’n Beter lewe word belowe
SAL jy daarvan hou om vry te wees van die probleme wat die lewe moeilik maak? Wil jy in ’n wêreld lewe waar die lewe so ’n vreugde is soos die toneel op die voor- en agterblad van hierdie tydskrif? Kyk ’n bietjie mooi na daardie prent. Mense het volop om te eet. Hulle sal daardie heerlike voedsel werklik geniet. Almal is gelukkig. Daar heers vrede onder mense van verskillende rasse. Daar heers selfs vrede onder die diere! Niemand baklei nie. Niemand is arm nie. Niemand is siek nie. Die omgewing is baie mooi, met pragtige bome en helder, skoon water. Wat ’n pragtige toneel!
Sal hierdie aarde ooit so wees? Ja, dit sal ’n paradys wees (Lukas 23:43). Dit is God, wat hierdie aarde geskep het, se voorneme dat mense ’n beter lewe op ’n paradysaarde gaan geniet. En jy kan daar wees!
Watter lewe sal jy verkies?
Hoe sal die toekomstige aardse Paradys verskil van die wêreld waarin ons nou lewe? Tans is daar meer as ’n miljard mense wat elke dag honger ly. Maar in die Paradys wat God vir hierdie aarde in gedagte het, sal almal volop hê om te eet. Die Bybel belowe: “Die HERE van die leërskare sal . . . vir al die volke berei ’n maaltyd van vetspyse, ’n maaltyd van ou wyn” (Jesaja 25:6). Daar sal geen voedseltekort wees nie, want die Bybel sê: “Mag daar volheid van koring wees in die land, op die top van die berge.”—Psalm 72:16.
Vandag lewe baie mense in krotte en plakkersdorpe of hulle sukkel om hulle huur te betaal. Ander het geen tuiste nie en slaap op straat. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is tot 100 miljoen van die wêreld se kinders haweloos. Maar in die toekomstige Paradys sal elkeen sy eie tuiste hê. God se Woord sê: “Hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet.”—Jesaja 65:21.
Baie mense sloof hulle af in ’n werk waarvan hulle nie hou nie. Hulle werk dikwels lank en hard, maar kry min in ruil daarvoor. Ongeveer 1 uit elke 5 mense in die wêreld lewe van ’n inkomste van minder as R1 800 per jaar. In die toekomstige Paradys sal mense egter hulle werk geniet en die goeie resultate daarvan sien. God belowe: “My uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet. Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei [nie].”—Jesaja 65:22, 23.
Daar is nou oral siekte en kwale. Baie is blind. Party is doof. Ander kan nie loop nie. Maar in die Paradys sal mense vry van siekte en kwale wees. Jehovah sê: “Geen inwoner sal sê: Ek is siek nie” (Jesaja 33:24). Vir diegene wat nou gestremd is, is daar dié hartverblydende belofte: “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel.”—Jesaja 35:5, 6.
Daar is tans lyding en pyn, smart en die dood. Maar in die Paradys op aarde sal nie een van hierdie dinge bestaan nie. Ja, selfs die dood sal weg wees! Die Bybel sê: “God self sal by hulle wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:3, 4.
Dit is dus duidelik dat Jehovah se beloofde aardse Paradys ’n beter lewe vir die mensdom sal beteken. Maar hoe kan ons seker wees dat dit gaan kom? Wanneer gaan dit kom, en hoe? Wat moet jy doen om daar te wees?