“Heilige diens met julle denkvermoë”
“[Bied] julle liggame aan . . . as ’n offerande wat lewend, heilig en vir God aanneemlik is, ’n heilige diens met julle denkvermoë.”—ROMEINE 12:1.
1, 2. Hoe stem die toepassing van Bybelbeginsels daarmee ooreen om ’n nuwe taal te bemeester?
HET jy al ooit ’n nuwe taal probeer leer? Indien wel, sal jy ongetwyfeld daarmee saamstem dat dit harde werk is. Daar is per slot van rekening meer by betrokke as om bloot nuwe woorde te leer. Voor ’n mens ’n taal goed kan gebruik, moet jy ook sy grammatika bemeester. Jy moet begryp hoe woorde met mekaar verband hou en hoe hulle kombineer om volledige gedagtes te vorm.
2 Dit is ook so wanneer ons kennis van God se Woord inneem. Daar is meer by betrokke as om bloot sekere Bybeltekste te leer. Ons moet ook as ’t ware die Bybel se grammatika leer. Ons moet begryp hoe tekste met mekaar verband hou en hoe hulle as beginsels dien wat in die daaglikse lewe toegepas kan word. Ons kan sodoende “ten volle toegerus [word] vir elke goeie werk”.—2 Timoteus 3:17.
3. Watter verandering het in 33 G.J. met betrekking tot diens aan God plaasgevind?
3 Onder die reëling van die Mosaïese Wet kon getrouheid in ’n groot mate getoon word deur goed gedefinieerde reëls streng na te kom. Maar in 33 G.J. het Jehovah die Wet tot niet gemaak deur dit as ’t ware “aan die folterpaal te nael” waaraan sy Seun om die lewe gebring is (Kolossense 2:13, 14). Daarna is God se volk nie ’n breedvoerige lys gegee van offerandes om te bring en reëls om na te kom nie. Daar is eerder vir hulle gesê: “[Bied] julle liggame aan . . . as ’n offerande wat lewend, heilig en vir God aanneemlik is, ’n heilige diens met julle denkvermoë” (Romeine 12:1). Ja, Christene moes met hulle hele hart, siel, verstand en krag van hulleself in God se diens gee. (Markus 12:30; vergelyk Psalm 110:3.) Maar wat beteken dit om ‘heilige diens met jou denkvermoë’ te lewer?
4, 5. Wat is daarby betrokke om Jehovah met ons denkvermoë te dien?
4 Die woord “denkvermoë” is ’n vertaling van die Griekse woord lo·gi·kosʹ, wat “rasioneel” of “intelligent” beteken. Daar word van God se knegte verwag om hulle Bybelopgeleide gewete te gebruik. Pleks van hulle besluite op veelvuldige voorafbepaalde reëls te grond, moet Christene Bybelbeginsels sorgvuldig oorweeg. Hulle moet die “grammatika” van die Bybel verstaan, of hoe die verskillende beginsels daarin met mekaar verband hou. Sodoende kan hulle gebalanseerde besluite met hulle denkvermoë neem.
5 Beteken dit dat Christene sonder wette is? Beslis nie. Afgodediens, onsedelikheid, moord, leuens, spiritisme, die misbruik van bloed en verskillende ander sondes word uitdruklik in die Christelike Griekse Geskrifte verbied (Handelinge 15:28, 29; 1 Korintiërs 6:9, 10; Openbaring 21:8). Maar ons moet ons denkvermoë om Bybelbeginsels te leer en toe te pas in ’n baie groter mate gebruik as wat van die Israeliete verwag is. Soos wanneer ’n mens ’n nuwe taal leer, verg dit tyd en inspanning. Hoe kan ons denkvermoë ontwikkel word?
Hoe om jou denkvermoë te ontwikkel
6. Wat behels Bybelstudie?
6 Ten eerste moet ons ywerige Bybelstudente wees. God se geïnspireerde Woord is “nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer” (2 Timoteus 3:16). Ons moenie altyd verwag dat die antwoord op ’n probleem in ’n enkele Bybelvers gevind sal word nie. Ons sal dalk eerder oor verskeie tekste moet redeneer wat lig werp op ’n spesifieke situasie of probleem. Ons sal ywerig moet soek om te sien wat God se beskouing van die saak is (Spreuke 2:3-5). Ons het ook begrip nodig, want “’n man van verstand is die een wat bekwame leiding verkry” (Spreuke 1:5, NW). ’n Verstandige persoon kan die afsonderlike aspekte van ’n saak van mekaar skei en dan insien hoe hulle met mekaar verband hou. Soos met ’n legkaart voeg hy die stukkies saam sodat hy die geheelbeeld kan kry.
7. Hoe kan ouers oor Bybelbeginsels redeneer wat betrekking het op tug?
7 Neem byvoorbeeld ouerskap. Spreuke 13:24 sê die vader wat sy seun liefhet, “besoek hom met tugtiging”. As daar net na hierdie teks gekyk word, kan dit verkeerd toegepas word om kwaai, meedoënlose straf te regverdig. Tog gee Kolossense 3:21 ’n gebalanseerde vermaning: “Vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, sodat hulle nie mismoedig word nie.” Ouers wat hulle denkvermoë gebruik en hierdie beginsels in harmonie met mekaar bring, sal hulle kinders nie so tugtig dat dit as “mishandeling” bestempel kan word nie. Hulle sal hulle kinders met hartlikheid, begrip en waardigheid behandel (Efesiërs 6:4). Wat ouerskap betref, of enige ander saak waarby Bybelbeginsels betrokke is, kan ons dus ons denkvermoë ontwikkel deur al die betrokke faktore te oorweeg. Sodoende kan ons die “grammatika” van Bybelbeginsels verstaan, asook wat God daarmee bedoel en hoe ons dit met welslae kan toepas.
8. Hoe kan ons dit vermy om onbuigsame, dogmatiese beskouings te ontwikkel wanneer dit by vermaak kom?
8 ’n Tweede manier waarop ons ons denkvermoë kan ontwikkel, is om dit te vermy om onbuigsame, dogmatiese beskouings te ontwikkel. ’n Onbuigsame siening keer dat ons denkvermoë groei. Kyk byvoorbeeld na vermaak. Die Bybel sê: “Die hele wêreld lê in die mag van die bose” (1 Johannes 5:19). Beteken dit dat elke boek, rolprent of televisieprogram wat deur die wêreld uitgegee word verdorwe en satanies is? So ’n beskouing sal beslis nie redelik wees nie. Party sal dit natuurlik verkies om niks met televisie, rolprente of sekulêre literatuur te doen te hê nie. Dit is hulle reg, en hulle moenie daaroor gekritiseer word nie. Maar hulle moet ook nie ander probeer dwing om ’n soortgelyke streng standpunt in te neem nie. Die Genootskap publiseer artikels wat Bybelbeginsels uiteensit wat ons in staat behoort te stel om verstandige keuses in ons ontspanning of vermaak te maak. Dit is baie onverstandig as ons nie by hierdie riglyne bly nie en ons blootstel aan die onsedelike denke, onverbloemde geweld of spiritisme wat in soveel van die wêreld se ontspanning aangetref word. ’n Verstandige keuse van vermaak vereis in werklikheid dat ons ons denkvermoë gebruik om Bybelbeginsels toe te pas sodat ons ’n skoon gewete voor God en die mens kan hê.—1 Korintiërs 10:31-33.
9. Wat word bedoel met “volle onderskeidingsvermoë”?
9 Dit is duidelik dat baie van vandag se vermaak nie vir Christene geskik is nie.a Daarom moet ons ons hart leer om ‘die kwaad te haat’ sodat ons nie soos party in die eerste eeu word wat “alle sedelikheidsgevoel verloor het” nie (Psalm 97:10; Efesiërs 4:17-19). Om oor sulke sake te redeneer, moet ons “juiste kennis en volle onderskeidingsvermoë” hê (Filippense 1:9). Die Griekse woord wat met “onderskeidingsvermoë” vertaal word, dui op “sensitiewe sedelike insig”. Die woord verwys na die letterlike menslike sintuie, soos sig. Wanneer dit kom by vermaak of enige ander saak wat ’n persoonlike besluit verg, moet ons sedelikheidsgevoel reg ingestel wees sodat ons nie net skerp omlynde sake onderskei nie, maar ook dié wat vaag is. Terselfdertyd moet ons nie tot onredelike uiterstes gaan wat die toepassing van Bybelbeginsels betref en daarop aandring dat al ons broers dieselfde doen nie.—Filippense 4:5.
10. Hoe kan ons Jehovah se persoonlikheid leer verstaan soos weergegee in Psalm 15?
10 ’n Derde manier om ons denkvermoë te ontwikkel, is om bewus te wees van Jehovah se denke en dit diep in ons hart te plant. In sy Woord openbaar Jehovah sy persoonlikheid en standaarde. In Psalm 15 lees ons byvoorbeeld van die soort persoon wat Jehovah nooi om in sy tent te vertoef. So iemand beoefen regverdigheid, spreek die waarheid in sy hart, hou sy beloftes en maak nie op selfsugtige wyse misbruik van ander nie. Wanneer jy hierdie psalm lees, moet jy jou afvra: ‘Beskryf hierdie eienskappe my? Sal Jehovah my nooi om in sy tent te vertoef?’ Ons waarnemingsvermoëns word versterk namate ons ons weë en denke in ooreenstemming bring met Jehovah se weë en denke.—Spreuke 3:5, 6; Hebreërs 5:14.
11. Hoe het die Fariseërs ‘die geregtigheid en die liefde vir God oor die hoof gesien’?
11 Dit is juis hierin dat die Fariseërs hopeloos gefaal het. Die Fariseërs het die tegniese raamwerk van die Wet geken, maar kon die “grammatika” daarvan nie verstaan nie. Hulle kon tallose besonderhede van die Wet opsê, maar hulle het die Persoonlikheid daaragter nie verstaan nie. Jesus het vir hulle gesê: “Julle gee die tiende van die kruisement en die wynruit en van elke ander groentesoort, maar julle sien die geregtigheid en die liefde vir God oor die hoof!” (Lukas 11:42). Met hulle onbuigsame verstande en harde harte het die Fariseërs versuim om hulle denkvermoë te gebruik. Hulle teenstrydige redenering is geopenbaar toe hulle Jesus se dissipels daarvoor gekritiseer het dat hulle op die Sabbat graan gepluk en die korrels geëet het; tog het hulle later daardie selfde dag geen gewetenswroeging ondervind toe hulle saamgesweer het om Jesus te vermoor nie!—Matteus 12:1, 2, 14.
12. Hoe kan ons meer ingestel raak op Jehovah as ’n Persoon?
12 Ons moet anders as die Fariseërs wees. Ons kennis van God se Woord moet ons help om meer ingestel te wees op Jehovah as ’n Persoon. Hoe kan ons dit doen? Nadat sommige ’n gedeelte uit die Bybel of Bybellektuur gelees het, is hulle gehelp deur te peins oor vrae soos: ‘Wat leer hierdie inligting my van Jehovah en sy eienskappe? Hoe kan ek Jehovah se eienskappe in my handelinge met ander openbaar?’ As ons oor sulke vrae peins, ontwikkel ons ons denkvermoë en stel dit ons in staat om “navolgers van God” te word.—Efesiërs 5:1.
Slawe van God en Christus, nie van mense nie
13. Hoe het die Fariseërs soos sedelike diktators opgetree?
13 Ouer manne moet diegene onder hulle sorg toelaat om hulle denkvermoë te gebruik. Die lede van die gemeente is nie slawe van mense nie. “As ek nog steeds mense behaag het”, het Paulus geskryf, “sou ek nie Christus se slaaf wees nie” (Galasiërs 1:10; Kolossense 3:23, 24). Daarenteen wou die Fariseërs hê dat mense moes glo dat dit belangriker is om die goedkeuring van mense as dié van God te verkry (Matteus 23:2-7; Johannes 12:42, 43). Die Fariseërs het dit op hulleself geneem om sedelike diktators te word wat hulle eie reëls gemaak het en ander dan geoordeel het volgens hoe goed hulle daaraan voldoen het. Diegene wat die Fariseërs gevolg het se gebruik van hulle Bybelopgeleide gewete het verswak sodat hulle in werklikheid slawe van mense geword het.
14, 15. (a) Hoe kan die ouer manne toon dat hulle medewerkers van die kudde is? (b) Hoe moet ouer manne gewetensake hanteer?
14 Christen- ouer manne in ons dag weet dat die kudde nie hoofsaaklik teenoor hulle aanspreeklik is nie. Elke Christen moet sy of haar eie vrag dra (Romeine 14:4; 2 Korintiërs 1:24; Galasiërs 6:5). Dit is hoe dit moet wees. As die lede van die kudde slawe van mense was wat gehoorsaamheid toon bloot omdat hulle dopgehou word, wat sal hulle doen as daardie manne nie daar is nie? Paulus kon hom oor die Filippense verbly: “Soos julle altyd gehoorsaam was, nie net gedurende my teenwoordigheid nie, maar nou baie geredeliker gedurende my afwesigheid, [moet julle] aanhou om julle eie redding met vrees en bewing te bewerk.” Hulle was waarlik slawe van Christus, en nie van Paulus nie.—Filippense 2:12.
15 Wat gewetensake betref, maak ouer manne dus nie besluite vir dié onder hulle sorg nie. Hulle verduidelik die Bybelbeginsels wat betrokke is by ’n saak en laat dan die individue toe om hulle eie denkvermoë te gebruik om ’n besluit te neem. Dit is ’n ernstige verantwoordelikheid, maar een wat die individu self moet dra.
16. Watter stelsel het in Israel bestaan om probleme te hanteer?
16 Beskou die tydperk toe Jehovah rigters gebruik het om Israel te lei. Die Bybel sê vir ons: “In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë” (Rigters 21:25). Tog het Jehovah voorsiening gemaak dat sy volk leiding sou hê. Elke stad het oudstes gehad wat bekwame hulp met vrae en probleme kon verleen. Daarbenewens het die Levitiese priesters as ’n krag ten goede gedien deur mense in God se wette te onderrig. Wanneer daar besonder moeilike sake ontstaan het, kon die hoëpriester God deur middel van die Urim en die Tummim raadpleeg. Insight on the Scriptures sê: “Die persoon wat hierdie voorsienings benut het, wat kennis van God se wet ingeneem en dit toegepas het, het ’n goeie rigsnoer vir sy gewete gehad. Dit sou nie slegte gevolge hê as hy in so ’n geval gedoen het ‘wat reg was in sy oë’ nie. Jehovah het die volk toegelaat om ’n gewillige of ’n onwillige gesindheid en handelswyse te openbaar.”—Deel 2, bladsye 162-3.b
17. Hoe kan ouer manne toon dat hulle volgens God se standaarde raad gee, en nie volgens hulle eie nie?
17 Soos die Israelitiese rigters en priesters voorsien gemeentelike ouer manne bekwame hulp met probleme en gee hulle nuttige raad. Soms moet hulle selfs ‘teregwys, berispe, vermaan, met alle lankmoedigheid en onderrigkuns’ (2 Timoteus 4:2). Hulle doen dit volgens God se standaarde, nie hulle eie nie. Hoe doeltreffend is dit tog wanneer ouer manne ’n voorbeeld stel en daarna strewe om harte te bereik!
18. Waarom is dit veral doeltreffend as ouer manne harte bereik?
18 Die hart is die “enjin” van ons Christelike bedrywigheid. Die Bybel sê dus: “Daaruit is die oorspronge van die lewe” (Spreuke 4:23). Ouer manne wat harte roer, sal vind dat diegene in die gemeente op hierdie manier beweeg word om alles wat hulle kan in God se diens te doen. Hulle sal “selfaansitters” wees wat nie altyd deur ander aangepor hoef te word nie. Jehovah wil nie gedwonge gehoorsaamheid hê nie. Hy wil gehoorsaamheid hê wat uit ’n hart vol liefde kom. Ouer manne kan sulke hartgrondige diens aanmoedig deur dié in die kudde te help om hulle denkvermoë te ontwikkel.
Hoe om “die denke van Christus” aan te kweek
19, 20. Waarom is dit belangrik dat ons die denke van Christus aankweek?
19 Soos gesê is, is dit nie genoeg om bloot God se wette te ken nie. “Gee my verstand”, het die psalmis gesmeek, “dat ek u wet kan bewaar, ja, dit kan onderhou van ganser harte” (Psalm 119:34). Jehovah het “die denke van Christus” in sy Woord geopenbaar (1 Korintiërs 2:16). As ’n persoon wat Jehovah met sy denkvermoë gedien het, het Jesus vir ons ’n volmaakte voorbeeld nagelaat. Hy het God se wette en beginsels verstaan en dit onberispelik toegepas. Deur sy voorbeeld te bestudeer, sal ons “heeltemal in staat kan wees om . . . verstandelik te begryp wat die breedte en lengte en hoogte en diepte is, en om die liefde van die Christus te ken, wat kennis oortref” (Efesiërs 3:17-19). Ja, wat ons aangaande Jesus in die Bybel leer, strek baie verder as akademiese kopkennis; dit gee ons ’n duidelike beeld van hoe Jehovah self is.—Johannes 14:9, 10.
20 Namate ons dus God se Woord bestudeer, kan ons Jehovah se denke oor sake onderskei en gebalanseerde besluite neem. Dit sal inspanning verg. Ons moet ywerige studente van God se Woord word en ons instel op Jehovah se persoonlikheid en standaarde. Ons leer as ’t ware ’n nuwe grammatika. Maar diegene wat dit doen, sal Paulus se vermaning volg om “[hulle] liggame aan te bied as ’n offerande wat lewend, heilig en vir God aanneemlik is, ’n heilige diens met [hulle] denkvermoë”.—Romeine 12:1.
[Voetnote]
a Dit sal vermaak uitskakel wat demonies, pornografies of sadisties is, asook so genoemde gesinsvermaak wat promiskue of permissiewe idees bevorder wat Christene nie kan goedkeur nie.
b Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
Wat het jy geleer?
◻ Watter verandering ten opsigte van diens aan God het in 33 G.J. plaasgevind?
◻ Hoe kan ons ons denkvermoë ontwikkel?
◻ Hoe kan ouer manne diegene in die kudde help om slawe van God en van Christus te wees?
◻ Waarom moet ons “die denke van Christus” aankweek?
[Prent op bladsy 23]
Ouer manne help ander om hulle denkvermoë te gebruik