Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 12/1 bl. 14-19
  • Jehovah gee die vermoeide krag

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah gee die vermoeide krag
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die krag van gebed
  • Die hartlikheid van die broederskap
  • Die krag van God se Woord
  • Ouer manne wat “’n toevlug teen die wind” is
  • Jesaja 40:31 – “Dié wat op Jehovah hoop, sal nuwe krag kry”
    Verduidelikings van Bybelverse
  • Kry nuwe krag, moenie moeg word nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Moenie moed opgee nie!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Jehovah gee die vermoeide krag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 12/1 bl. 14-19

Jehovah gee die vermoeide krag

“Die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende.”—JESAJA 40:31.

1, 2. Wat gee Jehovah aan dié wat op hom vertrou, en waarna gaan ons nou kyk?

ARENDE is van die kragtigste voëls in die lug. Hulle kan oor lang afstande sweef sonder om eens hulle vlerke te klap. Met ’n vlerkspan van oor die twee meter is “die Koning van die Voëls”, die goudarend, “een van die indrukwekkendste arende; hy vlieg oor heuwels en vlaktes en sweef ure lank oor sommige bergrûe, dan wentel hy hoër en hoër totdat hy net ’n donker stippeltjie in [die] lug is”.—The Audubon Society Encyclopedia of North American Birds.

2 Met die vliegvermoë van die arend in gedagte het Jesaja geskryf: “[Jehovah] gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie. Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs; maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie” (Jesaja 40:29-31). Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat Jehovah dié wat op hom vertrou die krag gee om voort te gaan, asof hy aan hulle die skynbaar onvermoeibare vlerke van die swewende arend gee! Kom ons kyk nou na van die voorsienings wat hy gemaak het om aan die vermoeide krag te gee.

Die krag van gebed

3, 4. (a) Wat het Jesus sy dissipels vermaan om te doen? (b) Wat kan ons van Jehovah verwag om in antwoord op ons gebede te doen?

3 Jesus het sy dissipels vermaan “om altyd te bid en nie moed op te gee nie” (Lukas 18:1). Kan dit ons, as ons ons hart aan Jehovah uitstort, werklik help om ons krag te herwin en te keer dat ons moed opgee wanneer die lewe se druk oorweldigend lyk? Ja, maar daar is ’n paar dinge wat ons in gedagte moet hou.

4 Wat ons van Jehovah verwag in antwoord op ons gebede moet realisties wees. Een Christen wat ernstig depressief geraak het, het later gesê: “Soos in die geval van ander siektes verrig Jehovah nie op hierdie stadium wonderwerke nie. Maar hy help ons wel om dit te verduur en in die mate te herstel wat in hierdie stelsel moontlik is.” Sy verduidelik voorts waarom haar gebede ’n verskil gemaak het: “Ek het 24 uur per dag toegang tot Jehovah se heilige gees gehad.” Jehovah beskerm ons dus nie teen die druk van die lewe wat dalk swaar op ons rus nie, maar hy gee wel “heilige gees . . . aan dié wat hom vra!” (Lukas 11:13; Psalm 88:2-4). Daardie gees kan ons opgewasse maak teen enige toets of druk waarvoor ons te staan mag kom (1 Korintiërs 10:13). Indien nodig, kan dit ons met “krag wat bo die normale is”, versterk sodat ons kan volhard totdat God se Koninkryk alle spanningsvolle probleme wegneem in die nuwe wêreld wat so naby is.—2 Korintiërs 4:7.

5. (a) Watter twee dinge is noodsaaklik as ons wil hê ons gebede moet doeltreffend wees? (b) Hoe kan ons bid as ons teen ’n swakheid van die vlees stry? (c) Wat sal ons volgehoue en spesifieke gebede vir Jehovah toon?

5 Maar as ons wil hê dat ons gebede doeltreffend moet wees, moet ons daarin volhard, en ons moet spesifiek wees (Romeine 12:12). Byvoorbeeld, as jy soms moeg word omdat jy teen ’n swakheid van die vlees stry, moet jy aan die begin van elke dag Jehovah vra om jou gedurende die dag te help sodat jy nie voor daardie spesifieke swakheid sal swig nie. Bid eweneens deur die dag en elke aand voordat jy gaan slaap. As jy ’n terugval het, moet jy Jehovah om vergifnis smeek, maar praat ook met hom oor wat tot die terugval gelei het en wat jy kan doen om daardie omstandighede in die toekoms te vermy. Sulke volgehoue en spesifieke gebede sal vir die “Hoorder van die gebed” toon hoe opreg jou begeerte is om die stryd te wen.—Psalm 65:3; Lukas 11:5-13.

6. Waarom kan ons tereg verwag dat Jehovah ons gebede sal hoor al voel ons dalk onwaardig om te bid?

6 Maar soms voel diegene wat moeg geword het dalk onwaardig om te bid. ’n Christenvrou wat so gevoel het, het later gesê: “Sulke denke is baie gevaarlik, want dit beteken dat ons dit op ons neem om onsself te oordeel, maar dit kom ons nie toe nie.” Ja, “God self is Regter” (Psalm 50:6, NW). Die Bybel verseker ons dat hoewel ‘ons hart ons veroordeel God groter is as ons hart en alles weet’ (1 Johannes 3:20). Wanneer ons onsself dalk as onwaardig oordeel om te bid, is dit gewis vertroostend om te weet dat Jehovah dalk nie so oor ons voel nie! Hy “weet alles” van ons, onder andere die omstandighede in ons lewe wat dalk veroorsaak het dat ons so onwaardig voel (Psalm 103:10-14). Sy barmhartigheid en sy groot begrip beweeg hom om te luister na gebede van “’n gebroke en verslae hart” (Psalm 51:19). Hoe kan hy weier om ons hulpgeroep te hoor as hy self enigeen veroordeel wat “sy oor toestop vir die geskreeu van die arme”?—Spreuke 21:13.

Die hartlikheid van die broederskap

7. (a) Wat is nog ’n voorsiening wat Jehovah gemaak het om ons te help om ons krag te herwin? (b) Watter wete omtrent ons broederskap kan ons versterk?

7 Nog ’n voorsiening wat Jehovah gemaak het om ons te help om ons krag te herwin, is ons Christenbroederskap. Wat ’n kosbare voorreg is dit tog om deel van ’n wêreldwye familie van broers en susters te wees! (1 Petrus 2:17). Wanneer die druk van die lewe swaar op ons rus, kan die hartlikheid van ons broederskap ons help om ons krag te herwin. Hoe so? Die wete dat ons nie alleen is wanneer ons voor spanningsvolle uitdagings te staan kom nie, dien op sigself as ’n versterking. Onder ons broers en susters is daar ongetwyfeld party wat voor soortgelyke druk of beproewinge te staan gekom het en gevoelens ervaar het wat baie met ons s’n ooreenkom (1 Petrus 5:9). Dit is vertroostend om te weet dat ons gevoelens en dit wat ons ervaar nie iets ongewoons is nie.

8. (a) Watter voorbeelde toon hoe ons die hulp en vertroosting wat ons so nodig het in ons broederskap kan vind? (b) Hoe is jy al persoonlik deur “’n ware metgesel” gehelp en vertroos?

8 In die hartlikheid van die broederskap kan ons ‘ware metgeselle’ vind wat, wanneer ons benoudheid ervaar, die hulp en vertroosting kan voorsien wat ons so nodig het (Spreuke 17:17, NW). ’n Paar vriendelike woorde of bedagsame dade is dikwels al wat nodig is. ’n Christen wat met gevoelens van waardeloosheid geworstel het, sê: “Daar was vriende wat my aandag op positiewe dinge oor myself gevestig het om my te help om die negatiewe gedagtes te oorkom wat ek gehad het” (Spreuke 15:23). Ná die dood van haar dogtertjie het ’n suster dit aanvanklik moeilik gevind om Koninkryksliedere by die gemeentelike vergaderinge te sing, veral liedere wat die opstanding meld. “Eenkeer”, sê sy, “het ’n suster wat oorkant die paadjie gesit het, gesien dat ek huil. Sy het na my toe gekom, haar arm om my gesit en die res van die lied saam met my gesing. Ek het soveel liefde vir die broers en susters gevoel, en ek was so bly dat ons vergaderinge bygewoon het, want ons het besef dít is waar ons hulp is, daar by die Koninkryksaal.”

9, 10. (a) Hoe kan ons tot die hartlikheid van ons broederskap bydra? (b) Wie het veral heilsame assosiasie nodig? (c) Wat kan ons doen om diegene te help wat aanmoediging nodig het?

9 Elkeen van ons het natuurlik ’n verantwoordelikheid om tot die hartlikheid van die Christenbroederskap by te dra. Ons harte moet dus “verruim word” sodat ons al ons broers en susters insluit (2 Korintiërs 6:13). Hoe hartseer sal dit tog vir diegene wees wat moeg geword het as hulle dalk voel dat die broederskap se liefde teenoor hulle afgekoel het! Tog is daar Christene wat sê dat hulle eensaam en afgeskeep voel. ’n Suster wie se man die waarheid teëstaan, het gepleit: “Wie wil nie opbouende vriendskap, aanmoediging en liefdevolle assosiasie hê nie? Herinner asseblief ons broers en susters daaraan dat ons hulle nodig het!” Ja, veral diegene wie se lewensomstandighede ’n swaar las op hulle plaas—diegene met ongelowige huweliksmaats, enkelouers, diegene met kroniese gesondheidsprobleme, bejaardes en ander—het heilsame assosiasie nodig. Is dit nodig dat van ons daaraan herinner word?

10 Wat kan ons doen om te help? Laat ons verruim word wat die betoning van ons liefde betref. Wanneer ons gasvryheid betoon, moet ons nie diegene vergeet wat aanmoediging nodig het nie (Lukas 14:12-14; Hebreërs 13:2). Pleks van aan te neem dat hulle weens hulle omstandighede nie sal kan kom nie, waarom nooi ons hulle nie in elk geval nie? Laat hulle dan besluit. Al kan hulle dit nie aanneem nie, sal die wete dat ander aan hulle gedink het hulle ongetwyfeld aanmoedig. Dit is dalk net wat hulle nodig het om hulle krag te herwin.

11. Op watter maniere het diegene wat beswaard voel dalk hulp nodig?

11 Diegene wat beswaard voel, het dalk op ander maniere hulp nodig. ’n Ryp broer kan ’n enkelmoeder byvoorbeeld help deur belangstelling in haar vaderlose seun te toon (Jakobus 1:27). ’n Broer of ’n suster met ’n ernstige gesondheidsprobleem het dalk hulp nodig om inkopies of takies by die huis te doen. ’n Bejaarde smag moontlik na ’n bietjie geselskap of het moontlik hulp nodig om in die veldbediening uit te gaan. Wanneer sulke hulp op ’n gereelde grondslag verleen moet word, word die ‘egtheid van ons liefde waarlik op die proef gestel’ (2 Korintiërs 8:8). Pleks van behoeftiges te vermy weens die tyd en moeite wat daarby betrokke is, laat ons eerder die toets van Christelike liefde slaag deur sensitief te wees en te reageer op die behoeftes van ander.

Die krag van God se Woord

12. Hoe help God se Woord ons om ons krag te herwin?

12 Iemand wat ophou eet, sal gou sy sterkte, of krag, verloor. Nog ’n manier waarop Jehovah ons die krag gee om voort te gaan, is dus om toe te sien dat ons geestelik goed gevoed word (Jesaja 65:13, 14). Watter geestelike voedsel het hy voorsien? Heel eerste, sy Woord, die Bybel. (Matteus 4:4; vergelyk Hebreërs 4:12.) Hoe kan dit ons help om ons krag te herwin? Wanneer die druk en probleme waarvoor ons te staan kom ons krag laat afneem, kan ons krag daaruit put wanneer ons van die gevoelens en werklike probleme van getroue manne en vroue in Bybeltye lees. Hoewel hulle uitstekende voorbeelde van onkreukbaarheid was, was hulle mense “met gevoelens soos ons s’n” (Jakobus 5:17; Handelinge 14:15). Hulle het voor soortgelyke beproewinge en druk as ons te staan gekom. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.

13. Watter skriftuurlike voorbeelde toon dat getroue manne en vroue in Bybeltye soortgelyke gevoelens en ondervindinge as ons gehad het?

13 Die aartsvader Abraham was diep bedroef oor die dood van sy vrou, al het hy geloof in die opstanding gehad. (Genesis 23:2; vergelyk Hebreërs 11:8-10, 17-19.) ’n Berouvolle Dawid het gevoel dat sy sondes hom onwaardig gemaak het om Jehovah te dien (Psalm 51:13). Moses het aan sy vermoë getwyfel (Exodus 4:10). Epafroditus het terneergedruk geraak toe dit bekend geword het dat ’n ernstige siekte sy bedrywighede in “die Here se werk” beperk (Filippense 2:25-30). Paulus moes teen sy gevalle vlees stry (Romeine 7:21-25). Euodia en Sintige, twee gesalfde susters in die gemeente in Filippi, het blykbaar gesukkel om oor die weg te kom (Filippense 1:1; 4:2, 3). Hoe bemoedigend tog om te weet dat hierdie getroues soortgelyke gevoelens en ondervindinge as ons gehad het, maar dat hulle nie moed opgegee het nie! Jehovah het hulle ook nie in die steek gelaat nie.

14. (a) Watter instrument gebruik Jehovah om ons te help om krag uit sy Woord te put? (b) Waarom bevat Die Wagtoring en Ontwaak! artikels oor maatskaplike, gesins- en emosionele sake?

14 Om ons te help om krag uit sy Woord te put, gebruik Jehovah die “getroue en verstandige slaaf”-klas om ons van ’n bestendige vloei van “voedsel op die regte tyd” te voorsien (Matteus 24:45). Die getroue slaaf gebruik al lank Die Wagtoring en Ontwaak! om Bybelwaarheid te verdedig en te verkondig dat God se Koninkryk die mensdom se enigste hoop is. Veral in die laaste paar dekades het hierdie tydskrifte tydige skriftuurlike artikels bevat oor maatskaplike, gesins- en emosionele uitdagings waarvoor selfs sommige van God se volk te staan kom. Met watter doel is sulke inligting gepubliseer? Ongetwyfeld om diegene wat voor hierdie uitdagings te staan kom te help om krag en bemoediging uit God se Woord te put. Maar sulke artikels help ons almal ook om ’n duideliker begrip te hê van wat sommige van ons broers en susters dalk deurmaak. Ons is dus beter toegerus om ag te slaan op Paulus se woorde: “Praat vertroostend met die terneergedrukte siele, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal.”—1 Tessalonisense 5:14.

Ouer manne wat “’n toevlug teen die wind” is

15. Wat het Jesaja oor diegene voorspel wat as ouer manne dien, en watter verantwoordelikheid plaas dit op hulle?

15 Jehovah het nog iets voorsien om ons te help wanneer ons moeg word—die gemeentelike ouer manne. Oor hulle het die profeet Jesaja geskryf: “Elkeen sal wees soos ’n toevlug teen die wind en ’n skuiling teen die stortreën, soos waterstrome in ’n dor streek, soos die skaduwee van ’n swaar rots in ’n land wat versmag” (Jesaja 32:1, 2). Ouer manne het dus die verantwoordelikheid om te voldoen aan dít wat Jehovah oor hulle voorspel het. Hulle moet toon dat hulle bronne van vertroosting en verkwikking vir ander is en gewillig is om ‘aan te hou om mekaar se laste [of “kwellende dinge”; letterlik, “swaar dinge”] te dra’ (Galasiërs 6:2, voetnoot in naslaanuitgawe). Hoe kan hulle dit doen?

16. Wat kan die ouer manne doen om iemand te help wat onwaardig voel om te bid?

16 Soos vroeër gemeld, voel ’n persoon wat moeg geword het soms dalk onwaardig om te bid. Wat kan die ouer manne doen? Hulle kan vir en saam met die persoon bid (Jakobus 5:14). Dit sal iemand wat moeg geword het, vertroos as hy hoor hoe ’n ouer man Jehovah vra om hom of haar te help om te besef hoeveel Jehovah en andere hom of haar liefhet. As die terneergedrukte persoon die vurige, opregte gebed van ’n ouer man hoor, kan dit sy vertroue help versterk. Hy of sy kan gehelp word om te redeneer dat, as die ouer manne vol vertroue is dat Jehovah gebede ten behoewe van hom of haar sal verhoor, hy of sy dieselfde vertroue kan hê.

17. Waarom moet ouer manne met empatie kan luister?

17 “Elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat”, sê Jakobus 1:19. Om diegene wat moeg geword het te help om hulle krag te herwin, moet ouer manne ook met empatie kan luister. In sommige gevalle worstel gemeentelede dalk met probleme of druk wat nie in hierdie stelsel van dinge opgelos kan word nie. Wat hulle dan moontlik nodig het, is nie die een of ander oplossing vir hulle probleem nie, maar bloot om met ’n goeie luisteraar te praat—iemand wat hulle nie sal vertel hoe hulle veronderstel is om te voel nie, maar wat sal luister sonder om veroordelend te wees.—Lukas 6:37; Romeine 14:13.

18, 19. (a) Hoe kan ’n ouer man, deur gou te wees om te luister, keer dat hy ’n persoon wat moeg geword het se las selfs swaarder maak? (b) Wat is die gevolg wanneer ouer manne “meegevoel” betoon?

18 Ouer manne, as julle gou is om te luister, kan dit julle help om nie onwetend ’n persoon wat moeg geword het se las selfs swaarder te maak nie. Het ’n broer of ’n suster wat byvoorbeeld nie by ’n paar vergaderinge was nie of wat minder in die veldbediening doen werklik raad nodig om meer in die bediening te doen of om gereelder by die vergaderinge te wees? Miskien. Maar het jy die geheelbeeld? Is daar gesondheidsprobleme wat vererger? Het hulle gesinsverantwoordelikhede onlangs verander? Is daar ander omstandighede of druk wat swaar op hom of haar rus? Onthou, die persoon voel dalk reeds baie skuldig omdat hy nie in staat is om meer te doen nie.

19 Hoe kan jy dan die broer of suster help? Voordat jy gevolgtrekkings maak of raad gee, moet jy luister! (Spreuke 18:13). Die gevoelens van die persoon se hart moet met oordeelkundige vrae ‘uitgeskep’ word (Spreuke 20:5). Moenie hierdie gevoelens verontagsaam nie—erken dit. Dit is dalk nodig dat die persoon wat moeg geword het, verseker word dat Jehovah vir ons omgee en verstaan dat ons omstandighede ons soms kan beperk (1 Petrus 5:7). Wanneer ouer manne sulke “meegevoel” betoon, sal persone wat moeg geword het ‘verkwikking vir hulle siele vind’ (1 Petrus 3:8; Matteus 11:28-30). Wanneer hulle sulke verkwikking vind, sal dit nie nodig wees dat hulle aangesê word om meer te doen nie; hulle hart sal hulle beweeg om alles wat hulle redelikerwys kan doen in Jehovah se diens te doen.—Vergelyk 2 Korintiërs 8:12; 9:7.

20. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen, aangesien die einde van hierdie goddelose geslag so naby is?

20 Ons lewe ongetwyfeld in die moeilikste tyd in die ganse mensegeskiedenis. Die druk om in Satan se wêreld te lewe, word al hoe groter namate ons dieper in die tyd van die einde inbeweeg. Onthou, soos ’n leeu op jag, wag die Duiwel dat ons moeg word en moed opgee sodat hy ons as ’n maklike prooi kan uitoorlê. Hoe dankbaar kan ons tog wees dat Jehovah aan die vermoeide krag gee! Laat ons ten volle van sy voorsienings gebruik maak om ons krag te gee om voort te gaan, asof hy ons met die kragtige vlerke van ’n swewende arend toerus. Met die einde van hierdie goddelose geslag so naby is dit nie nou die tyd om in ons wedloop om die prys—die ewige lewe—op te hou hardloop nie.—Hebreërs 12:1.

Wat is jou antwoord?

◻ Wat kan ons van Jehovah verwag om in antwoord op ons gebede te doen?

◻ Op watter maniere kan ons krag uit ons Christenbroederskap put?

◻ Hoe help God se Woord ons om ons krag te herwin?

◻ Wat kan ouer manne doen om persone wat moeg geword het te help om hulle krag te herwin?

[Prent op bladsy 17]

Wanneer ons gasvryheid betoon, moet ons nie diegene vergeet wat aanmoediging nodig het nie

[Prent op bladsy 18]

Ouer manne kan Jehovah vra om persone wat moeg geword het te help besef hoeveel ander hulle liefhet

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel