedroefdes kan troos?

20 Een van die grootste hulpmiddele, as dit op die regte tyd gebruik word, sal wees om Jehovah se beloftes vir die dooies te bespreek. Hierdie Bybelse gedagtes sal nuttig wees, ongeag of die bedroefde reeds ’n Getuie is en of dit iemand is wat ons in die bediening teëkom. Wat is party van hierdie tekste? Ons weet dat Jehovah die God van alle vertroosting is, want hy het gesê: “Ek is dit wat julle troos!” Hy het ook gesê: “Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos.”—Jesaja 51:12; 66:13.

21 Die psalmis het geskryf: “Dit is my troos in my ellende, dat u belofte my lewend maak. Ek het gedink, o HERE, aan u oordele van ouds, en ek het my getroos. Laat tog u goedertierenheid wees om my te troos volgens u belofte aan u kneg.” Let op dat die woord “troos” herhaaldelik in hierdie verse gebruik word. Ja, ons kan ware vertroosting vir onsself en vir ander vind deur ons in tye van beproewing tot Jehovah se Woord te wend. Dít, tesame met die liefde en medelye van die broers, kan ons help om ons verlies te verwerk en ons lewe weer met vreugdevolle bedrywighede in die Christelike bediening te vul.—Psalm 119:50, 52, 76.

22. Watter vooruitsig het ons?

22 Ons kan ons smart ook in ’n mate oorkom as ons besig is om ander in hulle beproewinge te help. Terwyl ons aandag skenk aan ander wat vertroosting nodig het, ervaar ons ook die ware geluk daarvan om in ’n geestelike sin te gee (Handelinge 20:35). Laat ons hulle ook ’n toekomsblik gee op die opstandingsdag wanneer mense van alle vroeëre nasies, die een geslag ná die ander, hulle afgestorwe dierbares uit die dood in ’n nuwe wêreld sal verwelkom. Wat ’n vooruitsig! Watter trane van vreugde sal dan tog nie gestort word nie terwyl ons onthou dat Jehovah inderdaad die God is “wat die terneergedruktes vertroos”!—2 Korintiërs 7:6.

Onthou jy?

□ Hoe is Jehovah “die God van alle vertroosting”?

□ Hoe het Jesus en Paulus bedroefdes vertroos?

□ Wat is sommige dinge wat ons kan doen om dié te vertroos wat treur?

□ Wat moet ons vermy in ons optrede teenoor bedroefdes?

□ Wat is jou gunstelingtekste vir vertroosting wanneer iemand gesterf het?

[Prent op bladsy 15]

Neem op taktvolle wyse die inisiatief om diegene te help wat treur

    Afrikaanse publikasies (1975-2021)
    Teken af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2021 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel