Wat moet ons doen om gered te word?
’NMAN het Jesus eenkeer gevra: “Here, is dié wat gered word min?” Wat het Jesus geantwoord? Het hy gesê: ‘Jy moet my net as jou Here en Saligmaker aanneem, en jy sal gered word’? Nee! Jesus het gesê: “Span julle kragtig in om deur die nou deur in te gaan, want baie, sê ek vir julle, sal probeer ingaan, maar sal nie in staat wees nie.”—Lukas 13:23, 24.
Het Jesus die man se vraag onbeantwoord gelaat? Nee, die man het nie gevra hoe moeilik dit sal wees om gered te word nie; hy het gevra of daar min sal wees. Jesus het dus bloot getoon dat minder mense as wat verwag sal word hulle kragtig sal inspan om hierdie wonderlike seëning te ontvang.
‘Dit is nie wat daar vir my gesê is nie’, sal party lesers dalk beswaar maak. Hulle haal dalk Johannes 3:16 aan, wat sê: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (AB). Maar ons antwoord: ‘Wat moet ons dan glo? Dat Jesus werklik gelewe het? Natuurlik. Dat hy die Seun van God is? Alte seker! En moet ons nie, aangesien die Bybel Jesus “Leermeester” en “Here” noem, ook sy leringe glo, hom gehoorsaam en hom navolg nie?’—Johannes 13:13; Matteus 16:16.
Volg Jesus na
A, hier ontstaan die probleem! Baie mense vir wie daar gesê is dat hulle “gered” is, is blykbaar nie van plan om Jesus na te volg of te gehoorsaam nie. Trouens, ’n Protestantse geestelike het geskryf: “Ons geloof in Christus behoort natuurlik voort te duur. Maar die bewering dat dit eenvoudig móét of dat dit noodwendig wel voortduur, word glad nie deur die Bybel gestaaf nie.”
Daarenteen noem die Bybel onsedelike gebruike wat algemeen is onder party mense wat dink dat hulle “gered” is. Aangaande iemand wat met sulke gebruike voortgegaan het, het dit Christene beveel: “Verwyder die goddelose mens onder julle uit.” God wil beslis nie hê dat goddelose mense sy Christengemeente besoedel nie!—1 Korintiërs 5:11-13.
Wat beteken dit dan om Jesus na te volg, en hoe kan ons dit doen? Wel, wat het Jesus gedoen? Was hy onsedelik? ’n hoereerder? ’n dronkaard? ’n leuenaar? Was hy oneerlik wanneer hy sake gedoen het? Natuurlik nie! ‘Maar’, vra jy dalk, ‘moet ek my lewe van al daardie dinge reinig?’ Kom ons kyk na Efesiërs 4:17 tot 5:5 vir die antwoord. Dit sê nie dat God ons sal aanneem ongeag wat ons doen nie. Dit sê eerder dat ons anders as die wêreldse nasies moet wees wat “alle sedelikheidsgevoel verloor het, . . . maar julle het die Christus nie so leer ken nie . . . Julle [moet] die ou persoonlikheid . . . aflê, wat met julle vroeëre lewenswandel ooreenkom . . . Laat die steler nie meer steel nie . . . Laat hoerery en elke soort onreinheid of gierigheid onder julle selfs nie genoem word nie, net soos dit heilige mense betaam . . . Want julle weet dit, en julle besef dit self, dat geen hoereerder of onreine of gierigaard—wat beteken om ’n afgodedienaar te wees—enige erfenis in die koninkryk van die Christus en van God het nie.”
Volg ons Jesus na as ons nie eens probeer om in ooreenstemming met sy voorbeeld te lewe nie? Moet ons ons nie inspan om ons lewe meer soos dié van Christus te maak nie? Daardie lewensbelangrike vraag word selde, indien ooit, deur mense gevra wat sê soos een godsdienstraktaat dit stel: “Kom nou na Christus—net soos jy is.”
’n Dissipel van Jesus het gewaarsku dat goddelose mense besig was om “die onverdiende goedhartigheid van ons God in ’n verskoning vir losbandige gedrag [te] verander en ons enigste Eienaar en Here, Jesus Christus, [te] verloën” (Judas 4). Hoe kan ons God se barmhartigheid in werklikheid “in ’n verskoning vir losbandige gedrag” verander? Ons kan dit doen deur van die veronderstelling uit te gaan dat Christus se offerande opsetlike sondes dek waarmee ons van plan is om voort te gaan, pleks van sondes vanweë menslike onvolmaaktheid wat ons te bowe probeer kom. Ons sal beslis wil verskil met een van Amerika se bekendste evangeliste, wat gesê het jy hoef nie “te verander, iets prys te gee of om te draai” nie.—Vergelyk Handelinge 17:30; Romeine 3:25; Jakobus 5:19, 20.
Geloof lei tot werke
Daar is vir baie mense gesê dat “om aan Jesus te glo” ’n enkele daad is en dat ons geloof nie so sterk hoef te wees dat dit ons tot gehoorsaamheid moet aanspoor nie. Maar die Bybel stem nie hiermee saam nie. Jesus het nie gesê dat mense wat die Christelike weg begin bewandel, gered is nie. Hy het eerder gesê: “Wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word” (Matteus 10:22). Die Bybel vergelyk ons Christelike weg met ’n wedloop, en redding is die prys aan die einde daarvan. En dit spoor ons aan: “Hardloop só dat julle dit kan verkry.”—1 Korintiërs 9:24.
“Om Christus aan te neem” behels dus baie meer as om net die seëninge te aanvaar wat Jesus se voortreflike offerande bied. Dit vereis gehoorsaamheid. Die apostel Petrus sê dat die oordeel “by die huis van God” begin en voeg by: “As dit dan nou eers by ons begin, wat sal die einde wees van dié wat nie aan die goeie nuus van God gehoorsaam is nie?” (1 Petrus 4:17). Ons moet dus meer doen as om net te hoor en te glo. Die Bybel sê ons moet “daders van die woord [word] en nie net hoorders wat [onsself] met valse redenering bedrieg nie”.—Jakobus 1:22.
Jesus se eie boodskappe
Die Bybelboek Openbaring bevat boodskappe van Jesus, wat deur Johannes aan sewe vroeë Christengemeentes oorgedra is (Openbaring 1:1, 4). Het Jesus, aangesien die mense in hierdie gemeentes hom reeds “aangeneem” het, gesê dat dit voldoende was? Nee. Hy het hulle vir hulle dade, hulle arbeid en hulle volharding geprys en het van hulle liefde, geloof en bediening gepraat. Maar hy het gesê dat die Duiwel hulle op die proef sou stel en dat hulle ‘individueel volgens hulle dade’ beloon sou word.—Openbaring 2:2, 10, 19, 23.
Jesus het dus ’n baie groter verpligting beskryf as wat die meeste mense verstaan het toe daar vir hulle gesê is dat hulle redding ’n “voltooide werk” was die oomblik toe hulle hom by ’n godsdienstige vergadering “aangeneem” het. Jesus het gesê: “As iemand agter my aan wil kom, laat hy homself verloën en sy folterpaal opneem en my voortdurend volg. Want wie ook al sy siel wil red, sal dit verloor; maar wie ook al sy siel ter wille van my verloor, sal dit vind.”—Matteus 16:24, 25.
Onsself verloën? Jesus voortdurend volg? Dit sal inspanning vereis. Dit sal ons lewe verander. Maar het Jesus werklik gesê dat party van ons dalk selfs ‘ons siel sal verloor’—vir hom sal moet sterf? Ja, daardie soort geloof spruit alleenlik voort uit kennis van die wonderlike dinge wat ’n mens kan leer as jy God se Woord bestudeer. Dit het duidelik geblyk op die dag wat Stefanus gestenig is deur godsdiensfanatici wat “nie opgewasse [was] teen die wysheid en die gees waarmee hy gespreek het nie” (Handelinge 6:8-12; 7:57-60). En sulke geloof is in ons tyd aan die dag gelê deur die honderde Getuies van Jehovah wat eerder in Nazi-konsentrasiekampe gesterf het as om hulle Bybelopgeleide gewete te skend.a
Christelike ywer
Ons moet stewig vashou aan ons Christelike geloof, want anders as wat jy dalk in party kerke of op godsdiensprogramme oor televisie hoor, sê die Bybel dat ons kan wegval. Dit praat van Christene wat “die reguit weg” verlaat het (2 Petrus 2:1, 15). Ons moet dus ‘aanhou om ons eie redding met vrees en bewing te bewerk’.—Filippense 2:12; 2 Petrus 2:20.
Is dit hoe eerste-eeuse Christene, die mense wat self gehoor het hoe Jesus en sy apostels ander onderrig, die saak verstaan het? Ja. Hulle het geweet dat hulle iets moes doen. Jesus het gesê: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, . . . leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.”—Matteus 28:19, 20.
’n Paar maande ná Jesus dit gesê het, is 3 000 mense in net een dag gedoop. Die aantal gelowiges het vinnig tot 5 000 vermeerder. Diegene wat geglo het, het ander geleer. Toe vervolging hulle verstrooi het, het dit net bygedra tot die verspreiding van hulle boodskap. Die Bybel praat nie net van ’n paar leiers nie, maar sê dat ‘dié wat verstrooi is deur die land gegaan en die goeie nuus van die woord bekend gemaak het’. Die apostel Paulus kon dus sowat 30 jaar later skryf dat die goeie nuus “verkondig is in die hele skepping wat onder die hemel is”.—Handelinge 2:41; 4:4; 8:4; Kolossense 1:23.
Paulus het nie, soos party TV-evangeliste, bekeerlinge gemaak deur te sê: ‘Neem Jesus nóú aan, en jy sal vir ewig gered wees’ nie. Hy het ook nie die vertroue gehad van die Amerikaanse geestelike wat geskryf het: “As ’n tienerseun, . . . was ek alreeds gered” nie. Meer as 20 jaar ná Jesus persoonlik vir Paulus gekies het om die Christenboodskap na mense van die nasies te neem, het hierdie hardwerkende apostel geskryf: “Ek kasty my liggaam en lei dit as ’n slaaf, sodat ek, nadat ek vir ander gepreek het, nie self op die een of ander wyse afgekeur sou word nie.”—1 Korintiërs 9:27; Handelinge 9:5, 6, 15.
Redding is ’n vrye gawe van God. Dit kan nie verdien word nie. Tog vereis dit inspanning van ons kant. As iemand jou ’n kosbare geskenk gegee het en jy het nie genoeg waardering om dit op te tel en saam met jou te neem nie, kan jou gebrek aan waardering die gewer beweeg om die geskenk aan iemand anders te gee. Wel, hoe kosbaar is die lewensbloed van Jesus Christus? Dit is ’n vrye gawe, maar ons moet diepe waardering daarvoor toon.
Ware Christene is in ’n geredde toestand in die sin dat hulle in ’n goedgekeurde posisie voor God is. As ’n groep is hulle redding seker. As individue moet hulle aan God se vereistes voldoen. Maar ons kan faal, want Jesus het gesê: “As iemand nie in eenheid met my bly nie, word hy as ’n loot uitgegooi en verdroog.”—Johannes 15:6.
‘God se woord is lewend’
Die gesprek wat aan die begin van die vorige artikel genoem is, het amper 60 jaar gelede plaasgevind. Johnny glo nog dat redding slegs deur Jesus Christus kom, maar hy besef dat ons daarna moet strewe. Hy is steeds oortuig dat die Bybel die aandag vestig op die enigste ware bron van hoop vir die mensdom en dat ons daardie wonderlike boek moet bestudeer, daardeur beweeg moet word en dit moet toelaat om ons te motiveer om dade van liefde, geloof, goedhartigheid, gehoorsaamheid en volharding te openbaar. Hy het sy kinders so grootgemaak dat hulle dieselfde dinge glo, en hy is nou verheug om te sien hoe hulle op hulle beurt hulle kinders op dieselfde manier grootmaak. Hy sou wou sien dat almal daardie soort geloof het, en hy doen alles in sy vermoë om ander se harte en verstande daarmee te vul.
Die apostel Paulus is geïnspireer om te skryf dat ‘die woord van God lewend is en krag uitoefen’ (Hebreërs 4:12). Dit kan lewens verander. Dit kan jou motiveer om opregte dade van liefde, geloof en gehoorsaamheid te verrig. Maar jy moet meer doen as om net verstandelik “aan te neem” wat die Bybel sê. Bestudeer dit en laat dit toe om jou hart te motiveer. Laat die wysheid daarvan jou lei. Sowat 5 000 000 gewillige Getuies van Jehovah in meer as 230 lande hou gratis tuisbybelstudies met mense. Skryf aan die uitgewers van hierdie tydskrif as jy wil uitvind wat jy uit so ’n studie kan leer. Jy sal jou verheug in die geloof en geestelike krag wat jy daaruit put!
[Voetnoot]
a In haar boek The Nazi State and the New Religions: Five Case Studies in Non-Conformity het dr. Christine E. King gesê: “Een uit elke twee Duitse Getuies [van Jehovah] is in die tronk gesit, een uit vier het hulle lewe verloor.”
[Venster op bladsy 7]
WAAROM ‘HARD STRY VIR DIE GELOOF’?
Die Bybelboek Judas is gerig aan die “geroepenes wat . . . vir Jesus Christus bewaar word”. Sê dit dat hulle redding seker was omdat hulle ‘Jesus aangeneem’ het? Nee, Judas het vir hierdie Christene gesê om “hard te stry vir die geloof”. Hy het hulle drie redes gegee waarom hulle dit moes doen. Eerstens, God het “’n volk uit die land Egipte gered”, maar baie van hulle het later weggeval. Tweedens, selfs engele het in opstand gekom en demone geword. Derdens, God het Sodom en Gomorra vernietig weens die growwe geslagsonsedelikheid wat in daardie stede beoefen is. Judas gee hierdie Bybelse verslae “as ’n waarskuwende voorbeeld”. Ja, selfs gelowiges wat “vir Jesus Christus bewaar word”, moet versigtig wees dat hulle nie van die ware geloof wegval nie.—Judas 1-7.
[Venster op bladsy 8]
WATTER EEN IS REG?
Die Bybel sê: ‘’n Mens word regverdig verklaar deur geloof sonder werke van die wet.’ Dit sê ook: ‘’n Mens sal regverdig verklaar word deur werke en nie deur geloof alleen nie.’ Watter een is reg? Word ons regverdig verklaar deur geloof of deur werke?—Romeine 3:28; Jakobus 2:24.
Die harmoniese antwoord van die Bybel is dat albei reg is.
Die Wet wat God deur Moses gegee het, het eeue lank vereis dat Joodse aanbidders spesifieke offerandes en offers bring, feesdae hou en dieetkundige en ander voorskrifte nakom. Sulke “werke van die wet”, of bloot “werke”, was nie meer nodig nadat Jesus die belangrikste offerande voorsien het nie.—Romeine 10:4.
Maar die feit dat hierdie werke wat onder die Mosaïese Wet gedoen is deur Jesus se voortreflike offerande vervang is, het nie beteken dat ons die Bybel se riglyne kan verontagsaam nie. Dit sê: “Hoeveel te meer sal dan die bloed van die Christus . . . ons gewetens van [die vorige] dooie werke reinig sodat ons heilige diens aan die lewende God kan verrig?”—Hebreërs 9:14.
Hoe verrig ons “heilige diens aan die lewende God”? Die Bybel sê onder andere dat ons teen die werke van die vlees moet stry, die wêreld se onsedelikheid moet weerstaan en sy strikke moet vermy. Dit sê: “Stry die voortreflike stryd van die geloof”, lê “die sonde wat ons maklik verstrik” af en “laat ons die wedloop wat voor ons gestel is met volharding hardloop, terwyl ons die blik stip gerig hou op die Hoofbewerker en Vervolmaker van ons geloof, Jesus”. En die Bybel spoor ons aan om ‘nie moeg te word en in ons siele te beswyk nie’.—1 Timoteus 6:12; Hebreërs 12:1-3; Galasiërs 5:19-21.
Ons verdien nie redding deur hierdie dinge te doen nie, want geen mens kan ooit genoeg doen om hierdie wonderlike seëning te verdien nie. Ons is hierdie wonderlike gawe egter nie waardig as ons versuim om ons liefde en gehoorsaamheid te toon deur die dinge te doen wat die Bybel sê God en Christus wil hê ons moet doen nie. Sonder werke as bewys van ons geloof sal ons bewering dat ons Jesus navolg maar min beteken, want die Bybel sê duidelik: “Geloof, as dit nie werke het nie, [is] op sigself dood.”—Jakobus 2:17.
[Prent op bladsy 7]
Bestudeer die Bybel, en word daardeur gemotiveer