Heersers in die geesteryk
WIE heers oor die wêreld? Is daar die een of ander soort bomenslike toesig? Of het God die mens aan sy eie lot oorgelaat? As ons antwoorde op hierdie vrae wil hê, moet ons eers ’n voorval beskou wat gedurende die aardse bediening van Jesus Christus plaasgevind het.
Kort ná sy doop is Jesus versoek deur ’n onsigbare geesskepsel wat Satan die Duiwel genoem word. Die Bybel meld een van die versoekings en sê: “Die Duiwel [het Jesus] saamgeneem na ’n buitengewoon hoë berg en hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid gewys” (Matteus 4:8). Satan het toe vir Jesus gesê: “Ek sal jou al hierdie gesag en hulle heerlikheid gee, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek ook al wil. As jy dan ’n daad van aanbidding voor my verrig, sal dit alles joune wees.”—Lukas 4:6, 7.
Satan het beweer dat hy gesag oor al die koninkryke, of regerings, van hierdie wêreld het. Het Jesus hierdie bewering ontken? Nee. Trouens, hy het dit by ’n ander geleentheid bevestig deur Satan “die heerser van die wêreld” te noem.—Johannes 14:30.
Volgens die Bybel is Satan ’n bose engel met groot mag. Die Christenapostel Paulus vereenselwig Satan met “die bose geesmagte” en praat van hulle as “die wêreldheersers van hierdie duisternis” (Efesiërs 6:11, 12). Daarbenewens het die apostel Johannes gesê: “Die hele wêreld lê in die mag van die bose” (1 Johannes 5:19). Die Bybelboek Openbaring sê dat Satan “die hele bewoonde aarde mislei” (Openbaring 12:9). Openbaring beeld Satan ook simbolies uit as ’n draak wat aan die wêreld se politieke stelsel “sy krag en sy troon en groot gesag” gee.—Openbaring 13:2.
Wêreldgebeure bevestig ook dat daar ’n bose mag aan die werk is wat mense tot hulle nadeel manipuleer. Om watter ander rede slaag menseregerings nie daarin om vrede te bevorder nie? Wat anders sou maak dat mense mekaar haat en doodmaak? ’n Ooggetuie wat oor die slagting en sterftes in ’n burgeroorlog ontsteld was, het gesê: “Ek weet nie hoe dit kon gebeur het nie. Dit is meer as haat. Dit is ’n bose gees wat hierdie mense gebruik om mekaar te vernietig.”
’n Werklike persoon wat God teëstaan
Vandag glo baie mense nie aan Satan die Duiwel nie. Tog is hy nie bloot die beginsel van boosheid in die mens, soos party glo nie. Die Bybel sowel as wêreldgebeure toon dat hy ’n werklike persoon is. Daarbenewens staan Satan Jehovah God direk teë. Satan is natuurlik nie aan God gelyk nie. Aangesien Jehovah die almagtige Skepper is, is hy die regmatige Heerser oor die hele skepping.—Openbaring 4:11.
God het nie ’n bose wese geskep wat hom teëstaan nie. Maar een van die bomenslike “seuns van God” het ’n selfsugtige begeerte ontwikkel om self die aanbidding te ontvang wat Jehovah toekom (Job 38:7; Jakobus 1:14, 15). Hierdie begeerte het hom ’n weg van opstand teen God laat inslaan. Deur in opstand te kom, het hierdie geesskepsel homself Satan (wat “teenstander” beteken) en Duiwel (wat “lasteraar” beteken) gemaak. Met die oog op al hierdie dinge wonder jy moontlik waarom Satan toegelaat word om oor die wêreld te heers.
Waarom Satan toegelaat word om te heers
Onthou jy wat Satan vir Jesus aangaande heerskappy oor die aarde gesê het? “Ek sal jou al hierdie gesag . . . gee, want dit is aan my oorgegee”, het Satan gesê (Lukas 4:6). Daardie woorde toon dat Satan die Duiwel slegs met God se toestemming gesag uitoefen. Maar waarom duld God Satan?
Die antwoord op daardie vraag hou verband met gebeure in die tuin van Eden, waar Satan met sy loopbaan as wêreldheerser begin het. Satan het daar te kenne gegee dat God op die verkeerde manier heers deur iets goeds van die eerste man en vrou, Adam en Eva, te weerhou. Volgens Satan sou hulle bevry word as hulle die vrug sou eet wat God hulle verbied het. Adam en Eva sou vry en onafhanklik van Jehovah wees. Hulle sou soos God self wees!—Genesis 2:16, 17; 3:1-5.
Deur Eva met hierdie leuen te verlei en Adam deur middel van haar te oorreed om God se wet te oortree, het Satan die eerste mensepaar onder sy leierskap en beheer gebring. Die Duiwel het sodoende hulle god geword, een wat Jehovah teëstaan. Maar pleks van bevry te wees, het Adam en Eva slawe van Satan, van sonde en van die dood geword.—Romeine 6:16; Hebreërs 2:14, 15.
In ooreenstemming met sy volmaakte geregtigheid kon Jehovah Satan en sy twee nuwe volgelinge onmiddellik tereggestel het (Deuteronomium 32:4). Maar daar was ’n sedelike geskil by betrokke. Satan het die regmatigheid van Jehovah se manier van heers betwis. God het in sy wysheid tyd toegelaat sodat daar bewys kon word dat onafhanklikheid van hom rampspoed meebring. Jehovah het die opstandelinge ’n tyd lank laat aanhou lewe en Adam en Eva toegelaat om nakomelinge te hê.—Genesis 3:14-19.
Hoewel die meeste van Adam se nakomelinge hulle nie aan Jehovah se heerskappy onderwerp nie, toon God se handelinge met Sy aanbidders dat sy heerskappy die beste is. Gepaste erkenning van Jehovah se gesag bring geluk en ware veiligheid mee. Aan die ander kant is ellende en onveiligheid die gevolg van menseheerskappy onder Satan se invloed. Ja, “die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk” (Prediker 8:9). Mense het nie ware veiligheid en blywende geluk gevind onder menseheerskappy in hierdie wêreld wat in Satan se mag lê nie. Maar ons het goeie rede om positief te wees.
Satan se tyd is kort!
Satan se invloed op die aarde is tydelik. Jehovah sal sataniese heerskappy nie veel langer duld nie! Die Duiwel sal binnekort buite aksie gestel word. ’n Nuwe heerser sal beheer oor die aarde oorneem, ’n regverdige koning wat deur God self uitverkies is. Daardie Koning is Jesus Christus. Openbaring sê aangaande sy troonsbestyging in die hemel: “Die koninkryk van die wêreld het die koninkryk van ons Here [Jehovah] en van sy Christus geword” (Openbaring 11:15). Bybelchronologie sowel as die vervulling van Bybelprofesieë bewys dat hierdie gebeurtenis in die jaar 1914 plaasgevind het.—Matteus 24:3, 6, 7.
Die Bybel beskryf ook wat kort ná Jesus se troonsbestyging gebeur het. Dit sê: “Oorlog het in die hemel uitgebreek: Migael [Jesus Christus] en sy engele het teen die draak [Satan die Duiwel] geveg, en die draak en sy engele het geveg, maar hy het nie geseëvier nie, en ook is daar nie langer vir hulle ’n plek in die hemel gevind nie. Toe is die groot draak neergeslinger, die oorspronklike slang, die een wat Duiwel en Satan genoem word, wat die hele bewoonde aarde mislei; hy is na die aarde neergeslinger, en sy engele is saam met hom neergeslinger.”—Openbaring 12:7-9.
Wat sou Satan se uitwerping uit die hemel tot gevolg hê? Diegene in die hemel kon hulle verheug, maar wat van die aarde se bewoners? “Wee die aarde en die see”, sê Openbaring 12:12, “want die Duiwel het na julle toe neergedaal en het groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydperk het.” Satan se uitwerping uit die hemel het inderdaad vir die aarde weë meegebring. The Columbia History of the World sê: “Die groot ramp van die Vierjarige Oorlog van 1914-1918 . . . het aan die Westerse wêreld getoon dat dit die beskawing nie teen sy eie dwaasheid of bose drang kon beskerm nie. Die gees van die Weste het nog nooit werklik van daardie verplettering herstel nie.”
Die weë van hierdie geslag word deur veel meer as net ’n verpletterde gees gekenmerk. Jesus het voorspel: “Nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk, en daar sal voedseltekorte en aardbewings op die een plek na die ander wees.” Hy het ook peste voorspel (Matteus 24:7, 8; Lukas 21:11). Bowendien sou baie mense, volgens die Bybel, in “die laaste dae” van Satan se stelsel van dinge “liefhebbers van hulleself wees, liefhebbers van geld, . . . ongehoorsaam aan ouers, . . . nie bereid tot enige ooreenkoms nie”. Mense sou ook “liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God” wees.—2 Timoteus 3:1-5.
Oorloë, peste, voedseltekorte, aardbewings en die agteruitgang van sedelike waardes—al hierdie dinge vind sedert 1914 op ’n ongeëwenaarde skaal plaas, net soos die Bybel voorspel het. Dit toon dat die woedende vyand van God en die mens—Satan die Duiwel—uit die hemel gewerp is en nou sy woede tot die domein van die aarde moet beperk. Maar die Bybel toon ook dat Satan nie veel langer toegelaat sal word om bedrywig te wees nie. Hy het net “’n kort tydperk” oor tot Armageddon, wanneer God die wêreldstelsel vernietig wat deur Satan beheer word.
Wat gaan dan met Satan gebeur? Die apostel Johannes het geskryf: “Ek het ’n engel uit die hemel sien neerdaal met die sleutel van die afgrond en ’n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp, die oorspronklike slang, wat die Duiwel en Satan is, en hom vir duisend jaar gebind. En hy het hom in die afgrond geslinger en dit gesluit en dit bo hom verseël” (Openbaring 20:1-3). Wat ’n verligting vir die lydende mensdom!
Vreugde onder Koninkryksheerskappy
Met Satan uit die pad sal God se Koninkryk in die hande van Jesus Christus volle beheer oor menseaangeleenthede oorneem. Pleks van baie regerings op die aarde te hê, sal net een hemelse regering oorbly om oor die hele planeet te heers. Oorlog sal tot die verlede behoort, en daar sal oral vrede wees. Onder die heerskappy van God se Koninkryk sal almal in liefdevolle broederskap saam woon.—Psalm 72:7, 8; 133:1; Daniël 2:44.
Watter soort heerser sal Jesus wees? Toe hy op die aarde was, het hy innige liefde vir mense geopenbaar. Jesus het uit medelye die honger mense gevoed. Hy het die siekes genees, die blindes laat sien, die stommes laat praat en die kreupeles laat loop. Jesus het selfs die dooies opgewek! (Matteus 15:30-38; Markus 1:34; Lukas 7:11-17). Daardie wonderwerke was voorskouings van die verbasende dinge wat hy nog as Koning gaan doen. Hoe wonderlik sal dit tog wees om so ’n weldadige heerser te hê!
Diegene wat hulle aan Jehovah se soewereiniteit onderwerp, sal tallose seëninge ontvang. Die Skrif belowe: “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel” (Jesaja 35:5, 6). Die apostel Johannes het daardie luisterryke dag voorspel en geskryf: “Ek [het] ’n harde stem van die troon af hoor sê: ‘Kyk! Die tent van God is by die mense, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volke wees. En God self sal by hulle wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.’”—Openbaring 21:3, 4.
Die vreugdes wat Jehovah se heerskappy deur sy Seun, Jesus Christus, sal meebring, sal ruim vergoed vir enige lyding wat ons moontlik ondervind het in die huidige stelsel van dinge wat deur Satan die Duiwel oorheers word. In God se nuwe wêreld sal mense nie wonder: ‘Wie heers werklik?’ nie (2 Petrus 3:13). Die gehoorsame mensdom sal gelukkig en veilig wees in die aardse domein van die liefdevolle Heersers in die geesteryk, Jehovah en Christus. Waarom neem jy nie die hoop aan om een van hulle onderdane te wees nie?
[Prent op bladsy 7]
Die mensdom sal veilig wees in die aardse domein van God se Koninkryk
[Foto-erkenning op bladsy 4]
NASA photo