Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 7/15 bl. 25-27
  • Uitsetting—’n Liefdevolle voorsiening?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Uitsetting—’n Liefdevolle voorsiening?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom beskerming nodig is
  • Hoe uitsetting liefdevol is
  • Die uitwerking op ander
  • Liefdevolle hulp vir gesinslede
  • Waardeer Jehovah se voorsiening
  • Aanvaar altyd Jehovah se dissipline
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Waarom uitsetting ’n liefdevolle reëling is
    Ontwaak!—1996
  • Waarom uitsetting ’n liefdevolle voorsiening is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Dissipline wat ’n vredevolle vrug kan lewer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 7/15 bl. 25-27

Uitsetting—’n Liefdevolle voorsiening?

“HEILIG, heilig, heilig is Jehovah God, die Almagtige” (Openbaring 4:8). In ooreenstemming met daardie beskrywing is Jehovah die Bron van heilige standaarde. Dit word in “die heilige geskrifte” uiteengesit, en Christene is onder verpligting om hulle aan hierdie riglyne te hou. Trouens, hulle moet enigiets vermy wat onrein in Jehovah se oë is.—2 Timoteus 3:15; Jesaja 52:11.

Die Bybel beveel duidelik: “Maar word, in ooreenstemming met die Heilige wat julle geroep het, self ook in julle hele gedrag heilig, want daar staan geskrywe: ‘Julle moet heilig wees, want ek is heilig’” (1 Petrus 1:15, 16). Sedert die Christengemeente 19 eeue gelede tot stand gekom het, het ware Christene hard gestry om dit teen geestelike en sedelike onreinheid te beskerm.—Judas 3.

Waarom beskerming nodig is

Al God se knegte kom voor die uitdaging te staan om sedelik en geestelik rein te bly. Om daardie doel te bereik, moet drie magtige vyande teëgestaan word—Satan, sy wêreld en ons sondige vleeslike neigings (Romeine 5:12; 2 Korintiërs 2:11; 1 Johannes 5:19). Satan se wêreld sal jou in die versoeking bring om onsedelik te wees, sal jou uitlok om die weë daarvan aan te neem, en sal jou materiële rykdom, roem, status, vernaamheid en mag aanbied. Maar diegene wat vasbeslote is om ware aanbidding na te streef, weerstaan die dinge wat Satan aanbied en bly “sonder vlek van die wêreld”. Waarom? Want hulle wil onder die beskermende en liefdevolle sorg van Jehovah se rein organisasie bly.—Jakobus 1:27; 1 Johannes 2:15-17.

Jehovah het hulp voorsien vir enige lid van die Christengemeente wat weens menslike onvolmaaktheid ’n slagoffer van Satan se versoekinge geword het. Geestelik bekwame ouer manne is aangestel om die gemeente te beskerm en om oortreders liefdevol te help om berou te hê oor hulle sondes en die nodige veranderinge aan te bring sodat hulle kan herstel. Enige Christen wat by ’n oortreding betrokke raak, moet geduldig gehelp word om berou te hê en sy weë te verander.—Galasiërs 6:1, 2; Jakobus 5:13-16.

Hoe uitsetting liefdevol is

Gedoopte knegte van Jehovah wat moedswillig ’n goddelose weg volg en weier om te verander, moet beskou word as onberouvol en dus ongeskik vir Christelike omgang. (Vergelyk 1 Johannes 2:19.) Sulke persone kan nie toegelaat word om in die rein Christengemeente te bly en dit te verontreinig nie. Hulle moet uitgesit word.

Die korrektheid daarvan om dié wat goddelose dade pleeg uit te sit, kan deur die volgende situasie toegelig word: Weens die toename in aanvalle en gewelddadige misdade teen studente het sommige skole ’n beleid aanvaar wat “lewenslange skorsing vereis van studente wat wapens gebruik of dreig om dit te gebruik”, berig The Globe and Mail, ’n koerant in Toronto, Kanada. Die skorsing is om die studente te beskerm wat by die opvoedkundige program wil baat vind sonder om aan gewelddade onderwerp te word.

Waarom is dit liefdevol om ’n onberouvolle oortreder uit die gemeente te sit? Dit is ’n blyk van liefde vir Jehovah en sy weë (Psalm 97:10). Hierdie daad toon liefde vir dié wat ’n regverdige weg volg omdat dit iemand wat ’n slegte invloed op hulle kan hê uit hulle midde verwyder. Dit beskerm ook die reinheid van die gemeente (1 Korintiërs 5:1-13). As growwe onsedelikheid of geestelike onreinheid in die gemeente toegelaat word, sal dit besoedel word en nie geskik wees om heilige diens aan Jehovah, wat heilig is, te verrig nie. As die oortreder uitgesit word, kan dit hom verder help om die erns van sy weerspannige weg in te sien, berou te toon en die nodige veranderinge aan te bring en gevolglik in die gemeente teruggeneem te word.

Die uitwerking op ander

Wanneer ’n lid van die gemeente ’n ernstige sonde soos egbreuk pleeg, verbly hy nie Jehovah se hart nie (Spreuke 27:11). Enige Christen wat voor onsedelikheid swig, dink gewis nie soos Josef toe Potifar se vrou hom probeer oorreed het om geslagsgemeenskap met haar te hê nie. Josef se reaksie was: “Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?” (Genesis 39:6-12). Josef het Jehovah se heilige standaarde gerespekteer en weggevlug. Dit lyk aan die ander kant of ’n egbreker nie genoeg liefde vir God het om hom daarvan te weerhou om sy vleeslike hartstog te bevredig nie.—Galasiërs 5:19-21.

’n Gedoopte persoon wat God se gebooie skend, toon nie dat hy besorg is oor die skade en verdriet wat hy sy gelowige familielede gaan berokken nie. Die emosionele slag is meer as wat party kan verduur. Nadat sy uitgevind het dat haar seun onsedelik was, het een Christenvrou hartseer gesê: “Dit wil voorkom of baie min of geen broers en susters verstaan hoe seergemaak en verpletter ons is. . . . Ons is gebroke.” ’n Hele familie se goeie naam kan in die gedrang wees. Depressie en ’n skuldgevoel kan getroue gesinslede teister. Die oortreder se goddelose weg bring dus hartseer oor ’n familie.

Liefdevolle hulp vir gesinslede

Getroue Christengesinslede van uitgesette persone moet onthou dat uitsetting liefdevol sowel as beskermend is. Alle moontlike pogings word aangewend om die oortreder te help. Maar as hy aan God ongehoorsaam is en hardnekkig onberouvol is, moet die gemeente beskerm word en kan daar op geen ander manier opgetree word as wat God se Woord sê nie: “Verwyder die goddelose mens onder julle uit” (1 Korintiërs 5:13). Soos een Getuie gesê het: “Uitsetting is ’n saak van lojaliteit teenoor Jehovah.”

Wanneer ’n gesinslid uitgesit word, veroorsaak dit pyn vir Christengesinslede. Aangestelde ouer manne moet dus hulle bes doen om vir hulle geestelik verkwikkend te wees (1 Tessalonisense 5:14). Ouer manne kan vir hulle en saam met hulle bid. Dit is dikwels moontlik om hierdie getroue Christene te besoek om opbouende skriftuurlike gedagtes te bespreek. Herders van die kudde behoort elke geleentheid te gebruik om hierdie dierbare broers en susters voor en ná die Christelike vergaderinge te versterk. Bykomende bemoediging kan gegee word deur saam met hulle aan die veldbediening deel te neem (Romeine 1:11, 12). Geestelike herders moet hierdie getroue knegte van Jehovah die liefde en aandag gee wat hulle verdien.—1 Tessalonisense 2:7, 8.

Die sondige weg wat iemand inslaan, is geen rede om die lede van sy gesin wat aan Jehovah getrou bly te ignoreer nie. Israel se goddelose koning Saul is deur God verwerp, maar Dawid het nie toegelaat dat dit inmeng met sy eie toegeneentheid teenoor Saul se seun Jonatan nie. Trouens, die band tussen Dawid en Jonatan het baie sterk geword (1 Samuel 15:22, 23; 18:1-3; 20:41). Derhalwe moet almal in die gemeente ondersteunend en liefdevol wees teenoor Christene wie se gesinslede teen Jehovah sondig.

Hoe liefdeloos sou dit tog wees om sulke getroues te ignoreer of onvriendelik te behandel! Lojale gesinslede het ’n besondere behoefte aan bemoediging. Hulle voel dalk alleen en vind die situasie miskien baie moeilik. Jy kan moontlik per telefoon ’n geestelike gedagte of ’n opbouende ondervinding aan hulle oordra. As die uitgesette persoon die telefoon antwoord, vra bloot om met die Christengesinslid te praat. Jy kan die getroue lede van so ’n huisgesin na ’n sosiale geleentheid by jou huis uitnooi. As jy hulle ontmoet terwyl jy inkopies doen, kan jy die geleentheid vir ’n bietjie opbouende assosiasie gebruik. Onthou, lojale Christene wat uitgesette gesinslede het, is nog steeds ’n deel van Jehovah se rein organisasie. Hulle kan maklik afgesonder en ontmoedig raak. Wees dus wakker om goedhartigheid en liefde teenoor hulle te betoon. Hou aan om goed te doen ‘aan al dié wat in die geloof aan julle verwant is’.—Galasiërs 6:10.

Waardeer Jehovah se voorsiening

Hoe dankbaar kan ons tog wees dat Jehovah God tere besorgdheid oor elke lid van sy wêreldwye gesin van aanbidders betoon. Hy het deur middel van sy organisasie liefdevol ’n reëling voorsien wat ons help om op ’n regverdige wyse voor hom te wandel. Selfs as ’n familielid moedswillig sonde beoefen en uit die gemeente gesit moet word, is daar ’n manier om terug te kom indien hy werklik berouvol is. Dit word deur die volgende voorbeeld toegelig:

Ouer manne het probeer om iemand wat ons Anna sal noem te help, maar sy het haar tot rook, drank en dwelms gewend. Sy was onberouvol en het nie in die gemeente gebly nie. Kort voor lank het Anna egter die liefdevolle omgang van Jehovah se rein organisasie begin mis en het tot hom om hulp gebid. Sy erken dat sy nie ten volle besef het hoeveel die ouer manne omgee vir diegene wat afdwaal nie. Anna het die vergaderinge weer begin bywoon, en dit het tot berou gelei. Daarna is sy weer in die liefdevolle en beskermende sorg van die gemeente teruggeneem. Anna handhaaf nou weer Jehovah se hoë standaarde van sedelikheid. Sy is dankbaar vir die liefde wat die ouer manne betoon het en sê ook: “Jy het geen idee hoeveel die Christelike publikasies my gehelp het nie. Jehovah sien beslis goed na ons behoeftes om.”

Ja, God het ’n weg terug voorsien vir dié wat uit die gemeente gesit is maar wat later berou gehad het. Ons het gesien dat selfs uitsetting op sigself ’n liefdevolle voorsiening is. Maar hoeveel beter is dit tog om hierdie hartseer ondervinding te vermy deur altyd by die regverdige weë van ons heilige God te bly! Mag ons altyd dankbaar wees vir die voorreg om Jehovah te loof as deel van sy skoon, liefdevolle en beskermende organisasie.

[Prent op bladsy 26]

Betoon jy liefde aan getroue gesinslede van dié wat uit die gemeente gesit is?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel