Honderd Jaar oud en nog aan die gang
SOOS VERTEL DEUR RALPH MITCHELL
My pa, ’n man van gemiddelde lengte, was ’n Metodistepredikant. Hy is elke twee of drie jaar na ’n ander kerk oorgeplaas wat gewoonlik in een klein dorpie na die ander was, met inbegrip van Asheville, Noord-Carolina, VSA, waar ek in Februarie 1895 gebore is. Ek het dus grootgeword met heelwat kennis van die Christendom.
EK ONTHOU hoe ek as ’n jong seun na die “rou”-bank by opwekkingsdienste gelei is om met die heilige gees vervul te word—om “godsdiens te kry”, soos hulle dit genoem het. Ek is aangesê om my sondes te bely, die Tien Gebooie te hou en gehoorsaam te wees. Sodoende sou ek hemel toe gaan wanneer ek sterf. ‘Wel’, het ek by myself gesê, ‘ek sal seker maar hel toe gaan, want ek kan nie goed genoeg vir die hemel wees nie.’ Ek het gedink dat net grootmense—veral predikante—Bybelstandaarde naleef.
Maar selfs voor my tienerjare het ek skynheiligheid in die godsdiens begin opmerk. My pa het byvoorbeeld sy gesin se materiële belange opgeoffer net om ’n groot som geld tot die biskop se fonds by die algemene vergadering by te dra. Hy het gehoop dat dit hom ’n aanstelling by ’n groter kerk sou besorg. Ek onthou ’n plaaslike predikant wat ook ’n katoenboer was. Hy was gretig om ’n vername posisie te kry; hy het dus ’n honderd bale katoen verkoop en met ’n sak vol geld na die vergadering gegaan. Toe dit gelyk het asof hulle soveel geld as wat hulle kon uit die gehoor—wat meestal uit predikante bestaan het—gekry het, het hierdie katoenboerpredikant opgespring en geskreeu: “Is dit al wat julle julle biskop gee? Vir elke vyf dollar wat ’n predikant neersit, sit ek tien dollar daarby!” Meer as duisend dollar is ingesamel, en die biskop het hierdie man as die presiderende ouderling oor my pa aangestel. Ek kon nie glo dat so ’n aanstelling van God af kom nie. Van toe af was ek skepties oor enigiets wat met godsdiens te doen gehad het.
Ek is opgeroep toe die Verenigde State in die Eerste Wêreldoorlog verwikkel geraak het. Ek onthou maar alte goed hoe die leërkapelane vir ons as soldate gepreek het om getrou vir ons land te veg, en dit het net my afkeer van godsdiens verhoog. My doelwitte was om te bly lewe, my opleiding te voltooi en dan te trou. Godsdiens het geen plek in my planne vir die toekoms gehad nie.
’n Verandering van gesindheid
In 1922 het ek verlief geraak op ’n jong vrou met die naam Louise. Sy was ’n vroom Katoliek, en toe ons besluit om te trou, wou sy ’n Katolieke troue hê. Wel, ek wou nie ’n godsdiensseremonie van enige aard hê nie; dus het sy ingestem dat ons by ’n munisipale gebou in New York-stad sou trou.
Ons het aanvanklik geen godsdiensgeskille gehad nie. Ek het bloot vir haar verduidelik dat ek geen vertroue in godsdiens gehad het nie en dat ons baie goed oor die weg sou kom solank ons glad nie daaroor praat nie. Toe, tussen 1924 en 1937, is ons kinders gebore—die een na die ander, totdat ons vyf seuns en vyf dogters gehad het! Louise wou hê dat ons kinders ’n Katolieke skool bywoon. Ek wou nie hê dat hulle enige soort godsdiensopvoeding kry nie, en ons het dus daaroor gestry.
Vroeg in 1939 het iets gebeur wat my beskouing oor godsdiens geheel en al verander het. Henry Webber en Harry Piatt, twee van Jehovah se Getuies, het na ons huis in Roselle, New Jersey, gekom. Dit het gou duidelik geword dat hulle wou gesels oor die een onderwerp wat ek glad nie wou bespreek nie—godsdiens. My geloof was steeds geknou deur die feit dat die kapelane in die leër gesê het: ‘Veg vir jou land’, terwyl die godsdiensleiers in my tuisdorp gesê het: ‘Jy mag nie doodslaan nie.’ Sulke skynheiligheid! Ek het gedink ek sou hierdie twee Getuies bietjie reghelp. “Laat ek julle iets vertel”, het ek vir hulle gesê. “As julle godsdiens reg is, dan is al die ander vals. En al is net een van die ander reg, dan is die res, julle s’n inkluis, vals. Daar kan net een ware godsdiens wees.” Tot my groot verbasing het hulle met my saamgestem!
Hierna het hulle my gevra om my Bybel te kry en dit by 1 Korintiërs 1:10 oop te slaan. Daar het ek gelees: “Ek vermaan julle dan nou, broers, deur die naam van ons Here Jesus Christus, dat julle almal eenstemmig moet spreek en dat daar nie verdeeldhede onder julle moet wees nie, maar dat julle paslik verenig kan wees in dieselfde denke en in dieselfde gedagtegang.” Hierdie teks het my gefassineer. Terselfdertyd was ek bang dat hierdie twee manne my in die een of ander soort kultus probeer betrek het. Maar ek het iets geleer—dat daar geen verdeeldhede onder Christene behoort te wees nie. Ek het baie ander vrae op die hart gehad. Byvoorbeeld: Wat gebeur met die siel by die dood? Hoe graag wou ek tog nie daardie vraag met hulle bespreek nie! Maar ek het gedink dit sou te veel godsdiensonenigheid in die huis veroorsaak.
Toe het een van die manne gesê: “Ons wil graag volgende week terugkom en weer met jou gesels.” Ek het hulle taktvol probeer wegstuur, maar my vrou het begin praat. “Ralph”, het sy gesê, “hulle wil weet wanneer hulle kan terugkom.” Dit het my verras, aangesien sy ’n ywerige Katoliek was! Maar ek het gedink: ‘Miskien kan ons tog oor ’n paar punte saamstem wat godsdiens betref.’ Ek het dus ingestem dat Henry Webber en Harry Piatt die volgende Vrydag kon terugkom.
Dit is hoe ek die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het. Nie lank hierna nie is ek genooi om ’n streekbyeenkoms by Madison Square Garden in New York-stad by te woon. Ek onthou nog baie goed Joseph F. Rutherford se toespraak oor “Regering en vrede”, wat op 25 Junie 1939 gehou is. Ek was een van die 18 000 mense teenwoordig. Eintlik het 75 000 die lesing gehoor, as jy diegene insluit wat deur ’n internasionale koppeling met radiofoonlyne verbind is.
Maar alles het nie so vlot verloop nie. Aanhangers van die Katolieke priester Charles Coughlin het gedreig om die byeenkoms te ontwrig, en sowaar: omtrent halfpad deur broer Rutherford se lesing het honderde ontstoke mense hom begin uitjou en slagspreuke, soos “Heil Hitler!” en “Viva Franco!” begin skreeu. Daar was so ’n groot oproerigheid dat die lawaai oor die telefoonlyne gehoor kon word! Dit het sowat 15 minute geduur voordat die saalwagters die oproerige skare kon bedwing. Die hele tyd het broer Rutherford, onbevrees, aangehou praat terwyl die herhaalde applous van die gehoor hom ondersteun het.
Nou was ek werklik nuuskierig. Waarom sou ’n Katolieke priester soveel haat teen Jehovah se Getuies aanstig? Ek het gereken dat daar iets moes wees omtrent dít wat Rutherford preek—iets wat die geestelikes nie wil hê dat mense soos ek moet hoor nie. Ek het dus voortgegaan om die Bybel te bestudeer en vooruitgang te maak. Uiteindelik, in Oktober 1939, het ek my toewyding aan Jehovah deur middel van waterdoop gesimboliseer. Party van my kinders is die daaropvolgende jaar gedoop, en my vrou, Louise, is in 1941 gedoop.
Ek bied toetse die hoof
Kort nadat ek die waarheid aangeneem het, het my ma gesterf, en ek moes vir haar begrafnis teruggaan Noord-Carolina toe. Ek het gevoel dat ek nie met ’n rein gewete die dienste sou kon bywoon wat in die Metodistekerk gehou sou word nie. Gevolglik het ek my pa gebel voordat ek die reis onderneem het en hom gevra om die kis by die roukamer te hou. Hy het ingestem, maar toe ek daar aankom, was hulle op pad kerk toe, waar hulle gedink het ek sekerlik by hulle sou aansluit.
Wel, ek het nie, en dit het omtrent ’n opskudding in my familie veroorsaak. Hoewel ek en my suster Edna nog altyd na aan mekaar was, wou sy ná my ma se begrafnis nie met my praat nie. Ek het briewe geskryf, maar sy het dit nie geantwoord nie. Elke somer wanneer Edna New York toe gekom het om onderwyskursusse by die City College by te woon, het ek haar probeer opsoek. Maar sy wou my nie sien nie en het gesê dat sy besig is. Ek het uiteindelik moed opgegee, aangesien dit gelyk het asof ek haar net omkrap. Baie jare het verbygegaan voordat ek weer van haar gehoor het.
Aangesien my kinders geweier het om die vlag te salueer, is ses van hulle in 1941 uit die skool gesit, soos met baie ander kinders in die Verenigde State en Kanada die geval was. Ten einde aan die wetlike opvoedingsvereiste te voldoen, het die Getuies hulle eie skole georganiseer, wat Koninkrykskole genoem is. ’n Destydse hotel in Lakewood, New Jersey, het die skool geword wat my kinders bygewoon het. Op die grondverdieping was ’n Koninkryksaal, asook die skool se klaskamer, ’n kombuis en ’n eetlokaal. Die meisies het op die eerste verdieping geslaap, en die seuns se slaapkamers was op die tweede verdieping. Dit was ’n goeie skool. Die meeste kinders wat hier gehuisves is, het net naweke huis toe gegaan. Dié wat verder weg gewoon het, het elke tweede naweek huis toe gegaan.
Sedert my vroeë jare in die waarheid het ek ’n brandende begeerte gehad om ’n pionier te word, soos voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies genoem word. By die streekbyeenkoms vir 1941 in St. Louis, Missouri, het ’n broer op die program vertel hoe hy as ’n pionier kon dien terwyl hy 12 kinders grootgemaak het. Ek het gedink: ‘As hy ’n pionier kan wees met 12, kan ek seker ’n pionier wees met 10.’ Maar my omstandighede het my eers 19 jaar later toegelaat om die pionierdiens te betree. Uiteindelik, op 1 Oktober 1960, kon ek Jehovah as ’n gewone pionier begin dien.
’n Verrassingsbesoek
In 1975 het ek ’n telefoonoproep van my suster Edna ontvang. Ek was op daardie stadium 80 jaar oud en ek het haar omtrent 20 jaar laas gesien of haar stem gehoor. Sy het van die lughawe af gebel, en sy het my gevra om haar en haar man te kom oplaai. Dit was goed om Edna weer te sien, maar die grootste verrassing het nog op my gewag. Op pad huis toe het haar man gesê: “Jy het ’n bekeerling.” Ek het nie geweet wat hy bedoel nie. Toe ons by die huis aankom, het hy weer gesê: “Jy het hier ’n bekeerling.” My vrou het onmiddellik gesnap. Sy het na my suster gedraai en gevra: “Edna, is jy ’n Getuie?” “Ek is beslis, ja”, het Edna geantwoord.
Wat het Edna die waarheid laat aanneem? Wel, ek het in 1972 vir haar ’n geskenkintekening op Die Wagtoring gestuur in ’n poging om ons verhouding te probeer herstel. Ongeveer ’n jaar later het Edna siek geword en was sy aan haar huis gekluister. Die tydskrifte was steeds in hulle papieromslag op haar lessenaar. Uit nuuskierigheid het Edna een oopgemaak en begin lees. Nadat sy die tydskrif deurgelees het, het sy by haarself gedink: ‘Dit is die waarheid!’ Teen die tyd dat Jehovah se Getuies haar by die huis besoek het, het sy deur die hele stapel Wagtorings gelees. Sy het ’n Bybelstudie aanvaar en mettertyd een van Jehovah se Getuies geword.
Hoe ek verlies verwerk het
Ná verloop van tyd het my vrou, Louise, suikersiekte opgedoen, en haar toestand het versleg totdat sy in 1979, op die ouderdom van 82, gesterf het. Toe Louise sterf, het ’n deel van my ook gesterf. My hele wêreld het tot stilstand gekom. Ek het nie geweet wat om te doen nie. Ek het geen planne vir die toekoms gehad nie, en ek het aanmoediging dringend nodig gehad. ’n Reisende opsiener, Richard Smith, het my aangemoedig om met my pionierdiens voort te gaan. Ek het gevind dat ek die grootste vertroosting verkry het wanneer ek ander vertroos het wat ook geliefdes aan die dood afgestaan het.
In 1979 het die Wagtoringgenootskap ’n toer na Israel gereël, en ek het my naam opgegee. Hierdie reis was vir my ’n groot stimulus, en toe ek weer tuiskom, het ek dadelik weer met die pionierdiens voortgegaan. Sedertdien sorg ek dat ek elke jaar in die ontoegekende gebied of gebied wat selde gedek word in ’n ander deel van die land help. Ondanks my gevorderde leeftyd kan ek my steeds vir hierdie voorreg beskikbaar stel.
Ek skat dat ek oor die jare die vreugde gehad het om omtrent 50 mense op die weg na die lewe te help. Die meeste van my kinders is in die waarheid. Twee van my dogters dien as gewone pioniers. ’n Ander dogter, Louise Blanton, dien saam met haar man, George, by die wêreldhoofkantoor van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, en een van my seuns dien al baie jare lank as ’n ouer man.
Weens onvolmaaktheid wat ons van ons eerste ouers geërf het, word ons natuurlik almal siek en sterf ons (Romeine 5:12). My lewe was beslis nie sonder kwale en pyne nie. Ek ly tans aan gewrigsontsteking in my linkerbeen. Soms veroorsaak dit my baie ongemak, maar dit verhinder my nie om dinge te doen nie. En ek bid dat dit nie sal nie. Ek wil aan die gang bly. My grootste begeerte is om in die pionierdiens voort te gaan tot die einde toe, en alles moontlik te doen om Jehovah se naam en voornemens bekend te maak.
[Prent op bladsy 23]
Saam met my dogter Rita