Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 3/1 bl. 4-7
  • God gee vir jou om

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • God gee vir jou om
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Eertydse voorbeeld
  • Jehovah het jou getrek
  • Die wonderwerke van Jesus
  • Jehovah word ’n Beloner
  • Gee enigiemand werklik om?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Jehovah sorg vir jou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Jehovah is ‘die beloner van dié wat hom ernstig soek’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Gee Jehovah werklik vir jou om?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 3/1 bl. 4-7

God gee vir jou om

MARY, ’n Christenvrou in haar laat veertigerjare, het in haar lewe al baie gely. Meer as ’n dekade gelede het haar man se ontrouheid tot ’n egskeiding gelei. Daarna het Mary gesukkel om haar rol as enkelouer vir haar vier kinders te vervul. Maar sy is steeds alleen, en soms is dit asof die eensaamheid ondraaglik is. Mary wonder: ‘Beteken dit dat God nie vir my of my vaderlose kinders omgee nie?’

Hetsy jy al soortgelyke teenspoed gehad het of nie, jy kan ongetwyfeld meegevoel met Mary hê. Ons almal het al moeilike omstandighede verduur, en ons het dalk gewonder presies wanneer en hoe Jehovah ten behoewe van ons gaan optree. Party van hierdie dinge wat ons oorkom, is as gevolg van ons getrouheid aan God se wette (Matteus 10:16-18; Handelinge 5:29). Ander is die gevolg van die feit dat ons onvolmaakte mense is wat in ’n wêreld lewe waarvan Satan die heerser is (1 Johannes 5:19). Die apostel Paulus het geskryf: ‘Die hele skepping kreun voortdurend saam en ly saam pyn.’—Romeine 8:22.

Maar die feit dat jy voor ’n kwaai beproewing te staan kom, beteken nie dat Jehovah jou verlaat het of nie in jou welsyn belangstel nie. Hoe kan jy hiervan seker wees? Wat toon dat God vir jou omgee?

’n Eertydse voorbeeld

Die Bybel lewer duidelike bewys dat Jehovah vir mense as individue omgee. Dink aan Dawid. Jehovah het persoonlik in hierdie jong herder belanggestel en het gevind dat hy “’n man na sy hart” was (1 Samuel 13:14). Later, toe Dawid as koning geheers het, het Jehovah hom beloof: “Ek sal met jou wees waar jy ook al heengaan.”—2 Samuel 7:9, NW.

Beteken dit dat Dawid ’n kommervrye lewe, sonder enige ontberinge, gelei het? Nee, Dawid het voor en tydens sy bewind voor ernstige beproewinge te staan gekom. Voor hy koning geword het, is hy jare lank genadeloos deur moorddadige koning Saul agtervolg. Gedurende hierdie tydperk van sy lewe het Dawid geskryf: “My siel is te midde van leeus . . . selfs die mensekinders, wie se tande spiese en pyle is.”—Psalm 57:4, NW.

Dawid was nietemin deur al hierdie beproewinge daarvan oortuig dat Jehovah persoonlik vir hom omgee. “Dat ek ’n vlugteling was, het u self berig”, het hy in ’n gebed tot Jehovah gesê. Ja, vir Dawid was dit asof Jehovah al sy beproewinge neergeskryf het. Toe het Dawid bygevoeg: “Sit tog my trane in u leersak. Is hulle nie in u boek nie?” (Psalm 56:8, NW).a Met hierdie analogie het Dawid die vertroue uitgespreek dat Jehovah nie net van die situasie bewus was nie, maar ook van die emosionele uitwerking daarvan.

Teen die einde van sy lewe kon Dawid uit persoonlike ondervinding skryf: “Deur die HERE word die gange van ’n man bevestig, en Hy het ’n welbehae in sy weg. As hy val, dan stort hy nie neer nie; want die HERE ondersteun sy hand” (Psalm 37:23, 24). Al duur jou beproewinge voort, kan jy ook vol vertroue wees dat Jehovah dit raaksien en jou volharding op prys stel. Paulus het geskryf: “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het deurdat julle die heiliges gedien het en nog dien nie.”—Hebreërs 6:10.

Daarbenewens kan Jehovah ten behoewe van jou optree deur jou die krag te gee om enige probleem waarvoor jy te staan kom te verduur. “Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige,” het Dawid geskryf, “maar uit dié almal red die HERE hom” (Psalm 34:20). Trouens, die Bybel sê dat die oë van Jehovah “die hele aarde [deurloop] om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is”.—2 Kronieke 16:9.

Jehovah het jou getrek

’n Bykomende bewys dat Jehovah persoonlik vir jou omgee, kan in die woorde van Jesus gevind word. “Geen mens kan na my toe kom”, het hy gesê, “tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie” (Johannes 6:44). Ja, Jehovah help mense individueel om gebruik te maak van die voordele van Christus se offerande. Hoe? Dit is grotendeels deur middel van die Koninkrykspredikingswerk. Hierdie werk dien weliswaar as “’n getuienis vir al die nasies”, tog bereik dit mense individueel. Die feit dat jy na die boodskap van die goeie nuus luister en daarop reageer, is ’n bewys van Jehovah se persoonlike besorgdheid oor jou.—Matteus 24:14.

Deur middel van die heilige gees trek Jehovah individue na sy Seun en die hoop op ewige lewe. Dit stel elkeen in staat om geestelike waarhede te verstaan en toe te pas ondanks enige inherente beperkings en tekortkominge. ’n Mens kan in werklikheid nie God se voornemens verstaan sonder die hulp van God se gees nie (1 Korintiërs 2:11, 12). Dit is soos Paulus aan die Tessalonisense geskryf het: “Geloof is nie iets wat alle mense besit nie” (2 Tessalonisense 3:2). Jehovah gee sy gees slegs aan diegene wat toon dat hulle deur hom getrek wíl word.

Jehovah trek mense omdat hy vir hulle as individue lief is en wil hê dat hulle gered moet word. Watter afdoende bewys is dit tog dat Jehovah persoonlik vir ons omgee! Jesus het gesê: “Dit [is] nie vir my Vader wat in die hemel is iets wensliks dat een van hierdie kleintjies vergaan nie” (Matteus 18:14). Ja, in God se oë is elke mens as afsonderlike individu belangrik. Dit is waarom Paulus kon skryf: “Hy sal elkeen volgens sy werke vergeld” (Romeine 2:6). En die apostel Petrus het gesê: ‘God is nie partydig nie, maar in elke nasie is die mens (die individu) wat hom vrees en regverdigheid beoefen vir hom aanneemlik.’—Handelinge 10:34, 35.

Die wonderwerke van Jesus

God se persoonlike belangstelling in mense is op ’n aangrypende wyse deur die wonderwerke van sy Seun, Jesus, geopenbaar. Hierdie genesings het met diepe gevoelens gepaardgegaan (Markus 1:40, 41). Aangesien Jesus “nie ’n enkele ding op eie inisiatief doen nie, maar net wat hy die Vader sien doen”, is sy medelye ’n treffende voorbeeld van Jehovah se besorgdheid oor elkeen van sy knegte.—Johannes 5:19.

Beskou ’n wonderwerk wat Jesus verrig het soos in Markus 7:31-37 opgeteken is. Hier het Jesus ’n man genees wat doof was en ’n spraakgebrek gehad het. Die Bybel sê dat hy die man “eenkant toe geneem [het], weg van die skare af”. Toe ‘het hy na die hemel opgekyk, diep gesug en vir hom gesê: “Effata”, dit is: “Word geopen.”’

Waarom het Jesus hierdie man van die skare af weggeneem? Wel, ’n dowe wat skaars kan praat, sal waarskynlik selfbewus voor toeskouers voel. Jesus het moontlik gesien dat hierdie man ongemaklik voel en het derhalwe besluit om hom eenkant te genees. “Die hele verhaal”, sê een Bybelkenner, “toon baie duidelik dat Jesus nie die man as net nog ’n geval beskou het nie; hy het hom as ’n individu beskou. Die man het ’n spesiale behoefte en ’n spesiale probleem gehad, en Jesus het hom met die teerste bedagsaamheid behandel op ’n manier wat sy gevoelens in ag geneem het en op ’n manier wat hy kon verstaan.”

Hierdie verslag toon dat Jesus persoonlik oor mense besorg was. Jy kan daarvan seker wees dat hy net soveel in jou belangstel. Sy offerdood was weliswaar ’n liefdeblyk ten behoewe van die hele wêreld van loskoopbare mense. Maar jy kan daardie daad as iets persoonliks beskou, soos Paulus, wat geskryf het: ‘Die Seun van God het my liefgehad en homself vir my oorgegee’ (Galasiërs 2:20). En aangesien Jesus gesê het dat ‘hy wat hom gesien het ook die Vader gesien het’, kan ons daarvan seker wees dat Jehovah dieselfde belangstelling in elkeen van sy knegte toon.—Johannes 14:9.

Jehovah word ’n Beloner

Om kennis van God in te neem, behels dat ’n mens elke faset van sy persoonlikheid leer ken soos dit in die Bybel geopenbaar word. Die naam Jehovah beteken “Hy laat word”, wat te kenne gee dat Jehovah kan word net wat hy wil om sy voorneme uit te voer. Deur die geskiedenis heen het hy al verskeie rolle vervul, onder andere dié van Skepper, Vader, Soewereine Heer, Herder, Jehovah van die leërs, Hoorder van die gebed, Regter, Grootse Onderrigter en Losser.b

Om die volle betekenis van God se naam te waardeer, moet ons Jehovah ook in sy rol as Beloner leer ken. Paulus het geskryf: “Sonder geloof is dit onmoontlik om vir hom welbehaaglik te wees, want hy wat tot God nader, moet glo dat hy is en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek.”—Hebreërs 11:6.

Jehovah het diegene wat vandag kies om hom heelhartig te dien die ewige lewe op ’n paradysaarde beloof. Dit is nie selfsugtig om na die vervulling van daardie luisterryke belofte uit te sien nie en ook nie verwaand om jou voor te stel hoe dit gaan wees om daar te lewe nie. Moses “het sy blik stip op die beloning gerig gehou” (Hebreërs 11:26). Paulus het insgelyks gretig na die vervulling van God se belofte vir getroue gesalfde Christene uitgesien. Hy het geskryf: “Ek streef na die doel vir die prys van God se roeping na bo deur middel van Christus Jesus.”—Filippense 3:14.

Jy kan ook na die beloning uitsien wat Jehovah diegene beloof wat volhard. Om daardie beloning te verwag, is ’n wesenlike deel van jou kennis van God en jou volharding in sy diens. Peins dus daagliks oor die seëninge wat Jehovah vir jou in die vooruitsig het. Mary, wat aan die begin genoem is, het ’n spesiale poging aangewend om dit te doen. “Vir die eerste keer in my lewe”, sê sy, “het ek onlangs aanvaar dat Jesus se losprysofferande op my van toepassing is. Ek begin voel dat Jehovah vir my as individu omgee. Ek is al meer as 20 jaar ’n Christen, maar ek het dit eers onlangs werklik begin glo.”

Deur die Bybel te bestudeer en hartgrondig te bepeins, leer Mary, en miljoene ander, dat Jehovah nie net vir sy volk as groep omgee nie, maar ook as individue. Die apostel Petrus was so oortuig hiervan dat hy geskryf het: ‘Werp al julle sorge op God, want hy is besorg oor julle’ (1 Petrus 5:7). Ja, God gee vir jou om!

[Voetnote]

a ’n Leersak was ’n houer wat van diervel gemaak is en is gebruik om dinge soos water, olie, melk, wyn, botter en kaas in te hou. Antieke bottels het baie verskil in grootte en vorm, waarvan party leersakke en ander weer houers met nou nekke en proppe was.

b Sien Rigters 11:27; Psalm 23:1; 65:3; 73:28, NW; 89:27; Jesaja 8:13, NW; 30:20, NW; 40:28; 41:14; sien ook die New World Translation of the Holy Scriptures—With References, Aanhangsel 1J, bladsy 1568, wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee is.

[Venster op bladsy 6]

Die opstanding—’n Bewys dat God omgee

’N OORTUIGENDE bewys van die feit dat God in elke individu belangstel, word in die Bybel in Johannes 5:28, 29 gevind: “Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is [Jesus se] stem sal hoor en sal uitkom.”

Dit is interessant dat die Griekse woord mne·meiʹon (gedenkgraf) hier gebruik word in plaas van taʹfos (graf). Die woord taʹfos dra bloot die gedagte van ’n graf oor. Maar mne·meiʹon gee te kenne dat die geskiedenis van die oorledene onthou word.

Dink net wat die opstanding in hierdie opsig van Jehovah God sal vereis. As hy iemand wil opwek, moet hy alles van daardie persoon weet—onder andere sy of haar oorgeërfde neigings en volle geheue. Dan alleen sal daardie individu weer dieselfde identiteit hê.

Dit is natuurlik onmoontlik uit ’n menslike oogpunt, maar “by God is alles moontlik” (Markus 10:27). Hy kan selfs vasstel wat in iemand se hart is. Selfs as iemand al baie eeue lank dood is, is hy nog duidelik in God se geheue; die gedagtenis aan hom vervaag nie (Job 14:13-15). Toe Jesus na Abraham, Isak en Jakob verwys het, kon hy dus selfs eeue ná hulle dood is, sê dat Jehovah “’n God [is], nie van die dooies nie, maar van die lewendes, want vir hom lewe hulle almal”.—Lukas 20:38.

Die miljarde mense wat dood is se volle besonderhede is in Jehovah God se geheue. Watter afdoende bewys is dit tog dat God vir mense as individue omgee!

[Prente op bladsy 7]

Jesus het persoonlik belanggestel in diegene wat hy genees het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel