Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 12/15 bl. 16-21
  • Vreugdevolle “daders van die woord”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vreugdevolle “daders van die woord”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Volharding met vreugde
  • Streef wysheid na
  • Word “daders van die woord”
  • Bybelboek nommer 59—Jakobus
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Hou ondanks beproewinge vas aan jou geloof!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Waarom ons geloof en wysheid nodig het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Leer by Jesus se jonger broer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 12/15 bl. 16-21

Vreugdevolle “daders van die woord”

“Aanvaar met sagmoedigheid die inplanting van die woord, wat julle siele kan red. Word egter daders van die woord en nie net hoorders . . . nie.”—JAKOBUS 1:21, 22.

 1. Hoe moet ons ons jaarteks vir 1996 beskou?

‘WORD DADERS VAN DIE WOORD.’ Hierdie eenvoudige stelling bevat ’n kragtige boodskap. Dit kom uit “Die brief van Jakobus” in die Bybel, en dit sal dwarsdeur 1996 as die jaarteks van Jehovah se Getuies in Koninkryksale vertoon word.

 2, 3. Waarom was dit gepas dat Jakobus die brief geskryf het wat sy naam dra?

2 Jakobus, ’n halfbroer van die Here Jesus, was ’n prominente persoon in die vroeë Christengemeente. By een geleentheid ná Jesus se opstanding het ons Here persoonlik aan Jakobus verskyn en daarna aan al die apostels (1 Korintiërs 15:7). Later, toe die apostel Petrus wonderdadig uit die gevangenis bevry is, het hy vir ’n groep vergaderde Christene gesê: “Vertel hierdie dinge vir Jakobus en die broers” (Handelinge 12:17). Jakobus, hoewel self nie ’n apostel nie, het blykbaar die leiding by die bestuursliggaam se vergadering in Jerusalem geneem toe die apostels en ouer manne besluit het dat nie-Joodse bekeerlinge nie besny hoef te word nie. Jakobus het sake opgesom, en die besluit wat deur die heilige gees bevestig is, is na al die gemeentes gestuur.—Handelinge 15:1-29.

3 Jakobus se volwasse redenering het klaarblyklik groot gesag gedra. Hy het egter nederig erken dat hy self bloot “’n slaaf van God en van die Here Jesus Christus” was (Jakobus 1:1). Sy geïnspireerde brief bevat ’n oorvloed van betroubare raad en aanmoediging vir hedendaagse Christene. Dit is ongeveer vier jaar voor die eerste Romeinse aanval op Jerusalem deur generaal Cestius Gallus voltooi, nadat die goeie nuus wyd en syd verkondig is “in die hele skepping wat onder die hemel is” (Kolossense 1:23). Dit was kritieke tye, en Jehovah se knegte was ten volle bewus van die feit dat Hy op die punt gestaan het om Sy oordeel aan die Joodse nasie te voltrek.

 4. Wat dui daarop dat die vroeë Christene groot vertroue in God se Woord gehad het?

4 Daardie Christene het reeds die Hebreeuse Geskrifte en ’n groot deel van die Griekse Geskrifte gehad. Die Christen-Bybelskrywers se talle verwysings na die vroeë geskrifte dui daarop dat hulle ongetwyfeld groot vertroue in God se Woord gehad het. Ons moet vandag eweneens God se Woord ywerig bestudeer en dit in ons lewe toepas. Ten einde te volhard, het ons die geestelike krag en moed nodig wat die Heilige Skrif voorsien.—Psalm 119:97; 1 Timoteus 4:13.

 5. Waarom het ons vandag spesiale leiding nodig, en waar sal ons dit vind?

5 Die mensdom staan vandag op die rand van “groot verdrukking . . . soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie, nee, en ook nie weer sal plaasvind nie” (Matteus 24:21). Ons oorlewing hang daarvan af of ons Goddelike leiding het. Hoe kan ons dit vind? Deur ons hart ontvanklik te maak vir die leringe van God se geesgeïnspireerde Woord. Dit sal ons lei om ‘daders van die woord te word’, soos getroue knegte van Jehovah in vorige tye. Ons moet God se Woord ywerig lees en bestudeer en dit tot lof van Jehovah gebruik.—2 Timoteus 2:15; 3:16, 17.

Volharding met vreugde

 6. Waarom moet ons dit vreugde ag wanneer ons beproewinge teëkom?

6 Aan die begin van sy brief meld Jakobus vreugde, die tweede vrug van God se gees. Hy skryf: “Ag dit louter vreugde, my broers, wanneer julle verskillende beproewinge teëkom, aangesien julle weet dat hierdie beproefde hoedanigheid van julle geloof volharding bewerk. Maar laat die volharding sy werk voltooi, sodat julle volkome en in alle opsigte sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie” (Jakobus 1:2-4; Galasiërs 5:22, 23). Hoe kan daar gesê word dat dit “louter vreugde” is om baie beproewinge teë te kom? Wel, selfs Jesus het in sy Bergpredikasie gesê: “Gelukkig is julle wanneer mense julle smaad en julle vervolg en valslik allerhande goddelose dinge teen julle sê ter wille van my. Verheug julle en spring van vreugde, aangesien julle beloning groot is in die hemele” (Matteus 5:11, 12). Dit verskaf vreugdevolle tevredenheid om Jehovah se seën op ons pogings te sien namate ons die ewige lewe as doel nastreef.—Johannes 17:3; 2 Timoteus 4:7, 8; Hebreërs 11:8-10, 26, 35.

 7. (a) Hoe kan ons gehelp word om te volhard? (b) Hoe kan ons, soos Job, beloon word?

7 Jesus self het volhard “vir die vreugde wat hom voorgehou is” (Hebreërs 12:1, 2). As ons die blik stip gerig hou op Jesus se moedige voorbeeld kan ons ook volhard! Soos Jakobus teen die einde van sy brief meld, seën Jehovah handhawers van onkreukbaarheid ryklik. “Kyk! Ons noem dié wat volhard het gelukkig”, sê Jakobus. “Julle het gehoor van die volharding van Job en het gesien hoe Jehovah dit laat afloop het, dat Jehovah baie teer in geneentheid en barmhartig is” (Jakobus 5:11). Dink aan hoe Job se onkreukbaarheid beloon is toe hy weer goeie gesondheid en ’n vol, gelukkige lewe saam met geliefdes kon geniet. Volharding in onkreukbaarheid kan jou soortgelyke vreugde in die beloofde Paradys van God se nuwe wêreld verskaf, as ’n klimaks tot die vreugde om Jehovah nóú te dien.

Streef wysheid na

 8. Hoe kan ons ware, praktiese wysheid vind, en watter rol speel gebed hierin?

8 Ons ywerige studie van God se Woord, tesame met die praktiese toepassing daarvan, sal tot godvrugtige wysheid lei, wat ons in staat sal stel om beproewinge te midde van die verdorwenheid van Satan se sterwende stelsel te verduur. Hoe kan ons seker wees dat ons sulke wysheid kan vind? Jakobus deel ons mee: “As een van julle dan wysheid kortkom, laat hom aanhou om God te vra, want hy gee mildelik aan almal en sonder om te verwyt; en dit sal aan hom gegee word. Maar laat hom aanhou om in geloof te vra, sonder om enigsins te twyfel, want hy wat twyfel, is soos ’n golf van die see wat deur die wind gedryf en heen en weer gewaai word” (Jakobus 1:5, 6). Ons moet ernstig bid, met onwrikbare vertroue dat Jehovah na ons versoeke sal luister en dat hy dit op sy eie tyd en manier sal verhoor.

 9. Hoe beskryf Jakobus godvrugtige wysheid en die toepassing daarvan?

9 Godvrugtige wysheid is ’n gawe van Jehovah. In ’n beskrywing van sulke gawes sê Jakobus: “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van bo, want dit daal neer van die Vader van die hemelse ligte, en by hom is daar geen verandering van die draaiing van die skaduwee nie.” Later in sy brief verduidelik Jakobus wat die gevolg van die verkryging van ware wysheid is wanneer hy sê: “Wie is wys en verstandig onder julle? Laat hom uit sy voortreflike gedrag sy werke toon met ’n sagmoedigheid wat by wysheid behoort. . . . Die wysheid van bo is allereers kuis, dan vredeliewend, redelik, bereid om te gehoorsaam, vol barmhartigheid en goeie vrugte, maak nie partydige onderskeid nie, is nie huigelagtig nie.”—Jakobus 1:17; 3:13-17.

10. Hoe verskil valse godsdiens van die ware godsdiens?

10 In die wêreldryk van valse godsdiens, hetsy in die Christendom of in ander lande, is dit dikwels die gebruik dat aanbidders ’n paar gesange sing, na gebede luister wat oor en oor herhaal word en miskien ’n preek hoor. Geen aanmoediging word gegee om ’n boodskap van hoop te verkondig nie, want die meeste godsdienste het geen blink vooruitsig op die toekoms nie. Die wonderlike hoop ten opsigte van God se Messiaanse Koninkryk word óf nooit genoem nie óf heeltemal misverstaan. Jehovah sê profeties van die Christendom se aanhangers: “My volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie” (Jeremia 2:13). Hulle het geen water van waarheid nie. Goddelike wysheid ontbreek.

11, 12. (a) Wat moet godvrugtige wysheid ons beweeg om te doen? (b) Waarteen waarsku godvrugtige wysheid ons?

11 Hoe anders is dit vandag tog onder Jehovah se Getuies! Met godgegewe dinamiese krag vul hulle die aarde met die goeie nuus van Sy inkomende Koninkryk. Die wysheid wat hulle spreek, is deeglik gegrond op die Woord van God. (Vergelyk Spreuke 1:20; Jesaja 40:29-31, vgl. NW.) Trouens, hulle maak prakties gebruik van ware kennis en verstand om die grootse voornemens van ons God en Skepper te verkondig. Dit behoort ons begeerte te wees dat almal in die gemeente “in alle wysheid en geestelike insig vervul mag word met die juiste kennis van [God se] wil” (Kolossense 1:9). Met hierdie grondslag sal oud sowel as jonk beweeg word om altyd “daders van die woord” te word.

12 “Die wysheid van bo” waarsku ons teen sondes wat daartoe kan lei dat God ons afkeur. “Weet dit, my geliefde broers”, sê Jakobus. “Elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig ten opsigte van gramskap; want ’n mens se gramskap bewerk nie God se regverdigheid nie.” Ja, ons moet gou, gretig, wees om na Goddelike raad te luister en dit toe te pas. Maar ons moet waak teen die misbruik van daardie “klein lid”, die tong. Deur grootpratery, onverstandige skinderpraatjies of eiewyse praatjies kan die tong figuurlik “’n groot bos” aan die brand steek. Ons moet derhalwe vriendelikheid en selfbeheersing in ons omgang met almal aankweek.—Jakobus 1:19, 20; 3:5.

13. Waarom is dit belangrik dat ons “die inplanting van die woord” aanvaar?

13 “Lê derhalwe alle vuilheid en daardie oorbodige ding, slegtheid, af”, sê Jakobus, “en aanvaar met sagmoedigheid die inplanting van die woord, wat julle siele kan red” (Jakobus 1:21). Hierdie hebsugtige wêreld, met sy spoggerige, materialistiese, “ek eerste”-lewenswyse en verdorwe sedes, sal binnekort verbygaan. “Maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:15-17). Hoe belangrik is dit dan tog dat ons “die inplanting van die woord” aanvaar! Die wysheid wat deur God se Woord voorsien word, vorm ’n skerp teenstelling met die slegtheid van hierdie sterwende wêreld. Ons wil niks met daardie slegtheid te doen hê nie (1 Petrus 2:1, 2). Ons moet liefde vir die waarheid en sterk geloof in ons hart ingeplant hê, sodat ons vasbeslote sal wees om nooit van Jehovah se regverdige weë af te wyk nie. Maar is dit genoeg om God se Woord te hoor?

Word “daders van die woord”

14. Hoe kan ons “hoorders” sowel as “daders” van die Woord word?

14 In Jakobus 1:22 lees ons: “Word . . . daders van die woord en nie net hoorders wat julleself met valse redenering bedrieg nie.” ‘Word daders van die woord’! Hierdie tema word beslis in Jakobus se brief beklemtoon. Ons moet luister en dan “net so” doen! (Genesis 6:22, NW). Baie mense beweer vandag dat dit genoeg is om na ’n preek te luister of om nou en dan die een of ander vormlike aanbidding te beoefen, en hulle laat dit daarby. Hulle dink dalk dat dit voldoende is so lank as wat hulle volgens hulle standaarde ’n ‘goeie lewe’ lei. Maar Jesus Christus het gesê: “As iemand agter my aan wil kom, laat hy homself verloën en sy folterpaal opneem en my voortdurend volg” (Matteus 16:24). Selfopofferende optrede en volharding in die navolging van Jesus se voorbeeld om God se wil te doen, word ongetwyfeld van ware Christene vereis. Vir hulle is God se wil vandag dieselfde as wat dit in die eerste eeu was toe die verrese Jesus beveel het: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies” (Matteus 28:19). Hoe vaar jy in hierdie opsig?

15. (a) Watter illustrasie gee Jakobus wat toon hoe ons as “daders van die woord” gelukkig kan wees? (b) Waarom is blote vormlike aanbidding nie genoeg nie?

15 As ons voortdurend in God se Woord tuur, kan dit soos ’n spieël wees wat vir ons weerkaats presies watter soort persone ons is. Jakobus sê: “Hy wat in die volmaakte wet tuur wat tot vryheid behoort en daarby bly, hy sal, omdat hy nie ’n vergeetagtige hoorder nie maar ’n dader van die werk geword het, gelukkig wees deurdat hy dit doen” (Jakobus 1:23-25). Ja, hy sal ’n gelukkige ‘dader van die woord’ wees. Verder is dit belangrik om ’n “dader” in elke besonderheid van ons Christelike lewe te wees. Ons moet ons nooit bedrieg deur te dink dat blote vormlike aanbidding genoeg is nie. Jakobus vermaan ons om sekere aspekte van ware aanbidding na te kom wat selfs ywerige Christene dalk verwaarloos het. Hy skryf: “Die vorm van aanbidding wat uit die standpunt van ons God en Vader rein en onbesmet is, is dit: om na wese en weduwees in hulle verdrukking om te sien en om jou sonder vlek van die wêreld te bewaar.”—Jakobus 1:27.

16. Op watter maniere het Abraham “Jehovah se vriend” geword, en hoe kan ons Sy vriendskap wen?

16 Dit is nie genoeg om net te sê: ‘Ek glo in God’, en sake dan daarby te laat nie. Soos Jakobus 2:19 sê: “Jy glo dat daar een God is? Jy doen heel goed. En tog glo die demone en sidder.” Jakobus beklemtoon dat “geloof, as dit nie werke het nie, op sigself dood” is en verwys na Abraham deur te sê: ‘Sy geloof het met sy werke saamgewerk en sy geloof is deur sy werke vervolmaak’ (Jakobus 2:17, 20-22). Abraham se werke het ingesluit dat hy sy bloedverwante gered het, gasvryheid betoon het, gereedgemaak het om Isak te offer en onwankelbare geloof in God se belofte van “die stad wat ware fondamente het”, die toekomstige Messiaanse Koninkryk, “in die openbaar bekend gemaak” het (Genesis 14:16; 18:1-5; 22:1-18; Hebreërs 11:8-10, 13, 14; 13:2). Abraham is gepas “‘Jehovah se vriend’ genoem” (Jakobus 2:23). Ons kan ook as ‘vriende van Jehovah’ gereken word terwyl ons ons geloof in en hoop op sy inkomende Koninkryk van regverdigheid ywerig verkondig.

17. (a) Waarom is Ragab “regverdig verklaar”, en hoe is sy beloon? (b) Watter lang lys verskaf die Bybel van mense wat ‘daders van die woord geword het’? (c) Hoe is Job beloon, en waarom?

17 Diegene wat “daders van die woord” word, word inderdaad “regverdig verklaar . . . deur werke en nie deur geloof alleen nie” (Jakobus 2:24). Ragab was iemand wat werke gevoeg het by haar geloof in die “woord” wat sy aangaande Jehovah se magtige dade gehoor het. Sy het die Israelitiese verkenners weggesteek en hulle gehelp om te ontsnap, en daarna het sy haar vader se familie vir redding byeengebring. Hoe verheug sal sy tog in die opstanding wees om uit te vind dat haar geloof, wat deur werke gesteun is, haar ’n voorouer van die Messias laat word het! (Josua 2:11; 6:25; Matteus 1:5). Hebreërs hoofstuk 11 verskaf ’n lang lys van ander wat ‘daders geword het’ deur hulle geloof te toon, en hulle sal ryklik beloon word. Ons moet ook nie van Job vergeet nie, wat tydens swaar beproewing gesê het: “Laat die naam van Jehovah voortdurend geseën word.” Soos ons reeds gesien het, het sy geloof en werke ’n groot beloning ten gevolge gehad (Job 1:21, NW; 31:6; 42:10; Jakobus 5:11). Ons volharding as “daders van die woord” sal vandag eweneens Jehovah se goedkeuring meebring.

18, 19. Hoe het broers wat lank onderdruk is ‘daders van die woord geword’, en watter seën het hulle werk meegebring?

18 Onder dié wat deur die jare heen baie verduur het, is ons broers in Oos-Europa. Noudat baie van die beperkings opgehef is, het hulle in hulle nuwe omstandighede inderdaad “daders van die woord” geword. Sendelinge en pioniers van naburige lande het daarheen verhuis om met die onderrigtings- en organiseerwerk te help. Die takkantoor in Finland en ander nabygeleë takkantore van die Wagtoringgenootskap het bedrewe bouers daarheen gestuur, en die vrygewige wêreldwye broederskap het die oprigting van nuwe takkantore en Koninkryksale gefinansier.—Vergelyk 2 Korintiërs 8:14, 15.

19 Hoe ywerig werk hierdie broers wat so lank onderdruk is tog in die veld! Hulle ‘werk hard en span hulle in’ om as ’t ware die agterstand in te haal met betrekking tot geleenthede wat hulle nie gedurende die “moeilike tye” gehad het nie (1 Timoteus 4:10; 2 Timoteus 4:2). Byvoorbeeld, verlede April in Albanië, waar die onderdrukking baie wreed was, is die hele voorraad Koninkryksnuus met die titel “Waarom is die lewe so vol probleme” binne slegs drie dae versprei. Dit was ’n uitstekende poging, veral ná die herdenking van Jesus se dood, wat deur 3 491 mense bygewoon is—baie meer as die 538 bedrywige verkondigers daar.

20. Wat toon onlangse Gedenkmaalbywoningsyfers, en hoe kan baie gehelp word?

20 Ander lande het ook ’n belangrike bydrae gelewer tot die Gedenkmaalbywoningsyfer, wat in onlangse jare tot ver oor 10 000 000 gestyg het. In baie plekke word nuwelinge, wie se geloof deur die bywoning en viering van die Gedenkmaal versterk is, “daders van die woord”. Kan ons meer nuwelinge aanmoedig om hulle vir daardie voorreg te bekwaam?

21. Watter weg behoort ons in ooreenstemming met ons jaarteks na te streef, en met watter doel?

21 Laat ons, soos daardie ywerige Christene in die eerste eeu en so baie sedertdien, vasbeslote wees om ons in te span om te “streef na die doel”, naamlik die ewige lewe, hetsy dit in die hemelse Koninkryk of in die aardse ryk daarvan sal wees (Filippense 3:12-14). Dit is beslis die moeite werd om ons in te span om daardie doel te bereik. Dit is nie nou die tyd om daarin terug te val om net hoorders te wees nie, maar dit is die tyd van alle tye om ‘sterk te wees en te werk’ (Haggai 2:4, NW; Hebreërs 6:11, 12). Mag ons nou en tot in alle ewigheid ‘vreugdevolle daders van die woord word’, aangesien ons ‘die inplanting van die woord aanvaar het’.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Hoe kan ons met vreugde volhard?

◻ Wat is “die wysheid van bo”, en hoe kan ons dit nastreef?

◻ Waarom moet ons ‘daders van die woord word en nie net hoorders nie’?

◻ Watter verslae behoort ons aan te spoor om “daders van die woord” te wees?

[Prent op bladsy 17]

Mag ons ook ontvanklik wees vir Goddelike onderrigting

[Prente op bladsy 18]

Job se onkreukbaarheid is beloon deurdat hy weer ’n vol, gelukkige lewe saam met geliefdes kon geniet

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel