Ons het rede om van vreugde uit te roep
“Hulle sal tot gejubel en verheuging kom, en droefheid en gesug moet wegvlug.”—JESAJA 35:10, NW.
1. Wie het vandag besondere rede tot vreugde?
JY HET waarskynlik opgemerk dat min mense deesdae ware vreugde het. Tog het Jehovah se Getuies, as ware Christene, vreugde. En miljoene ander wat nog ongedoop is, oud en jonk, wat met die Getuies omgaan, kan die vooruitsig hê om daardie selfde vreugde te verkry. Die feit dat jy nou hierdie woorde in hierdie tydskrif lees, dui daarop dat jy reeds hierdie vreugde geniet of dat dit binne jou bereik is.
2. Hoe verskil ’n Christen se vreugde met die algemene toestand van die meeste mense?
2 Die meeste mense is bewus van ’n leemte in hulle lewe. Wat van jou? Jy het nou wel miskien nie elke materiële artikel wat ’n mens kan gebruik nie, en beslis nie alles wat die hedendaagse rykes en invloedrykes het nie. En jy wil moontlik gesonder en meer energiek wees. Maar wat vreugde betref, kan ons met sekerheid sê dat jy ryker en gesonder as die meerderheid van die aarde se miljarde mense is. Hoe so?
3. Watter betekenisvolle woorde verdien ons aandag, en waarom?
3 Dink aan Jesus se woorde: “Hierdie dinge het ek tot julle gespreek, sodat my vreugde in julle kan wees en julle vreugde volkome gemaak kan word” (Johannes 15:11). Sodat “julle vreugde volkome gemaak kan word”. Wat ’n beskrywing! ’n Deeglike studie van die Christelike lewenswyse sal baie redes openbaar waarom ons vreugde volkome kan wees. Maar let vir eers op die betekenisvolle woorde in Jesaja 35:10 (NW). Dit is betekenisvol omdat dit werklik vandag vir ons van belang is. Ons lees: “Juis hulle wat deur Jehovah vrygekoop is, sal terugkeer en gewis met ’n vreugdegeroep na Sion kom; en verheuging tot onbepaalde tyd sal op hulle hoof wees. Hulle sal tot gejubel en verheuging kom, en droefheid en gesug moet wegvlug.”
4. Van watter soort vreugde praat Jesaja 35:10, en waarom moet ons daaraan aandag gee?
4 “Verheuging tot onbepaalde tyd.” Die frase “tot onbepaalde tyd” is ’n getroue weergawe van wat Jesaja in Hebreeus geskryf het. Maar ander tekste bevestig dat die betekenis in hierdie vers “vir ewig” is (Psalm 45:7; 90:2, NW; Jesaja 40:28, NW). Die verheuging sal dus sonder einde wees, in toestande wat ewige verheuging sal toelaat—ja, sal regverdig. Klink dit nie wonderlik nie? Maar miskien klink die vers vir jou na ’n kommentaar oor ’n abstrakte situasie, en jy dink dalk: ‘Dit raak my nie werklik soos my alledaagse probleme en bekommernisse my raak nie.’ Maar die feite toon dat dit wel die geval is. Die profetiese belofte in Jesaja 35:10 is vandag vir jou betekenisvol. Om te sien hoe, kan ons hierdie pragtige hoofstuk, Jesaja 35, ondersoek en elke deel in sy verband sien. Jy kan daarvan verseker wees dat jy sal geniet wat ons gaan vind.
’n Volk wat vreugdevol moes wees
5. In watter profetiese agtergrond word die profesie in Jesaja hoofstuk 35 gevind?
5 Kom ons kyk na die geskiedkundige agtergrond van hierdie fassinerende profesie om ons te help. Die Hebreeuse profeet Jesaja het dit omstreeks 732 v.G.J. geskryf. Dit was dekades voordat die Babiloniese leërs Jerusalem vernietig het. Soos Jesaja 34:1, 2 toon, het God voorspel dat hy wraak op die nasies sou uitoefen, soos Edom wat in Jesaja 34:6 genoem word. Hy het klaarblyklik die eertydse Babiloniërs gebruik om dit te doen. God het Juda eweneens deur die Babiloniërs laat verwoes omdat die Jode ontrou was. Die gevolg? God se volk is in ballingskap weggevoer, en hulle tuisland het 70 jaar lank woes gelê.—2 Kronieke 36:15-21.
6. Watter verskil is daar tussen dít wat met die Edomiete en dít wat met die Jode sou gebeur?
6 Daar is egter ’n betekenisvolle verskil tussen die Edomiete en die Jode. Die Goddelike vergelding van die Edomiete was nimmereindigend; hulle het mettertyd as ’n volk uitgesterf. Ja, jy kan steeds die ruïnes besoek in die gebied waar die Edomiete eens gewoon het, soos die wêreldbekende Petra-ruïnes. Maar vandag is daar geen nasie of volk wat as ‘die Edomiete’ geïdentifiseer kan word nie. Sou Babilon se verwoesting van Juda daarenteen vir ewig wees en die land vir altyd vreugdeloos laat bly?
7. Hoe het Jode wat in ballingskap in Babilon was moontlik op Jesaja hoofstuk 35 gereageer?
7 Hier het die wonderlike profesie in Jesaja hoofstuk 35 ’n opwindende betekenis. Dit kan ’n herstellingsprofesie genoem word, want die eerste vervulling het plaasgevind toe die Jode in 537 v.G.J. na hulle tuisland teruggekeer het. Die Israeliete wat in ballingskap in Babilon was, het hulle vryheid verkry om na hulle tuisland terug te keer (Esra 1:1-11). Maar tot dit gebeur het, het die Jode in ballingskap in Babilon wat oor hierdie Goddelike profesie nagedink het moontlik gewonder watter soort toestande hulle daar in hulle vaderland, Juda, sou aantref. En in watter toestand sou hulle self verkeer? Die antwoorde hou direk verband met die rede waarom ons waarlik van vreugde kan uitroep. Kom ons kyk.
8. Watter toestande sou die Jode met hulle terugkeer uit Babilon aantref? (Vergelyk Esegiël 19:3-6; Hosea 13:8.)
8 Die situasie sou beslis nie vir die Jode belowend gelyk het selfs toe hulle gehoor het dat hulle na hulle tuisland kon terugkeer nie. Hulle land het sewe dekades, ’n hele leeftyd lank, woes gelê. Wat het met die land gebeur? Alle landerye, wingerde of boorde sou ’n wildernis geword het. Besproeide tuine of saailande sou in ’n woesteny verander het (Jesaja 24:1, 4; 33:9; Esegiël 6:14). Dink ook net hoe dit van wilde diere sou gewemel het. Dit sou roofdiere, soos leeus en luiperds, insluit (1 Konings 13:24-28; 2 Konings 17:25, 26; Hooglied 4:8). Hulle moes ook rekening hou met bere, wat die vermoë gehad het om man, vrou en kind plat te slaan (1 Samuel 17:34-37; 2 Konings 2:24; Spreuke 17:12). En ons hoef nie eens te praat van die adders en ander giftige slange, of die skerpioene, nie (Genesis 49:17; Deuteronomium 32:33; Job 20:16; Psalm 58:5; 140:4; Lukas 10:19). As jy saam met die Jode in 537 v.G.J. uit Babilon teruggekeer het, sou jy waarskynlik huiwerig gewees het om in so ’n gebied rond te loop. Dit was beslis nie ’n paradys toe hulle daar aangekom het nie.
9. Om watter rede het die terugkerendes ’n grondslag vir hoop en vertroue gehad?
9 Maar Jehovah het self sy aanbidders huis toe gelei, en hy het die vermoë om ’n haglike situasie reg te stel. Glo jy dat die Skepper dit kan doen? (Job 42:2; Jeremia 32:17, 21, 27, 37, 41). Wat sou hy dus vir die terugkerende Jode en vir hulle land doen—ja, wat het hy vir hulle gedoen? Hoe hou dit verband met God se hedendaagse volk en met ons huidige sowel as ons toekomstige situasie? Kom ons kyk eers na wat destyds gebeur het.
Vreugdevol oor ’n veranderde situasie
10. Watter verandering het Jesaja 35:1, 2 voorspel?
10 Wat sou gebeur wanneer Kores die Jode toelaat om na daardie sombere land terug te keer? Lees gerus die opwindende profesie in Jesaja 35:1, 2: “Die woestyn en die dor land sal bly wees, en die wildernis sal juig en bloei soos ’n narsing; dit sal lustig bloei en juig, ja, met gejuig en gejubel; die heerlikheid van die Libanon is aan hom gegee, die sieraad van Karmel en Saron; hulle dáár sal sien die heerlikheid van die HERE, die sieraad van onse God.”
11. Van watter kennis van die land het Jesaja gebruik gemaak?
11 In Bybeltye was Libanon, Karmel en Saron bekend vir hulle geil natuurskoon (1 Kronieke 5:16; 27:29; 2 Kronieke 26:10; Hooglied 2:1; 4:15; Hosea 14:6-8). Jesaja het hierdie voorbeelde gebruik om te beskryf wat die toestand van die omskepte land, met God se hulp, sou wees. Maar sou dit net ’n uitwerking op die grond hê? Beslis nie!
12. Waarom kan ons sê dat mense die middelpunt van die profesie in Jesaja hoofstuk 35 is?
12 Jesaja 35:2 sê dat die land sou “juig, ja met gejuig en gejubel”. Ons weet dat die grond en plante nie letterlik “gejuig en gejubel” het nie. Maar hulle geilheid en vrugbaarheid kon mense dit laat doen (Levitikus 23:37-40; Deuteronomium 16:15; Psalm 126:5, 6; Jesaja 16:10; Jeremia 25:30; 48:33). Die letterlike veranderinge in die land self sou ooreenstem met veranderinge in die mense, want mense is die middelpunt van hierdie profesie. Ons het derhalwe rede om te glo dat Jesaja se woorde hoofsaaklik die aandag op die veranderinge in die Joodse terugkerendes vestig, veral op hulle gejuig.
13, 14. Watter verandering in mense het Jesaja 35:3, 4 voorspel?
13 Laat ons hierdie opwindende profesie dus verder ondersoek om te sien hoe dit ná die Jode se bevryding en terugkeer uit Babilon vervul is. In verse 3 en 4 praat Jesaja van nog veranderinge in die terugkerendes: “Versterk die slap hande en maak die struikelende knieë vas. Sê aan die wat vervaard is van hart: Wees sterk, wees nie bevrees nie! Kyk, julle God kom met wraak, met goddelike vergelding; Hy self sal kom en julle verlos.”
14 Versterk dit ons nie om te dink dat ons God, wat die haglike toestand van die grond kon regstel, soveel belangstelling in sy aanbidders toon nie? Hy wou nie hê dat die gevange Jode swak, moedeloos of angstig oor die toekoms moes wees nie (Hebreërs 12:12). Dink aan die toestand van daardie Joodse gevangenes. As dit nie was vir die hoop wat hulle uit God se profesieë oor hulle toekoms kon put nie, sou dit vir hulle moeilik gewees het om optimisties te wees. Dit was asof hulle in ’n donker kerker was, nie vry om rond te beweeg en in Jehovah se diens bedrywig te wees nie. Dit kon heel moontlik vir hulle gelyk het asof daar geen ligstraal in die vooruitsig was nie.—Vergelyk Deuteronomium 28:29; Jesaja 59:10.
15, 16. (a) Wat kan ons aflei, het Jehovah vir die terugkerendes gedoen? (b) Waarom sou die terugkerendes nie wonderdadige fisiese genesings verwag het nie, maar wat het God in ooreenstemming met Jesaja 35:5, 6 gedoen?
15 Maar hoe het dit tog nie verander toe Jehovah hulle deur Kores laat bevry het om terug te keer huis toe nie! Daar is geen Bybelse bewys dat God die oë van enige blinde onder die terugkerende Jode wonderdadig geopen het, die ore van enige dowes ontsluit of enige gebreklike of ontbrekende ledemate genees het nie. Maar hy het in werklikheid iets baie wonderlikers gedoen. Hy het hulle tot die lig en vryheid van hulle geliefde land herstel.
16 Daar is geen aanduiding dat die terugkerendes van Jehovah verwag het om sulke wonderdadige fisiese genesings te doen nie. Hulle het seker besef dat God dit nie in die geval van Isak, Simson of Eli gedoen het nie (Genesis 27:1; Rigters 16:21, 26-30; 1 Samuel 3:2-8; 4:15). Maar as hulle ’n Goddelike herstel van hulle toestand op figuurlike wyse verwag het, is hulle nie teleurgestel nie. Verse 5 en 6 het beslis in figuurlike sin ’n werklike vervulling gehad. Jesaja het akkuraat voorspel: “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel.”
Die land word soos ’n paradys gemaak
17. Watter fisiese veranderinge het Jehovah klaarblyklik teweeggebring?
17 Daardie terugkerendes het beslis rede gehad om te jubel oor toestande soos dié wat Jesaja vervolgens beskryf het: “Want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis. En die gloeiende grond sal ’n waterplas word, en die dorsland fonteine van water; in die plek van die jakkalse waar hulle gelê en rus het, is gras met riete en biesies” (Jesaja 35:6b, 7). Hoewel ons dit moontlik nie vandag in daardie hele landstreek sien nie, dui die getuienis daarop dat die eertydse gebied van Juda eens “’n herdersparadys” was.a
18. Hoe het die Joodse terugkerendes waarskynlik op God se seëninge gereageer?
18 Wat redes tot vreugde betref, dink aan hoe die Joodse oorblyfsel moes gevoel het toe hulle na die Beloofde Land teruggestuur is! Hulle was in staat om die woesteny wat deur jakkalse en ander soortgelyke diere bewoon is te herskep. Sou dit jou nie vreugde verskaf het om sulke herstellingswerk te doen nie, veral as jy geweet het dat God jou pogings seën?
19. In watter opsig was die terugkeer uit Babiloniese gevangenskap voorwaardelik?
19 Maar nie sommer enige of alle Joodse gevangenes in Babilon kon of het teruggegaan om met daardie vreugdevolle herstellingswerk te help nie. God het die vereistes gestel. Niemand wat met Babiloniese, heidense godsdiensgebruike besmet was, het die reg gehad om terug te keer nie (Daniël 5:1, 4, 22, 23; Jesaja 52:11). Ook kon niemand wat hom dwaaslik tot ’n onwyse weg verbind het, terugkeer nie. Sulke mense is almal gediskwalifiseer. Daarenteen kon diegene wat aan God se standaarde voldoen het, wat hy in relatiewe sin as heilig beskou het, na Juda terugkeer. Hulle kon gaan, asof op ’n heilige weg. Jesaja het dit in vers 8 duidelik getoon: “Dáár sal ’n grootpad wees en ’n weg wat die heilige weg genoem sal word; geen onreine sal daarop voorttrek nie, maar vir húlle sal dit wees; wie die weg bewandel—selfs die dwase sal nie dwaal nie.”
20. Wat sou die Jode nie hoef te vrees terwyl hulle teruggekeer het nie, en met watter gevolg?
20 Dit was nie vir die terugkerende Jode nodig om aanvalle deur dierlike mense of bendes rowers te vrees nie. Waarom nie? Omdat Jehovah sulke mense nie sou toelaat om saam met sy teruggekoopte volk op daardie weg te wees nie. Hulle kon dus met vreugdevolle optimisme en gelukkige vooruitsigte reis. Let op hoe Jesaja dit beskryf wanneer hy hierdie profesie afsluit: “Geen leeu sal daar wees nie, en die roofdieragtige wilde dier sal nie daar kom nie. Nie een sal daar aangetref word nie; en die teruggekooptes moet daarop wandel. En juis hulle wat deur Jehovah vrygekoop is, sal terugkeer en gewis met ’n vreugdegeroep na Sion kom; en verheuging tot onbepaalde tyd sal op hulle hoof wees. Hulle sal tot gejubel en verheuging kom, en droefheid en gesug moet wegvlug.”—Jesaja 35:9, 10, NW.
21. Hoe behoort ons vandag die vervulling van Jesaja hoofstuk 35 wat reeds plaasgevind het te beskou?
21 Wat ’n profetiese beeld het ons tog hier! Ons moet dit egter nie bloot as vergange geskiedenis beskou, asof dit ’n sonderlinge verslag was wat min met ons situasie of ons toekoms te doen het nie. Feit is dat hierdie profesie vandag op ’n verbasende wyse onder God se volk vervul word; gevolglik raak dit werklik elkeen van ons. Dit gee ons grondige redes om van vreugde uit te roep. Hierdie aspekte wat jou lewe nou en in die toekoms raak, sal in die volgende artikel behandel word.
[Voetnoot]
a Uit sy studies van die landstreek het agronoom Walter C. Lowdermilk (wat die VN se Voedsel- en Landbou-Organisasie verteenwoordig) tot dié slotsom gekom: “Hierdie land was eens ’n herdersparadys.” Hy het ook getoon dat die klimaat daar “sedert die Romeinse tyd” nie juis veel verander het nie en dat “die ‘woestyn’ wat die eens florerende land oorgeneem het deur mense veroorsaak is en nie deur die natuur nie”.
Onthou jy?
◻ Wanneer het Jesaja hoofstuk 35 sy eerste vervulling gehad?
◻ Watter uitwerking sou die profesie se eerste vervulling tot gevolg hê?
◻ Hoe het Jehovah Jesaja 35:5, 6 vervul?
◻ Watter veranderinge in die land en in hulle toestand het die Joodse terugkerendes ondervind?
[Prent op bladsy 9]
Die Petra-ruïnes, in die gebied waar die Edomiete eens gewoon het
[Erkenning]
Garo Nalbandian
[Prente op bladsy 10]
Terwyl die Jode in ballingskap was, het ’n groot deel van Juda ’n woesteny geword wat van wilde diere soos bere en leeus gewemel het
[Erkennings]
Garo Nalbandian
Beer en leeu: Safari-Zoo of Ramat-Gan, Tel Aviv